|47|
’n Bedienaar van die Woord wat eenmaal wettig beroep is, mag die kerk waaraan hy verbonde is, nie sonder bewilliging van die kerkraad met die diakens en toestemming van die klassis verlaat om op ’n ander plek ’n beroep op te volg nie; en geen ander kerk mag hom ontvang voordat hy van die kerk en die klassis wat hy gedien het, wettige getuienis van sy losmaking getoon het nie.
In artikel 3 word bepaal dat niemand die diens van die Woord en Sakramente mag uitoefen sonder dat hy wettig daartoe beroep en toegelaat is nie. Hierdie beroeping en toelating, onder verskillende omstandighede, word dan in artikels 4 tot 9 gereël.
Dit gaan dus in artikels 3 tot 9 om die ordelike toelating tot die diens van Woord en Sakramente.
Artikels 10 tot 14 reël nou die ordelike losmaking, onder verskillende omstandighede, uit die diens van Woord en Sakramente in die bepaalde kerk waar die bedienaar van die Woord bevestig is.
Artikel 10 reël die losmaking van ’n bedienaar van die Woord wat die kerk waar hy bevestig is, wil verlaat om „op ’n ander plek ’n beroep op te volg”.
Geen predikant het die reg om eiewillig en eensydig die kerk waaraan hy verbind is, in die steek te laat nie; die band tussen predikant en gemeente is immers bilateraal, dit wil sê wedersyds bindend van karakter.
Die Here mag dit wel só beskik dat hy na ’n ander kerk beroep word; maar dan moet hy op ’n ordelike en eervolle wyse losgemaak word van die kerk waar hy bevestig is.
Wanneer ’n predikant ’n beroep na ’n ander kerk ontvang, moet hy daarvan kennis gee aan die kerkraad en die gemeente, en voorbidding
|48|
vra by die oorweging van die beroep. Dit is ook wenslik dat hy die advies van kerkraad en diakens versoek.
Indien hy, onder biddende opsien tot die Here, tot die oortuiging kom dat hy die beroep moet opvolg, moet hy eerstens die bewilliging van die kerkraad met die diakens, as verteenwoordigers van die gemeente, verkry voordat hy sy besluit aan die gemeente wat hom beroep het, bekend maak.
By die oorweging van ’n beroep moet die koninkryk van God, die opbou en totale belang van albei betrokke gemeentes, dié waaraan die predikant verbonde is sowel as dié wat beroep het, ernstig in aanmerking geneem word.
Indien die belang van die gemeente waar die predikant dien, dit vereis, of die predikant nog maar ’n kort rukkie in die gemeente arbei, mag die kerkraad en diakens besluit dat die beroep nie opgevolg moet word nie.
By so ’n besluit moet die predikant berus, of hy mag daarteen appelleer na die klassis.
Dit kan ook gebeur dat die predikant besluit om ’n beroep nie op te volg nie, maar dat die kerkraad en diakens oortuig is dat dit in belang van die gemeente sal wees indien die beroep wel opgevolg sou word. Dan het die kerkraad en diakens wel deeglik die reg om die predikant só te adviseer. Enige verstandige en regdenkende predikant sal dan ook so ’n advies baie ernstig oorweeg.
Hierdie artikel bepaal dat ook die „toestemming van die klassis” verkry moet word voordat ’n predikant ’n beroep mag opvolg. Die klassis het immers, as vergadering van naburige kerke, belang by die moontlike vertrek van ’n predikant uit sy gebied. Indien daar byvoorbeeld alreeds te veel vakatures in gemeentes binne die ressort van die klassis is, mag toestemming vir opvolging van die beroep geweier word.
Vir hierdie toestemming hoef nie die hele klassis opgeroep te word nie; ’n classis contracta (kyk p. 33) kan hierdie taak verrig, onder voorsitterskap van die konsulent.
Hierdie vergadering kontroleer die volgende:
|49|
➢ die beroepsbrief;
➢ die besluit van die predikant;
➢ die bewilliging van kerkraad en diakens.
Dit is belangrik dat die afvaardigings van die naburige kerkrade selfstandig en objektief, onafhanklik van die kerkraad, tot ’n eie bevinding kom (kyk p. 292 e.v. vir funksionering van classis contracta).
Nadat die bewilliging van die kerkraad en diakens, asook die toestemming van die klassis verkry is vir opvolging van die beroep, word die predikant ordelik van sy verbintenis aan die betrokke kerk losgemaak.
Hierdie losmaking word deur die kerkraad en diakens, onder voorsitterskap van die konsulent en in teenwoordigheid van klassikale deputate (dus ’n classis contracta) verleen. (Hierdie classis contracta kan dieselfde wees as dié wat toestemming gegee het vir opvolging van die beroep; dit hoef egter nie noodwendig dieselfde te wees nie).
Hierdie vergadering kontroleer die volgende:
➢ die beroepsbrief;
➢ die besluit van die predikant;
➢ die bewilliging van kerkraad en diakens;
➢ die toestemming van die klassis;
➢ die getuienis van die kerkraad oor die predikant se leer,
lewenswandel en ampsbediening.
Nadat alle dokumente en prosedures in orde bevind is, gee die classis contracta aan die predikant ’n amptelike akte van losmaking. ’n Konsep hiervan verskyn in die Handelinge van die Sinode van 1985, p. 559, 3.4.
Hierdie akte van losmaking behoort in duplikaat uitgemaak te word: een vir die kerkraad waar die predikant losgemaak word, en een vir die predikant om in te handig by die classis contracta waar hy bevestig sal word.
Die kerkraad van die gemeente waar die predikant losgemaak is, moet ook aan die korresponderende kerkraad/deputate vir korrespondensie
|50|
van die klassis waaruit die predikant vertrek, kennis gee van die losmaking.
Die kerkraad moet ook aan die predikant ’n getuienis ten opsigte van sy leer, lewe en ampsbediening gee.
Hierdie akte van losmaking en kerklike getuienis is noodsaaklik vir bevestiging in die gemeente waarheen die predikant beroep is (kyk art. 5 KO).
Die predikant mag eers aan die kerk wat hom beroep het, kennis gee dat hy die beroep opvolg nadat hy die bewilliging van kerkraad en diakens en die toestemming van die klassis verkry het. Anders kan dit gebeur dat die predikant sy antwoord wat reeds gegee is, moet verander — indien óf die kerkraad en diakens óf die klassis sou besluit dat die beroep nie opgevolg moet word nie.
Die vraag ontstaan wat sou die predikant en/of sy afhanklikes se posisie wees indien hy tussen losmaking en bevestiging genoodsaak sou word om te emeriteer (byvoorbeeld as gevolg van ’n motorongeluk), of indien hy vanweë een of ander oortreding getug moet word, of indien hy te sterwe sou kom. Watter kerk is dan verantwoordelik vir versorging of tugtoepassing?
In die konsepakte van losmaking word duidelik soos volg gestipuleer: „Hierdie losmaking sal geld vanaf die dag dat hy in die Gereformeerde Kerk ... bevestig is.”
Die predikant bly dus ampshalwe verbonde aan die kerk waaruit hy vertrek het totdat hy in die „nuwe kerk” bevestig is.
Dit is dus wenslik dat losmaking en bevestiging so gou moontlik op mekaar sal volg.
Dit het in die verlede gebeur dat ’n Gereformeerde predikant beroep is deur ’n kerk (gemeente) buite die verband van die GKSA.
|51|
Wat staan ’n kerkraad dan te doen?
’n Situasie soos hierdie is uiters buitengewoon, indien nie totaal onordelik nie. Tog moet kerkrade weet wat om in so ’n geval te doen.
Ek meen dat daar by so ’n beroep nie sprake kan wees van normale optrede soos hierbo uiteengesit is, waar ’n predikant na ’n ander Gereformeerde kerk beroep word nie.
Indien ’n predikant ernstig sou oorweeg om so ’n beroep op te volg, sou die aangewese (en eerbare) weg wees dat hy eers sy lidmaatskap in daardie plaaslike Gereformeerde kerk moet beëindig.
Dit sou egter meebring dat die kerkraad sy amp op die ordelike wyse (kyk by art. 12 KO) vervalle moet verklaar.
So ’n „predikant” sou dus geen amptelike dokumentasie ontvang van ordelike losmaking, getuienis oor leer, lewe en ampsbediening, en so meer nie ... net so min as wat ’n lidmaat wat die gemeenskap met ’n Gereformeerde kerk opgesê het, ’n attestasie kan ontvang vir die kerk waar hy gaan aansluit. Die enigste wat hy wel sou kon ontvang, is ’n verklaring deur die kerkraad dat hy tot ’n sekere datum lidmaat en predikant was van daardie gemeente.