|215|
Kerklike korrespondensie en samewerking of kontak (met kerke en kerklike instansies) buite die algemene sinodale verband, word in ’n algemene sinode gereël.
Die term „korrespondensie” in hierdie artikel het dieselfde betekenis as in artikel 48 (kyk p. 208).
Die „korrespondensie” waarvan in hierdie artikel gepraat word, beteken kerkverband met kerke in die buiteland, op grond van eenheid in Belydenis, liturgie en kerkregering.
Dit behels aanvaarding van attestasies oor en weer, beroepbaarheid van predikante, stuur van afgevaardigdes na sinodes oor en weer, kanselruil en so meer.
Samewerking in hierdie artikel beteken samewerking met kerke en/of kerklike instansies met wie daar nie korrespondensie (soos bogenoem) is nie; hierdie samewerking kan op verskillende terreine van gemeenskaplike belang plaasvind, soos byvoorbeeld met Bybelvertaling en Bybelverspreiding, die daarstelling van Christelike lektuur (Bybelmedia), op onderwysgebied, gesprek met die owerhede en so meer.
Kontak beteken hoofsaaklik gesprekke met kerke om tot groter eenheid te kom, met die uiteindelike doel om kerklike korrespondensie aan te gaan.
Die Nasionale Sinode Potchefstroom het die volgende
Deputategroepe wat onder hierdie artikel tuisgebring kan
word:
➢ Deputate vir Korrespondensie met Buitelandse Kerke; hierdie
Deputate hanteer sake tussen die GKSA en buitelandse kerke met
wie daar reeds kerklike korrespondensie aangegaan is.
|216|
➢ Deputate vir Ekumeniese Aangeleenthede; hierdie Deputate
hanteer hoofsaaklik kontak met kerke, buite- en binnelands, met
die oog op uiteindelike aangaan van kerklike korrespondensie.
➢ Deputate vir Gesprek met Binnelandse Kerke; hierdie Deputate
voer tans gesprek met die NG-, NH- en AP-Kerke oor die sake wat
die kerke op gereformeerde grondslag in Suid-Afrika uitmekaar
hou; die uiteindelik doel is groter kerklike eenheid tussen
hierdie Kerke.
Hierdie artikel bepaal dat bogenoemde sake in ’n algemene sinode gereël word.
Die Algemene Sinode van 1984 het hieroor soos volg besluit: „Binnelands (in Suidelike Afrika) voer die Algemene Sinode en die Nasionale Sinodes respektiewelik gesprek met kerke wat in gelyksoortige kerklike vergaderings as die Algemene Sinode en die Nasionale Sinodes byeenkom” (Handelinge p. 30-31, art. 19, punt 3.3, kyk punt 3.2.2. (iv)).