|88|
Waar daar meer as een bedienaar van die Woord aan ’n kerk verbonde is, moet in hulle dienspligte sowel as in die ander opsigte volgens die oordeel van die kerkraad en, indien nodig, van die klassis, soveel moontlik gelykheid bestaan. Dit moet ook in die geval van die ouderlinge en die diakens onderhou word.
Artikel 84 bepaal dat geen kerk oor ander kerke en geen ampsdraer oor ander ampsdraers enige heerskappy mag voer nie.
In albei hierdie artikels word die Roomse hiërargie (heerskappy van hoëre ampte oor laeres) by die wortel afgesny.
In reaksie teen hierdie Roomse hiërargiese sisteem was die kerke van die Reformasie van die begin af sterk gekant teen enige vorm van heerskappyvoering deur mense in die kerk. Vergelyk hier ook artikels 37, 41 (dat een predikant nie ten koste van ander in die kerkraad of meerdere vergaderings as voorsitter mag optree nie), en artikel 35 (dat die voorsitter in meerdere vergaderings se amp ophou as die vergadering beëindig is).
Die Kerkorde ken dus nie so iets as ’n tydelik-permanente moderator, of ’n „leierouderling” en „leierdiaken” in die GKSA nie.
Dit is egter moontlik dat daar ongelykheid tussen ampsdraers is, sonder dat daar hiërargie is.
Die artikel praat van ’n situasie waar daar meer as een bedienaar van die Woord aan ’n kerk (lees: gemeente) verbonde is. In so ’n geval moet daar, sover moontlik, gelykheid wees in dienspligte sowel as in ander opsigte.
Elke ampsdraer is in diens van Christus; almal is dus gelyk in diens, met dieselfde verpligtinge en dieselfde regte.
|89|
Elke predikant moet dieselfde diens lewer as die ander, oor die hele veld van die dienswerk; preekbeurte, katkisasie, huisbesoek, siekebesoek en so meer moet eweredig verdeel word. ’n Predikant mag byvoorbeeld nie beroep word om net te preek of net siekebesoek te doen of net katkisasie waar te neem nie; elke predikant moet betrokke wees in al die dele van die dienswerk. Slegs in uitsonderlike gevalle, soos wanneer ’n predikant se vermoëns só afgeneem het dat hy nie meer die volle las kan dra nie, maar nog nie só onbekwaam geword het dat hy moet emeriteer nie, kan hy van sekere ampspligte vrygestel word.
Soms is dit moeilik vir ’n kerkraad om die werkverdeling presies só te doen dat aan die beginsel van hierdie artikel voldoen word; daar is byvoorbeeld in ’n gemeente ’n tehuis vir bejaardes, ’n jeugsentrum en ’n aantal skoolkoshuise; indien die gelyke werkverdeling só gedoen word dat elke predikant dieselfde aantal wyke het, kan ’n situasie ontstaan dat die een predikant meestal met bejaarde-bearbeiding besig is (wat somtyds baie veeleisend kan wees as gevolg van siektes en sterfgevalle), terwyl die ander predikant grootliks met kinders en jongmense te doen het.
(Dit gebeur soms dat ’n gemeente ’n emerituspredikant of -professor se dienste verkry vir byvoorbeeld hospitaalbesoek of die behartiging van ’n kinder- of bejaardetehuis wat binne die grense van die gemeente geleë is; so ’n reëling val buite die bepalings van art. 17).
Wat geld vir predikante, geld ook vir ouderlinge en diakens; gelykheid bestaan nie altyd in dieselfde aantal besoekpunte per wyk nie; ’n uitgestrekte plaaswyk met 4 besoekpunte verg meer tyd en kragte as ’n dorpswyk met 8 besoekpunte.
Dit mag ook nodig wees dat aan ’n bejaarde ouderling (of ’n ouderling/ diaken wat skriba of kassier is) ’n wyk toegeken word wat kleiner is as dié van ander ouderlinge/diakens. Daarom bepaal artikel 17 dat hierdie sake gereël moet word volgens die oordeel van die kerkraad; en waar die kerkraad dit nie alleen kan doen nie, moet die oordeel van die klassis ingewin word.
|90|
’n Situasie wat nie aan die beginsel in hierdie artikel reg laat geskied nie, is wanneer ’n ouderling of diaken slegs in die amp dien as skriba of kassier, en geen lidmate het om te bearbei nie.
Die beginsel van gelykheid in artikel 17 geld vanselfsprekend ook ten opsigte van traktement, behuising, vergoeding van reisonkoste, verlof en pensioenvoordele.
„Gelykheid” in hierdie artikel beteken egter nie „eendersheid” nie.
Byvoorbeeld: predikant A het nog geen kinders nie, terwyl predikant B vier kinders het; dit spreek dus vanself dat predikant B se traktement hoër sal wees as dié van predikant A, omdat sy lewenskoste (met vier kinders) hoër is as dié van predikant A (kyk op p. 52 vir die verskil tussen traktement en salaris).