|190|

Artikel 43

 

Aan die einde van die klassikale en ander meerdere vergaderings moet sensuur uitgeoefen word oor die wat iets tugwaardigs in die vergadering gedoen of die vermaning van die mindere samekomste verontagsaam het.

 

Sensuur.

„Sensuur” in hierdie artikel beteken: vermaning, teregwysing, berisping of waarskuwing. Dit is dus nie ’n „tugartikel” in die betekenis van artikels 76-79 nie. Dit moet ook onderskei word van die sensuur wat die voorsitter in ’n bepaalde situasie toepas soos in artikel 35 bepaal word.

Dit kan naamlik gebeur dat iemand tydens die vergadering of gedurende ’n verdaging iets gesê of gedoen het wat vermaning verdien in die gees van hierdie artikel; dan kan die vergadering voor afsluiting hierop terugkom en die nodige sensuur uitoefen.

 

Doel.

Die doel van hierdie sensuur is allereers om die eer van God te handhaaf. Tweedens om die waardigheid van die vergadering as ’n kerklike vergadering te beskerm. Derdens om die eenheid en goeie verhouding tussen afgevaardigdes as broeders in die Here te herstel.

 

Wyse.

Hierdie sensuur kan op verskillende maniere hanteer word. Die voorsitter kan self inisiatief daartoe neem; of ’n afgevaardigde kan versoek dat hierdie artikel geïmplementeer word; of die vergadering kan aan die einde van die vergadering ’n onderlinge rondvraag reël. Die vergadering kan selfs ’n klag formuleer wat aan die oortreder se kerkraad gestuur word vir behandeling.

Wanneer sensuur oor die voorsitter uitgeoefen moet word, spreek dit vanself dat die ondervoorsitter dan die leiding van die vergadering moet oorneem.

|191|

Verontagsaming van vermaning van mindere samekomste.

Sommige kerkregkundiges verklaar hierdie laaste gedeelte van artikel 43 só dat sensuur ook uitgeoefen moet word oor iemand teen wie ’n klag ingedien is dat hy die vermaning van ’n mindere vergadering verontagsaam het.

Vir my aanvoeling kan dit nie korrek wees nie, veral in die lig van artikel 30: so ’n klag hoort immers nie tuis by ’n meerdere vergadering nie (waaroor hierdie artikel gaan), maar by so ’n persoon se kerkraad.

Die enigste aanvaarbare verklaring van hierdie laaste gedeelte is na my mening van toepassing op ’n afgevaardigde wat deur sy afvaardigende vergadering vermaan is om ’n sekere opdrag uit te voer (kyk art. 33) en dit dan nie gedoen het nie. Dit kan ook toegepas word op iemand wat deur sy afvaardigende vergadering vermaan is om homself in die meerdere vergadering te beheers, terwyl hy homself dan een of meer kere te buite gegaan het.