|353|

Bylae „D”

Matthéüs 18: 15-18: Tekskrities, Eksegeties en Kerkregtelik.

Inleidend.

Hierdie betrokke Skrifgedeelte is van besondere belang in die kerkregering, veral ten opsigte van die tugoefening.

Ons kan sê dat hierdie paar verse uit Matthéüs 18 vir ons in ’n spesifieke sin die liefdesweg met ons mede-gelowiges uitspel.

Daar is egter bepaalde probleme, veral tekskrities, by vers 15; daaroor is al baie studie gedoen en baie menings uitgespreek. Ek sal probeer om in hierdie verband aan u meer duidelikheid te gee op grond van verskeie studies wat hieroor gedoen is.

Ek gaan vanaand in ons gesprek nie alle kleinere besonderhede bespreek nie; voor die hand liggende gegewens laat ek met rus, en ek spits my toe op daardie bepaalde aspekte wat van kardinale belang is vir die regte verstaan van wat Jesus hier vir ons wil sê.

Beskou my optrede voor u vanaand asseblief as ’n broederlike gesprek oor ’n aktuele vraagstuk in die kerkregering; my bedoeling is beslis nie om ’n volledige teologies-wetenskaplike voorlegging te doen nie.

Om die omvang van hierdie praatjie binne perke te hou, sal ek ongelukkig nie alle tersaaklike studieresultate en Skrifgedeeltes in besonderhede kan bespreek nie; ek sal dus verskeie kere verwys na die studie wat ek self gedoen het, en wat vervat is in my Th.M-verhandeling, gepubliseer onder die titel: „Kerklike Tug.”

Ek maak deurgaans gebruik van die 1953 vertaling van die Bybel, omdat dit ’n meer letterlike vertaling van die Griekse grondteks is.

 

Tekskrities.

In vers 15 sê Jesus: „En as jou broeder teen jou sondig, gaan bestraf hom tussen jou en hom alleen.”

|354|

By hierdie vers is daar die tekskritiese probleem of die woorde „teen jou" (in Grieks eis se) hier tuishoort of nie. (In die 1983-vertaling ontbreek hierdie woorde).

Verskeie geleerdes beweer dat hierdie woorde weggelaat moet word, omdat dit in die beste Griekse handskrifte ontbreek.

Ander kenners van die Griekse Nuwe-Testamentiese tekste is egter van mening dat hierdie twee woorde wel hier tuishoort.

Finale en absolute duidelikheid oor hierdie kwessie is tans blykbaar nog nie in sig nie. Tog bied ’n vergelyking van Matthéüs 18: 15 met ander Skrifgedeeltes insiggewende lig.

In vers 21 van hierdie hoofstuk vra Petrus: „Here, hoe dikwels sal my broeder teen my sondig ...?" (eie kursivering, J.V.). Die Skrifverband hier met vers 15, asook die inhoud van die twee verse, dui daarop dat vers 21 baie waarskynlik aansluit by vers 15.

Interessante gegewens kom ook na vore wanneer Matthéüs 18: 15 vergelyk word met Lukas 17: 3, 4: „... En as jou broeder teen jou sondig, bestraf hom; ... En as hy sewe maal op ’n dag teen jou sondig ... moet jy hom vergewe.”

In vers 3 kom die woorde „teen jou” (eis se) in die beste handskrifte nie voor nie, maar in vers 4 wel. By vers 3 skryf Christus vergewing ná berou voor; hierdie feit wys tog in die rigting van ’n persoonlike oortreding, omdat enige lidmaat tog nie die sondes van ander kan vergeef nie.

Die ooreenkoms tussen Matthéüs 18: 15 en Lukas 17: 3, 4 is baie duidelik: albei die betrokke gedeeltes volg op wat Jesus oor die struikelblokke sê, terwyl daar ook ooreenkoms is wat die inhoud betref. Met die oog daarop dat die woorde „teen jou” in Lukas 17: 4 wel voorkom in die beste handskrifte, lyk dit dus baie waarskynlik dat dit ook in Matthéüs 18: 15 tuishoort.

Verskeie geleerdes is dan ook hierdie mening toegedaan.

Augustinus, Martin Bucer en Johannes Calvyn tel onder diegene wat die onderskeid tussen geheime en openbare sondes onder andere baseer op Matthéüs 18: 15 (kyk my Verhandeling, p. 100-103).

|355|

Dit is ook opmerklik dat die onderskeid tussen geheime en openbare sondes alreeds in die Weselse Artikels van 1568 uitdruklik in die voorgeskrewe tugprosedure gehandhaaf is. Daarná kom ’n soortgelyke onderskeiding, gefundeer op Matthéüs 18, herhaaldelik voor in die „Acta” en Kerkordes van verskeie Sinodes, tot en met die Kerkorde van die Nasionale Sinode van Dordrecht, 1618-1619.

Ook in die Kerkorde van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika (GKSA) word daar ’n onderskeid gemaak tussen „heimlike” en „openbare” sondes (kyk artikels 72, 73, 74, 75, 76, 79); hierdie onderskeid word in artikel 72 direk gebaseer op Matthéüs 18.

By die 43ste Nasionale Sinode van die GKSA (1988) word die Sinode versoek om te besluit dat die onderskeid tussen heimlike en openbare sondes en die verskillende optredes wat daarvolgens in verskillende Kerkorde-artikels voorgeskryf word, nie gehandhaaf kan word nie; dit sou dan, na bewering, berus op ’n verkeerde „eksegese” van veral Matthéüs 18: 15. Daarom behoort die Kerkorde dienooreenkomstig gewysig te word.

Die Sinode verwys hierdie versoek vir studie na die Deputate vir Kerkregtelike Sake om die volgende Sinode te adviseer. („Handelinge van die drie en veertigste Nasionale Sinode”, p. 809- 816).

Genoemde Deputate rapporteer by die volgende Nasionale Sinode (1991), wat soos volg besluit: „Artikels 72-75 van die Kerkorde word, soos dit tans geformuleer is, onveranderd gelaat aangesien die broeders nie daarin geslaag het om uit die Skrif aan te toon dat dit noodsaaklik is om dit te verander nie.” („Handelinge van die vier en veertigste Nasionale Sinode”, p. 515-519).

In die GKSA word die onderskeid tussen heimlike en openbare sondes, sowel as die verskillende optredes wat op grond daarvan in die artikels van die Kerkorde voorgeskryf word, dus nog steeds gehandhaaf.

 

Eksegeties.

Onderskeid tussen heimlike en openbare sondes.

Die eerste belangrike eksegetiese waarheid wat uit hierdie Skrifdeel na vore kom, is dat Jesus ’n persoonlike vermaning onder vier oë

|356|

voorskryf („tussen jou en hom alleen”) wanneer daar ’n persoonlike (heimlike) sonde begaan is („teen jou”).

’n Belangrike eksegeties-hermeneutiese beginsel is dat die Skrif met die Skrif verklaar moet word. Daarom moet ons gaan kyk of daar elders in die Skrif bykomende getuienis gevind kan word om hierdie eksegese van Matthéüs 18: 15 te steun — veral in die lig van die tekskritiese probleem wat hierbo bespreek is.

Eerstens kan verwys word na Lukas 17: 4, waaroor geen tekskritiese probleem bestaan nie. Hier sê Jesus dat, as jou broeder selfs sewe maal op ’n dag „teen jou” sondig, moet jy hom vergewe. Dus: persoonlike vergewing waar daar persoonlike sonde begaan is.

Augustinus stel tereg Matthéüs 18: 15 („... gaan bestraf hom tussen jou en hom alleen.”) en I Timótheüs 5: 20 („Bestraf die wat sondig, in die teenwoordigheid van almal...”) teenoor mekaar; hy sê dan dat geheime sondes in die geheim en openbare sondes in die openbaar bestraf moet word. Ook Calvyn maak ’n duidelike onderskeid tussen geheime en openbare sondes op grond van Matthéüs 18: 15 en I Timótheüs 5: 20. Die geheime sondes is dié wat net by enkele persone bekend is, terwyl die openbare sondes algemeen bekend is en openbare aanstoot gegee het (kyk my Verhandeling, p. 101, 102).

Ten spyte van die tekskritiese probleem in Matthéüs 18: 15, is dit tog opmerklik dat Jesus ’n „geheime” vermaning onder vier oë voorskryf. Ook dui I Korinthiërs 13: 7 (die liefde bedek alles, glo alles, hoop alles, verdra alles) en Jakobus 5: 19, 20 (iemand wat ’n sondaar van sy dwaalweg bekeer, sal ’n siel uit die dood red en ’n menigte sondes bedek) daarop dat ’n lidmaat nie in alle gevalle summier die sonde van ’n ander openbaar mag maak nie. Hierdie gegewens veronderstel dus dat daar wel so iets as „geheime sondes” is.

Maar die Nuwe Testament leer in sekere gevalle ook openbare bestraffinge sonder voorafgaande „geheime” vermaninge. Dit veronderstel weer „openbare sondes”.

In Markus 8: 33 bestraf Jesus vir Petrus in die teenwoordigheid van die ander dissipels. En in Handelinge 5: 1-11 bestraf Petrus eers vir Ananías en daarná vir Saffíra in die teenwoordigheid van ander apostels (vers 2) en gemeentelede (vers 5, 11).

|357|

In Handelinge 8: 20 word beskryf hoe Petrus teenoor Simon die towenaar optree. Hierdie Simon was klaarblyklik ’n leidende figuur in Samaria en ’n lidmaat van die gemeente aldaar (verse 9, 10 en 13). Toe hy egter probeer om die mag tot mededeling van die Heilige Gees deur geld te verkry (verse 18, 19), het Petrus hom onmiddellik baie skerp in die openbaar bestraf (vers 20). Petrus neem hom nie eers opsy vir ’n „geheime” vermaning nie, maar sy openbare sonde het ’n direkte openbare bestraffing vereis.

In Galásiërs 2 beskryf Paulus hoe hy Petrus „openlik” (vers 11), „in teenwoordigheid van almal” (vers 14) vermaan het. Die openbare aard van Petrus se geveins het ’n openbare bestraffing nodig gemaak, „...omdat hy veroordeeld gestaan het.” (vers 11).

’n Volgende voorbeeld is I Timótheüs 5: 19, 20. In vers 19 vermaan Paulus Timótheüs om nie ’n beskuldiging teen ’n ouderling aan te neem nie, behalwe op die getuienis van twee of drie. As daar dan so ’n geval voorkom waar ’n ouderling só gesondig het dat hy op die getuienis van twee of drie beskuldig is (’n openbare sonde dus), moet hy „in die teenwoordigheid van almal”, dit is in die teenwoordigheid van al die ouderlinge, bestraf word.

Op grond van die voorgaande gegewens is dit dus duidelik dat daar in die Skrif wel onderskeid gemaak word tussen heimlike en openbare sondes.

 

Die liefdesweg met my mede-gelowige.

Wat tot dusver duidelik geword het, is dat daar in die geval van ’n heimlike sonde eers ’n bepaalde pad geloop moet word voordat ’n saak by die „gemeente” aangegee mag word. (Met „gemeente” word hier „die kerkraad” bedoel, wat in die Naam van Christus die regering in die gemeente uitoefen en die gesag van Christus bedien. Vergelyk hier byvoorbeeld die onverkorte Formulier vir die Bevestiging van Ouderlinge en Diakens).

Eers moet daar persoonlike vermaning onder vier oë plaasvind. By gebrek aan berou, moet een of twee getuies saamgeneem word, sodat in die mond van twee of drie getuies elke woord kan vasstaan. (Hierdie beginsel van meerdere getuies word al deur God voorgeskryf in Deuteronómium 19: 15, vergelyk 17: 6. Dit is nie slegs in die kerklike

|358|

„regspleging” ’n onmisbare voorvereiste nie, maar dit geld ook in die gemene reg). As daar selfs dan nog geen berou en inkeer is nie, word dit by „die gemeente” (lees: „die kerkraad”) aangegee. En as hy na die gemeente ook nie luister nie, moet hy wees „soos die heiden en die tollenaar”. Hierdie laaste uitdrukking hou per implikasie in dat die sondaar van die gemeente afgesny moet word.

 

Bind en ontbind.

Die woorde „bind” en „ontbind” word reeds in Matthéüs 16: 19 gebruik. Nadat Petrus, as woordvoerder van die dissipelkring, sy kragtige belydenis uitgespreek het: „U is die Christus, die Seun van die lewende God” (16: 16), het Jesus vir hom gesê: „En Ek sal jou die sleutels van die koninkryk van die hemele gee; en wat jy ook op die aarde mag bind, sal in die hemel gebonde wees, en wat jy ook op die aarde mag ontbind, sal in die hemel ontbonde wees” (16: 19).

Hier word „bind” en „ontbind” meer algemeen gekoppel aan die sleutelmag, terwyl dit in Matthéüs 18: 18 meer spesifiek in verband gebring word met die kerklike tug.

Hier is ook Johannes 20: 23 van groot belang: „As julle die mense hulle sondes vergewe, dan word dit hulle vergewe; as julle die mense hulle sondes hou, dan is dit gehou.”

Dit is ook betekenisvol dat Jesus in Matthéüs 16 vir Petrus aanspreek: wat jy ook op die aarde mag bind en ontbind; in Matthéüs 18, egter, gebruik die Here die meervoud: wat julle op die aarde bind en ontbind; dit is ’n duidelike bewys dat Jesus in Matthéüs 16 vir Petrus aanspreek as verteenwoordiger van die dissipelkring. (Dit word versterk deur Johannes 20: 23, waar Jesus ook in die meervoud praat).

Die Griekse woorde deoo en luoo, wat in ons Afrikaanse Bybel vertaal word met „bind” en „ontbind”, is ’n letterlike weergawe van die Aramese ekwivalente asar en sera. Hierdie Aramese werkwoorde beteken eerstens letterlik „bind” en „ontbind”; dit word egter ook besonderlik gebruik om die toepassing en opheffing van die ban uit te druk.

As daar egter teruggegaan word na die rabbynse spraakgebruik, blyk dit dat hierdie twee werkwoorde in die sogenaamde „Halacha”-leerbeslissings

|359|

van die Skrifgeleerdes veral die betekenis het van „verbied” en „veroorloof”. 

Hierdie bykomende betekenis van „bind” en „ontbind” hou dus in dat wanneer Petrus (en die apostels) geroep word om die tug toe te pas, hulle ook in die posisie moet wees om in elke geval met gesag te besluit wat geoorloof en wat verbode was. Die tuggesag van die apostels veronderstel daarmee onvoorwaardelik en beslis hulle leergesag; eers die vereniging van tuggesag en leergesag vorm die sleutelmag wat aan hulle toevertrou is. („Halacha” beteken die wetlike voorskrifte in die Ou Testament waarvolgens die Jode hulle lewenswandel moes inrig, teenoor die sogenaamde „Haggada” wat meer toegespits is op die geskiedkundige en leerstellige inhoud van die Skrif).

Oor die betekenis en draagwydte van die twee woorde „bind” en „ontbind” is daar omvangryke studiemateriaal beskikbaar (kyk my Verhandeling, p. 38-42).

Ek wil u nie vanaand verder vermoei met allerlei taalkundige, semantiese en eksegetiese besonderhede nie.

Saamgevat kan die volgende gestel word: In al drie die bogenoemde uitsprake van Jesus (Matthéüs 16: 19, 18: 18 en Johannes 20: 23) gaan dit om sleutelmag; wat in Matthéüs 16: 19 nog ’n algemeen-prinsipiële betekenis het, word in Matthéüs 18: 18 meer spesifiek, terwyl Johannes 20: 23 ’n nadere verklaring is van die twee uitsprake in Matthéüs 16 en 18. In al drie die gedeeltes gaan dit dus om die dissiplinêre, regterlike bevoegdheid wat op die aarde uitgeoefen en in die hemel bevestig word. Dit gaan dus in hierdie uitsprake om sowel die Woordbediening as die tugoefening, die twee sleutels van die koninkryk van die hemel (Heidelbergse Kategismus, Sondag 31).

 

Kerkregtelik.

Die subjek van die kerklike tug.

Onomwonde moet hier allereers gesê word dat Jesus Christus, die Hoof van die kerk, die absolute Subjek van die kerklike tug is. Hy oefen die sleutelmag in absolute sin uit. 

Hy maak egter gebruik van mense as sy instrumente, wat ons kan noem die bedienende subjekte van die kerklike tug. Dit beteken egter nie dat

|360|

Jesus Christus sy gesag oordra aan mense, asof Hyself daarvan afstand doen nie. Hy roep en gebruik slegs mense om sy gesag in sy kerk te bedien.

Oor die vraag aan wie die sleutelmag toevertrou is: aan Petrus alleen, of ook aan die ander apostels, is daar selfs in reformatoriese kringe nie algehele eenstemmigheid nie.

Hierbo is egter voldoende aangetoon dat, alhoewel Jesus in Matthéüs 16: 19 vir Petrus alleen aanspreek, dit tog só verstaan moet word dat hy as verteenwoordiger van die dissipelkring gesien moet word.

In Matthéüs 18: 17 noem Jesus „die gemeente” as die finale instansie wat hier op aarde volmag het om die vermaning en die tug te hanteer.

Skrifgegewens maak dit egter duidelik dat dit nie ’n geval is van die gemeente of die kerkraad wat volmag het om die tug toe te pas nie (soos in sommige ander kerkregeringstelsels), maar die gemeente en die kerkraad. In die Rooms-katolieke kerkregering, byvoorbeeld, is daar ’n oorheersende ampstruktuur en ’n onmondige gemeente, terwyl die Independentisme weer ’n oorheersende gemeente het met ’n onmondige kerkraad.

Op grond van Matthéüs 18: 15-17 kan ons sê dat die tug sy wortels het in die gemeente; Christus het Self hierdie bevoegdheid aan die gemeente gegee. Verdere Skrifgegewens waarna verwys kan word is onder andere Romeine 16: 17, I Korinthiërs 5: 4 en II Thessalonicense 3: 6, 14, 15.

In die Nuwe-Testamentiese kerke het die apostels die gewone, blywende ampte ingestel. Ná die verdwyning van die eenmalige en omvattende amp van die apostels het daar dus nie ’n lugleegte ontstaan nie. Hier kan byvoorbeeld verwys word na die kies van die sewe diakens (Handelinge 6: 1-7), die verkiesing van ouderlinge in elke gemeente (Handelinge 14: 23) en Paulus se opdrag aan Titus om van stad tot stad ouderlinge aan te stel (Titus 1: 5).

Volgens die Skrif is dit duidelik die opdrag en taak van die ouderlinge om gesamentlik, as vergadering die tug uit te oefen; ook die verhouding tussen die kerkraad en die gemeente word duidelik afgebaken. Vir besonderhede hieroor, verwys ek u na my Verhandeling, p. 82-90.

|361|

Onderskeid tussen heimlike en openbare sondes.

Die onderskeid tussen heimlike en openbare sondes, gegrond op Matthéüs 18, word pertinent in ons Kerkorde verreken (kyk artikels 72, 73, 74, 75, 76 en 79). Daar word bepaalde voorskrifte gegee oor hoe opgetree moet word in elk van die gevalle.

Ek aanvaar dat u met hierdie voorskrifte vertroud is.

Vergun my egter asseblief ’n paar waarskuwende opmerkings:
➢ Kerkrade moet nougeset daarteen waak dat hulle nie sake wat nog op die terrein van die persoonlike vermaning lê, sommerso in behandeling neem nie (artikels 72, 73). Om op die gebied van die kerkregering, en by name dié van die tugoefening, „kortpaadjies” te probeer loop, is om te tender vir moeilikheid!
➢ Aan die ander kant weer mag ’n kerkraad ’n „beskuldiging” of ’n „saak” wat regtens deur hom in behandeling geneem moet word volgens die bostaande Skrifgegewens, nie met ’n onregmatige beroep op die sogenaamde „weg van Matthéüs 18” op die syspoor van die persoonlike vermaning stoot nie (artikels 74, 76, 79). Sodoende ontduik die kerkraad sy Godgegewe verantwoordelikheid.

 

In alle gevalle eers die „weg van Matthéüs 18”?

’n Foutiewe persepsie bestaan dat in alle gevalle van moontlike tug eers die reël wat Christus in Matthéüs 18 voorskryf, onderhou moet word.

Met ander woorde: voordat ’n kerkraad byvoorbeeld ’n klag volgens artikel 79 KO mag behandel, moet hy eers vasstel of daar persoonlike vermanings volgens die voorskrif in Matthéüs 18 gedoen is.

So ’n siening vind egter geen steun in óf die Skrif óf die Kerkorde nie.

Wanneer ’n openbare sonde begaan is, hoef daar geen persoonlike vermanings gerig te word voordat ’n klag by die kerkraad gelê word nie.

Dit wil egter nie sê dat daar nou maar los en vas, op grond van vermoedens en gerugte, klagtes teen ampsdraers by kerkrade aanhangig gemaak mag word nie.

Aan die hand van enkele voorbeelde sal ek dit verduidelik.

|362|

Voorbeeld 1

’n Predikant ketter van die preekstoel af deur te sê: „Jesus Christus is nie die Seun van God nie.” Hy beklemtoon dit deur dit te herhaal. Daar kan dus geen twyfel oor hierdie openbare sonde bestaan nie.

Geen lidmaat hoef in so ’n geval die predikant eers persoonlik te gaan vermaan volgens Matthéüs 18 nie; ’n klag kan summier by die kerkraad aanhangig gemaak word. Die kerkraad moet in hierdie omstandigheid die predikant in elk geval direk na die erediens konfronteer en reëlings tref vir ’n buitengewone vergadering onder leiding van die konsulent.

Voorbeeld 2.

’n Ouderling of lidmaat hoor die predikant iets in sy preek sê wat klink na kettery. Hy is egter nie seker of hy reg gehoor het nie.

Voordat enige dissiplinêre aksie in werking gestel mag word, moet daar eers sekerheid verkry word oor wat presies gesê is. Dit is nie wenslik dat die predikant direk ná die diens voor die hele kerkraad om ’n verduideliking gevra word nie. Die saak moet eers met hom alleen „uitgeklaar” word.

Maar: hierdie „uitklaring” is nie die toepassing van die reël in Matthéüs 18 nie! Dit is slegs ’n ontmoeting om helderheid te kry.

Indien dit blyk dat die predikant nie geketter het nie, maar slegs verkeerd verstaan is of ’n uitdrukking gebruik het wat vir misverstand vatbaar is, is die saak daarmee afgehandel.

Indien dit egter blyk dat die predikant wel geketter het, moet daar summier ’n klag by die kerkraad aanhangig gemaak word.

 

„...dan het jy jou broeder gewin...”

Hierdie woorde van Jesus dui beslis daarop dat een van die doeleindes van die tug (wat by vermaning begin) die behoud van die sondaar is.

Verskeie ander Skrifgegewens kan aangehaal word as verdere bewys dat die tug onder andere die behoud van die sondaar ten doel het (kyk hiervoor my Verhandeling, p. 56-61).

|363|

Hierop berus artikel 71 van ons Kerkorde waar gesê word dat die tug onder meer as doel het om „die sondaar met die kerk en sy naaste te versoen”.

Ook artikel 75 van ons Kerkorde is hier van belang. In hierdie artikel word gehandel oor die versoening. Opmerklik, egter, dat hierdie artikel dié oor die tugprosedure voorafgaan. Daarmee word die versoening as een van die die doelpunte van die tug beklemtoon. Die kerklike tug soek die behoud van die sondaar, die verbetering en heiliging van sy lewe; dit streef daarna om die mede-gelowige te „win”; dit is nie straf as kerklike vergelding nie.

 

„...soos die heiden en die tollenaar”

Soos hierbo reeds gesê is, hou hierdie woorde van Jesus per implikasie in dat die sondaar van die gemeente afgesny moet word.

Verskeie ander Skrifgedeeltes kan aangehaal word as verdere bewys dat verharding van die sondaar moet uitloop op afsnyding van die gemeente (kyk hiervoor my Verhandeling, p. 52-55, 58-60).

Artikel 77 van ons Kerkorde, waar „die laaste tugmiddel, die afsnyding van die gemeenskap van die kerk” gereël word, kan dus ook onder Matthéüs 18 (en ander Skrifgedeeltes) tuisgebring word.

 

Slotopmerkings.

Oor die belangrikheid van die kerklike tug moet daar onder Gereformeerdes geen verskil van mening bestaan nie. Tereg word die toepassing van die kerklike tug in Artikel 29 van die Nederlandse Geloofsbelydenis genoem as een van die drie kenmerke waaraan die ware kerk uitgeken kan word.

Met die konsekwente toepassing van die kerklike tug is die waarheid en die suiwerheid van die kerk dus onontwykbaar op die spel. Daardie kerk wat nie meer die tug toepas nie, is geen ware kerk meer nie ... al is daar ook nóg soveel drukte en aktiwiteit!

Dat die kerklike tug van ingrypende betekenis is, word baie duidelik uit hierdie woorde van Jesus: „Ek sê vir julle, alles wat julle op die aarde bind, sal in die hemel gebonde wees; en alles wat julle op die aarde ontbind, sal in die hemel ontbonde wees.” (Matthéüs 18: 18).

|364|

Terselfdertyd beklemtoon hierdie woorde van die Here ook die ontsaglike verantwoordelikheid van elke kerkraad: met die kerklike tug is die ewige toekoms van lidmate op die spel, na watter kant toe ook al!

Mag hierdie wete ons elkeen getrou maak in ons roepingsvervulling!

 

(Geringe verwerking van ’n referaat gelewer voor die Kerkraad van die Gereformeerde Kerk Magalieskruin op 31 Oktober 1995)