|83|
Die amp van die bedienaars van die Woord is om in die gebede en bediening van die Woord te volhard, die sakramente te bedien, om goed ag te gee op hulle medebroeders, op die ouderlinge, op die diakens sowel as op die gemeente, en eindelik om saam met die ouderlinge die kerklike dissipline uit te oefen en te sorg dat alles betaamlik en ordelik plaasvind.
Die „praktiese toepassing” van hierdie artikel behoort nie veel probleme op te lewer nie, aangesien die inhoud bekend en vanselfsprekend is; daarom vestig ek slegs die aandag op ’n paar dinge.
Die woord „amp” in hierdie artikel bedoel nie ’n soort waardigheid of eer of status wat die predikant sou beklee nie; dit bedoel gewoon sy diens, sy taak en plig. „Amp” en „diens” is immers presies dieselfde (kyk p. 3).
In hierdie artikel word nie ’n soort „posomskrywing” van die predikantsamp gegee, waarin al sy ampspligte noukeurig aangedui en bepaal word nie. Die Kerkorde is immers geen reglement nie; dit gee slegs die breë lyne.
Niemand kan dus beweer dat ’n predikant byvoorbeeld nie nodig het om huisbesoek te doen (ook by siekes en bejaardes) en katkisasie te gee, bloot omdat artikel 16 nie daarvan melding maak nie.
Benewens die beroepsbrief, waarin al hierdie dinge gestipuleer word, moet in ag geneem word dat huisbesoek en katkisasie in wese ook Woordbediening is!
Hiermee saam moet in gedagte gehou word dat ’n predikant, volgens die Woord van die Here, ook ouderling is (kyk I Timótheüs 5: 17); en in artikel 23, waar oor die amp van die ouderlinge gehandel word, staan uitdruklik dat die ouderling ook huisbesoek moet doen.
|84|
In Suid-Afrika tree predikante ook op as huweliksbevestigers vir die staat.
Hulle moet egter daarvoor registreer.
Voordat hulle egter deur die staat as huweliksbevestigers aangestel kan word, moet hulle eers bewys lewer dat hulle op hoogte is met alle wetgewing in hierdie verband.
Volle besonderhede hieroor kan van die Administratiewe Buro van die GKSA verkry word.
Die predikant as die bedienaar van die Woord is in die erediens die voorganger (liturg).
In sy optrede as voorganger is hy gebonde aan die vasgestelde orde in die erediens.
Die Sinodes van 1985 (Handelinge p. 398 e.v.) en 1997 (Handelinge p. 731 e.v.) het bepaalde besluite in hierdie verband geneem; die aandag moet daarop gevestig word dat hierdie besluite, kragtens artikel 31 KO, "vas en bindend" is (behalwe waar Sinode 1997 besluite van Sinode 1985 verander het, of waar die Sinodes uitdruklik besluit het dat een of ander onderdeel aan die vryheid van die plaaslike kerke oorgelaat word).
As voorbeelde van laasgenoemde kan die volgende dien: Sinode 1985, Handelinge p. 417, punt 3.7.4.1; Sinode 1997, Handelinge p. 755, punt 8.3.2.
Die besluite van genoemde Sinodes laat wel op bepaalde punte aan die liturg ’n mate van vryheid; verder kan ’n bepaalde (eenmalige) situasie noodsaak dat die liturg van die vasgestelde orde moet afwyk; geen predikant het egter die reg om die liturgiese orde, wat deur ’n sinode vasgestel is, eiewillig te verander en só die eenheid in diens tussen kerke in kerkverband te versteur nie; en geen kerkraad mag so iets toelaat nie.
|85|
❖ Met katkisasie.
Wanneer ’n predikant weens omstandighede nie self alle kategetiese onderrig kan behartig nie, moet noodwendig van hulpkragte gebruik gemaak word.
Daar moet egter toegesien word dat slegs bekwame en goed toegeruste hulpkragte gebruik word.
❖ Met leesdienste.
Wanneer die predikant nie beskikbaar is nie, weens siekte of verlof, en wanneer ’n gemeente vakant is, word ’n aantal geskikte broeders aangewys om leesdienste waar te neem; sulke broeders hoef nie kerkraadslede te wees nie.
By die aanwysing van sulke broeders moet gekyk word na diegene wat ’n leesdiens tot die meeste stigting van die gemeente kan waarneem.
So ’n leesdiens is ’n hulpdiens vir die diens van die Woord. Die leser is dan die instrument of die „mond” van dié predikant wie se preek voorgedra word. Die leser mag egter nie die preek wat hy voorlees, willekeurig verander nie; ook mag hy nie self ’n „preek” probeer maak nie.
Die Sinode van 1961 (Handelinge p. 449 e.v., Artikel 150) het besluit dat in ’n leesdiens die votum aan die begin wel uitgespreek mag word, terwyl aan die einde nie ’n seën uitgespreek mag word nie, maar wel ’n seënbede afgebid moet word.
Uit die aard van die saak mag in ’n leesdiens geen doop- of nagmaalsbediening plaasvind nie, aangesien slegs ’n dienende predikant die bevoegdheid het om die sakramente te bedien.
’n Leesdiens mag egter van die preekstoel af gelei word; ’n preekstoel is nie ’n heilige plek wat uitsluitlik deur ’n predikant betree mag word nie; dit is slegs ’n „platform” waar die gemeente die voorganger goed kan sien en hoor. Die Sinode van 1955 (Handelinge p. 334, punt d (3)) het hieroor besluit dat geen beginsel hier in gedrang is nie; daarom word dit aan die vryheid van elke kerkraad oorgelaat om te besluit of die leser die leesdiens vanaf die kansel sal lei.
|86|
In kerke binne die verband van die GKSA word geen „ampsgewaad” voorgeskryf nie ... eenvoudig omdat die Skrif so iets in die Nuwe-Testamentiese kerke nie ken nie.
By die aantekeninge op p. 55 oor die sogenaamde „tentmakerbediening”, moet bygevoeg word dat die bediening (as dit getrou en met toewyding uitgeoefen word) al ’n predikant se tyd en kragte opeis. Oorvloedige voorbeelde kan voorgelê word waar gemeentes benadeel is omdat predikante te besig is met sake wat niks met hul dienswerk te doen het nie.
Om twee maal op ’n Sondag Gods Woord te bedien, verg intensiewe studie en voorbereiding wat baie tyd in beslag neem. Predikante wat sommer op ’n Saterdag twee „preke” aanmekaar timmer of uit hul mou uitskud, is nie werd om „bedienaar van Gods Woord” genoem te word nie! Hulle is die oorsaak dat die kudde van die Opperherder geestelik verhonger, en hulle sal eenmaal daarvan rekenskap moet gee!
Hierdie artikel maak in drieërlei sin melding van die predikant
se regeeramp:
➢ hy moet goed ag gee op sy medebroeders (as daar meer as een
predikant in die gemeente is), op die ouderlinge, diakens en die
gemeente;
➢ hy moet saam met die ouderlinge die kerklike tug toepas;
➢ hy moet sorg dat alles betaamlik en ordelik plaasvind.
Hieruit is dit duidelik dat die predikant, wat saam met die ouderlinge verantwoordelik is vir die regering in die kerk, in hierdie opsig tog ’n baie belangrike plek in die gemeente inneem en ’n baie verantwoordelike diens het om te verrig.
Dit beteken egter nie dat hy bokant die ouderlinge en diakens staan nie (kyk p. 4).
’n Predikant wat hom verbeel dat hy so groot en so belangrik is, dat hy ’n onaantasbare figuur is en dat hy sy wil oral en op almal kan afdruk,
|87|
sal beslis groot ongelukke maak in sy bediening; hy sal met so ’n houding die gemeente nie regeer nie, maar onderdruk; nie bou nie, maar afbreek!
Om sy regeeramp tot eer van God en tot opbou van die gemeente uit te oefen, moet die predikant wel beslis wees, maar nie oorheersend nie; hy moet wel ’n leier wees, maar nie ’n tiran nie; hy moet wel „die sweep kan laat klap”, maar altyd in liefde.