|243|
Elke kerk moet die nagmaal hou op die wyse wat na sy oordeel tot die meeste stigting dien. Dit moet egter goed verstaan word dat die uitwendige seremonies wat in die Woord van God voorgeskryf is, nie verander mag word nie, dat alle bygeloof vermy moet word en dat na die preek en algemene gebede, die formulier van die Heilige Nagmaal, asook die gebed wat daarby behoort, gelees moet word.
Die nagmaal van die Here moet minstens elke drie maande gehou word.
Die bediening van die nagmaal vind alleen in ’n erediens plaas onder toesig van die ouderlinge.
Voordat enkele voorskrifte met betrekking tot nagmaalsviering aangetoon word, sê artikel 62 dat elke kerk die nagmaal hou op die wyse wat na sy oordeel tot die meeste stigting dien.
Daar is dus ’n aantal middelmatige sake by die viering van die nagmaal wat aan die vryheid van elke plaaslike kerk oorgelaat word.
Onder andere kan die volgende genoem word:
➢ of die nagmaal sittende of staande gevier moet word;
➢ of daar tydens die viering gedeeltes uit die Skrif voorgelees
of toepaslike Psalms/Skrifberymings gesing moet word;
➢ watter tipe brood en wyn gebruik moet word;
➢ of daar voor die nagmaal ’n voorbereidingsdiens en daarna ’n
nabetragtingsdiens gehou moet word;
➢ of daar elke Sondag nagmaal gevier moet word.
|244|
Artikel 62 bepaal dat „die uitwendige seremonies wat in die Woord van God voorgeskryf is” nie verander mag word nie.
Wat onder die onveranderlike „uiterlike seremonies” gereken moet word en wat nie, is nie altyd so maklik uit te maak nie; daarom is daar skerp verskil van mening oor sommige van die „elemente” by nagmaalsviering.
Waaroor daar (sover my wete strek) nie verskil van mening is nie,
is onder andere die volgende:
➢ die maaltydkarakter moet gehandhaaf word;
➢ die nagmaal moet ná die preek, gebede en Formulier
bedien word (art. 62);
➢ die Nagmaalsformulier (insluitende die „Formule”, J.V. — kyk
Psalmboek, uitgawe 1988, p. 624 en 630) moet woordeliks gelees
word (art. 62);
➢ gewone brood en wyn moet gebruik word;
➢ die nagmaal moet minstens elke drie maande gehou word
(art. 63);
➢ die nagmaal mag slegs bedien word in ’n erediens, onder
toesig van die ouderlinge (art. 64).
Mag met die nagmaalstafel weggedoen word, sodat bord(e) en beker(s) tussen die lidmate rondgaan terwyl hulle in die banke bly sit?
Na my mening is dit om die volgende redes nie die ideale wyse van
nagmaalsviering nie:
➢ die maaltydkarakter kom nie tot sy volle reg nie;
➢ die ouderlinge kan nie behoorlik toesig hou nie;
➢ die getuienis/verkondiging wat spreek uit lidmate se
aksie om op te staan en na die nagmaalstafel te gaan, gaan
hiermee verlore.
Vandag is daar ernstige meningsverskil oor die kwessie van beker of kelkies.
Die Sinodes van 1927 (Handelinge p. 52, art. 154(b) en 1930 (Handelinge p. 47-50, art. 45, 46; p. 157-159, art. 184) het egter eksplisiet
|245|
die gebruik van kelkies afgewys.
Na aanleiding van ’n aantal beswaarskrifte het die Sinode van 1994 (Handelinge p. 524, punt 3 en 4) die aangeleentheid vir studie na deputate verwys. Aangesien die Sinode van 1997 nie voldoende tyd gehad het om ’n verantwoordelike besluit oor die uitgebreide studiemateriaal te neem nie, is besluit om die hele aangeleentheid vir verdere studie na deputate te verwys (Handelinge p. 729, punt 7).
Hopelik sal die Sinode van 2000 DV ’n finale besluit hieroor neem.
Voordat ’n sinode nie besluit dat die Sinodebesluite van 1927 en 1930 „in stryd is met Gods Woord of die artikels van die Kerkorde” nie (kyk art. 31 KO), bly die besluite van hierdie twee Sinodes nog van krag. Kragtens artikel 31 KO is plaaslike kerke verplig om nog steeds daaraan uitvoering te gee (kyk Sinodebesluit 1997, p. 729, punt 6.6).
Dit is daarom betreurenswaardig dat verskeie plaaslike kerke op eg independentistiese wyse artikel 31 KO kragteloos maak, die Sinodebesluite van 1927, 1930 en ook 1997 eiegeregtig ter syde stel en wederregtelik kelkies invoer by nagmaalsviering.
Die argument dat meeste kerke in die verband van die GKSA alreeds kelkies gebruik (met verwysing na meer as een beker), hou egter nie steek nie. Alhoewel die ideaal die gebruik van een beker is, bly die gemeenskapskarakter tog behoue as daar meer as een beker is — deurdat ’n groep lidmate gemeenskaplik dieselfde beker gebruik. Dit word ook nie aanbeveel dat ná elke tafel ’n stel skoon bekers, wat van nuuts af gevul word, gebruik word nie. Kontinuïteit tussen tafels word tot ’n groot mate behou indien die beker(s) ná elke tafel slegs weer opgevul word. Daar kan egter geen beswaar ingebring word as die predikant tussen die verskillende tafels die rante van die bekers met ’n skoon doek afvee nie. Trouens, hierdie gebruik kan sterk aanbeveel word.
Soms word daar geargumenteer dat gerehabiliteerde alkoholiste weer in die sonde kan terugval as hulle wyn drink met nagmaal. Daarom moet die nagmaal liewer met druiwesap bedien word.
|246|
Behalwe dat daar in die Skrif geen steun vir so ’n argument is nie, is daar (sover my wete strek) nog geen enkele geval bekend waar ’n gerehabiliteerde alkoholis as gevolg van nagmaalsgebruik weer in sy ou sonde teruggeval het nie.
Dit is ook my absolute geloofsoortuiging dat die Here nie sal toelaat dat enigiemand, wat aan sy bevel gehoorsaam is en nagmaal gebruik, as gevolg daarvan in sonde sal (terug)val nie.
Moet ’n predikant by elke tafel lidmate uitnooi om toe te tree tot die nagmaalstafel?
My ernstige mening is dat dit nie gedoen moet word nie.
’n Predikant nooi nie lidmate uit om toe te tree tot die tafel nie, maar hy skerp hulle op om, in gehoorsaamheid aan die bevel van Christus, toe te tree.
Hierdie bepaling in artikel 62 moet gesien word in sy historiese verband. Dit is naamlik hoofsaaklik gerig teen die dwaalleer van die Roomse mis, naamlik dat die brood en wyn werklik in die liggaam en bloed van die Here verander en daarom as die offer van sy liggaam en bloed aanbid moet word.
Vandag is daar egter ook in die geledere van die GKSA ’n stuk bygeloof wat wortel en tak uitgeroei moet word! Dit is naamlik dié bygeloof dat die nagmaal baie hoër geag word as die gereelde Woordbediening: van die nagmaal mag nie weggebly word nie; maar die Woordbediening, twee keer elke Sondag, is nou nie so belangrik nie!
Ter wille van lidmate wat as gevolg van skofwerkery nie die oggend nagmaalsvierings kan bywoon nie, vier sommige gemeentes soggens en saans nagmaal.
As sodanig kan hiermee nie fout gevind word nie.
|247|
Die verkeerde sluip in wanneer lidmate wat in die oggend nagmaal gebruik het en weer in die aanddiens teenwoordig is, dan nie weer nagmaal gebruik nie.
Dan word die aand se nagmaalsviering ’n opsionele viering. En dit mag nie.
Die sinode van 1967 (Handelinge p. 165, art. 53 (63, 242)) het dan ook besluit dat ’n opsionele tweede nagmaalsviering op een Sondag nie toelaatbaar is nie.
Dit beteken dus dat as daar op ’n Sondag ’n oggend en aand nagmaalsviering is, alle lidmate wat in die diens(te) teenwoordig is, moet nagmaal gebruik. Geen lidmaat het dus die reg om ’n keuse te maak of hy/sy by die oggend- of aanddiens nagmaal wil gebruik nie.
Mag die nagmaal aan byvoorbeeld ’n kroniese sieke of ’n verswakte bejaarde aan huis bedien word?
Artikel 64 bepaal uitdruklik dat die nagmaal slegs in ’n erediens onder toesig van die ouderlinge bedien mag word.
Daar mag dus, teoreties gesproke, in hoogs uitsonderlike gevalle wel nagmaal aan huis van ’n lidmaat bedien word — op voorwaarde dat daar in die huis ’n erediens gehou word onder toesig van die ouderlinge.
Persoonlik meen ek dat dit prakties nie gedoen behoort
te word nie, en wel om twee redes:
➢ die nagmaal is bedoel as ’n gemeenskapsmaal vir die hele
gemeente;
➢ om nagmaal aan huis te bedien kan maklik die indruk skep dat
lidmate wel sonder gereelde Woordbediening kan klaarkom, maar nie
sonder nagmaalsbediening nie. So ’n siening is natuurlik totaal
onaanvaarbaar, omdat dit grens aan bygeloof (kyk op p. 246: „Alle
bygeloof vermy.”).