|98|
Die ouderlinge word deur die gemeente onder die leiding van die kerkraad verkies volgens die reëling wat daarvoor plaaslik in gebruik of deur die kerkraad vasgestel is. By hierdie reëling staan dit elke kerkraad vry om vooraf aan die gemeentelede geleentheid te gee om die aandag op geskikte persone te vestig, en om saam met die diakens vir die verkiesing die nodige aantal ouderlinge aan die gemeente vir approbasie voor te dra of om tweetalle of ’n dubbele getal te stel waaruit die gemeente die nodige aantal kies. Die verkose broeders word, nadat hulle name verskillende male afgekondig is, en geen wettige beswaar ingekom het nie, bevestig volgens die formulier wat daarvoor vasgestel is.
Wat gebruiklik is in die geval van die ouderlinge, moet ook onderhou word by die verkiesing, goedkeuring en bevestiging van die diakens.
’n Belangrike beginsel in hierdie artikels is dat die verkiesing van ouderlinge en diakens by die gemeente berus, onder leiding van die kerkraad.
Op die vraag wie mag deelneem aan die verkiesing van ouderlinge en diakens, is die antwoord: alle manlike en vroulike belydende lidmate wat nie onder sensuur is nie (kyk p. 27).
In die GKSA is slegs manlike belydende lidmate verkiesbaar tot die ampte van ouderling en diaken. (Die vraag oor toelating van vroue-lidmate tot die besondere ampte is op p. 11 e.v. behandel).
|99|
Die Bybel stel egter bepaalde vereistes waaraan persone moet beantwoord voordat hulle oorweeg mag word vir verkiesing tot ouderling of diaken. Op p. 4 is hierdie vereistes (en gawes) bespreek.
In artikel 22 (en dus ook in art. 24) word verskillende reëlings vir die verkiesing van ouderlinge en diakens aangedui.
Vooraf moet egter eers gewys word op ’n aantal algemene bepalings
wat in ag geneem moet word, en wat reeds op p. 24 e.v. bespreek
is.
➢ Wanneer daar oor persone gestem word, word dit normaalweg per
geslote stembrief gedoen; indien dit die verkiesing die beste
laat vlot en daar nie gevaar van onbehoorlike beïnvloeding is n
ie, mag ook met opsteek van hande gestem word.
➢ ’n Beginsel wat in ag geneem moet word in alle gevalle waar
gestem word, is dat die uitslag by wyse van ’n volstrekte
meerderheid bepaal word (kyk p. 24 e.v.).
➢ Wanneer daar ’n staking van stemme ontstaan, het die voorsitter
geen beslissende stem nie; by verkiesing van ampsdraers kan daar
in geval van ’n staking van stemme oorgestem word; wanneer daar
dan weer ’n staking van stemme is, moet met plegtige aanroeping
van die Naam van die Here geloot word (kyk p. 21, 28).
Wat die wyse van verkiesing betref, word verskillende moontlikhede genoem.
Aan die gemeente kan geleentheid gegee word om die name van geskikte persone skriftelik onder die aandag van die kerkraad te bring.
Hierdie name word in aanmerking geneem wanneer die kerkraad saam met die diakens ’n groslys opstel, tweetalle of dubbele getalle aan die gemeente vir verkiesing voorlê, of persone ter approbasie aan die gemeente voorhou.
’n Tweetal beteken presies wat die woord sê: twee persone vir elke vakature, van wie die gemeente een moet kies.
Hierdie is by verre die eenvoudigste en maklikste metode.
|100|
By hierdie metode word daar dubbel die aantal persone per vakature aan die gemeente voorgelê, waaruit die benodigde aantal dan gekies moet word.
Byvoorbeeld: daar is 3 vakatures; 6 name word aan die gemeente voorgelê, waaruit 3 gekies moet word.
Die woord „approbasie” beteken „goedkeuring”.
Wanneer daar nie genoeg geskikte persone is om tweetalle of dubbele getalle aan die gemeente vir verkiesing voor te lê nie, kan die kerkraad en diakens die benodigde aantal ter approbasie aan die gemeente voorhou, gewoonlik by wyse van afkondiging op 3 agtereenvolgende Sondae. Dit beteken dat die gemeente versoek word om daardie persone goed of af te keur. Geen reaksie van die kant van die gemeente beteken gewoonlik stilswyende goedkeuring.
Dit is verkeerd om te beweer dat die gemeente by hierdie metode uitgeskakel word net omdat daar nie ’n verkiesing plaasvind nie. Die feit bly staan dat die finale goedkeuring tog by die gemeente berus.
’n Variasie op hierdie metode is dat die benodigde aantal persone aan die gemeente voorgelê word, sodat vir of teen hulle gestem kan word.
Dit bly altyd gewens dat aan die gemeente geleentheid gegee word om aktief te kies.
Ná die verkiesing moet die name van diegene wat verkies is, verskeie kere (gewoonlik 3 agtereenvolgende Sondae, na analogie van artt. 4 en 5 KO) aan die gemeente afgekondig word. Die bedoeling hiervan is om nog finaal aan die gemeente geleentheid vir goed- of afkeuring te gee.
Dit kan naamlik gebeur dat daar ná die verkiesing iets kan gebeur of sekere feite aan die lig kan kom wat ’n verkose persoon onaanvaarbaar maak vir bevestiging in die amp.
|101|
Enige beswaar teen ’n verkosene moet skriftelik by die kerkraad ingehandig word; die inhoud daarvan sal bepaal of dit ’n saak vir die kerkraad is, of vir die kerkraad en diakens.
Elke beswaar moet deeglik gegrond wees met stawende feite.
Elke beswaar moet ook indringend oorweeg word.
Indien ’n beswaar gehandhaaf word, word die verkiesing nietig verklaar; die betrokke persoon moet dienooreenkomstig ingelig word, en aan die gemeente moet ’n afkondiging in dié verband gedoen word.
Indien daar geen beswaar ingebring word nie, word die verkose persone in die amp(te) bevestig tydens ’n erediens, volgens die Formulier wat daarvoor vasgestel is.
In artikel 54 KO word bepaal dat ouderlinge en diakens die „Formuliere van Eenheid (moet) onderskryf en onderteken.”
Hiervoor is ’n Ondertekeningsformulier opgestel (kyk p. 84 van die Kerkordeboekie).
Die vraag is by watter geleentheid hierdie Formulier onderteken moet word: moet dit gedoen word direk ná die bevestiging, voor die gemeente, of kan dit later in ’n kerkraadsvergadering gedoen word?
Aangesien die gemeente die allernouste belang het by die belofte wat elke ampsdraer ten opsigte van die suiwere leer aflê kragtens die Ondertekeningsformulier, behoort die ondertekening van hierdie Formulier direk ná die bevestiging in teenwoordigheid van die gemeente plaas te vind.
Die Sinode van 1985 het besluit dat die ondertekening van die Formulier vir alle ampsdraers plaasvind volgens plaaslike reëling, verkieslik in die midde van die gemeente (Handelinge p. 422. punt 4.5.4).