|59|

Artikel 12

 

Omdat ’n bedienaar van die Woord wat eenmaal wettig beroep is, lewenslank aan die kerkdiens verbonde is, mag hy nie tot ’n ander staat van die lewe oorgaan nie, behalwe om gewigtige redes waaroor die kerkraad en die klassis moet oordeel met advies van die deputate van die partikuliere sinode.

 

Die bedoeling van hierdie artikel.

In die verlede is hierdie artikel misbruik om predikante, wat nie meer predikantswerk doen nie, tog nog die predikantsnaam en die predikantsamp te laat behou.

In die Gereformeerde kerkregering is daar egter geen plek vir sogenaamde „losloperpredikante” nie ... „predikante” wat nie meer predikantswerk doen nie, maar steeds die predikantsamp beklee. Byvoorbeeld: ’n predikant aanvaar ’n voltydse aanstelling as sekretaris van ’n kultuurorganisasie, maar behou nog steeds sy „status” as predikant.

Die Sinode van 1964 het in hierdie verband die volgende besluit geneem: Die diens wat die persoon doen, waartoe hy middellik deur God geroep en bevestig is, bepaal sy amp. Sodra hy daar buite tree, verval sy amp en hy word eervol losgemaak, indien sy verandering van lewenstaat deur die kerkraad en klassis, met advies van die deputate van die partikuliere sinode, as noodsaaklik beoordeel word. Die bedoeling in artikel 12 is om te bepaal hoe ’n bedienaar van die Woord onder uitsonderlike omstandighede sy amp eervol mag neerlê, en nie hoe hy dit kan behou nie (Handelinge 1964, p. 100).

 

Slegs om gewigtige redes.

Om vas te stel of die redes by ’n aansoek onder hierdie artikel wel „gewigtig” is, verg ernstige en versigtige oorweging deur die betrokke kerklike vergaderings. Elke geval moet volgens eie verdienste en omstandighede beoordeel word.

Dit kan byvoorbeeld gebeur dat ’n predikant ’n fisiese of psigiese gebrek opdoen wat hom onbekwaam maak vir predikantswerk, terwyl hy

|60|

tog nog in staat is om ander werk te verrig. (Hier sal met groot versigtigheid geoordeel moet word of so ’n predikant nie moet emeriteer nie). 

Daar kan ook ’n situasie ontstaan dat dit gedurende ’n predikant se dienswerk blyk dat sekere onmisbare ampsgawes by hom ontbreek. In so ’n geval behoort hy geadviseer te word om volgens hierdie artikel oor te gaan tot ’n ander staat van die lewe (kyk p. 5).

 

Mag ’n kerkraad sy predikant adviseer om oor te gaan tot ’n ander lewenstaat?

Oor die vraag of ’n kerkraad sy predikant mag adviseer om, indien nodig, aansoek te doen om oor te gaan tot ’n ander lewenstaat, bestaan daar geen eenstemmigheid nie. Volgens sommige mag die inisiatief in so ’n situasie nie van die kerkraad uitgaan nie, maar slegs van die predikant.

Dit is egter my oortuiging dat ’n kerkraad wel in voorkomende gevalle die inisiatief mag (en dalk moet) neem. Geen predikant kan objektief staan ten opsigte van sy eie bekwaamhede en gebreke nie. En wanneer die welsyn van die gemeente dit noodsaaklik maak, is dit die kerkraad se roeping en verantwoordelikheid om sy predikant te adviseer om kragtens hierdie artikel aansoek te doen om oor te gaan tot ’n ander lewenstaat. So ’n advies mag egter slegs met groot versigtigheid en ná biddende oorweging gegee word. Die eer van God en die welsyn van die kerk mag tog nie opgeoffer word aan ’n predikant wat onbekwaam is en/of geen roepingsoortuiging meer het nie.

Weiering om hierdie advies op te volg, sou neerkom op oortreding van die vyfde gebod; volharding in hierdie weiering moet uiteindelik uitloop op afsetting uit die amp kragtens artikel 79 KO (kyk p. 5).

 

Beoordeling van die redes.

Die aanvanklike beoordeling van die redes om oor te gaan tot ’n ander staat van die lewe, berus nie by die predikant of die kerkraad alleen nie; daar moet gesamentlike oorweging wees, voordat die aansoek na die klassis deurgestuur word. Die predikant moet die kerkraad daarvan oortuig dat dit noodsaaklik is dat hy uit die bediening tree.

Finale beoordeling geskied deur die klassis, met advies van die deputate van die partikuliere sinode. (Ek wys weer op die belangrikheid daarvan

|61|

dat die deputate van die partikuliere sinode selfstandig en objektief, onafhanklik van die klassis, tot ’n eie bevinding moet kom. — Kyk in hierdie verband p. 56 en p. 296 e.v.).

Indien die klassis en die deputate van die partikuliere sinode oordeel dat die redes wel gewigtig is en besluit dat die aansoek slaag, is die persoon van daardie oomblik af nie meer predikant nie.

 

Eiewillige neerlegging van die amp.

Wanneer ’n predikant oorgaan tot ’n ander staat van die lewe sonder die bewilliging van sy kerkraad en/of die klassis met deputate van die partikuliere sinode, kom dit neer op eiewillige neerlegging van sy amp. Dit word ook genoem „bedank uit die amp”.

’n Predikant wat dus sy amp eiewillig neerlê of gemeenskap met die Kerk opsê, het sy amp laat verval. Die kerkraad sien toe dat hy geen verdere ampswerk verrig nie, verwys die saak na ’n classis contracta (kyk pp. 33 en 292) wat dit vir finale afhandeling na die volle klassis met deputate van die partikuliere sinode verwys (vir prosedure, kyk p. 300 e.v.).

Die Sinode van 1973 het besluit dat eiewillige neerlegging van die amp ’n eensydige beëindiging is van ’n verbintenis wat in sy wese tweesydig is; dit is verbreking van ’n kontrak. Eiewilligheid is sonde teen die tweede gebod (I Samuel 15: 23). Tog is eiewillige neerlegging van die amp nie strafbaar met skorsing en afsetting kragtens artikels 79/80 KO nie. Met eiewillige neerlegging van die amp het so ’n persoon self eensydig alle ampspligte afgelê en alle ampsregte prysgegee; vervulling van ampspligte en besit van ampsregte kan hom dus nie meer ontsê word deur middel van tughandeling nie. Hy kan slegs getug word kragtens artikels 76 en 77 KO. Maar eiewillige neerlegging van die amp mag nie afgehandel word deur bloot daarvan kennis te neem nie. Omdat die roeping van die kerk uitgaan, moet die kerk ook besluit dat die eiewillige daad die reg om die werk van ’n bedienaar van die Woord uit te oefen, beëindig het. Dit word volgens die ordelike weg in artikels 79 en 80 KO gedoen: voorlopig deur die kerkraad en finaal deur die klassis met deputate van die partikuliere sinode. (Handelinge Sinode 1973, p. 316 e.v.).

|62|

Dieselfde prosedure word gevolg wanneer ’n predikant gemeenskap met die Kerk opsê.

’n Predikant wat dus sy amp eiewillig neerlê of gemeenskap met die Kerk opsê, het sy amp laat verval. Die kerkraad sien toe dat hy geen verdere ampswerk verrig nie, en bring die saak onder aandag van die klassis met deputate van die partikuliere sinode. Hierdie vergadering beëindig dan die „proses” deur te verklaar dat so ’n persoon se amp verval het.

 

Terugkeer tot die bediening.

Die Kerkorde bepaal nie op watter wyse iemand wat kragtens artikel 12 oorgegaan het tot ’n ander staat van die lewe, weer tot die bediening kan terugkeer nie.

Na my mening moet daar onderskeid gemaak word tussen gevalle waar iemand eervol tot ’n ander lewenstaat oorgegaan het, en iemand wat eiewillig sy amp neergelê het.

Iemand wat sy amp eiewillig neergelê het, sal baie moeilik weer toegelaat kan word tot die bediening, aangesien hy die roeping geminag het deur sy eiewillige optrede en „kontrakbreuk” gepleeg het.

Ook in gevalle waar iemand eervol oorgegaan het tot ’n ander lewenstaat omdat hy ’n ander betrekking wou aanvaar, moet daar met groot versigtigheid gehandel word. So ’n persoon het tog duidelik ’n saak uitgemaak dat hy nie meer geroepe voel om bedienaar van Gods Woord te wees nie. God speel nie met die roeping nie. Die Skrif leer nêrens dat iemand nou geroepe is om predikant te wees, dan weer nie geroepe is nie, en later weer geroep word nie.

Die Sinode van 1973 (Handelinge p. 317/318, punt 3.2.2.) het bepaal dat iemand wat kragtens artikel 12 KO (en ook kragtens artt. 79/80) uit die amp is en weer beroepbaar gestel wil word, ooreenkomstig artikel 4 KO aansoek moet doen. Voordat hy sy aansoek indien, moet hy egter eers die oordeel en aanbeveling verkry van die kerk waar hy lidmaat is; daarná moet hy by die kerk en klassis waar hy uit die amp is, aansoek doen vir ’n aanbeveling. Eers dan kan hy sy aansoek indien by die partikuliere sinode in wie se ressort laasgenoemde kerk en klassis is.

|63|

Hierdie Sinode het egter ook besluit dat berou alleen (waar dit van toepassing is — J.V.) nie genoegsame grond is om weer beroepbaar gestel te word nie. By oorweging van ’n aansoek om beroepbaarstelling sal vasgestel moet word of die persoon weer met stigting in die kerk sal kan dien, en of hy die gawes van roepingstrou, selfverloëning en volharding besit. Indringende ondersoek moet ook ingestel word na die beweegredes tot die aansoek.

 

Nie ampsherstel nie, maar beroepbaarstelling.

Verkeerdelik word soms in gevalle soos hierbo gepraat van „ampsherstel”.

Van „ampsherstel” is daar slegs in twee gevalle sprake: wanneer ’n predikant wat tydelik geskors is, se skorsing opgehef word; wanneer ’n appèl teen ’n besluit tot afsetting by ’n meerdere vergadering geslaag het. Hierdie opheffing van skorsing is „ampsherstel”, omdat die persoon nie sy amp „verloor” het nie; hy is nie uit die amp afgesit nie. Wanneer ’n predikant geskors word, beteken dit dat hy verbied word om ampswerk te verrig; die uitoefening van ampswerk is hom tydelik ontneem; opheffing van skorsing beteken dat hy weer toegelaat word om ampswerk te verrig, dat hy weer in sy amp „herstel” word.1

Wanneer ’n predikant egter buite sy amp getree het of daaruit afgesit is, het hy sy amp „verloor”. Terugkeer tot die amp geskied nie by wyse van ampsherstel nie, maar slegs by wyse van beroepbaarstelling volgens art. 4 KO (kyk p. 36 e.v.).

 

Opsegging van kerklike gemeenskap.

Wanneer ’n predikant gemeenskap opsê met die kerk waarin hy bedienaar van die Woord is (was) terwyl hy nog in die amp is, is die praktiese effek daarvan presies dieselfde as wanneer hy eiewillig sy amp neergelê het. 

Die betrokke kerklike vergaderings moet dan ook optree soos in die geval van eiewillige neerlegging van die amp (kyk p. 61 e.v.).


1 En by handhawing van ’n appèl teen afsetting word „teruggekeer” na die situasie vóór die afsetting: die predikant word weer in sy amp „herstel”.