|171|
Waar ’n kerkraad vir die eerste maal of opnuut ingestel word, moet dit geskied met advies van die klassis. As die aantal ouderlinge klein is, kan die diakens deur plaaslike reëling by die kerkraad gereken word; dit moet egter altyd gedoen word waar die aantal ouderlinge minder as drie is.
Hierdie bewoording in artikel 38 impliseer die „afstigting” van ’n nuwe kerk (lees:gemeente), of die herinstelling van ’n kerk wat voorheen ontbind het. Die Kerkorde reël nie die „afstigting” van ’n nuwe kerk nie, maar wel die voorsiening van ’n benodigde kerkraad vir lidmate (wat ’n kerk vorm).
Die kerke (wat in ’n klassis saamkom) in die omgewing van so ’n nuwe kerk, het belang by die stigting daarvan. Daarom moet die klassis oordeel oor byvoorbeeld die noodsaaklikheid, lewensvatbaarheid t.a.v. finansies en ampsgawes, asook die grense van so ’n te stigte kerk. (Vir die draagwydte van die begrip „advies”, kyk p. 56 hiervan).
Indien daar behoefte ontstaan aan die stigting van ’n bykomende kerk, word daar by die klassis daarom aansoek gedoen by wyse van ’n „konsepakte van afstigting”. Die inisiatief daartoe kan uitgaan van ’n bestaande kerk(e), of ook van ’n aantal lidmate wat as selfstandige kerk geïnstitueer wil word. In laasgenoemde geval sal so ’n aansoek eers deur die plaaslike kerkraad bewillig moet word.
In so ’n konsepakte van afstigting moet die volgende besonderhede
(waarop reeds tussen kerkraad en gemeente ooreengekom is) aan die
klassis voorgelê word:
➢ die redes vir afstigting;
➢ die grense van die nuwe kerk;
|172|
➢ die lidmatetal;
➢ die aanwesigheid van ampsgawes;
➢ die finansiële aspekte;
➢ die posisie van ouderlinge en diakens wat lidmate sal wees van
die nuwe kerk (kyk „Opmerking 1” hier onder);
➢ die posisie van die predikant(e) van die afstigtende kerk,
indien van toepassing (kyk Opmerkings 2 en 3 hieronder).
[Opmerkings:
1. Ek is van oortuiging dat dit die ordelikste is indien ouderlinge en diakens, wat lidmate sal wees van die nuwe gemeente, formeel uit die ampte losgemaak word by die afstigtende kerk en weer formeel in die ampte bevestig word in die nuwe kerk, saam met bykomende ouderlinge en diakens wat verkies sal word, indien nodig. As daar wel bykomende ampsdraers verkies moet word, spreek dit vanself dat daar nie 3 Sondae vir goedkeuring kan verloop nie; goedkeuring moet staande die vergadering van die nuwe kerk se lidmate verkry word. Ná bevestiging moet die Ondertekeningsformulier van die nuwe kerk onderteken word (kyk p. 36).
2. Wanneer daar in die gemeente van wie afgestig word, twee (of
meer) predikante is, kan die volgende metodes oorweeg word om te
bepaal watter predikant aan die afgestigte gemeente „toegewys”
word. (In geval van meer as twee predikante, is die
veronderstelling dat die afgestigte gemeente slegs een predikant
benodig):
➢ Die mees-ideale metode (teoreties gesproke) sou wees dat die
afgestigte gemeente (Gemeente X) ná afstigting selfstandig
beroep. Die risiko hieraan verbonde is egter die moontlikheid dat
geeneen van die predikante van die „ou” gemeente (Gemeente Y)
beroep word nie ... wat die goeie reg van die Gemeente X is.
(Gemeente X, as ’n selfstandige gemeente, mag naamlik nie by
voorbaat daartoe beperk word om slegs een van die twee predikante
van Gemeente Y te beroep nie; dit sal die
selfstandigheid en die regte van Gemeente X,
asook die beroepingsprosedure onder biddende opsien tot die Here,
ernstig aantas.) Dit laat Gemeente Y dan met die dilemma dat hy
moontlik met twee (of meer) predikante kan „agterbly” (met
heelwat minder lidmate as voorheen) wat sy versorgingstaak
|173|
ernstig sal bemoeilik. Die enigste oplossing in so ’n situasie
(aangesien sustentasie vanweë gebrek aan sustentasiefondse nie ’n
praktiese moontlikheid is nie) is om een van die predikante (of
almal, om die ongemaklikheid van ’n keuse uit te skakel) volgens
art. 11 KO te „ontslaan” (kyk p. 56 e.v.).
➢ ’n Tweede moontlikheid is dat, nadat die afstigting formeel
deur kerkraad en gemeente goedgekeur is, daardie deel van die
gemeente wat gaan afstig, in ’n vergadering onder toesig van die
kerkraad en onder leiding van die konsulent (omdat al die
predikante persoonlik betrokke is ) deur middel van geslote
stembriewe gaan besluit watter predikant hy verkies. (Die verskil
tussen hierdie moontlikheid, in onderskeiding van ’n normale
beroeping soos in moontlikheid 1 hierbo bespreek, is dat die
„afstigtende lidmate” in hul keuse beperk word tot die
„huidige” predikante van die „ou” gemeente.)
➢ ’n Derde alternatief is dat die lidmate van albei „dele” van
die gemeente in ’n vergadering onder toesig van die kerkraad en
onder leiding van die konsulent (omdat al die predikante
persoonlik betrokke is ) afsonderlik deur middel van
geslote stembriewe gaan kies watter predikant hulle wil hê. Die
gevaar by hierdie metode is natuurlik dat albei „dele”
dieselfde predikant kan kies. Enige „oplossing” van so
’n probleem sal in meerdere of mindere mate onbevredigend wees.
Daar kan byvoorbeeld (vooraf) besluit word dat die verkose
predikant „toegewys” word aan daardie gemeente wie se lidmate die
meeste stemme op hom uitgebring het (persentasiegewys, omdat
albei die „gemeentes” waarskynlik nie eweveel lidmate sal hê
nie). Waar daar meer as twee predikante betrokke is, sal ’n
proses van eliminasie waarskynlik toegepas moet word.
Vertroulikheid met betrekking tot die uitslag van die stemming is
natuurlik gebiedend noodsaaklik, ten einde die gevoelens van die
predikante te beskerm.
Die verskil tussen moontlikhede 2 en 3 teenoor moontlikheid 1 is dat daar nog nie ’n selfstandige gemeente is aan wie „voorgeskryf” word nie; albei hierdie moontlikhede vind naamlik plaas tydens die proses van afstigting.
|174|
Die metode wat uiteindelik toegepas gaan word met alle moontlike konsekwensies moet vooraf deur die kerkraad (met of sonder samewerking van die gemeente) finaal vasgestel word, sodat daar met die praktiese implementering daarvan geen „toutrekkery” in die gemeente gaan plaasvind nie.
3. Indien daar besluit is dat die predikant (of een van die predikante, as daar meer as een is) die predikant van die nuwe kerk sal wees, moet hy formeel van die afstigtende kerk losgemaak word volgens artikel 10 KO en weer formeel in die nuwe kerk bevestig word volgens artikel 5 KO. Hy hoef egter nie weer formeel beroep te word nie. Ná bevestiging moet die ondertekeningsformulier van die klassis onderteken word.
Hierdie aspekte moet vooraf deur die afstigtende kerk (kerkraad en gemeente) gereël word en in die konsepakte van afstigting uiteengesit word].
Die klassis beoordeel die sake wat in die akte van afstigting voorgelê word. Indien die noodsaaklikheid vir en die lewensvatbaarheid van so ’n nuwe kerk uitgemaak is, stel die klassis die grense daarvan vas en wys ’n konsulent vir die nuwe kerk aan, asook ’n classis contracta (kyk p. 33) vir die afstigting.
Die klassis is nie gebonde aan die grense wat in die konsepakte van afstigting voorgestel word nie; hy mag dit wysig indien dit nodig of gewens is. Die belange van alle kerke in die gebied van die klassis moet immers gedien word.
Die fisiese afstigting en alle reëlings in verband daarmee, vind plaas onder leiding van die kerkraad van die kerk waarvan afgestig word. (Indien van meer as een kerk afgestig word, word onderling gereël watter kerkraad die afstigting sal hanteer). Hierdie kerkraad roep die classis contracta op vir die afstigtingsvergadering. Hierdie afstigtingsvergadering is ’n vergadering van die kerkraad(e) met gemeente(s), saam met die afgevaardigdes van die twee kerke wat deel van die
|175|
classis contracta vorm; tydens hierdie vergadering word die afstigting formeel afgehandel.
Ná die vergadering word ’n erediens gehou, waartydens die bevestiging van ampsdraers en die ondertekening van die toepaslike Formuliere plaasvind.
Die volgende moet met die oog op/in die afstigtingsvergadering
gereël word:
➢ die opstel van ’n akte van afstigting ooreenkomstig die
besluite van die klassis, in drievoud (of meervoudig as die
afstigting van meer as een kerk plaasvind): een vir elke betrokke
kerk, en een vir die klassis; in hierdie akte word die datum van
afstigting, lidmatetalle (doop- en belydende lidmate), naam van
die nuwe kerk, aantal wyke, grense, posisie van predikant(e)
opgeneem;
➢ alfabetiese naamlys van doop- en belydende lidmate wat nie
onder tug is nie, met ’n aparte naamlys van lidmate wat wel onder
tug is; (let wel: geen attestasies word afgegee aan lidmate van
die nuwe kerk nie, aangesien hulle nie na ’n reeds bestaande kerk
vertrek nie);
➢ reëlings vir bediening van Woord en sakramente (wat tyd en plek
van eredienste insluit, indien nie eerder gereël nie);
➢ reëlings van kategetiese onderrig, indien nie eerder gereël
nie;
➢ die voorlees van die afstigtingsakte;
➢ voorlees van name van stemgeregtigde belydende lidmate met die
oog op verkiesing van ampsdraers, indien nodig; (ter wille van
tydbesparing kan so ’n naamlys vooraf skriftelik aan die lidmate
beskikbaar gestel word);
➢ vrae en antwoorde, indien daar onduidelikhede is;
➢ formele voorstel tot afstigting, en goedkeuring daarvan;
➢ verkiesing van bykomende ouderlinge en diakens, indien nodig
(kyk „Opmerking 1” op p. 172);
➢ bevestiging van ouderlinge en diakens (kyk ,,Opmerking 1” op p.
172);
➢ bevestiging van predikant, indien van toepassing (kyk
„Opmerking 3” op p. 174);
➢ ondertekening van afstigtingsakte deur verteenwoordigers van
alle betrokke kerke (insluitende afgevaardigdes van naburige
kerke wat saam die classis contracta vorm).
|176|
Die kerkraad van die afstigtende kerk is verantwoordelik om ’n afskrif van die afstigtingsakte aan die klassis te besorg.
Ná die erediens, wat volg op die afstigtingsvergadering, moet
daar ’n vergadering gehou word van die nuwe kerkraad met diakens
onder leiding van die aangewese konsulent, waar die volgende sake
behandel moet word:
➢ aanwys van funksionarisse (skribas, kassier vir kerkraad en
diakens);
➢ verkiesing van voorsitter van diakens (deur die diakens);
➢ aanwys van noodsaaklike kommissies;
➢ aankoop van notuleboeke, kasboek(e) en ander skryfbehoeftes en
benodigdhede;
➢ opstel van lidmaatregisters (doop- en belydende lidmate);
➢ afdra en kontrole van kerklike bydrae deur lidmate;
➢ opening van bankrekening en magtiging vir ondertekening van
tjeks;
➢ versorging van eiendomme, indien van toepassing;
➢ bewaring van dokumente;
➢ werksaamhede van susters en jeug;
➢ opstel van jaarprogram van kerkraad en gemeente;
➢ vergoeding van konsulent (kyk p. 21 e.v. hiervan vir werk van
konsulent);
➢ volgende vergadering(s).
Wanneer ’n bestaande kerk(e) buite die verband van die GKSA begeer om in te skakel by die verband van die GKSA, moet dit hanteer word deur die klassis(se) binne wie se gebied sulke kerke geleë is (kyk besluit van Sinode 1955, Handelinge p. 319, punt 4).
Die betrokke klassis sal so ’n aansoek aan ’n diepgaande studie moet onderwerp. As belangrikste vereiste vir so ’n inskakeling sal gestel moet word eenheid in belydenis, liturgie en kerkregering.
Indien so ’n aansoek toegestaan word, sal alle kerke in kerkverband daarvan kennis gegee moet word.
|177|
Soms ontstaan daar geskille tussen kerke oor bestaande grense. Die vraag ontstaan of die klassis in so ’n geskil enige funksie het.
As antwoord op hierdie vraag moet allereers verwys word na artikel 30 KO. Dit impliseer dat ’n klassis hoegenaamd nie betrokke moet raak in so ’n geskil voordat die betrokke kerke nie eers ernstig en langdurig oor die kwessie onderhandel het nie.
Indien daar geen oplossing deur onderhandelings verkry kan word nie, kan die saak vir arbitrasie en finale beslissing na die klassis verwys word (kyk besluit van Sinode 1955, Handelinge p. 319, laaste paragraaf van punt 4 en veral die „Besluit” by punt 4b onder aan die bladsy. Kyk ook p. 132 hiervan).
Grense tussen kerke is daar om gerespekteer te word, ter wille van goeie orde.
Daar moet egter dadelik bygesê word dat handhawing van grense nie absoluut en rigoristies toegepas moet word nie; soepelheid in hierdie opsig moet sterk aangemoedig word, maar slegs in gevalle van aanvaarbare verdienstelikheid. Daaroor sal kerke onderling moet beraadslaag en ooreenkom.
In geval van gebrek aan konsensus tussen kerke, kan die saak vir arbitrasie en finale beslissing na die klassis verwys word. Klassisse sal egter moet vasstel of onderhandelings langdurig met erns gevoer is (kyk in hierdie verband die besluit van Sinode 1955 waarna hierbo verwys is, asook p. 132 hiervan).
In die praktyk het dit egter al gebeur dat lidmate besware het, om watter rede ook al, om in die kerk te bly waar hulle geografies tuishoort (kerk A); dan doen hulle aansoek om met attestasie te „vertrek” na ’n naburige kerk wat vir hulle aanvaarbaar is (kerk B). Die kerkraad (van kerk A) weier op goeie gronde om so ’n versoek te bewillig; die lidmate sê dan gemeenskap met kerk A op, en ná ’n tydjie doen hulle by kerk B aansoek om opgeneem te word as lidmate.
Die volgende word in hierdie verband opgemerk:
|178|
➢ die bogenoemde optrede van lidmate is hoegenaamd nie
aanvaarbaar nie, om die eenvoudige rede dat hulle nie die
kerklike weg (van beswaar en appèl) gevolg het nie;
➢ die kerkraad van kerk B moet die aansoek summier van die hand
wys en die lidmate terugverwys na die kerkraad van kerk A, en
hulle adviseer om die kerklike weg te volg;
➢ indien die kerkraad van kerk B die lidmate egter wel
opneem, kom dit neer op verbreking van kerkverband. Kerk A se
kerkraad moet onmiddellik ernstig beswaar daarteen maak; indien
kerk B se kerkraad so ’n beswaar van die hand sou wys, moet kerk
A se kerkraad daarteen appelleer na die klassis in wie se ressort
kerk B val.
Indien twee of meer kerke sou besluit om saam te smelt tot een kerk, moet ’n versoek tot hierdie effek by die klassis (of klassisse indien meer as een klassis betrokke is) ingedien word. So ’n versoek sal alle toepaslike gegewens (soos redes tot samesmelting, naam van nuwe kerk, posisie van predikante, ouderlinge en diakens, situasie met betrekking tot eiendomme, en so meer) moet bevat.
Die klassis(se) sal deeglik moet ingaan op alle besonderhede (ook op die instemming van die betrokke lidmate) voordat bewilliging gegee word. Indien daar lidmate is wat op goeie gronde verkies om by ’n kerk in te skakel wat nie by die samesmelting betrokke is nie, sal hulle keuse met erns en deernis oorweeg moet word.
Soms gebeur dit dat ’n kerk nie meer kan voortbestaan nie, as gevolg van ’n drastiese afname in lidmaatgetalle en/of ampsgawes en/of geldelike middele.
Hoewel hierdie artikel nie reëlings vir so ’n situasie bevat nie, is dit vanselfsprekend (en absoluut noodsaaklik) dat ook in so ’n geval die advies van die klassis ingewin moet word. ’n Versoek tot ontbinding moet aan die klassis voorgelê word. In hierdie versoek sal alle besonderhede vervat
moet wees, soos byvoorbeeld die posisie van die predikant (en emerituspredikant, indien van toepassing), lidmate en eiendomme.
|179|
Indien toestemming tot ontbinding gegee word, moet die kerke in kerkverband daarvan kennis gegee word.
Iets wat nie genoeg benadruk kan word in so ’n geval nie, is die verantwoordelikheid van die klassis om prakties-uitvoerbare reëlings te tref met betrekking tot die posisie en versorging van die predikant en/of emerituspredikant (indien van toepassing).
Die volgende is van belang:
➢ aan watter kerk sal die predikant en/of emerituspredikant
voortaan ampshalwe verbind wees, met gepaardgaande
verantwoordelikheid vir sy/hulle versorging;
➢ die kerkverband moet in kennis gestel word dat die predikant
wag op ’n beroep;
➢ keerdatum in geval die predikant nie ’n beroep ontvang nie (kyk
p. 57).
In hierdie artikel word bepaal dat die diakens by die kerkraad gereken kan word as die aantal ouderlinge te klein is; dit moet egter altyd gedoen word waar die aantal ouderlinge minder as drie is.
Die rede vir hierdie bepaling is dat gesonde kerkregering daaronder kan ly (en hiërargie makliker kan insluip) as die aantal ouderlinge te klein is.
In so ’n situasie tree die diakens dan ten volle op as ouderlinge (wat mede-verantwoordelikheid in tugsake en afvaardiging na die klassis insluit). Per implikasie kan die ouderlinge, volgens hierdie bepaling, ook as diakens optree, indien nodig; afsonderlike vergaderings van ouderlinge en diakens is uit die aard van die saak dan onnodig.
Soms kan ’n kerk nie selfstandig ’n predikant behoorlik versorg nie. Dan kan hy oorweeg om met ’n naburige kerk in kombinasie te tree.
Aangesien die besonderhede van kombinasievorming uitvoerig op p. 29 e.v. bespreek is, word nie hier verder daarop ingegaan nie.