|182|

Artikel 40

 

Die diakens moet gereeld saamkom om met die aanroeping van die Naam van God te handel oor die sake wat hulle amp aanbetref en die bedienaar van die Woord moet daaroor goed toesig hou en, indien nodig, daarby teenwoordig wees.

 

Vergadering van diakens.

Kragtens artikel 40 moet die diakens as ’n afsonderlike vergadering konstitueer, met ’n eie voorsitter, skriba en kassier uit eie geledere. Dit is beslis noodsaaklik, in die lig van die belangrikheid van kerklike barmhartigheidswerk; diakens moet ook gesamentlik besluite neem oor die uitvoering van hul ampswerk in onderskeie gevalle.

 

Aantal vergaderings.

Die Kerkorde bepaal hier slegs dat die diakens gereeld moet vergader; soos in artikel 37, word die frekwensie en die aantal per jaar nie gestipuleer nie; dit word plaaslik gereël. Die vergaderings van die diakens moet egter nie te ver uitmekaar gereël of te lank uitgestel word dat die dienswerk van die diakens daardeur benadeel word nie.

 

Aanroeping van die Naam van God.

Hier sluit artikel 40 aan by artikel 32, waar bepaal word dat alle vergaderings met aanroeping van die Naam van God geopen moet word. Die diakens is naamlik in hulle ampswerk en vergaderings nie besig met hul eie sake nie, maar met die barmhartigheidswerk van Jesus Christus, die Koning van die kerk.

 

Handel oor eie ampsake.

Hier sluit artikel 40 aan by artikels 25 en 26; die diakens vergader gereeld om te handel oor die sake wat hulle amp aanbetref. Die diakens oefen hul ampswerk uit in oorleg met mekaar, en nie elkeen afsonderlik soos hy goedvind nie. Die uitoefening van die diakonale ampswerk is breedvoerig in artikel 25 behandel.

|183|

Toesig deur predikant.

Hier sluit artikel 40 aan by artikel 37, waar bepaal word dat die bedienaar van die Woord voorsitter moet wees in kerkraadsvergaderings.

Die toesig oor die diakens se ampswerk deur die predikant spruit voort uit die feit dat die diakens gesante/ampsdraers is van die Koning van die kerk, Jesus Christus. Omdat Jesus Christus sy kerk regeer deur sy Woord en Gees, spreek dit vanself dat die Woord van die Here vir die diakens die Rigsnoer moet wees vir die uitoefening van hulle ampswerk. Daarom is dit vanselfsprekend dat die bedienaar van die Woord toesig moet hou dat die wil van die Koning ook uitgevoer word in die ampswerk van die diakens.

Sonder die lig van God se Woord kan die ampswerk van die diakens ontaard in blote maatskaplike liefdadigheid. Die Bevestigingsformulier vir diakens bepaal dan ook dat die diakens die gawes moet uitdeel „met vertroosting uit die Skrif”.

 

Teenwoordigheid van predikant.

Hier word nie bepaal dat die predikant by alle vergaderings van die diakens teenwoordig moet wees nie, maar slegs indien dit nodig sou wees. Dit is egter belangrik dat die predikant beskikbaar en bekombaar moet wees wanneer die diakens vergader, sodat hy teenwoordig kan wees indien die diakens dit nodig vind.

By wyse van voorbeeld: in gemeente A word die maandelikse vergaderings só gereël dat die kerkraad eers saam met die diakens vergader (die „breë kerkraadsvergadering”); daarná vergader die kerkraad en diakens afsonderlik — die kerkraad onder voorsitterskap van die predikant (soos in art. 37 bepaal) en die diakens onder voorsitterskap van hul eie voorsitter. Indien daar iets is waar die diakens die raad/advies/leiding van die predikant nodig het, is hy dus bekombaar.

 

Diakonale konferensies.

Oor diakonale konferensies is gehandel op p. 114 e.v. onder artikel 25. Hier moet net weer beklemtoon word dat diakens nie met hul probleme en advies-versoeke na die diakonale konferensies moet gaan nie, maar eerstens na die eie predikant/kerkraad.

|184|

Verteenwoordiging van diakens in meerdere vergaderings.

In die verlede was daar sterk aandrang vanuit die geledere van diakens om ook in meerdere vergaderings verteenwoordig te word; diakens moet dan ook, soos ouderlinge, afgevaardig word na meerdere vergaderings; sodoende sal hulle in staat wees om persoonlik in meerdere vergaderings insette te lewer oor diakonale sake.

Hierdie aandrang is egter gebore uit ’n verkeerde persepsie van die samestelling en aard van meerdere vergaderings.

’n Meerdere vergadering is naamlik nie ’n vergadering van ampsdraers nie, maar van kerke, deur middel van hul afgevaardigdes (kyk by art. 41). Die diakens is dus wel verteenwoordig in meerdere vergaderings, deur middel van hul kerk se afgevaardigdes, al is daar geen enkele diaken teenwoordig/afgevaardig nie.