|192|
Die klassis moet minstens twee van die oudste, mees ervare en geskikte bedienaars van die Woord as visitatore benoem om in alle kerke van die klassis gereeld kerkvisitasie te hou, vas te stel of die ampsdraers hulle ampte getrou waarneem, by die suiwerheid van die leer bly, die Kerkorde in alles onderhou, die stigting van die gemeente en onderwys van die jeug behoorlik na hulle vermoë bevorder, sodat hulle diegene wat nalatig in een of ander bevind word, betyds broederlik kan vermaan en met raad en daad alles kan help reël wat bevorderlik is vir die vrede, die opbou en belange van die kerk.
„Visitasie” kom van die Latynse woord „visito” wat beteken: „dikwels sien”, „besoek” (vergelyk die Engelse „visit”).
Visitasie is dus ’n besoek wat by ’n kerk afgelê word, en nie ’n „visentering” nie. Dit is geen inspeksie wat deur die klassis uitgevoer word nie.
Die doel van visitasie is, breed gestel, dat kerke in klassisverband op mekaar sal ag gee en mekaar sal bystaan sodat hulle, deur getroue ampsbediening, steeds meer sal beantwoord aan die merktekens van die ware kerk volgens artikel 29 NGB.
As hierdie artikel reg toegepas word, is dit vir kerke van onskatbare, selfs onmisbare waarde.
Dikwels word die bewering gemaak dat visitatore nie deputate is soos in artikel 49 beskryf nie. Daar is selfs al beweer dat artikel 44 ,,ingrypend verskil” van artikel 49.
Op grond van hierdie „verskil” moet visitatore dan ook nie aan die klassis verslag doen van hul werksaamhede nie; hulle moet slegs rapporteer dat hulle hul opdrag uitgevoer het, maar nie hoe hulle dit gedoen het nie. Dit is dan nie die klassis wat beoordeel of visitatore hul
|193|
opdrag behoorlik uitgevoer het nie, maar Jesus Christus, die Koning van die kerk. (Ek kom later meer breedvoerig hierop terug).
Hierdie bewerings is, met respek gesê, nie korrek nie.
Visitatore is niks anders nie as deputate van die klassis met ’n gespesifiseerde (breë) opdrag. Hierdie opdrag in artikel 44 kan egter moeilik deur die klassis „omskryf” word in die gees van artikel 49, omdat dit so wyd is as die hele veld van kerkwees! Artikel 44 gee slegs die breë hooflyne waarvolgens visitasie gedoen moet word.
Ons vind egter ook in artikel 49 ’n „onomskrewe opdrag”, naamlik in die geval van die deputate van die partikuliere sinode: hulle moet aan klassisse hulp bied „in voorkomende moeilikhede”; hoe gaan hierdie opdrag „omskryf” word?!
Om dus te beweer dat artikels 44 en 49 ingrypend verskil, omdat die opdrag aan deputate volgens artikel 49 deur die betrokke meerdere vergadering gegee word, terwyl die opdrag aan visitatore deur die Kerkorde gegee word, gaan baie beslis nie op nie. Die klassis kan die „opdrag” wat in artikel 44 aan visitatore gegee word, in verskillende onderafdelings verdeel en „presiseer”, soos hy in belang van die kerke goedvind.
Artikels 44 en 49 staan baie beslis nie teenoor mekaar nie; ons kan sê dat hulle aanvullend tot mekaar beskou moet word.
Hierdie artikel bepaal dat die visitatore „twee van die oudste, mees ervare en geskikte” bedienaars van die Woord moet wees.
As hierdie kwalifisering op die letter gevolg word, sal dié twee „oudstes” só besig wees met jaarlikse visitasie, dat hulle baie min tyd oor sal hê vir diens in hul eie gemeentes!
Die praktyk maak dus ’n letterlike toepassing hiervan onmoontlik.
In sommige klassisse is dit die reël dat alle predikante as visitatore aangewys word. Hierdie „paneel” van visitatore doen dan self die indeling van pare en die toewysing van wie by watter kerk visitasie sal doen.
|194|
Indien hierdie reëling inhou dat die jong, onervare predikante elkeen saam met ’n ouer, meer ervare predikant ’n kerk besoek, het dit die voordeel dat die jong predikante sodoende goeie ervaring van visitasie kan opdoen.
Die aard van visitasie maak dit egter noodsaaklik dat (ten minste een van) die visitatore ervare en geskik moet wees.
Alhoewel hierdie artikel slegs praat van predikante as visitatore, sal dit prinsipieel nie verkeerd wees om byvoorbeeld twee predikante en een ouderling as visitatore te stuur nie.
Predikante is egter oor die algemeen beter onderlê in byvoorbeeld die dogma en die kerkreg as ouderlinge, wat hulle meer toegerus maak vir visitasie.
Dit neem egter nie weg nie dat heelwat ouderlinge oor die algemeen (veral saam met een of twee predikante) baie geskik sal wees as visitatore. (Met hierdie siening van my is ek in die goeie geselskap van Bouwman, Van Dellen en Monsma, en Jansen).
In hierdie artikel word slegs gewone, gereelde visitasie gereël. Met hierdie visitasie bly die plaaslike predikant en skriba in funksie.
Daar is egter ook, na analogie van die gewone visitasie volgens artikel 44, gevalle waar buitengewone visitasie noodsaaklik is, byvoorbeeld in geval van ernstige wanbestuur, verdeeldheid of selfs dreigende skeuring in ’n bepaalde kerk.
Inisiatief tot die reëling van buitengewone visitasie in ’n bepaalde kerk kan uitgaan van die klassis, of van die betrokke kerkraad, of van ’n groep lidmate en/of ampsdraers, of selfs van ’n naburige kerkraad.
Buitengewone visitasie, afhangende van die omstandighede, behoort deur meer as slegs twee visitatore hanteer te word.
In hierdie geval is dit wenslik dat een van die visitatore optree as voorsitter en ’n ander as skriba.
|195|
Alhoewel hierdie artikel dit nie eksplisiet bepaal nie, is dit logies en noodsaaklik dat die gewone sowel as die buitengewone visitasie herhaaldelik en duidelik aan die gemeente afgekondig moet word.
Die doel hiervan is sodat nie slegs die kerkraad nie, maar ook die lidmate op hoogte kan kom van die komende visitasie; lidmate en/of individuele ampsdraers wat behoefte het om die visitatatore oor een of ander saak te ontmoet, kan op grond van hierdie afkondigings betyds reëlings in hierdie verband met die kerkraad tref.
Ontmoetings van individuele lidmate en/of ampsdraers met die visitatore moet deur sulke individue by die kerkraad aangevra word. Visitatore het, op grond van artikel 30, nie die vryheid om lidmate te woord te staan sonder medewete en toestemming van die kerkraad nie; so iets sou die selfstandigheid van die plaaslike kerk ernstig in gedrang bring, en van visitatore selfstandige inspekteurs maak!
Hiermee saam moet ook benadruk word dat kerkrade sulke versoeke nie ligtelik van die hand moet wys nie; dit kan maklik die indruk skep dat die kerkraad dinge het om vir die visitatore weg te steek.
Indien sulke versoeke wel geweier word, kan teen hierdie besluit van die kerkraad geappelleer word na die eersvolgende klassis. Visitatore behoort hulle hoegenaamd nie in te meng in so ’n saak tussen ’n kerkraad en lidmate nie.
Indien sulke ontmoetings wel deur die kerkraad bewillig is, moet die visitatore dit hanteer op ’n wyse wat uiteindelik die welsyn van die betrokke gemeente sal dien.
Dit mag meebring dat visitasie baie langer kan duur as slegs een aand of een dag; dit kan verskillende ontmoetings met sulke individue sowel as met die kerkraad nodig maak. (Ek is bewus van ’n geval waar buitengewone visitasie oor ’n periode van 2 jaar gedoen is!).
Volgens hierdie artikel val gewone visitasie uiteen in 3 dele:
|196|
➢ vasstel of ampsdraers hul ampte getrou waarneem, by die
suiwerheid van die leer bly, die kerkorde in alles onderhou, en
die stigting van die gemeente en onderwys van die jeug behoorlik
na hulle vermoë bevorder;
➢ nalatiges betyds broederlik vermaan; hierdie vermaning kan aan
’n individu, aan ’n paar, aan ’n groep ampsdraers (byvoorbeeld
ouderlinge en/of diakens) of aan die hele kerkraad met diakens
gerig word;
➢ met raad en daad alles kan help reël wat bevorderlik is vir die
vrede, die opbou en belange van die kerk.
Visitatore hoef dus nie ’n spesiale opdrag van die klassis te kry vir vermanings en/of reëlings soos hierbo genoem nie; dit sit opgesluit in hulle breë opdrag kragtens Kerkorde.
(Kyk p. 54)
Dikwels word die opmerking gemaak dat visitatore geen navraag mag doen na die traktement van die predikant nie, omdat dit uitsluitlik ’n saak is van die plaaslike kerk. So ’n navraag sou dan die selfstandigheid van die plaaslike kerk in gedrang bring.
Hierdie argumentasie gaan egter hoegenaamd nie op nie.
Artikel 44 bepaal immers dat die visitatore onder andere moet vasstel of die Kerkorde „in alles” onderhou word. Dit sluit vanselfsprekend artikel 11 in! (Artikel 11 bepaal dat kerkrade verplig is om hul predikante met behoorlike onderhoud te versorg.) Op grond waarvan sou artikel 11 uitgesluit word van hierdie opdrag aan visitatore?
My ondervinding het geleer dat dit juis kerkrade is wat nalatig is in die behoorlike versorging van hul predikante wat beswaard is wanneer visitatore hieroor navraag doen.
Ek wil beweer dat artikel 11 ’n kardinale en onmisbare onderdeel is van die werk van visitatore.
Geen predikant kan immers self ’n beter versorging „beding” nie; ’n konsulent het nie die vryheid om sonder ’n kerkraad se versoek/ bewilliging „in te meng” in die kwessie van die predikant se versorging
|197|
nie. Visitasie is al moontlikheid wat oorbly om ’n verbetering in ’n predikant se versorging te bewerkstellig.
En juis daarom het visitatore myns insiens ’n belangrike roeping ten opsigte van die predikant se behoorlike versorging.
Oor die vraag of visitatore van hulle werk verslag moet doen aan die klassis, is daar ongelukkig sterk meningsverskil.
Vir my aanvoeling is die antwoord hierop egter baie eenvoudig: soos in die geval van alle deputate en kommissies, moet die visitatore wel deeglik aan die klassis (wat hulle gestuur het) verslag doen — en dan nie slegs dat hulle hul opdrag uitgevoer het nie, maar ook hoe hulle dit gedoen het (kyk p. 192, by „Artikel 44 en artikel 49”).
Vir die Sinode van 1955 is die kwessie van rapport deur visitatore só logies en vanselfsprekend, dat dit nie eers beredeneer word nie; daar word eenvoudig besluit: „Die rapport wat oor die visitasie aan die klassis voorgelê word, moet dan ook by voorkeur sodanig wees dat juis die belangrike aspekte van die toesig beklemtoon word.” (Handelinge p. 185, punt (3). Die Sinode het reeds eerder in sy besluit visitasie gekwalifiseer as „toesig”, p. 184, J.V.).
Die volgende argumente kan bykomend aangevoer word ten gunste van
verslag deur visitatore aan die klassis:
➢ visitasie is toesig van kerke op mekaar, en nie toesig
van enkele ampsdraers op kerke nie; kerke in
klassis kan egter nie hierdie toesig doen sonder verslag van
visitatore oor die uitvoering van hul opdrag nie;
➢ die Skrif leer dat alle dienste, selfs die apostels, verslag
gedoen het van werk wat aan hulle opgedra is en wat hulle
uitgevoer het (kyk byvoorbeeld Handelinge 14: 27; 15: 4,
1953-Vertaling). Visitatore word deur die klassis
aangewys met ’n bepaalde opdrag (soos bewoord in art.
44); daarom moet hulle ook, in die gees van Skrif en Kerkorde,
van hulle handelinge verslag doen aan die klassis;
➢ die beginsel in artikel 49 van notule hou om verslag te doen
aan diegene wat gestuur het, geld vanselfsprekend ook in die
geval van artikel 44 (kyk argumentasie op p. 192 e.v. oor artt.
44 en 49);
|198|
➢ om te sê dat dit nie die klassis is wat oordeel of die
visitatore hul opdrag behoorlik uitgevoer het nie, maar Jesus
Christus, is (met alle respek gesê) ’n absurde redenasie,
wat eintlik nie reaksie en kommentaar regverdig nie. Jesus
Christus kan wel die werk van visitatore beoordeel, en
Hy doen dit ook, soos Hy alle dienswerk in sy
kerk beoordeel. Dit is egter nie die punt in geding nie. Waarom
dit hier wel gaan, is dit: waarom sal Jesus Christus alle
ander ampswerk in sy kerk laat beoordeel en beslis deur
geroepenes-in-vergadering, behalwe die werk van visitatore?
Hierdie redenasie kan die toets beslis nie deurstaan nie. Ek kan
dan ook nêrens in die Skrif of in die Belydenis of in die
Kerkorde enige steun daarvoor vind nie;
➢ indien die klassis die uitvoering van visitatore se opdrag nie
mag/moet/kan beoordeel nie, word die deur wawyd oopgemaak vir
hiërargie en eiewilligheid deur visitatore; visitatore kan dus na
willekeur oor kerke regeer en hul eie sin en wil afdwing, sonder
dat die klassis enige kontrole daaroor het; voorts ontneem dit
kerkrade die moontlikheid om in die klassis die werk wat
visitatore by hulle gedoen het, te bespreek, daarteen beswaar te
maak of dit te korrigeer. In die praktyk het dit al gebeur dat
visitatore deur die klassis teruggestuur is om hulle (foutiewe)
werk te gaan regmaak; sonder verslag van visitatore oor die
uitvoering van hul opdrag, sou so iets nie moontlik wees nie —
met begryplike skade vir die welsyn van die kerke;
➢ om te beweer dat nie die rapport van die visitatore
nie, maar die visitasie self die belangrikste is (soos
wel geredeneer word), maak ’n ongegronde en onaanvaarbare
teenstelling tussen die werk en die rapport van
visitatore.
Dit is dus nie slegs gewens dat visitatore verslag lewer aan die klassis oor die uitvoering van hul opdrag nie; dit is beslis noodsaaklik — vir die „heilsame uitwerking” van visitasie en vir die welsyn van die kerke.
Hierdie verslag van die visitatore moet verkieslik in drievoud opgestel word: een vir die klassis, een vir die visitatore self en een vir die kerkraad waar die visitasie gehou is.
Laasgenoemde afskrif moet betyds voor die byeenkoms van die klassis aan die betrokke kerkraad beskikbaar gestel word; die kerkraad moet
|199|
geleentheid hê om deeglik daarvan kennis te neem, daaroor te besin en, indien nodig, reaksie daarop voor te berei vir die klassissitting.
Visitasie dra naamlik ’n sterk gesprekskarakter; by visitasie is daar twee „partye” betrokke: die kerkraad, en die klassis (deur middel van die visitatore); elke „party” moet ten volle in die geleentheid gestel word om homself op hoogte te bring van die weergawe van die gesprek wat plaasgevind het, sodat hy daarop kan reageer indien nodig.
In hierdie verslag van die visitatore aan die klassis moet slegs die belangrikste sake, wat die aandag van die klassis benodig, aangetoon word.
Waar die klassis ’n „paneel” van visitatore aanwys (kyk p. 193), is dit ’n praktiese en waardevolle metode dat die „paneel” voor die klassissitting byeenkom en alle rapporte aanhoor. Die belangrikste sake uit elke rapport word uitgelig en vir aandag van die klassis in ’n gesamentlike rapport opgeneem; die verskillende afsonderlike rapporte word dan as bylaes by hierdie gesamentlike rapport gevoeg.
Moet een of albei van die visitatore ook met Woordbediening voor die gemeente optree?
Op hierdie vraag kan geantwoord word dat Woordbediening voor die gemeente, streng gesproke, nie deel vorm van die visitatore se opdrag nie.
Tog kan dit waardevol wees as minstens een van die visitatore die Woord aan die gemeente bedien. By daardie geleentheid kan die gemeente ook ingelig word oor kardinale sake wat tydens die visitasie na vore gekom het.
Op hierdie wyse word die gemeente ook direk betrek by die visitasie wat gedoen is.