|108|
Die eintlike amp van die diakens is om die liefdesgawes in geld en goedere wat aan die armes gegee word, nougeset te versamel en dit met gesamentlike oorleg getrou en vlytig uit te deel volgens die eis van die behoefte aan sowel die behoeftiges in die gemeente as aan ander; en verder om die wat in nood is te besoek en te vertroos en om goed toe te sien dat die gawes nie misbruik word nie. Die diakens moet in die kerkraad verslag doen van hulle werksaamhede en, indien verlang, ook voor die gemeente wanneer die kerkraad dit geskik ag.
[Opmerking: Die Nasionale Sinode van 1997 het ’n gewysigde bewoording vir hierdie artikel goedgekeur. Hierdie wysiging moet egter eers, volgens artikel 86 KO, vir advies aan die ander Nasionale Sinodes voorgelê word voordat dit vir goedkeuring na die Algemene Sinode deurgestuur kan word (kyk Handelinge Sinode 1997, p. 562 e.v.)].
Hierdie vreemde en ietwat eienaardige bewoording in artikel 25, wat afwyk van die bewoording van artikels waarin die ander ampte beskryf word (artt. 16, 18 en 23), is nie van besondere belang vir die doel van hierdie boek nie. Die historiese agtergrond daarvan kan in kerkreghandleidings opgelees word. Daar moet egter gewys word op die praktyk in heelwat gemeentes dat die diakens hulpdiens verrig by die nagmaalsvierings, asook met die insameling van kerklike bydraes — dinge wat, streng gesproke, nie tuishoort by hul amp soos die Skrif dit aandui nie. Hierdie hulpdiens deur die diakens is egter nie op sigself verkeerd nie, mits dit nie beskou word as hul eintlike amp nie. En ek is bevrees dat dit in verskeie gevalle wel só beskou word. Ek het al opmerkings gehoor soos hierdie: „Die diakens het in ons gemeente nie juis werk nie, want ons het ’n koevertstelsel vir ons kerklike bydraes”.
Daar moet ook gewys word op die feit dat die diakens se amp baie wyer strek as slegs armversorging. Volgens die bewoording van artikel 25 is dit duidelik dat hulle „eintlike” amp die versorging van armes is.
|109|
Dit is egter nie hulle „enigste” amp nie.
Hierby kom nog besoeke en vertroosting aan „die wat in nood is” ... ’n taak so wyd as die lewe self!
Die diakens se „eintlike amp” moet dus gesien word binne die breë raamwerk van hul roeping om die gemeente op te bou as ’n gemeenskap van gelowiges.
Die amp van die diakens moet in sy totaliteit gesien word: hoewel hulle eintlike amp die versorging van armes is, is daar ook ’n groot deel van hul amp wat hulle gesamentlik met die predikant en die ouderlinge verrig; dit is die opbou en die beskerming van die gemeenskap in die gemeente.
Die amp van die diakens is dus om te sorg dat geen lidmaat buite die gemeenskap van die gemeente te staan kom nie, om watter rede ook al.
Alles wat dus dreig om die samelewing van die gelowiges te verniel of te vernietig, soos byvoorbeeld armoede, siekte, droefheid, ouderdom, eensaamheid en ander probleme, moet deur die diakens teengegaan en verlig en, waar moontlik, opgehef en uitgeskakel word.
Die armes moet voorsien word van voldoende lewensmiddele; vir die haweloses moet behoorlike verblyf gereël word; die siekes moet versterk en opgebeur word; die treurendes moet vertroos word; die oues moet bemoedig word; die eensames moet in die gemeenskap van die gemeente ingetrek word, en so meer.
Die diakens het ook ’n taak teenoor nuwe lidmate in die gemeente; veral in stadsgebiede bestaan die gevaar dat nuwe lidmate maklik kan vereensaam, en later selfs vervreemd kan raak. Nuwe lidmate moet so gou as moontlik in die volle gemeenskap van die gemeente opgeneem word.
Só moet ons die verband sien tussen die „armes” en „die wat in nood is”, as voorwerpe van die diakonale ampswerk.
|110|
Artikel 25 bepaal dat die diakens met betrekking tot die
versorging van die armes drie dinge moet doen:
➢ hulle moet die liefdesgawes in geld en goedere wat aan die
armes gegee word, nougeset versamel;
➢ hulle moet die gawes met gesamentlike oorleg getrou en vlytig
uitdeel volgens die eis van die behoeftes;
➢ hulle moet goed toesien dat die gawes nie misbruik word nie.
Hierby moet nog opgemerk word dat die amp van die diakens nie beperk word tot die gemeente nie; die artikel bepaal dat hulle moet uitdeel aan die behoeftiges in die gemeente en „aan ander”, dit wil sê behoeftiges buite die gemeente (kyk Galásiërs 6: 10).
❖ Liefdegawes versamel.
Kragtens die vierde gebod (kyk Heidelbergse Kategismus Sondag 38) moet die gemeente op Sondae in die erediens Christelike liefdegawes gee.
Die kollektes op Sondae by die erediens (die sogenaamde „barmhartigheidskollektes”) is die hoofbron van inkomste vir die diakens.
Oor die vraag of hierdie kollekte binne of ná die erediens ingesamel moet word, het die Sinode van 1964 (Handelinge p. 477) besluit dat die plek van die kollekte ’n middelmatige saak is, en daarom geheel en al aan die vryheid van die kerkrade oorgelaat word om dit binne of buite die erediens te plaas.
Persoonlik meen ek dat die verklaring wat in die Heidelbergse Kategismus van die vierde gebod gegee word, dit duidelik maak dat hierdie kollekte ’n integrale deel van die erediens vorm.
Indien die normale opbrengs van hierdie kollektes ontoereikend is vir die behoeftes waarin die diakens moet voorsien, moet hulle, met toestemming van die kerkraad, bykomende metodes gebruik om voldoende middele te bekom. Allereers moet die gemeente bearbei word om groter offers by wyse van kollektes te bring. Indien dit nog nie genoegsame inkomste besorg nie, moet die diakens uitgaan in die gemeente om geld en goedere in te samel. Sou selfs hierdie optrede nog nie voldoende middele oplewer nie, moet die kerkraad versoek word om hulp te vra by ander kerke in die kerkverband. Die kerkraad is immers die enigste regeerliggaam in die kerk en die
|111|
amptelike orgaan wat die gemeente na buite verteenwoordig. Dit is ook nie diakonieë wat mekaar help nie, maar kerke.
In die Skrif vind ek egter geen grond dat kerklike „barmhartigheidsfondse” by wyse van straatkollektes of koerantaksies ingesamel mag word nie.
Vir gemeentes moet dit ’n saak van eer wees om die diakens in staat te stel om hulle amp waardig te kan vervul! Elke lidmaat moet volgens vermoë ruim bydra vir hierdie diens, uit liefde vir die Here en sy kerk! Daar moet by elke lidmaat ware bewoënheid wees oor die lot van armes en minderbevoorregtes; en daar moet dankbaarheid wees oor eie voorspoed onder die seën van die Here!
Deur middel van gereelde huisbesoek moet die diakens die gemeente in hierdie opsig bearbei en opskerp en toerus.
❖ Liefdegawes uitdeel.
Die geld en goedere vir die armes moet „met gesamentlike oorleg” getrou en vlytig uitgedeel word, volgens die eis van behoeftes.
Volgens die Formulier vir bevestiging van diakens moet hierdie gawes „met vertroosting uit die Skrif” uitgedeel word.
Die diakens moet deur die wyse waarop hulle hul dienswerk vervul, asook deur middel van „opvoeding” van lidmate, dit baie duidelik beklemtoon dat hulle maar net instrumente is in die hand van Jesus Christus; in wese is dit egter die Here Self wat sy behoeftige kinders versorg! Lidmate moet geleer word om weg te kom van die oppervlakkige idee dat dit „die kerk” is wat behoeftiges versorg!
❖ Die uitdeel van die gawes vind plaas
➢ met gesamentlike oorleg; dus: die diakens besluit gesamentlik
oor die uitdeel van die gawes;
➢ getrou en vlytig; dus: diakens hoef nie aangespoor te word in
die uitdeel van die gawes nie;
➢ volgens die eis van die behoefte; dus: die diakens doen, by
wyse van deeglike ondersoek, eers ’n bepaling van die behoefte,
voordat daar uitgedeel word; diakonale fondse is, streng
gesproke, trustfondse, waaroor die noukeurigste kontrole
uitgeoefen moet word; hierdie gawes mag nie bestee word aan
verkwisters, luiaards, dronkaards, dobbelaars of
onverantwoordelikes nie;
|112|
➢ ook aan behoeftiges buite die gemeente; dus: diakonale ampswerk is nie beperk tot die lidmate van die gemeente nie; uit die aard van die saak sal aan eie lidmate voorrang verleen word, en indien daar dan nog fondse beskikbaar is, moet ook aan behoeftiges buite die gemeente hulp verleen word (kyk Galásiërs 6: 10).
❖ Toesig teen misbruik van gawes.
Aangesien barmhartigheidsgawes gawes uit die hand van die Here is (kyk hierbo), is dit die verantwoordelikheid van die diakens om toe te sien dat die gawes nie misbruik word nie. In die agtste gebod verbied die Here trouens alle misbruik van sy gawes (kyk Heidelbergse Kategismus, Sondag 42).
Hierdie toesig deur die diakens kan slegs verantwoordelik en sinvol uitgeoefen word as die wyksdiakens gereeld huisbesoek doen by hulle wat gehelp word.
Van hierdie huisbesoek moet verslag gelewer word in die vergadering van die volle diakonie.
Indien daar wel misbruik van gawes waargeneem word, lê die oplossing nie daarin dat die gawes teruggehou word nie.
Afhangende van die aard van die misbruik, kan die metode van versorging gewysig word. As daar byvoorbeeld direkte hulp verleen word in die vorm van kontantgeld, en dié geld word misbruik, kan die direkte hulpverlening gewysig word na indirekte hulpverlening. Daarmee bedoel ek dat aan so ’n hulpbehoewende geen kontantgeld meer gegee word nie, maar dat sy/haar rekenings deur die diakonie vereffen word en dat lewensmiddele deur die diakonie aangekoop en afgedra word.
Verder moet daar by wyse van intensiewe bearbeiding, desnoods met die hulp van die wyksouderling en/of predikant, „opvoedingswerk” by so ’n lidmaat gedoen word.
Die amp van die diakens behels nie slegs die voorsiening in behoeftes nie, maar beslis ook die voorkoming van armoede, waar dit enigsins moontlik is.
Dit gebeur soms dat die broodwinner van ’n gesin sy betrekking verloor, en daarmee ook sy inkomste. Dit bring die gevaar mee dat hy alle
|113|
artikels waarop hy nog uitstaande skuld het soos huis, motor, meubels, en so meer, kan verloor en só met sy hele gesin in totale armoede kan verval.
In sulke gevalle is dit die verantwoordelikheid van die diakens om alles binne hul vermoë te doen om so ’n gesin te help om finansieel kop bo water te hou, en sodoende dreigende armoede af te weer.
Huisbesoek vorm ’n belangrike deel van die diakens se ampswerk.
Hierdie huisbesoek moet egter nie slegs toegespits word op behoeftiges en armes nie, maar op die hele gemeente.
Huisbesoek by behoeftiges en armes is vanselfsprekend.
Ek wil ook weer beklemtoon dat die diakens die gawes aan die armes met vertroosting uit die Skrif moet afdra (kyk p. 111).
In die huisbesoek van die diaken wanneer die gawes afgedra word, moet dit ook duidelik na vore kom dat dit Jesus Christus is wat sy kinders versorg, deur middel van die diakens as geroepe instrumente (kyk p. 111).
Op p. 109 en 110 is aangetoon dat die fokus van diakonale ampswerk ook „die wat in nood is” insluit.
Die diakens moet egter ook, in die uitvoering van hul ampswerk, huisbesoek doen by ander lidmate as net hulpbehoewendes en beproefdes. Trouens, die hele gemeente is die voorwerp van die diakonale ampswerk.
In hierdie ampswerk by ander lidmate as behoeftiges en beproefdes
sal op die volgende aspekte toegespits moet word:
➢ die lidmate moet, uit dankbaarheid vir die talle seëninge uit
die hand van die Here, deurlopend opgeskerp en aangemoedig word
tot offervaardigheid en tot bewoënheid teenoor hulle wat
behoeftig is;
➢ die lidmate moet aangemoedig word om mee te werk in die
belangrike taak om te sorg dat geen enkele lidmaat vereensaam en
buite die gemeenskap van die gemeente te staan kom nie, om watter
rede dan ook.
|114|
Die diakens moet op gereelde tye in die kerkraad verslag doen van hul werksaamhede. Die ouderlinge is die opsieners in die gemeente; hulle moet ook toesien dat die diakens hul amp getrou bedien (kyk art. 23).
Let daarop dat die artikel nie sê: aan die kerkraad nie, maar wel: in die kerkraad.
Die kerkraad is die predikant en die ouderlinge (art. 37 KO); die diakens vorm dus nie deel van die kerkraad nie.
As artikel 25 dan bepaal dat diakens verslag van hul werksaamhede moet doen in die kerkraad, is die bedoeling dat hulleself fisies teenwoordig moet wees in die kerkraadsvergadering waar hierdie verslag gedoen en behandel word. Hulle mag nie maar net ’n skriftelike verslag lewer wat in hulle afwesigheid behandel word nie.
Gewoonlik word hierdie verslag gedoen by elke vergadering van die kerkraad saam met die diakens (die sogenaamde „breë kerkraadsvergadering”).
Dit mag ook wenslik wees om voor die gemeente verslag te doen van die werksaamhede van die diakens wanneer die kerkraad dit geskik ag.
Dit gebeur soms dat die geleentheid vir die insameling van die barmhartigheidskollekte in die erediens aangekondig word as: „Geleentheid word nou gegee vir die diens van barmhartigheid.”
So ’n afkondiging is beslis nie aan te beveel nie, om die eenvoudige rede dat dit die verskraling van die diakonale amp, wat alreeds ’n ongesonde werklikheid in ons kerklike lewe is, verder versterk. „Diens van barmhartigheid” is tog baie ruimer as net die insameling van ’n kollekte!
In die GKSA is daar ’n interessante geskiedenis van die
sogenaamde „Diakonale Konferensies”. Ek verwys hier onder andere
na die volgende Sinodebesluite:
➢ 1930 (Handelinge p. 44);
|115|
➢ 1961 (Handelinge p. 220, punt D; p. 221, punt E);
➢ 1964 (Handelinge p. 408 e.v., art. 155);
➢ 1970 (Handelinge p. 186 e.v., art. 90).
Streng gesproke is daar niks mee verkeerd as diakens van naburige gemeentes byeenkom om te „konfereer” (gesprek te voer) oor sake wat hul amp raak nie.
In die verlede het hierdie „Konferensies” egter ’n totale skewe rigting ingeslaan; op ’n stadium het dit byna die status aangeneem van ’n volwaardige kerklike vergadering in die gees van artikel 29 KO. „Konferensies” van diakens het tehuise vir onversorgde kinders opgerig, afgevaardigdes na meerdere vergaderings gestuur, aangedring op spreekbeurte in meerdere vergaderings, en so meer. Daar is ook ’n soort permanente „struktuur” opgerig wat in die "bestuur" (later in iets soos ’n „Voortsettingskomitee”) gesetel was/is en wat die reëlings vir die volgende „Konferensie” moes/moet tref.
Dit het ook praktyk geword dat diakens met probleme in hul ampsbediening nie na hul kerkrade gegaan het om hulp en raad nie, maar na hierdie „Konferensies”. Daar is egter nie in die kerkraad verslag gedoen van wat in hierdie „Konferensies” gesê en gedoen is nie.
Dit het al gebeur dat predikante, in die uitvoering van hul toesigtaak oor diakonale vergaderings (art. 40 KO), op baie vreemde gedagtes insake diakonale ampswerk afgekom het; by nadere ondersoek het aan die lig gekom dat sulke vreemde gedagtes uitgedra is in een of meer „voordragte” deur hierdie of daardie predikant by ’n diakonale konferensie.
Ek wil die bewering maak dat daar geen behoefte sal wees aan hierdie konferensies nie as diakens ingelig word oor die regte prosedure in geval van probleme in die uitvoering van hul ampswerk. Wanneer die diakens hulp of raad verlang, wend hulle hul tot die kerkraad; indien die kerkraad nie die gevraagde hulp of raad kan bied nie, wend die kerkraad hom na die klassis by wyse van beskrywingspunt of advies-versoek, ensovoorts.
Die verkeerde praktyke rondom diakonale konferensies het helaas meegebring dat die klassis en ook die partikuliere sinode (as meerdere vergaderings waar kerkregering bedien word), heeltemal uit die gesigsveld van die diakens verdwyn het.