|76|
’n Bedienaar van die Woord wat weens siekte of om enige ander rede sy diens ’n tyd lank moet onderbreek, wat nie sonder bewilliging van die kerkraad en advies van die klassis mag gebeur nie, bly steeds onderworpe aan die beroeping van daardie kerk.
Daar kan omstandighede ontstaan wat dit vir ’n predikant noodsaaklik maak om sy diens vir ’n tyd lank te onderbreek.
Die Sinode van 1967 het bepaal dat in hierdie artikel vier
beginsels gestel word:
➢ die onderbreking moet noodsaaklik wees;
➢ die onderbreking moet vir ’n bepaalde tyd wees; wanneer daar
permanente of onbepaald-tydelike onvermoë is, word volgens
artikel 13 KO gehandel;
➢ die onderbreking moet deur die kerkraad bewillig word met
advies van die klassis;
➢ die verbintenis tussen die predikant en die kerk moet
ongeskonde bly, en die predikant mag deur die kerkraad selfs vóór
verstryking van die bepaalde tyd teruggeroep word; dit sluit dus
die oorgaan tot ’n ander staat van lewe uit, aangesien dit onder
artikel 12 KO gereël word; sodra die onderbreking eindig, gaan
die predikant weer met volle ampsbediening voort net soos vóór
die onderbreking (Handelinge p. 60, punt 4).
Die redes vir tydelike onderbreking van diens word in die artikel aangedui as „siekte of enige ander rede”. Kerkrade en klassisse sal dus met groot versigtigheid en onderskeiding aansoeke onder hierdie artikel moet oorweeg.
In hierdie artikel gaan dit nie om gevalle waar ’n predikant vir ’n kort periode nie kan werk nie, as gevolg van ’n kortstondige siekte, ’n
|77|
operasie wat ondergaan moet word, en so meer; dit word deur die kerkraad in oorleg met die predikant self gereël.
In artikel 14 gaan dit oor buitengewone gevalle van siekte wat langer onderbreking van diens noodsaaklik maak.
Dit sal egter duidelik moet wees dat die siektetoestand nie permanente onbekwaamheid tot gevolg het nie; dan hoort dit tuis onder artikel 13. Voorbeelde van siekte wat tydelike onbekwaamheid veroorsaak, is byvoorbeeld wanneer ’n predikant liggaamlik en/of geestelik só afgetakel en uitgeput raak dat hy, op mediese advies, sy diens vir ’n jaar of selfs langer moet onderbreek om weer te herstel. Of die predikant kan in een of ander ongeluk beland waardeur hy só beseer is, dat hy vir ’n tyd lank nie sy diens kan voortsit nie.
Dit is ook nie noodwendig dat ’n aansoek onder hierdie artikel slegs deur die predikant gedoen mag word nie; daar kan situasies ontstaan waar ’n kerkraad sy predikant moet verplig om sy diens ’n tyd lank te onderbreek, ten einde sy gesondheid en kragte geleentheid tot herstel te gee.
Soos hierbo gesê is, sal kerkrade en klassisse met groot versigtigheid en onderskeiding aansoeke onder hierdie artikel moet oorweeg, veral as die tydelike onderbreking van diens nie weens siekte is nie.
’n Beginsel wat in sulke gevalle streng gehandhaaf moet word, is dié dat die werk wat ’n persoon doen, sy amp kwalifiseer (Sinode 1964, Handelinge p. 100). As die tydelike onderbreking van diens sou meebring dat die predikant werk gaan doen (selfs al is dit slegs tydelik) wat nie met hierdie beginsel versoenbaar is nie, moet daar ten minste ’n saak uitgemaak kan word dat hierdie werk noodsaaklikerwys slegs deur ’n predikant gedoen kan word. Die taak wat die onderbreking noodsaak, moet van ernstige aard wees, terwyl die bydrae wat die predikant in hierdie verband kan lewer, duidelik aangetoon moet word.
Daar moet altyd onthou word dat die roeping tot Woordbediening voorop staan; dit mag nie sommer ligtelik op die agtergrond gedwing word nie, selfs nie eers vir ’n tyd lank nie.
Voorbeelde van hierdie kategorie is:
|78|
➢ Bybelvertaling;
➢ onderrig aan die PU vir CHO in die voorbereidende vakke vir die
opleiding van voornemende predikante, solank geen ander geskikte
persoon beskikbaar is nie (Sinode 1976, Handelinge p. 91/92, punt
14.2.1., 14.2.2. Kyk ook Handelinge Sinode 1982, p. 487 e.v.,
art. 126; veral p. 493, punt 4.2.2).
➢ tydelike hulpdiens met die opleiding van voornemende predikante
aan die Teologiese Skool;
➢ noodsaaklike studieverlof; (die kerke het goed toegeruste
broeders nodig wat as professore beroep kan word vir die
opleiding van voornemende bedienaars van die Woord; indien daar
in een of meer vakke ’n tekort aan bekwame kandidate met
nagraadse kwalifikasies is, kan die noodsaaklikheid van studie
vir hierdie doel aangetoon word).
➢ besondere kerklike of burgerlike opdragte wat binnelands of
buitelands verrig moet word.
Die prosedure wat gevolg moet word vir toestemming tot tydelike
onderbreking van diens, is soos volg:
➢ die aansoek moet skriftelik en goed gemotiveerd aan die
kerkraad (of, in geval van ’n professor aan die Teologiese Skool,
aan die Kuratorium) gerig word; as dit vanweë siekte is, moet
deurslaggewende mediese getuienis ter stawing van die aansoek
ingedien word;
➢ onder leiding van die konsulent oorweeg die kerkraad die
aansoek ernstig en indringend; indien die kerkraad van mening is
dat verlof tot tydelike diensonderbreking toegestaan moet word,
win hy die advies van die klassis hieroor in (in spoedeisende
gevalle sal dit dalk nie moontlik wees om die volle klassis
hiervoor byeen te kry nie; dan kan ’n classis contracta
(kyk p. 33) opgeroep word);
➢ die tydsduur van die diensonderbreking moet vasgestel word;
indien dit nie sekuur bepaal kan word nie, moet die kerkraad van
tyd tot tyd voorsien word van verslae wat hom op hoogte hou van
hoe lank die onderbreking nog sal duur;
➢ reëlings vir behartiging van dienswerk gedurende die
diensonderbreking moet getref word;
|79|
➢ die predikant se posisie by sy terugkeer ná sy diensonderbreking moet noukeurig beskrywe word.
Hier moet opgemerk word dat ’n predikant geen reg het om teen die oordeel van sy kerkraad en/of die advies van die klassis in te gaan nie; so ’n eiewillige optrede sou neerkom op trouelose verlating van diens, strafbaar met skorsing en/of afsetting volgens artikels 79/80 KO.
Die praktiese effek van verlof tot tydelike diensonderbreking
volgens hierdie artikel is soos volg:
➢ soos op p. 76 aangetoon is, moet die verbintenis tussen die
predikant en die kerk ongeskonde bly; vir die duur van die
tydelike onderbreking van diens bly hy dus predikant van daardie
bepaalde kerk (hy „bly steeds onderworpe aan die beroeping van
daardie kerk”); dit hou in dat daar geen sprake is van enige
losmaking nie; die kerkraad mag hom selfs ook vóór verstryking
van die bepaalde tyd terugroep (alhoewel dit slegs in hoogs
uitsonderlike gevalle sal gebeur);
➢ as gevolg van wat hierbo gesê is, spreek dit vanself dat die
predikant, veral in geval van siekte, geregtig is op volle
versorging kragtens artikel 11 KO; indien finansiële probleme
ontstaan vir die vergoeding van plaasvervangende dienswerk, moet
sustentasie aangevra word (kyk p. 54); in gevalle waar tydelike
diens gelewer word vir Bybelvertaling, opleiding van voornemende
predikante en so meer, kan redelikerwys van die betrokke
instansies verwag word om óf finansieel by te dra vir
plaasvervangende dienswerk, óf die predikant self te vergoed vir
gelewerde diens; sodoende word die kerkraad vir die duur van die
diensonderbreking gesteun in die nakoming van sy versorgingsplig
kragtens artikel 11 KO;
➢ omdat die verbintenis tussen die predikant en die kerk
ongeskonde bly, spreek dit vanself dat die kerkraad in geen opsig
die predikant se reg mag krenk deur sy versorging te weerhou of
hom ná verstryking van die diensonderbreking volgens artikel 11
KO te ontslaan of hom volgens artikel 12 KO te forseer om oor te
gaan tot ’n ander lewenstaat nie — selfs nie as daar reeds ’n
ander predikant in die gemeente dien nie.
|80|
Indien die kerkraad probleme ondervind om albei predikante te versorg, moet daar hulp verkry word deur middel van sustentasie (kyk p. 54).
In die lig van alles wat by hierdie artikel gesê is, is dit duidelik dat implementering hiervan slegs in uitsonderlike gevalle moet plaasvind en met die mees omsigtige beoordeling.