|45|
Predikers wat uit ander kerke of een of ander sekte aansluit, sal nie tot die kerkdiens toegelaat word nie, behalwe met groot versigtigheid, en dit eers nadat hulle vir ’n sekere tyd goed beproef is.
Die bewoording „kerke” in hierdie artikel moet duidelik verstaan word as kerke buite die verband van die GKSA.
Die woord „kerkdiens” beteken niks anders nie as „diens van die Woord”, soos in vorige artikels. Dit is vreemd dat hierdie bewoording nog nie verander is om aan te pas by vorige artikels nie.
Artikel 9 moet nie bloot op sy eie beoordeel en hanteer word nie, maar in noue aansluiting by vorige artikels, veral artikel 3 (die noodsaaklikheid van wettige beroeping en toelating), artikel 4 (die wyse van beroeping en toelating) en artikel 8 (groot versigtigheid voor toelating).
Voordat daar hoegenaamd aandag gegee mag word aan ’n aansoek om volgens hierdie artikel toegelaat te word tot die diens van die Woord, moet die aansoeker, uit die aard van die saak, eers as lidmaat van ’n plaaslike Gereformeerde kerk opgeneem word. Dit is trouens een van die uitgangspunte in hierdie artikel, soos die woord „aansluit” duidelik impliseer.
  Die ordelike weg waarlangs so ’n persoon aansoek moet doen om
  toegelaat te word tot die diens van die Woord, is na my mening
  die volgende:
  ➢ hy moet sy begeerte om toegelaat te word tot die diens van die
  Woord aan sy kerkraad bekend maak;
|46|
  ➢ die kerkraad moet die aansoek deeglik oorweeg; met die oog op
  die aansoeker se motiewe, moet ’n deurtastende ondersoek gedoen
  word by wyse van ’n indringende broederlike gesprek;
  ➢ as die kerkraad oortuig is dat die aansoek verdienste het en
  die aansoeker se motiewe suiwer is, verwys hy die persoon na die
  Teologiese Skool, sodat daar vasgestel kan word of sy teologiese
  opleiding voldoen aan die vereistes vir die Kandidaatseksamen, en
  of aanvullende opleiding nodig is;
  ➢ wanneer die Senaat van die Teologiese Skool tevrede is dat die
  teologiese toerusting van die persoon bevredigend is, word hy
  voorsien van ’n amptelike dokument waarin die toepaslike en
  vereiste gegewens weergegee word. Die kerkraad stuur dan ’n
  behoorlik gemotiveerde aansoek na die klassis deur; hierdie
  aansoek moet vergesel word van die dokument van die Senaat van
  die Teologiese Skool, asook van ’n getuienis van die aansoeker se
  leer en lewenswandel;
  ➢ die klassis, verkieslik saam met die deputate van die
  partikuliere sinode (kyk art. 49 KO), behandel die aansoek
  selfstandig en indringend, voordat oorgegaan word tot
  eksaminering volgens artikel 4 KO;
  ➢ verloop die eksaminering bevredigend, moet daar eers ’n tydperk
  bepaal word waarin die aansoeker „goed beproef” — dit wil sê
  behoorlik prakties getoets — moet word. Hierdie praktiese
  toetsing vind uiteraard in ’n gemeente plaas, onder toesig van ’n
  kerkraad en met begeleiding van ’n bedienaar van die Woord. Die
  aansoeker moet ruim geleentheid kry vir „preekproewe” soos in die
  geval van ’n aansoeker onder artikel 8 KO (kyk p. 44);
  ➢ van hierdie praktiese toetsing, sowel as van die aansoeker se
  leer en lewenswandel tydens die proeftyd, moet uitvoerig aan die
  klassis en die deputate van die partikuliere sinode getuienis
  gelewer word;
  ➢ is hierdie getuienis bevredigend, word die aansoeker beroepbaar
  gestel en onderteken hy die Ondertekeningsformulier vir
  Proponente.