|259|
Kerkrade moet toesien dat die huwelik as heilige verbintenis in die Here aangegaan word volgens die Formulier wat daarvoor vasgestel is.
Vroeër is daar in die geledere van die GKSA ’n stryd gevoer oor die vraag of die „diens” by ’n huweliksbevestiging ’n erediens is of nie. Vir baie jare was dit dan ook die gebruik dat die „diens” by ’n huweliksbevestiging wel ’n erediens is.
In die vroeëre uitgawes van die Kerkordeboekie het artikel 70 dan ook só gelui: „Die Kerkrade moet toesien dat die huwelikstaat voor die gemeente van Christus, volgens die Formulier daarvoor, bevestig word, omdat dit so behoort” (my kursivering, J.V.).
Hierdie bewoording is eers deur die Sinode van 1967 gewysig soos dit tans is (Handelinge p. 454- 477).
Dit is wel nie ontoelaatbaar dat ’n huwelik tydens ’n erediens bevestig word nie.
Die Owerheid het ’n direkte belang by die bevestiging van huwelike.
Daarom word predikante ook deur die Owerheid aangestel as huweliksbevestigers, wat vanselfsprekend meebring dat hulle gebonde is aan die verskillende wette en bepalings ten opsigte van huwelike en huweliksbevestigings.
Predikante moet steeds daarop bedag wees dat hulle, selfs in hul optrede as „staatsamptenare” (huweliksbevestigers) gebonde bly aan die beginsels van Gods Woord en wet en die besluite van Sinodes.
|260|
Vir baie jare was dit wet dat geen huwelik bevestig mag word
voordat die sogenaamde huweliksgebooie nie bekendgemaak is nie.
Dit kon op twee maniere gedoen word:
➢ deur ’n kennisgewing by ’n magistraatshof (lees:
landdroshof);
➢ deur afkondiging op drie agtereenvolgende Sondae met ’n
erediens in die kerk.
Een van die doelstellings hiervan was om geleentheid te gee vir die indien van besware teen ’n voorgenome huwelik.
Hierdie wet is later gewysig en die verpligte afkondiging van huweliksgebooie is geskrap.
Aangesien die gemeente tog direkte belang het by die voorgenome huwelik van lidmate, het die Sinode van 1973 die volgende besluit geneem: „...dat volgens artikel 70 K.O. dit noodsaaklik is dat voorgenome huwelike voortaan nog aan die gemeente bekend gestel sal word” (p. 330).
Op grond van die Skrif, asook verskeie Sinodebesluite, erken die GKSA slegs owerspel as wettige grond vir egskeiding (kyk byvoorbeeld Sinode 1964, Handelinge p. 468-476).
Predikante moet uiters versigtig wees om nie in die versoeking gestel te word om, veral in die geval van geskeide persone, huwelike te bevestig wat volgens die Skrif nie toelaatbaar is nie (kyk byvoorbeeld Matthéüs 19: 9 veral in vergelyking met I Korinthiërs 7: 11; hiervolgens is dit ontoelaatbaar dat ’n geskeide persoon weer trou terwyl daar nog ’n moontlikheid van versoening met die vervreemde eggenoot is).
So ’n huwelik kan nie getipeer word as „heilige verbintenis in die Here” nie.