|150|

Artikel 33

 

Die afgevaardigdes na die meerdere vergaderinge moet hulle geloofsbriewe en opdragte saambring, onderteken deur die wat hulle stuur; en elke afgevaardigde sal ’n keurstem hê, behalwe in sake wat sy eie persoon of kerk in die besonder aangaan.

 

Samestelling van meerdere vergaderings.

’n Meerdere vergadering is nie ’n vergadering van ampsdraers nie, maar ’n vergadering van kerke, deur middel van hul afgevaardigdes (kyk by art. 41).

Mindere vergaderings vaardig predikante en ouderlinge af na meerdere vergaderings.

Hierdie afgevaardigdes ontvang van die vergadering wat hul stuur, geloofsbriewe, as bewys van hul afvaardiging.

 

Geloofsbriewe.

’n Geloofsbrief (ook genoem „kredensiebrief”) is ’n bewysstuk wat ’n mindere vergadering aan sy afgevaardigdes gee as bewys dat hulle wettig deur die betrokke vergadering afgevaardig is. Op grond van die geloofsbrief ontvang afgevaardigdes keurstem in die meerdere vergadering. Daarom is dit noodsaaklik dat geloofsbriewe noukeurig voltooi moet word; die name en ampte van die afgevaardigdes moet korrek ingevul word.

Kragtens die besluit van die Sinode van 1876 (Handelinge p. 73, art. 35) moet alle geloofsbriewe „voor de afgevaardigden naar de onderscheidene kerkvergaderingen” onderteken word deur die voorsitter en skriba van die mindere vergadering. (’n Konsep-geloofsbrief verskyn in die Handelinge van die Sinode van 1985, p. 560, 3.6).

In so ’n geloofsbrief verklaar die mindere vergadering dat hy aan sy afgevaardigdes las en volmag gee om namens hom volgens Skrif, Belydenis en Kerkorde in alle sake wat op die meerdere vergadering sal voorkom, te help oordeel en besluit. Die mindere vergadering verbind hom daarin ook om alle besluite van die meerdere vergadering, wat nie

|151|

met die bogenoemde reël in stryd is nie, as vas en bindend te beskou en dit getrou te help uitvoer en nalewe (kyk in hierdie verband by art. 31, p. 139 e.v.).

Die roepende kerkraad van die meerdere vergadering moet noukeurig let op die korrektheid van die geloofsbriewe. Dit word juis „geloofsbrief” genoem omdat dit die afvaardiging geloofwaardig maak. Sonder wettige/korrekte geloofsbriewe mag niemand sittingsreg in ’n meerdere vergadering verkry nie, selfs al bestaan daar geen twyfel oor sy/hul afvaardiging nie. Wanneer sittingsreg verleen word aan iemand wie se geloofsbrief ontbreek of nie in orde is nie, kom die wettigheid van die betrokke meerdere vergadering met al sy handelinge in gedrang.

Daarom is dit die veiligste om geloofsbriewe nie slegs per pos aan die roepende kerkraad te stuur nie (vanweë die onbetroubaarheid van die posdiens), maar om ’n getekende afskrif aan die afgevaardigdes saam te gee.

 

Openlike Verklaring.

Meerdere vergaderings kom byeen op grond van die eenheid in Belydenis, liturgie en kerkregering, waarop kerkverband berus. Hierdie eenheid word verwoord in die „Openlike Verklaring” wat aan die begin van elke meerdere vergadering gelees (behoort te) word. Afgevaardigdes betoon hul instemming daarmee deur op te staan. Wie weier om instemming daarmee te betuig, verbeur sy sittingsreg.

 

Opdragte.

Hierdie artikel bepaal dat afgevaardigdes ook hul „opdragte” moet „saambring”. Hierdie opdragte moet behoorlik onderteken word „deur die wat hulle stuur”, dus die afvaardigende vergadering.

„Opdragte” sluit in beskrywingspunte, beswaarskrifte, versoeke tot revisie en appèlle wat in die agenda van die meerdere vergadering opgeneem word. In die agenda kom hierby nog die rapporte van deputate.

Slegs dié vergadering wat afvaardig, mag opdragte vir die agenda van die meerdere vergadering deurgee; ’n kerkraad mag dus nie regstreeks aan die partikuliere of nasionale of algemene sinode opdragte deurgee, met verbygang van die klassis nie; dieselfde geld toepaslik van die klassis

|152|

en die partikuliere sinode (kyk hier besluit van Sinode 1967, Handelinge p. 349, 350, art. 124).

Om praktiese redes vereis meerdere vergaderings dat alle opdragte en ander stukke vir die agenda vóór ’n bepaalde datum by die korresponderende kerkraad/deputate vir korrespondensie moet wees. Die doel hiervan is duidelik: die agenda moet opgestel word en uitgestuur word aan alle belanghebbende partye vir kennisname en voorbereiding. Hierdie reëling moet nie rigoristies gehandhaaf word nie, maar met billike oorweging. Laatgekome stukke kan deur die vergadering in die agenda opgeneem word. Slapheid en nalatigheid moet egter so effektief moontlik uitgeroei word. 

As voorbeeld: ’n sekere mindere vergadering maak ’n (slegte) gewoonte daarvan om alle opdragte en ander agendastukke te laat vir opname in die opgestelde agenda te stuur. So ’n mindere vergadering moet streng vermaan word; as dit geen resultate oplewer nie, moet die meerdere vergadering weier om sulke laatgekome stukke in die agenda op te neem. Die nalatigheid sal waarskynlik nie weer voorkom nie.

 

Geen oop agenda nie.

’n Meerdere vergadering is ’n regeerliggaam in belang van die kerke wat daarin verteenwoordig is. Daarom mag hy slegs sake in die agenda opneem wat deur die mindere vergaderings aan hom opgedra is. Dit sluit alle nuwe opdragte in, asook dié wat oorstaan van ’n vorige vergadering en wat as deputaterapport(e) weer aan die orde kom. Geen ander sake mag in die agenda opgeneem word nie, aangesien geen meerdere vergadering ’n „oop agenda” het nie.

Die vergadering stel self sy agenda vas aan die begin van sy werksaamhede.

 

Mag ’n vergadering aan sy afgevaardigdes opdrag gee hoe om te stem?

Die antwoord op hierdie vraag val in twee dele uiteen.

Eerstens: Die woord „opdrag” impliseer dat afgevaardigdes van ’n mindere vergadering nie teen ’n beskrywingspunt, beswaarskrif, versoek tot revisie, en so meer van hul afvaardigende vergadering mag praat of stem nie. Dit sou die hele begrip van afvaardiging in gedrang

|153|

bring, omdat dit sou impliseer dat elke afgevaardigde in eie persoonlike hoedanigheid in die meerdere vergadering teenwoordig is, en nie as ’n afgevaardigde van ’n mindere vergadering met ’n bepaalde opdrag nie. In die geloofsbrief word immers verklaar dat die afgevaardigdes „namens” die betrokke mindere vergadering optree.

Indien ’n afgevaardigde as gevolg van die diskussie in die meerdere vergadering tot die oortuiging kom dat hy die „opdrag” van sy afvaardigende vergadering nie langer kan steun nie, mag hy hoogstens buite stemming bly en daarvan rekenskap gee aan die vergadering wat hom afgevaardig het.

Tweedens: Wanneer ’n mindere vergadering ’n bepaalde oortuiging het oor een of meer sake in die agenda van die meerdere vergadering waarheen hy afvaardig, mag hy aan sy afgevaardigdes opdrag gee hoe om oor daardie sake te praat en te stem. In aansluiting by wat hierbo gesê is insake die begrippe „opdrag” en „afvaardiging”, het ’n mindere vergadering beslis die reg om aan sy afgevaardigdes opdrag te gee hoe om in ’n bepaalde geval te stem. Indien ’n afgevaardigde hom nie daarmee kan vereenselwig nie, spreek dit vanself dat hy nie die mindere vergadering kan verteenwoordig nie. Hy moet dus versoek om van sy afvaardiging onthef te word.

Dit spreek vanself dat wat hierbo gesê is, nie van toepassing is in die geval van ’n beskrywingspunt van die mindere vergadering na die meerdere vergadering waarteen een of meer van sy afgevaardigdes appelleer nie.

 

Keurstem.

In hierdie artikel word bepaal dat elke afgevaardigde in ’n meerdere vergadering ’n keurstem sal hê, behalwe in sake wat sy eie persoon of kerk (lees: „afvaardigende vergadering”) in die besonder aangaan. „Keurstem” is die stem wat uitgebring word in die besluitnemingsproses.

Dit beteken dat slegs wettige afgevaardigdes in meerdere vergaderings mag stem. Predikante wat nie afgevaardig is nie (kyk art. 42) asook teologiese professore het adviserende stem, dit beteken hulle mag slegs advies gee. Besoekers mag deur die vergadering spreekstem verleen word, dit beteken dat hulle slegs oor sake mag praat.

|154|

Hierdie bepaling beteken egter ook dat die „stemreg” beperk is tot sake wat nie eie persoon of afvaardigende vergadering direk aangaan nie. As voorbeelde kan genoem word:
➢ ’n appèlsaak waarby afgevaardigdes direk betrokke is: óf as appellante, óf as verweerders;
➢ ’n klag waarby ’n afgevaardigde self of ’n familielid in gedrang is.

Kortom: in enige saak waar ’n afgevaardigde nie meer objektief kan oordeel nie, verval sy keurstem en behoort hy homself aan die stemproses te onttrek. Niemand kan immers regter wees in sy eie saak nie.

Of in so ’n geval afgevaardigdes uit die vergadering gestuur moet word, moet die vergadering na gelang van omstandighede self besluit. Wanneer die teenwoordigheid van so ’n afgevaardigde nie onbehoorlike beïnvloeding sal veroorsaak nie, behoort hy nie uit die vergadering gestuur te word nie.