|309|
Aan diegene wat uit die gemeente vertrek, moet die kerkraad ’n attestasie (getuienis) van hulle belydenis en wandel saamgee wat deur twee van sy lede onderteken is.
Volgens die Gereformeerde kerkregering is iemand lidmaat van een of ander plaaslike kerk, byvoorbeeld die Gereformeerde Kerk Rustenburg. Niemand kan lidmaat wees van die kerkverband as sodanig, byvoorbeeld die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika nie.
Wanneer iemand dan uit die gebied van die plaaslike kerk waar hy lidmaat is, verhuis, verval sy lidmaatskap (streng gesproke onmiddellik).
Daarom is dit belangrik dat hy betyds by die kerkraad aansoek doen om ’n attestasie.
Hierdie artikel bepaal dat die kerkraad (die sogenaamde „smal kerkraad” — art. 37 KO) attestasies gee.
Dit moet ook onderteken word „deur twee van sy lede”, volgens die Skrifbeginsel in Deuteronómium 19: 15, vergelyk 17: 6.
’n Attestasie wat slegs deur een lid van die kerkraad onderteken is, is dus nie geldig en aanvaarbaar nie.
Gewoonlik word attestasies deur die predikant en die attestasie-skriba onderteken; dit kan egter deur enige twee ouderlinge onderteken word.
Kerkrade wys soms ’n vrouelidmaat aan as attestasie-skriba.
Hierdie praktyk bring egter ’n paar probleme na vore:
➢ ’n vrouelidmaat mag nie lid van die kerkraad wees nie;
➢ daarom mag ’n vrouelidmaat nie ’n attestasie onderteken nie;
|310|
➢ voorts mag sy ook nie inligting oor lidmate se belydenis en lewenswandel, wat vertroulik deur die kerkraad hanteer word, in ’n attestasie weergee nie.
Ek kan dus nie sien hoe ’n vrouelidmaat „attestasie-skriba” van ’n kerkraad kan wees nie.
Volgens hierdie artikel is ’n attestasie ’n „getuienis”.
Tog is daar in ’n attestasie nog ’n ander komponent, naamlik ’n bewys van lidmaatskap. Die bewoording van die konsep-attestasievorm maak dit eksplisiet duidelik: „Die kerkraad van die Gereformeerde Kerk ... getuig hiermee dat die ondergenoemde(s) ’n lidmaat/lidmate van hierdie Kerk is:...” (Handelinge Sinode 1985, p. 561, punt 3.7; my kursivering, J.V.).
Die konsekwensie hiervan is dan ook duidelik: iemand wat sonder attestasie verhuis, bly nog (regtens) lidmaat van die betrokke gemeente.
Dit gebeur dikwels dat lidmate sonder attestasie uit ’n gemeente verhuis.
In die lig van wat hierbo gesê is (dat so ’n persoon regtens nog
lidmaat bly van die betrokke gemeente) kan ’n situasie soos
hierdie nie onbepaald voortduur nie. Daarom moet ’n kerkraad in
so ’n geval drie dinge doen:
➢ hy moet self pogings aanwend om die lidmaat te vermaan om sy
attestasie onverwyld aan te vra;
➢ hy moet die kerkraad van die gemeente na wie se gebied die
lidmaat verhuis het, daarvan in kennis stel, met die versoek dat
die lidmaat vermaan word om sy attestasie onverwyld aan te
vra;
➢ die attestasie-skriba moet ’n aantekening maak van die datum
waarop die lidmaat verhuis het, sodat die kerkraad op ’n bepaalde
tydstip (gewoonlik ná ses maande) amptelik kan besluit dat die
lidmaat deur sy versuim om attestasie aan te vra, sy lidmaatskap
laat verval het.
|311|
Hierdie artikel bepaal dat die kerkraad aan lidmate wat uit die gemeente vertrek, ’n attestasie moet „saamgee”.
Hierdie woord „saamgee” het ’n belangrike betekenis: dit impliseer dat lidmate wat verhuis, self hul attestasie moet aanvra en dit self moet ingee by die nuwe gemeente.
In ons kerke het ’n slapheid ingetree op hierdie terrein: baie lidmate is gladnie meer bewus van hul eie verantwoordelikheid met betrekking tot attestasies nie; die kerkraad moet maar sorg dat hul „lidmaatskap” in die nuwe gemeente agtermekaar kom.
En ek is bevrees dat kerkrade in baie gevalle self verantwoordelik is vir hierdie onaanvaarbare toestand.
Mag ’n kerkraad, wanneer ’n lidmaat in gebreke bly om aansoek te doen vir attestasie, uit eie inisiatief so ’n attestasie aanstuur?
Die antwoord hierop is ’n besliste „nee”.
So ’n kerkraad kan homself blootstel aan ’n regsgeding, indien die betrokke lidmaat nie van voorneme was om homself weer by ’n Gereformeerde kerk te voeg nie.
Indien daar in die attestasie negatiewe dinge van die betrokke lidmaat getuig word, stel die kerkraad homself bloot aan ’n lasteraksie deur so ’n lidmaat.
Die belangrikheid van noukeurige attestering deur kerkrade kan nooit genoeg beklemtoon word nie.
Volgens my eie ervaring gebeur dit heeltemal te veel dat kerkrade se getuienis in attestasies nie ooreenstem met die leer en lewenswandel van die betrokke lidmate nie.
Sulke attestasies is niks anders nie as oortreding van die negende gebod, en dus sonde voor die Here. Dit is „Gereformeerde leuens” wat nogal deur twee handtekeninge bevestig word!
|312|
Die waarde van sulke attestasies is ook feitlik nul. Die doel van ’n attestasie is tog dat die nuwe kerkraad met die pastorale arbeid kan voortgaan waar die vorige kerkraad opgehou het. Hoe kan dit gedoen word waar die waarheid in ’n attestasie geweld aangedoen word?
Hierdie praktyk is tot oneer van die Here, maar ook tot nadeel van lidmaat en kerk!
Indien die konsep-attestasievorm nie genoeg ruimte het vir uitvoerige getuienis nie, moet ’n skriftelike getuienis die attestasie vergesel wat deel vorm van die attestasie self.
Kerkrade is ook nie verplig om die gedrukte attestasievorms te gebruik nie; hulle kan hul eie vorms vervaardig, solank die bewoording basies ooreenstem met dié van die goedgekeurde konsepvorm.
(Die nuutste konsepvorm verskyn in die Handelinge van die Sinode van 1985, p. 561. punt 3.7).
Dit gebeur vandag in toenemende mate dat lidmate attestasie aanvra sonder dat hulle uit die gebied van die gemeente verhuis. Die rede daarvoor is gewoonlik dat hulle nie tevrede is met een of ander aspek van die bediening in die gemeente nie, en daarom by ’n ander gemeente (van eie keuse) wil aansluit.
Hierdie gebruik moet baie sterk ontmoedig word, en wel om die
volgende redes:
➢ aan lidmate se voorkeure kan nie toegegee word ten koste van
goeie orde nie;
➢ lidmate se voorkeure kan ontstaan as gevolg van sondige
oorsake; afgee van ’n attestasie in so ’n geval kom dus daarop
neer dat die sonde gesanksioneer word;
➢ indien lidmate se beweegredes ontstaan het as gevolg van
gebrekkige bediening/dwalinge/kettery deur die predikant,
moet die bediening van die predikant as sodanig ernstige
aandag geniet; afgee van attestasies in so ’n situasie los
geen probleem op nie; inteendeel kan dit so ’n gemeente ernstig
knou as ’n groot aantal lidmate die gemeente om hierdie rede sou
verlaat. Dit sou ook meebring dat
|313|
oplaas meeste lidmate wat reformasie in die gemeente begeer, na ander gemeentes verhuis; die sonde woeker dus ongehinderd voort.
Attestasies is slegs bedoel in geval daar van een gemeente na ’n ander in dieselfde kerkverband verhuis word. Geen attestasie mag gegee word waar lidmate na ’n kerk buite die verband van die GKSA wil oorgaan nie.
Soms vra lidmate ’n sogenaamde „bewys van lidmaatskap” aan wanneer hulle kerklike gemeenskap opsê („kerk bedank”).
So iets is egter ’n absurditeit. Hoe kan ’n „bewys” gegee word van lidmaatskap wat reeds opgesê is en dus nie meer bestaan nie? Die oomblik wanneer ’n lidmaat amptelik kennis gee van opsegging van kerklike gemeenskap, is die lidmaatskap beëindig. Daarna het die kerkraad geen jurisdiksie meer oor daardie persoon nie.
Die beste wat ’n kerkraad in so ’n geval kan doen, is om skriftelik kennis te neem dat So-en-So op daardie datum gemeenskap met die betrokke kerk opgesê het.
Geen kerkraad het die reg om, onder normale omstandighede, te weier om ’n attestasie te gee nie — selfs nie in geval ’n lidmaat onder tug is nie.
Die enigste geval waarin ’n kerkraad die afgee van ’n attestasie mag weier, is wanneer ’n lidmaat só lank gelede uit die gemeente vertrek het, dat die kerkraad nie in staat is om enige bruikbare getuienis te gee nie. Al wat ’n kerkraad in so ’n geval kan „getuig”, is dat die betrokke persoon tot op ’n bepaalde datum lidmaat van die gemeente was, maar sonder aanvraag van attestasie lank reeds uit die gemeente vertrek het.
Normaalweg moet kerkrade attestasies aanvaar van ander kerkrade in kerkverband. Weiering om ’n attestasie sonder grondige rede te
|314|
aanvaar, sou daarop neerkom dat die kerkraad wat geattesteer het, buite kerkverband geag word.
Tog kan daar situasies ontstaan wat kerkrade kan verplig om attestasies te weier.
Ek noem die volgende voorbeeld:
’n Kerkraad neem (nie-amptelik) kennis dat ’n Gereformeerde lidmaat in sy gebied ingetrek het. Op versoek van die lidmaat vra die kerkraad ’n attestasie aan.
Intussen woon die „lidmaat” geen eredienste by nie, gee geen kerklike bydrae nie en leef ’n lewe wat nie pas by ’n kind van die Here nie.
Wanneer die attestasie ontvang word, blyk dit dat die vorige kerkraad van die lidmaat getuig dat, sover dit aan die kerkraad bekend is, hy suiwer in die belydenis en onberispelik in die wandel is. Hierdie getuienis bots dus vierkantig met die lidmaat se lewenswandel in die nuwe gemeente.
Is die kerkraad verplig om hierdie attestasie te aanvaar?
Na my mening moet die volgende optrede gevolg word:
Deur middel van ’n kerkraadskommissie moet die kerkraad aan die lidmaat kennis gee dat die attestasie voorlopig nie aanvaar kan word nie, met opgaaf van rede.
Onverwyld moet die kerkraad met die vorige kerkraad in verbinding tree om die saak op te klaar.
Indien dit sou blyk dat die lidmaat in die vorige gemeente kerklik meelewend was, maar ná sy vertrek geestelik en kerklik verval het, het die vorige kerkraad dus die waarheid getuig.
Die getuienis is egter, in die lig van die verval wat ingetree het, verouderd; die kerkraad mag dit dus nie aanvaar nie.
Indien dit sou blyk dat die vorige kerkraad uit nalatigheid nie die waarheid getuig het nie, moet daardie kerkraad ernstig vermaan word. Indien nodig moet die saak by die betrokke klassis aanhangig gemaak word.
Ook in hierdie geval mag die getuienis nie aanvaar word nie.
|315|
Tog mag die lidmaat, in beide gevalle, nie summier „verwerp” word nie. Hy mag egter ook nie toegelaat word tot die nagmaal nie.
Die kerkraad moet deur middel van gemelde kommissie die lidmaat ontmoet, die feite van die saak aan hom deurgee en die konsekwensies daarvan aan hom verduidelik.
Indien die lidmaat begeerte het om sy lewe te verbeter, word hy as lidmaat opgeneem.
Hy word egter dadelik langs die gewone weg van artikel 76 KO dissiplinêr van die nagmaal afgehou, totdat hy bewys het dat sy berou eerlik en sy bekering opreg is.
Indien die lidmaat egter nie daarin sou belangstel om meelewende lidmaat van die nuwe gemeente te word nie, word hy meegedeel dat sy lidmaatskap as beëindig beskou word.
Notulering van bogenoemde handelinge moet uiteraard noukeurig geskied.
[Die bogenoemde opname (en tug) moet nie verwar word met die genootskapsidee (dat die kerk ’n genootskap is en alle takke van die genootskap verplig is om sy lede te aanvaar) nie. Inteendeel is dit gegrond in die werklikheid van eenheid in Belydenis, liturgie en kerkregering tussen kerke in kerkverband.]
Wanneer ’n lidmaat slegs tydelik uit die gemeente verhuis, word aan hom ’n reisattestasie gegee.
Die Sinode van 1970 (Handelinge p. 461-463, Artikel 185) het ’n
uitvoerige besluit hieroor geneem, wat op die volgende
neerkom:
➢ die betrokke lidmaat „gaan nie oor” na ’n ander gemeente nie,
maar bly lidmaat van die gemeente wat die reisattestasie gegee
het;
➢ hy handig sy reisattestasie in by kerkrade waar hy aandoen,
totdat hy weer daarvandaan vertrek;
➢ die kerkrade waar hy aandoen, word versoek om hom tydelik
pastoraal te bearbei en alle kerklike voorregte aan hom te
vergun;
➢ van die kerkrade waar hy aandoen, word verwag om aantekeninge
op die reisattestasie te maak wat van belang mag wees;
➢ by permanente terugkeer na die tuisgemeente, word die
reisattestasie weer aan die kerkraad terugbesorg.