|180|
Plekke waar nog geen kerkraad kan wees nie, moet deur die klassis onder die sorg van ’n naburige kerkraad gestel word.
Na aanleiding van ’n beskrywingspunt oor die interpretasie van hierdie artikel, naamlik wanneer ’n lidmaat verspreidwonend is en of dit bepaal word t.o.v. die lidmaat of t.o.v. die gemeente, het die Sinode van 1955 besluit dat die beantwoording van die vraag tuishoort by die betrokke klassis (Handelinge p. 374).
Die Sinode van 1961 het egter bepaalde riglyne gegee met betrekking tot die bearbeiding van verspreidwonende lidmate (Handelinge p. 446 e.v.).
In hierdie artikel gaan dit basies om die geestelike versorging van lidmate wat onbereikbaar ver van ’n geïnstitueerde kerk (lees: gemeente) woonagtig is (selfs in die buiteland).
Die kerke in gebiede waar moontlike verspreidwonende lidmate kan wees, moet ’n opname van sulke gevalle maak en dit onder die aandag van die klassis bring.
In sulke gevalle moet die klassis, in wie se gebied sulke lidmate woon, die lidmate plaas onder die sorg van ’n naburige kerkraad.
Dit impliseer die volgende:
➢ die name van sulke lidmate (doop en belydend) moet (verkieslik
afsonderlik) in die lidmaatregister van die „versorgende” kerk
ingeskryf word en afsonderlik in die statistiek vir die Almanak
aangegee word (kyk besluit van Sinode 1955, Handelinge p. 262,
„Art. 220. Statistiek in Almanak.”).
➢ ’n ouderling en diaken moet so gou moontlik gekies/aangewys
word vir die bearbeiding van hierdie lidmate;
|181|
➢ bediening van Woord en sakramente aan hierdie lidmate,
kategetiese onderrig aan dooplidmate, sowel as huisbesoek moet so
gereeld moontlik plaasvind;
➢ indien nodig, moet ander kerke finansiële bystand gee aan dié
kerk wat die verspreidwonendes bearbei;
➢ verspreidwonende lidmate moet deur middel van hul lewenswandel
en die uitdra van die gereformeerde godsdiens probeer om die kerk
in daardie gebied uit te brei, sodat later ’n selfstandige kerk
geïnstitueer kan word.