|329|
Die algemene (of universele) kerk, dit is die een liggaam van Christus (I Korinthiërs 12; Efesiërs 4), gaan aan die plaaslike kerk vooraf.
Die plaaslike kerk is ’n nadere organisasie van die algemene kerk.
Die plaaslike kerk is die algemene kerk wat op elke plek georganiseer word.
Soos gelowiges hulle moet verbind tot ’n gemeente, só moet gemeentes hulle verbind in kerkverband. Nie om een te word nie, maar omdat hulle een is. (Skrifbewyse hiervoor kan gevind word in B. Spoelstra, 1989, p. 170).
Voetius (1676, p. 121) sê uitdruklik dat kerkverband voortspruit uit verpligting van hul onderlinge eenheid of gemeenskap („...ex debito mutuae societatis...” — kursivering van my, J.V.). Soortgelyke standpunte word gestel deur A. Kuyper (aangehaal deur Kuypers, 1949b, p. 116), W.J. Snyman (1977, p. 82), G.P.L. van der Linde (1965, p. 137-138) en B. Spoelstra (1980, p. 8).
Kerkverband en algemene kerk is nie identies nie, soos bv. by o.a. L. Roeleveld (1980, p. 6) en G.C.P. van der Vyver (s.j., by art. 29(2)). Ter stawing van hierdie stelling, verwys ek na Snyman, 1977, p. 44-45; A. Kuyper, 1883, p. 147-148 en Voetius, 1902, p. 26.
Kerkverband hef nie die selfstandigheid van die plaaslike kerk op nie (kyk hiervoor Voetius, 1676, p. 119; P. Biesterveld en H.H. Kuyper, 1905, p. 23; Weselse Artikels, Hoofstuk V, art. 19).
Die plaaslike kerk, ook in kerkverband, is ’n selfstandige openbaring van die liggaam van Christus. Elke plaaslike kerk is selfstandig, maar nie onafhanklik nie; daarom is kerkverband noodsaaklik (Snyman, 1977, p. 62; H. Bouwman, 1934, p. 14; Spoelstra, 1980, p. 11).
Kerkverband is nie kerk nie. Daarom het die Nasionale Sinode van 1985 tereg die naam, waardeur die kerkverband aangedui word, verander
|330|
na: „Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika” — meervoud, teenoor „Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika” — enkelvoud (kyk Handelinge 1985, p. 462 e.v., veral p. 477). (Vir breër argumentasie oor hierdie stelling, ook Skrifbewyse, kyk Visser, 1989, p. 28 e.v., asook p. 222 e.v.).
Dikwels praat en doen selfs Gereformeerdes asof die kerkverband of die Sinode eintlik die kerk is. Dit is nie presbiteriaal nie, maar kollegialisties.
Die beginsel van meerdere vergaderings word gevind in die Jerusalemse vergadering van Handelinge 15. (Meer besonderhede hieroor kan gevind word in Visser, 1989, p. 233 e.v.).
’n Klassis of sinode is nie ’n hoëre vergadering nie, maar ’n meerdere vergadering, omdat meer kerke daar teenwoordig is.
’n Meerdere vergadering is ’n ad-hoc byeenkoms, en nie ’n permanente struktuur nie.
Meerdere vergaderings is vergaderings van kerke en nie vergaderings van ampsdraers nie (kyk art. 41 KO: „Die klassis is ’n vergadering van naburige kerke...”. My kursivering, J.V.). Hierdie naburige kerke word in die klassis verteenwoordig deur afgevaardigdes.
Wat die gesag in meerdere vergaderings betref, kan opgemerk word dat die hele probleemstelling of meerdere vergaderings oorspronklike gesag of afgeleide gesag het, ’n valse probleemstelling is.
In die kerk is daar immers net één gesag, en dit is die gesag van Christus, wat deur menslike instrumente bedien word (Efesiërs 1: 22, 23; 5: 23; Kolossense 1: 18).
Streng gesproke kan daar dus nie gepraat word van die gesag van meerdere vergaderings nie; daar moet liewer gepraat word van die gesag in meerdere vergaderings.
Hier kan ook nog opgemerk word dat daar in die kerk geen sprake is van demokrasie nie, maar wel van Christokrasie.
|331|
Die gesag in kerkrade en meerdere vergaderings verskil dus nie prinsipieel of wesenlik of kwalitatief van mekaar nie; in alle gevalle is dit die gesag van Christus. Die enigste verskil tussen die gesag in ’n kerkraad en dié in meerdere vergaderings is ’n verskil in omvang, volgens artikel 30 KO, en ’n verskil in duurte, omdat die kerkraad die enigste permanente vergadering is.
Hier is artikel 36 KO van belang: „Dieselfde seggenskap het die klassis oor die kerkraad wat die partikuliere sinode oor die klassis, die nasionale sinode oor die partikuliere sinode en die algemene sinode oor die nasionale sinode het.”
Die woord „dieselfde” in hierdie artikel moet só verstaan word dat die seggenskap dwarsdeur, in alle gevalle, dieselfde is omdat dit berus op die gesag van Christus deur sy Woord. „Dieselfde” beteken dus hier „identies” of „gelyk”.
As sodanig wil hierdie artikel dus verhoed dat „kerkverband” ’n opsionele saak word. Dit beklemtoon naamlik die goddelike reg van meerdere vergaderings wat die reg het om gesagvolle besluite te neem waaraan mindere vergaderings gehoorsaamheid moet bewys (Du Plooy, p. 127).
In artikel 30 KO word die volgende bepaal: „Op meerdere vergaderings moet alleen sake behandel word wat nie in mindere vergaderings afgehandel kan word nie of sake wat by die meerdere vergaderings tuishoort.”
Die gesag in meerdere vergaderings word in hierdie artikel dus duidelik beperk.
Meerdere vergaderings mag nie maar enige saak behandel nie, maar slegs dié wat nie in mindere vergaderings afgehandel kan word nie en dié wat by die meerdere vergadering tuishoort.
Hierdie beperking is in hoofsaak reeds deur die Sinode van Emden, 1571, bepaal. Daarna kom dit voor in die Acta van die Sinode van Dordrecht, 1578, en is dit opgeneem in die Kerkordes van die volgende Sinodes: Middelburg, 1581; 's Gravenhage, 1586; Dordrecht, 1618-1619.
|332|
Tereg sê H.H. Kuyper (1923, Deel VI, bladsye ongenommer) dat artikel 30 KO die waarborg van die plaaslike kerk se vryheid neerlê. Elke besluit wat teen artikel 30 ingaan, mis alle regskrag.
J. Kamphuis (1966, p. 85-87) merk op dat artikel 30 KO anti-hiërargies is, maar ook anti- independentisties. Dit is anti-hiërargies omdat dit nie toelaat dat alles maar deur die meerdere vergaderings behandel word nie. Ook is dit anti-independentisties omdat dit duidelik spreek van sake wat die kerke in gemeen het, soos bv. die handhawing van die suiwere leer.
Die beginsel van artikel 30 KO gaan dus baie dieper as ’n formele aanduiding van wat op ’n agenda mag kom. Dit wil nie die aard van agendastukke definieer nie, maar dit wil die regte en pligte van kerkvergaderings waarborg. Dit maak ’n Bybelse beginsel, van hoe elkeen geroep is om aan die Here verantwoordelik te lewe en te werk, diensbaar in kerkvergaderings. Tegelykertyd wil dit negatief enige heerskappyvoering en magsindringing uitsluit, sodat die kerke nie weer, soos in die geskiedenis telkens gebeur het, deur kerklike dienaars totaal onder ’n juk van diensbaarheid gebring word nie (Spoelstra, 1980, p. 12).
Watter sake hoort nou tuis by meerdere vergaderings? Om ’n afgeronde katalogus van sulke sake op te stel, is seker nie haalbaar in die bestek van hierdie referaat nie.
Die volgende kategorieë kan egter breedweg gestel word:
❖ Alle sake waarby meer kerke belang het as ’n bepaalde
mindere vergadering.
❖ Alle sake wat te doen het met die eenheid van die kerke,
d.i. met sake betreffende „leer, diens en tug” (of anders gestel:
sake betreffende Belydenis, liturgie en kerkregering).
Hier wil ek graag verwys na die Openlike Verklaring, waarmee alle kerke by die aanvang van meerdere vergaderings instemming (behoort te) betuig:
|333|
❖ In die eerste paragraaf die binding aan die leer of
Belydenis.
❖ In die tweede paragraaf die binding aan die diens of
liturgie.
❖ In die derde paragraaf die binding aan die tug of
kerkregering.
Bepaalde onderafdelings van die bogenoemde sake mag egter van mindere belang wees, bv. of daar staande of sittende gesing moet word in die erediens. Daaroor sal ’n sinode bv. besluit om dit aan die vryheid van die kerke oor te laat.
„Wat op ’n kerklike vergadering met meerderheid van stemme besluit is, moet as vas en bindend beskou word tensy bewys word dat dit in stryd is met Gods Woord of die artikels van die Kerkorde.”
Omdat Christus sy kerk deur sy Woord en Gees regeer, moet ’n kerklike vergadering altyd ernstig vra na die openbaring van God in die Skrif en daarna streef om besluite in die lig van Gods Woord met algemene instemming te neem. Indien dit nie moontlik is nie, word ’n beslissing verkry deur ’n volstrekte meerderheidstem.
Die minderheid moet óf met hierdie besluit konformeer óf daarteen beswaar indien of appelleer. Onder geen omstandighede mag dit bloot geïgnoreer word asof dit nie bestaan nie.
Sulke besluite wat met algemene instemming of ’n volstrekte meerderheidstem geneem is, moet as vas en bindend beskou word (kyk Handelinge 15: 28-30; 16: 4, vgl. 15: 41 — „gemeentes”).
By hierdie bindende krag van die besluite van kerklike vergaderings word egter ’n baie duidelike beperking geplaas: „...tensy bewys word dat dit in stryd is met Gods Woord of die artikels van die Kerkorde.” Let wel: „bewys”, en nie slegs beweer nie!
Hier word Gods Woord dus gestel as die grens vir alle kerklike gesag en besluitneming. Want slegs Gods Woord bind absoluut. Kerkvergaderings moet hulle in hul besluitneming aan die Woord van God verantwoord.
Tereg sê Du Plooy: „Die toepassing van artikel 31 KO onderskei die kerk van die valse kerk‚ ‘wat aan homself en sy ordinansies meer mag en gesag toeskryf as aan die Woord van God...’ (art. 29, Nederlandse
|334|
Geloofsbelydenis). Artikel 31 KO bied dus die ruimte of deurgang vir die Woord van God sodat die Woord van God die eerste en laaste sê sal hê in kerk en meerdere vergadering. Op hierdie wyse regeer die Koning dan self sy kerk” (p. 126).
Dit is egter nie die reg en voorreg van elke individuele ampsdraer of mindere vergadering om self en alleen uit te maak of ’n bepaalde besluit in stryd is met die Woord van God nie. Die bewys moet gelewer word in die vergadering wat die besluit geneem het, of, in geval van appèl, by die bevoegde meerdere vergadering.
Kerke is egter nie net een in Belydenis (as akkoord van kerklike gemeenskap) nie, maar ook in kerkregering. Die Kerkorde is vrug van die Belydenis (kyk artt. 30-32 NGB). Daarom mag besluite van kerklike vergaderings ook nie in stryd wees met die Kerkorde nie.
As ’n kerklike vergadering dus ’n besluit neem wat strydig is met die Kerkorde, word daarmee nie slegs die goeie orde aangetas nie, maar ook die „kubernetiese eenheid” van die kerke wat kragtens dieselfde Belydenis in kerkverband saamgesnoer is.
Wie moet nou uitmaak of ’n besluit in stryd is met Gods Woord en die Kerkorde? Wat behels die „vas en bindend” in hierdie artikel? Kan elkeen maar vir homself „bewys” dat ’n besluit in stryd is met Gods Woord en die Kerkorde, en dit dan nie as vas en bindend beskou nie?
Op hierdie punt gaan die menings skerp uitmekaar.
’n Belangrike aspek hier is die sogenaamde „ratifikasiereg”, dat ’n mindere vergadering eers die besluite van ’n meerdere vergadering moet „ratifiseer”, dit „regskragtig” moet verklaar, voordat hy dit as vas en bindend beskou. Begryplikerwys bring hierdie siening totale willekeur en ordeloosheid mee.
In die Skrif is daar geen steun vir hierdie „ratifikasiereg” nie. Handelinge 15: 22-29 en 16: 4 wys duidelik in die teenoorgestelde rigting.
Hierdie „ratifikasiereg” bots lynreg met die beginsel in artikel 31 KO. Dit is nie Gereformeerd, presbiteriaal nie, maar independentisties!
Tereg sê Van der Linde (1977/78, DeeI II, p. 13-14) dat diegene wat nie kan konformeer nie, bewys moet lewer dat die betrokke besluit
|335|
strydig is met Gods Woord of die Kerkorde. Die bewys moet gelewer word in die vergadering wat die besluit geneem het (art. 46 KO) of in ’n meerdere vergadering waarheen geappelleer word (art. 31 KO).
Wanneer ’n mindere vergadering of ’n individu van mening is dat ’n besluit van ’n meerdere vergadering hersien of nietig verklaar moet word, mag hulle nie maak asof so ’n besluit nie bestaan en dit dan ignoreer of tersyde stel nie. Dit bly vas en bindend totdat daar by wyse van beswaar of appèl bewys gelewer is dat dit stry met Skrif en/of Kerkorde. (Ek vestig hier graag die aandag op die gewysigde prosedure i.v.m. beswaarskrifte, soos vasgestel deur die Sinode van 1991, Handelinge p. 526-528).
Ek verwys hier na die volgende onderneming wat elke ampsdraer en proponent gee by ondertekening van die onderskeie Ondertekeningsformuliere: „Gedurende die tyd van appèl sal ek my onderwerp aan die uitspraak en die oordeel van die betrokke vergadering” (kyk Handelinge Sinode 1988, p. 409). Hier verbind elke ampsdraer en proponent hom persoonlik aan die beginsel in artikel 31 KO!
By die hantering van hierdie probleem staan Handelinge 5: 29 voorop: „Ons moet aan God meer gehoorsaam wees as aan die mense.”. Wanneer die besluit van ’n kerklike vergadering só opsigtelik in stryd is met die Skrif en die Kerkorde dat dit objektief duidelik is, en dat die uitvoering daarvan gewetenslas sou meebring, mag daar nie onderwerping en gehoorsaamheid wees nie. Daar moet egter dadelik oorgegaan word tot beswaar of appèl. Daar mag nie skeurmakery plaasvind of revolusionêr opgetree word nie!
Watter besluite kan ons nou as „vas en bindend” verklaar volgens artikel 31 KO?
Kortweg: alle besluite wat aan die vereistes van artikels 30 en 31 KO beantwoord.
Maar soos reeds gesê is, as iemand meen dat ’n besluit hersien of nietig verklaar moet word, moet opgetree word soos hierbo uiteengesit is.
Die afgevaardigdes na meerdere vergaderings verteenwoordig die mindere vergadering, asof die betrokke mindere vergadering self
|336|
teenwoordig is. Die afgevaardigdes is nie organe van dié vergadering wat hulle stuur nie, maar verteenwoordigers; hulle is slegs organe van Christus.
Mindere vergaderings word in meerdere vergaderings verteenwoordig deur lerende en regerende ouderlinge (KO artt. 41, 47, 50, 51).
Omdat ’n klassis ’n vergadering van kerke is, wys kleiner en groter kerke ewe veel afgevaardigdes aan.
Dieselfde beginsel en praktyk geld ook by afvaardiging na ander meerdere vergaderings.
Die sogenaamde „getrapte afvaardiging” na partikuliere, nasionale en algemene sinodes, wat om praktiese redes deur die Sinode van 1958 ingevoer is, hef nie die beginsel op dat meerdere vergaderings vergaderings van kerke is nie (kyk Handelinge Sinode 1958, p. 37 e.v.). Alle plaaslike kerke is in die klassis teenwoordig deur middel van hul afgevaardigdes. Om praktiese redes vaardig hierdie kerke-in-klassis ’n kleiner aantal verteenwoordigers, wat hulle almal verteenwoordig, af na die partikuliere sinode. Al is die afvaardiging dus kleiner, verteenwoordig hulle steeds al die plaaslike kerke wat in die klassis byeen was.
Dieselfde geld van die afvaardiging verder na nasionale en algemene sinodes.
Dit sou absurd wees om te argumenteer dat, omdat gemeente A nie self direk in die Nasionale Sinode verteenwoordig was nie, hy daarom nie nodig het om die besluite van die Nasionale Sinode as „vas en bindend” te beskou nie. Dit sou neerkom op dieselfde soort onhoudbare argument dat ouderling Y van gemeente X nie die besluite van die Klassis as „vas en bindend” vir homself en sy wyk beskou nie, omdat hy nie self in die Klassis teenwoordig was nie.
Gemeente A en ouderling Y, hierbo genoem, was naamlik wel deeglik indirek in die Nasionale Sinode en die Klassis teenwoordig, deur middel van hul afgevaardigdes.
Volgens artikel 33 KO moet afgevaardigdes na meerdere vergaderings geloofsbriewe saamneem, onderteken deur dié wat hulle stuur.
|337|
Volgens die geloofsbrief tree die afgevaardigdes op namens die vergadering wat hulle stuur (kyk bewoording geloofsbrief in Handelinge van Sinode 1985, p. 560).
’n Geloofsbrief is die wettige bewys dat iemand gestuur is en opdrag ontvang het om namens ’n mindere vergadering te handel.
Sonder geloofsbrief mag niemand reg tot sitting in ’n meerdere vergadering verleen word nie.
In die geloofsbriewe wat in die GKSA gebruik word, is
twee dinge van kardinale belang:
❖ Die gesag van Gods Woord, asook die krag van die
Belydenisskrifte en die Kerkorde, word daarin erken. Die
afgevaardigdes mag slegs oordeel en besluit volgens Gods Woord en
die Belydenisskrifte en Kerkorde.
❖ Die afvaardigende vergadering verbind hom in die geloofsbrief
om alle besluite van die meerdere vergadering, wat ooreenstem met
Skrif, Belydenis en Kerkorde, „as vas en bindend te beskou en dit
getrou te help uitvoer en nalewe” (kyk bewoording geloofsbrief in
Handelinge van Sinode 1985, p. 560). Indien ’n kerkraad dan
besluite van meerdere vergaderings ignoreer of tersyde stel (of
toelaat dat van sy ampsdraers dit doen), is dit niks minder nie
as verbreking van ’n gegewe onderneming en belofte.
In artikel 33 KO word ook gepraat van opdragte wat
afgevaardigdes moet saamneem. Hierdie opdragte kan in twee
onderskei word:
➢ Die algemene opdrag, soos bewoord in die geloofsbrief. Die
afgevaardigdes kry las en volmag om namens die afvaardigende
vergadering volgens die Woord van God, die Formuliere van Eenheid
en die aanvaarde Kerkorde in alle sake wat op die betrokke
vergadering sal voorkom, te help oordeel en besluit.
➢ Die besondere opdragte wat ’n vergadering aan sy afgevaardigdes
mag saamgee, bv. beskrywingspunte, beswaarskrifte, versoeke tot
revisie, adviesversoeke, ens..
Mag die afvaardigende vergadering aan sy afgevaardigdes voorskryf hoe hulle in bepaalde gevalle moet stem?
|338|
Hierop antwoord ek onomwonde: Ja!
Want die afgevaardigdes woon die betrokke meerdere vergadering nie in hul persoonlike hoedanigheid by nie, maar as afgevaardigdes met geloofsbrief wat namens die afvaardigende vergadering moet oordeel en besluit!
In elk geval mag ook geen afgevaardigde teen ’n besondere opdrag van sy afvaardigende vergadering stem nie.
Dikwels word geargumenteer dat die afgevaardigdes na meerdere vergaderings slegs gebind is aan „die Woord van God, die Formuliere van Eenheid en die aanvaarde Kerkorde”, soos in die geloofsbrief bepaal word. Maar dieselfde geloofsbrief bepaal ook uitdruklik dat die afgevaardigdes las en volmag het om namens die afvaardigende vergadering te help oordeel en besluit. Afgevaardigdes is dus ook gebind aan die opdragte van die vergadering wat hulle stuur.
Ek is van mening dat wanneer ’n afgevaardigde tydens die bespreking van ’n „opdrag” deur sy afvaardigende vergadering tot die oortuiging kom dat voortgesette binding aan hierdie opdrag, aan hom gewetenslas sou oplê as hy ten gunste daarvan sou stem, hy toestemming moet vra om buite stemming te bly, en hom dan daaroor moet verantwoord teenoor sy afvaardigende vergadering by die eerste moontlike geleentheid.
➢ Kerkverband is nie willekeurig nie, maar plig kragtens
kerkeenheid.
➢ Kerkverband hef nie die selfstandigheid van die plaaslike kerk
op nie.
➢ Meerdere vergaderings is vergaderings van kerke en nie van
ampsdraers nie.
➢ Hierdie kerke word verteenwoordig deur afgevaardigde predikante
en ouderlinge met geloofsbriewe, wat die wettige bewys is van
verteenwoordiging en volmag.
➢ ’n Mindere vergadering mag sy afgevaardigdes opdrag gee hoe om
in bepaalde gevalle te stem.
➢ Die gesag in meerdere vergaderings is die gesag van Christus,
deur middel van sy Woord en Gees, wat deur menslike instrumente
bedien word.
|339|
➢ Hierdie gesag verskil nie prinsipieël van dié in kerkrade nie,
maar slegs wat omvang en duurte betref.
➢ Meerdere vergaderings se gesag is beperk volgens artikel 30
KO.
➢ Alle besluite van kerklike vergaderings is vas en bindend.
➢ Die sogenaamde „ratifikasiereg” het nie plek in die
Gereformeerde kerkregering nie.
➢ Besware teen besluite van meerdere vergaderings moet op die
ordelike manier hanteer word en nie eiegeregtig-revolusionêr
nie.
➢ As ’n besluit só objektief-duidelik in stryd met Skrif,
Belydenis en Kerkorde is dat uitvoering daarvan gewetenslas
meebring, moet ons God meer gehoorsaam as mense.
(Geringe verwerking van ’n referaat, oorspronklik gelewer voor G.T.V. Witwatersrand, 26 oktober 1992).
Biesterveld, P. en Kuyper, H.H. 1905. Kerkelijk
Handboekje. Kampen, Bos.
Bouwman, H. 1934. Gereformeerd Kerkrecht. Tweede deel.
Kampen, Kok.
Du Plooy, A. le R. 1979. Ekklésia en meerdere
vergaderinge. PU vir CHO.
Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika. 1958. Handelinge van die
33ste Sinodale vergadering, p. 37 e.v.
Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika. 1985. Handelinge van die
42ste Nasionale Sinode, p. 462 e.v.; p. 560.
Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika. 1991. Handelinge van die
44ste Nasionale Sinode, p. 526- 528.
Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika. 1980. Kerkorde van ...
Kamphuis, J. 1966. Verkenningen III. Goes, Oosterbaan en
Le Coitre.
Kuyper, A. 1883. Tractaat van de reformatie der kerken.
Amsterdam, Höveker.
|340|
Kuyper, H.H. 1923. Deel III-IV. „De bevoegdheid der meerdere
vergaderingen.” in De Heraut, 2355, Maart; 2356, Maart;
2357, Maart; 2358, April.
Kuypers, G. 1949(b). „Abraham Kuyper over het gezag der synoden,
slot.” in Gereformeerd Theologisch Tijdschrift, 49, p.
100-129. Kampen, Kok.
Roeleveld, L. 1980. „Die gereformeerde kerkverband as societas
van plaaslike gemeentes.” in In die Skriflig, 14 (56):
5-26, Desember.
Snyman, W.J. 1977. Nuwe en ou dinge. Potchefstroom, Pro
Rege.
Spoelstra, B. 1980. „Die beginsel in artikel 30 KO.” in In
die Skriflig, 14 (55): 3-12, September.
Spoelstra, B. 1989. Gereformeerde kerkreg en kerkregering,
Hammanskraalse Teologiese Skool.
Van der Linde, G.P.L. 1965. Die grondbeginsels van die
presbiteriale kerkregeringstelsel. Potchefstroom, Pro
Rege.
Van der Linde, G.P.L. 1977/78. Die kerkorde van die
Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika. Deel I en II.
(Ongepubliseerde klasdiktaat — Teologiese Skool, PU vir CHO).
Van der Vyver, G.C.P. s.j. Dordtse Kerkorde.
(Ongepubliseerde klasdiktaat — Teologiese Skool, PU vir CHO.
Bladsye ongenommer).
Visser, J. 1989. Die tug oor ampsdraers. Departement
Sentrale Publikasies. Potchefstroomse Universiteit vir CHO.
Potchefstroom.
Voetii, Gisberti. 1676. Politicae ecclesiasticae. Pars
tertia et ultima. Quatuor libris adornata. Amstelodami, apud
Johannem Jansonium á Waesberge.