|222|

Artikel 56

 

Die verbond van God moet so spoedig moontlik aan die kinders van die Christene in die erediens met die Heilige Doop beseël word volgens die formulier wat daarvoor vasgestel is.

 

Die verbond van God.

Die uitgangspunt van hierdie artikel is nie die Heilige Doop nie, maar die verbond van God.

Hierdie verbond van God word met die Heilige Doop beseël, soos dit in die Ou Testament gedoen is met die besnydenis, wat op die ouderdom van 8 dae moes geskied.

Daarom spreek dit vanself dat die bediening van die doop so spoedig moontlik moet plaasvind.

 

Geen onnodige vertraging.

Dit gebeur dikwels dat die bediening van die doop uitgestel word as gevolg van allerlei beuselagtighede.

Hiervan het die Sinode van 1958 met „groot besorgdheid” kennis geneem; hierdie Sinode wys deputate aan wat ’n voorligtingstuk ter beskikking van kerkrade moes opstel (Handelinge p. 134- 135, art. 69).

Die voorligtingstuk verskyn in die Handelinge van die Sinode van 1961, p. 132 e.v., artikel 39.

 

Verbondskinders.

Met die verbond as uitgangspunt bring hierdie artikel vanself ook die kinderdoop in die gesigsveld, omdat God sy verbond opgerig het met sy uitverkorenes: volwassenes en kinders.

Die Heilige Doop moet dus bedien word aan alle verbondskinders.

Wie word nou gereken as verbondskinders?

Opmerklik dat hierdie artikel nie praat van: „die kinders van die lidmate van die gemeente” nie, maar van: „die kinders van die

|223|

Christene”. Dit impliseer dat ook verbondskinders van buite die gemeente gedoop mag word.

’n Paar probleme, oor watter kinders gereken mag word as verbondskinders en watter nie, sal nou hier bespreek word.

 

Kinders van ouers wat onder tug is.

Die kinders van ouers wat kragtens artikels 76 of 77 KO onder tug is, mag wel nog gereken word as verbondskinders. Die ouers is nog lidmate van die kerk, en moet daarom nog gereken word as Christene.

Die ouers mag egter nie self hul kinders ten doop hou nie. Sulke ouers verbeur naamlik sekere regte en voorregte van lidmaatskap, waaronder die voorreg om nagmaal te gebruik, en dus per implikasie ook die voorreg om kinders ten doop te hou.

’n Kerkraad kan tog nie ouers, wie se eie lewenswandel afwyk van die vereistes van Skrif en Belydenis, toelaat om voor die aangesig van die Here te beloof dat hulle hul verbondskindjie in die „ware en volkome leer van die saligheid” sal onderrig nie. (Die „onderrig” van die derde doopvraag geskied naamlik allereers met die voorbeeld van ’n vroom lewenswandel!).

Daardie kinders mag wel gedoop word indien die grootouers of ander „doopgetuies” wat kerklik meelewend is, die kinders ten doop hou.

Dit beteken egter dat sulke „doopgetuies”, kragtens hulle belofte met die doop van daardie kinders, ten volle aanspreeklik is vir die verbondsopvoeding van daardie kinders.

 

Kinders wat buite die huwelik gebore is.

’n Verbondskindjie wat buite die huwelik verwek en/of gebore is, moet wel gedoop word. Die moeder/ouers van so ’n kindjie mag egter nie self die kindjie ten doop hou nie (selfs nie wanneer daar berou is nie), omdat sy/hulle onder tug behoort te wees weens oortreding van die sewende Gebod.

Hier geld dieselfde as in die bogenoemde geval waar die ouers onder tug is.

|224|

Aangenome kinders.

Oor die doop van aangenome kinders het die Sinode van 1970 soos volg besluit:

Wanneer lidmate aansoek doen om die doop van hulle aangenome kinders, moet kerkrade hulle daarvan vergewis dat die aanneming ook in wetlike vorm sy beslag gekry het, en dat die ouers die aanneming beleef as ’n aanneming in die Here.

Origens word dieselfde prosedure as by die doop van natuurlike kinders gevolg, en dieselfde Formulier word ook gebruik (Handelinge p. 131-137, veral p. 137).

 

Kinders van ouers wat nog nie belydenis van geloof afgelê het nie.

Die verbondskinders van ouers wat nog nie belydenis van geloof afgelê het nie, moet wel gedoop word. Die ouers mag egter nie self die kinders ten doop hou nie.

Hier geld dieselfde as in die geval van ouers wat onder tug is.

 

Verbondskinders in kinderhuise.

Hieroor het die Sinode van 1949 soos volg besluit: 

„Die huisouers, of ander verantwoordelike persone deur die Tehuiskommissie goedgekeur, mag die verbondskinders vir die doop aanbied” (Handelinge p. 278, punt IX (b)).

 

Wanneer een ouer nie lidmaat van die gemeente is nie.

In die geval waar een ouer van ’n verbondskindjie nie lidmaat van die (Gereformeerde) gemeente is nie (maar wel van ’n ander nie-Gereformeerde kerk), moet groot versigtigheid (en deernis) aan die dag gelê word.

Op p. 222 is aangetoon dat hierdie artikel nie uitgaan van die doop nie, maar van die verbond van God. Ook is daarop gewys dat hierdie artikel nie praat van: „die kinders van die lidmate van die gemeente” nie, maar van: „die kinders van die Christene”.

|225|

Wanneer die doop nou aangevra word vir ’n verbondskindjie wie se een ouer nie lidmaat van die (Gereformeerde) gemeente is nie (maar wel van ’n ander nie-Gereformeerde kerk), kan daardie ouer wel toegelaat word om saam met die ander (Gereformeerde) ouer voor die preekstoel te staan, maar nie om op die doopvrae te antwoord nie.

Die rede hiervoor is nie omdat die ander ouer nie gereken word as ’n Christen of ’n verbondsouer nie. Dit sou die suiwerste kerkisme wees.

Maar die rede is wel omdat so ’n (nie-Gereformeerde) ouer tog nie eerlik op die tweede en derde doopvrae sal kan antwoord nie! In hierdie twee doopvrae gaan dit naamlik om die „ware en volkome leer van die saligheid” wat in die „Christelike kerk hier geleer word” (my kursivering, J.V.).

Anders gestel: in die tweede en derde doopvrae gaan dit om die Gereformeerde leer (teenoor ’n nie-Gereformeerde leer), wat in ’n Gereformeerde kerk (teenoor ’n nie-Gereformeerde kerk) geleer word. Al is dit só dat meer kerke as die Gereformeerde Kerke dieselfde Belydenis het, is die interpretasie en die uitlewing daarvan (tragies genoeg) tog nie dieselfde nie; daarom het ons die jammerlike verskynsel dat daar verskillende kerkgroeperinge op dieselfde (teoretiese) Belydenisbasis is.

Enige doopouer wat eerlik op die tweede en derde doopvrae kan antwoord, moet onmiddellik sy/haar lidmaatskap van die „ander kerk” beëindig en aansoek doen om opgeneem te word as lidmaat van ’n Gereformeerde kerk!

Wanneer die Gereformeerde ouer nou opgeroep word om op die doopvrae te antwoord, sal ek die volgende bewoording aanbeveel: „Ons versoek nou broeder/suster So-en-so om saam met sy/haar eggenoot voor die preekstoel te kom staan, sodat hy/sy op die doopvrae kan antwoord.”

 

Doopsbediening in ’n ander (Gereformeerde) Kerk.

Om verskeie redes versoek lidmate soms dat die doop aan hul verbondskinders in ’n ander (Gereformeerde) kerk bedien mag word. (Om dieselfde redes as wat in die vorige onderafdeling aangevoer is, is dit nie toelaatbaar dat Gereformeerde ouers hul verbondskinders in ’n nie-Gereformeerde kerk laat doop nie.)

|226|

In sulke gevalle moet die (verkieslik skriftelike) toestemming van die eie kerkraad (kerkraad A) voorsien word aan die kerkraad van die gemeente waar die doop bedien sal word (kerkraad B).

Ná die doopsbediening moet die ouers ’n doopseel verkry van die attestasie-skriba van kerkraad B. Hierdie doopseel (as bewys dat die kindjie wel gedoop is) moet ingehandig word by kerkraad A, sodat die naam van die gedoopte kindjie ingeskryf kan word in die dooplidmaatregister van gemeente A.

Daar moet deeglik onderskei word tussen die Doopregister (die Register waarin alle doopsbedienings aangeteken moet word) en die Dooplidmaatregister (die Register waarin die name van alle dooplidmate aangeteken moet word).

Al is die verbondskindjie in gemeente B gedoop, beteken dit nog nie dat daardie kindjie nou vanselfsprekend ’n dooplidmaat is van gemeente B nie.

 

Doop bedien deur ’n nie-Gereformeerde predikant.

Gestel een van die grootvaders van ’n verbondskindjie is ’n predikant in ’n nie-Gereformeerde kerk. Die doopouers vra toestemming dat genoemde grootvader die doop aan sy kleinseun in die Gereformeerde kerk bedien.

Is dit toelaatbaar?

Na my mening is daar geen rede om so ’n versoek te weier nie — op voorwaarde dat dit beperk sal word tot bediening van die doop, sonder bediening van die Woord (kyk p. 11 vir die kwessie van kanselruil).

 

Leeftydsgrens vir die kinderdoop.

Die vraag hier is tot op watter leeftyd die kinderdoop bedien mag word aan ’n verbondskind, en van watter leeftyd af die volwassedoop bedien moet word.

Op hierdie vraag kan nie simplisties geantwoord word deur ’n blote leeftydsyfer vas te stel nie.

Die antwoord op hierdie vraag sal bepaal word deur die betrokke kind se geestelike ontwikkeling en onderskeidingsvermoë. Sodra die kind

|227|

rekenskap kan gee van die geloof, mag die kinderdoop nie meer bedien word nie. Dan moet gewag word totdat belydenis van geloof gedoen word, by watter geleentheid ook die volwassedoop bedien moet word. Meestal word ongeveer 12-jarige leeftyd as grens gestel vir die bediening van die kinderdoop.

’n Vraag wat soms gevra word, en wat (ongegronde) verwarring veroorsaak, is of die belydenisaflegging aan die doopsbediening moet voorafgaan, of andersom.

Eintlik is hier geen probleem nie, om die eenvoudige rede dat die antwoord op die vrae vir die volwassedoop terselfdertyd die aflegging van geloofsbelydenis is.

 

Erkenning van die doop deur ander kerkgroepe.

In antwoord op die vraag watter doopsbedienings in Gereformeerde Kerke erken mag word, kan die volgende drie vereistes gestel word:
➢ ’n doop wat in die Naam van die drie-enige God bedien is;
➢ ’n doop wat met suiwer water bedien is;
➢ ’n doop wat bedien is deur ’n kerklik-bevoegde ampsdraer.

Alle doopsbedienings wat aan bogenoemde vereistes beantwoord, mag erken word — selfs as dit deur een of ander sekte bedien is.

In sulke gevalle moet die doop nie weer bedien word nie.

Doopsbedienings wat egter nie beantwoord aan een of meer van bogenoemde drie vereistes nie, mag nie erken word nie; in sulke gevalle moet weer gedoop word.

Die praktyk om sogenaamde „heilige” Jordaanwater aan te piekel en dan te versoek dat die doop daarmee bedien moet word, moet sterk afgekeur word; dit is naamlik ’n miskenning van „gewone” water as teken by die doop en ’n praktyk wat sterk bygelowig gekleur is.

 

Voorskrifte by doopsbediening.

Artikel 56 gee nog die volgende voorskrifte vir die bediening van die doop:
➢ dit moet in ’n erediens plaasvind;
➢ dit moet geskied volgens die Formulier wat daarvoor vasgestel is.

|228|

Die doopsformule.

Die formule wat by die bediening van die doop gebruik moet word, is die volgende:

„N, ek doop u/jou in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees” (kyk Doopsformulier).

Dit is beslis verkeerd (en dit grens aan die antitrinitariese dwaalleer) om te sê:

„N, ek doop u/jou in die Naam van die Vader en die Naam van die Seun en die Naam van die Heilige Gees” (drie maal „die Naam van...”).

Nog erger, en blatant antitrinitaries:

„N, ek doop u/jou in die Naam van die Vader en in die Naam van die Seun en in die Naam van die Heilige Gees” (drie maal „in die Naam van”).

 

Wyse van doopsbediening.

Op die kwessie van besprinkeling of onderdompeling gaan ek hier nie in nie, behalwe om te sê dat die GKSA beslis nie gekant is teen onderdompeling nie; waarteen ons wel gekant is, is die leerstelling dat slegs onderdompeling aanvaarbaar is.

Op grond van die Skrif glo ons dat besprinkeling ook aanvaarbaar is vir ’n ware doopsbediening. Dit gaan naamlik nie om die hoeveelheid water nie, maar wel om water as ’n teken van die bloed van Christus.

Predikante moet egter daarteen waak om nie só min water te gebruik dat die teken amper verlore raak nie.

Doopouers moet asseblief ook nie onmiddellik by wees om die doopwater met ’n sakdoek af te vee nie! (Ek het dit al meegemaak dat die predikant dadelik ná die doopsbediening die water met sy sakdoek afvee!)