Artikel 86

Kerkorde is ooreenkoms tussen kerke

 

Artikel 86: Hierdie artikels wat betrekking het op die wettige orde van die kerk, is so opgestel en aangeneem met algemene stemme dat hulle, as die belang van die kerk dit anders vereis, verander, vermeerder of verminder kan word en behoort te word. Geen besondere kerk, klassis of sinode het egter die reg om dit te doen nie, maar hulle moet hul daarop toelê om dit te onderhou totdat die algemene sinode anders verorden, nadat geleentheid vir advies deur die kerke gegee is deur middel van die onderskeie nasionale sinodes.

 

A. Kerkregtelik

1. Die wese van die kerkorde

Die Gereformeerdes het geglo dat die kerke wat dieselfde geloof koester onder mekaar reëls en bepalinge kan en moet instel wat geestelike eenheid, vrede en onderlinge broederlike gemeenskap bevorder (Inst IV.2.v), mits dit in geen opsig sou bots met die voorskrifte en instellings wat Christus self aan die kerke gegee het nie (NGB 32; Inst IV.10.xxx.xxvii; 1 Kor 14: 40). Die bepalings moet egter nuttig en min in getal wees (Inst IV.10.xxxii).

Die kerkorde het tot stand gekom in sinodes as ’n ooreenkoms tussen kerke. As sodanig berus dit op kerklike en ook wel menslike gesag (algemene stemme). Daarin reël die kerke met instemming en aanvaarding hulle ordelike samelewing en samewerking kragtens hulle eenheid in geloof (kyk Inleiding en art 1). Die kerkorde beoog die vrede, opbou en liefde in die kerke tot eer van die Here.

Die gronde waarop Van der Linde teenoor ds T Spoelstra (1983:276) ontken dat die kerkorde ’n ooreenkoms op sterkte van algemene akkoord is, berus op ’n verkeerde teenstelling tussen belydenis (akkoord van geloof) en kerkorde (akkoord vir kerkregering). Die belydenis is juis vir ds T Spoelstra grond vir die aangaan van kerkorde (vgl Kruger 1966:504). Die Nederlandse predikante

|471|

sê te Wesel 1568 dat die “eenparige toestemming” nie net in die leer nie, maar ook met betrekking tot die orde en kerkregering nodig is (Pont 1981:74, Voorrede). Die Dordtse Kerkorde sê in artikel 86 dat die Kerkorde met “gemeen accoord” aangeneem is, maar in belang van die kerke slegs in ’n algemene sinode gewysig kan word (Pont 1981:186).

Op sterkte van die wese van die kerkorde as ooreenkoms kan die bepalings deur die kerke verander, vermeerder of verminder word (Inst IV.10.xxx, art 86). Tog belet juis die wese van die monargale koninkryksregering van Christus, dat willekeurig verander kan word. Daar is bepalinge wat op die Skrif gegrond is en nie verander kan word nie (vgl art 62). Daar is egter ook bepalinge wat verander kan word, byvoorbeeld kerkvergaderinge en seremonies wat die kerke instel en in die kerkorde opneem.

Die kerke gaan nie in die kerkorde met mekaar ooreenkomste aan oor optrede teenoor kerke of mense buite die kerkverband nie. Elke kerk en kerkraad moet situasies met kerke buite kerkverband en buite die kerkorde-ooreenkoms selfstandig hanteer en sy optrede aan die skopus van kerkregtelike norme verantwoord.

 

2. ’n Wettige afspraak is bindend

Die Bybel lê op so baie plekke nadruk op die bindende krag van ’n ooreenkoms of verbond tussen partye. Twee wat met mekaar wil saamloop spreek af en waarheid en trou vereis dat elkeen sy onderneminge en beloftes teenoor sy naaste gestand doen. Hierdie beginsel kan ’n mens duidelik agter die bewoording van artikel 86 opmerk. Dit sny na twee kante toe. Aan die een kant bind dit diegene wat die kerkorde onderskryf en met mekaar aangegaan het. In die tweede plek bind dit diegene wat die bepalinge van die kerkorde wil verander. Kragtens die liefde moet die kerke mekaar trou bly in die ooreenkoms waarop hulle mekaar erken, ondersteun en bystaan in die kerkregering om hulle roeping van ware kerkwees uit te leef (vgl Calvyn Inst IV.10.xxxi). Wat hulle saam ooreengekom het, kan hulle ook net saam verander.

 

3. Vryheid ten opsigte van die kerkorde

Kragtens die feit dat Jesus Christus alleen as Koning vir sy kerk wette kan voorskryf, kan geen kerkordelike ooreenkoms die kerke in hulle gewete, vryheid en verantwoordelikheid voor die Here bind nie (Gl 5: 1; Calvyn Inst IV.8.viii; 10.i.vi,vii). Daar kan gevalle voorkom wat nie volgens die kerkorde hanteer kan word nie. Daarin het die kerkraad as die verantwoordelike raad in die kerk (NGB 30) die primêre roeping om te handel soos hy hom in sy gewete voor Christus kan verantwoord. Die kerkorde hoef nie vir uitsonderings gewysig te word nie. Ander kerke kan ’n kerkraad sy optrede wat van gewone orde afwyk, kwalik neem, in uiterste geval selfs kerkverband met so ’n kerk opsê, maar die kerkraad staan self verantwoordelik voor die Here omdat hy sy bevoegdheid nie aan die kerkorde of ooreenkoms met kerke in kerkverband ontleen nie. Wanneer ’n kerkraad uit onbedagsaamheid, onkunde of swakheid van die kerkorde afwyk, vestig dit geen skuld of sonde nie. Wanneer dit egter uit

|472|

hoogmoed, opset of weerspanningheid die kerklike ooreenkoms breek, openbaar dit onbetroubaarheid, liefdeloosheid en sonde (Bos 1950:345).

 

B. Kerkregering

1. Redaksie van die artikel

Die eerste gereformeerde Sinode van Parys 1559 (art 40) het bepaal dat slegs ’n algemene sinode die kerkorde kan wysig (Pont 1981:54). Die Nederlandse predikante sê te Wesel 1568 met verwysing na 1 Kor 14: 34 dieselfde en die eerste Sinode van Emden 1571 (art 53) neem dit in die kerkorde op (Pont 1981:74,90,110).

Die Sinode van Potchefstroom 1955 (172-179) onderneem op versoek van die Gereformeerde Kerke van Nederland ’n beperkte revisie van die Kerkorde. Die Sinode 1958 sirkuleer al die Kerke en klassisse met ’n konsep vir beoordeling (1961:315). ’n Konsep kerkorde met ingrypende veranderinge dien voor Sinode van 1961 wat baie kommentaar uit die Kerke geïgnoreer het om by die GKN in te val (314-347). In die lig daarvan het die Sinode opdrag gegee om ’n meer behoudende revisie die lig te laat sien (1964:53-67). Ondertussen word vir algemene sinodale byeenkomste tussen ouer en jonger Kerke voorsiening gemaak en die Kerke besluit dat hersiening van die Kerkorde, Belydenis en Formuliere voortaan deur ’n algemene sinode gedoen moet word (GKSA 1979:556).

Die GKSA het die waarde van aktiewe medewerking en kommentaar van die Kerke voor die finale revisie van Sinode 1964 ervaar. Dit lê in die beginsel van “gemeen akkoord” opgesluit waarmee ’n kerkorde opgestel of gewysig word. Dit is wyslik in 1979 in die redaksie van artikel 86 opgeneem (GKSA 1976:436; 1979:555v). Gevolglik kan die kerkorde voortaan slegs verander word nadat die Kerke vanuit onderskeie nasionale sinodes 'n algemene sinode adviseer en ’n verandering approbeer het. Enige wysiging van kerkorde hou wysiging van ’n kontraktuele ooreenkoms vir al die Kerke in. Gevolglik moet al die Kerke met “algemene stemme” die wysiging approbeer.

 

2. Prosedure vir verandering van die kerkorde

Die negatiewe bepaling in die artikel oor kerk, klassis of sinode belet nie dergelike vergaderings om op versoeke (kyk art 33) veranderings van die kerkorde te oorweeg nie. Die artikel belet slegs dat die kerkordelike ooreenkoms eensydig, independentisties of seksioneel in weerwil van die eenheid in kerkverband gewysig word.

Die kerkorde is nie alleenreg en eiendom van ’n aparte struktuur genoem “algemene sinode” nie, maar behoort tot die intieme lewe van elke kerk en is die basis waarop in meerdere vergaderings saamgewerk kan word. Die kerkorde stel die konfederale eenheid tussen Kerke wat in leer en diens een is, daar. Gevolglik kan elke kerk in die kerklike gemeenskap oor wysiging van die kerkorde besin en sy besluit daaroor neem. Kragtens die kerkverband moet

|473|

hy daarna sy voorstel aan die ander kerke voorlê. Indien die voorstel meriete het, spreek die meerdere vergaderings hulle daaroor langs die kerklike weg uit deur die voorstel te wysig of te verbeter — of deur vir die oorspronklike voorsteller aan te dui waarom die voorstel nie na ’n algemene sinode vir verandering van die kerkorde gevoer sal word nie. Die oorspronklike voorsteller (of ander wat dit ondersteun) behou die reg van appèl (art 31).

Wanneer ’n algemene sinode ’n bepaalde artikel wil wysig, moet die onderskeie nasionale sinodes eers self die wysiging goedgekeur het. Die afgevaardigdes in die algemene sinode moet daartoe “instruksie” (art 33) van die nasionale sinode wat hulle afvaardig, ontvang het.

 

3. Gemeen akkoord of algemene stemme

Algemene stemme is ’n unieke kerklike wyse van beslissing. Kerklike eenheid word nie deur ’n meerderheidstem nie, maar deur instemming met beginsels bepaal. Tydens die oorweging van voorstelle kan heftig verskil word. In die 16de eeu was dit gebruiklik om twee maal te laat stem. Die eerste maal adviseer die meerderheid. In die tweede stemming “konformeer” die minderheid met die meerderheidsadvies sodat die besluit met algemene stemme geneem word (konsensus). So kom die eenheid van die kerk in Christus na vore. Indien ’n besluit volgens die gewete van die minderheid teen die Skrif of Belydenis sou gaan, behoort hulle nie te konformeer nie. Teen die besluit van ’n mindere vergadering kan die minderheid appelleer (art 31). Wanneer wysiging van die kerkorde op ’n algemene sinode beslis word, kan hersiening deur middel van ’n beswaar by ’n volgende sinode gevra word (artt 31 , 46).

Die feit dat artikel 85 vir die verandering van kerkorde “algemene stemme” as vereiste stel, verplig ’n algemene sinode om algemene stemme vir ’n voorgestelde verandering te probeer verkry. Die voorgestelde verandering sou na ’n volgende sinode oorgedra kon word deur dit eers vir advies na die Kerke terug te verwys om langs die kerklike weg te approbeer of gravamina voor te lê. In ’n ernstige krisissituasie, wanneer toleransie teenoor ’n nie-konformerende minderheid onmoontlik is, sou die algemene sinode met meerderheid van stemme eis dat die minderheid konformeer of uit die kerklike gemeenskap tree. In die gereformeerde kerkreg moet hierdie reg van ’n plaaslike kerk erken word, wat nie in die kollegialisme die geval is nie (vgl De Jongh 1918:189v). So ’n uittredende kerk behou ook die reg op sy goedere.

 

4. Verandering moet omsigtig en versigtig geskied

Gedurende die 16de eeu moes gereformeerde kerkordes dikwels plek inruim vir ongesonde beginsels wat die owerhede voorgeskryf het. Die Dordtse Kerkorde 1619 moes byvoorbeeld politieke seggenskap by beroeping en sake van die kerkraad erken. Namate die Kerke selfstandig geword het, het gesonde ontwikkeling ingetree. Tog val dit tereg op hoe “konstant” die kerkorde gebly het en waar, na verandering, dikwels weer na die oorspronklike redaksie teruggekeer moes word (Kruger et al 1966:506). Die praktyk het geleer dat so min as moontlik veranderinge aan ’n Skrifgefundeerde kerkorde gemaak

|474|

moet word (Van der Linde 1983:278). Tog kan lands- of tydsomstandighede wysiging nodig maak.

Die behoefte aan verandering van die kerkorde (byvoorbeeld die toelating van vroue tot die dienste), dring dikwels onbewus uit veranderde denkbeelde op sekulêre gebied die kerke binne. So het die Gereformeerde Kerke van Nederland in 1950 die Dordtse Kerkorde hersien. Die resultaat het ’n totaal ander gees en rigting geadem (GKSA 1970:99). Die moderne kerkregtelike denke neem by voorkeur die kerk as vertrekpunt, terwyl die 16de eeuse kerkordes nog veel meer ’n koninkrykgerigte, teokratiese of Christokratiese uitgangspunt gehandhaaf het. “Die kerk” verplaas Christus in die sentrum van kerkregering (vgl “wetgewing der kerk”, Nauta 1971:9, 125).

 

5. Waak teen ’n reglementebundel

In die kollegialistiese en presbiteriaanse kerkreg word baie sterk van sentrale sinodale beheer oor die “hele” kerk uitgegaan. Daarvoor word sinodale reglemente en voorskrifte oor talle aktiwiteite in die kerke ontwerp. Dergelike reglemente lyk baie waardevol, gemaklik en “eenvormig”, maar lê in werklikheid die vryheid, verantwoordelikheid en selfstandigheid van die kerke aan bande. Rutgers waarsku teen kodifikasie van nietighede waardeur die sinode al meer burokraties besig raak (De Jongh 1918:184,188). So ’n reglementebundel kan later slegs deur spesialiste beheers en gebruik word. Alhoewel ’n reglementebundel skynbaar kerkregering vergemaklik, vereis gedeë gereformeerde kerkregering voortdurend rekenskap en studie van beginsels wat in ’n bepaalde geval toegepas moet word (De Jongh 1918:188).

 

6. Die verhouding kerkorde en sinodebesluite

Kragtens artikel 86 gaan die kerkorde bo sinodebesluite uit. Die ooreenkoms in kerkorde gemaak is, maak die konstituering van sinodes moontlik. Sinodebesluite mag dus nie met die kerkorde bots nie (art 31 ). Tog besluit sinodes soms om bepaalde artikels op ’n opsionele of ander wyse toe te pas (vgl bv art 4). Solank die kerkorde nie verander is nie, stel die kerkorde steeds ’n regsgeldige alternatief teenoor ander moontlikhede wat sinodes aanbeveel het, omdat sinodebesluite aan die kerkorde appellabel is. Hierdie artikel verplig immers kerke en sinodes om die kerkorde-artikels naarstigtelik te onderhou. ’n Handeling wat op ’n kerkorde-artikel gegrond is (soos byvoorbeeld ’n kerklike eksamen volgens art 4), is volkome regsgeldig.

Voorstelle om die kerkorde te wysig kom dikwels op die oog af onskadelik en selfs beter as die bestaande reëling voor. Tog moet ’n algemene sinode nie te gou en te maklik aan die kerkorde verander nie (De Jongh 1918:183). ’n Verandering moet die beste belange van die kerke daadwerklik bevorder. Rutgers meen om te maklik te verander, moedig gedurige verdere verandering aan en bring die eenheid in kerkregering al meer in gevaar. In die GKN kon, toe met kerkorde-verandering begin is, geen einde daaraan bereik word nie (Nauta 1971:37). Dikwels mis diegene wat verandering voorstel insig in die gereformeerde kerkinrigting en lei die wysigings in afwykende rigtings

|475|

(De Jongh 1918:185). Dit het inderdaad van 1949 af in die Gereformeerde Kerke van Nederland gebeur.

 

7. Afwyking van die kerkorde

Die kerkorde skryf opvallend min aan die dienste en vergaderings in die kerk (gemeente} voor, hoofsaaklik wat daar moet wees en nie hoe dit moet gebeur nie. Dit reël orde tussen kerke in kerkverband. Dit skryf nie alle gedragwyses voor nie. Sake moet op eie meriete of soms na analogie van ander behandel word solank aan die kerkregtelike eerder as kerkordelike eise voldoen word. Rutgers toon aan dat die gereformeerde kerke gedurende die Hervorming afwyking van die leer nie geduld het nie, maar afwyking van die kerkorde makliker toegelaat het (De Jongh 1918:186). Tans bestaan die neiging om op die formele te konsentreer en selfs regverdigbare afwyking van kerkorde in ernstige lig te bejeën. Gereformeerdes moet teen formalisme waak. Reeds in die 16de eeu is gemotiveerde afwyking van kerkorde toegelaat en nie met ordeloosheid vereenselwig nie.

Die kerkorde kan onmoontlik reëls neerlê wanneer en hoe daar van die kerkorde afgewyk mag word. Voetius regverdig afwyking wanneer die belange, orde, vryheid of welstand van die kerk dit noodsaak; wanneer die afwyking as sodanig erken en nie as presedent beskou word nie; die afwyking moet deur ’n bevoegde verandering noodsaaklik geag word (De Jongh 1918:187-188). Kortom, die afwyking moet by wyse van uitsondering, in groot verantwoordelikheid ten opsigte van die belang van die kerke (en nie persone nie) plaasvind.