Artikel 36

Dieselfde mag en gesag om in kerklike vergaderings te bedien

 

Artikel 36: Dieselfde seggenskap het die klassis oor die kerkraad wat die partikuliere sinode oor die klassis, die nasionale sinode oor die partikuliere sinode en die algemene sinode oor die nasionale sinode het.

 

A. Kerkregtelik

1. Christus is die enigste Hoof van sy gemeente (NGB 27,31)

Jesus verkondig sy koninkryk as dinamiese regering wat Hy deur sy Woord en Gees regstreeks en middellik deur bedieninge van sy dienaars uitoefen. Die Heilige Skrif maak die wil van dié Koning genoegsaam aan mense bekend. Die gereformeerde belydenis sê gevolglik dat mense nie in kerkvergaderings die Heilige Skrif ooit kan verplaas, aanvul of verander nie “want alle mense is uit hulleself leuenaars en nietigheid self” (NGB 7). Hierdie uitspraak geld dus ook ten opsigte van gewone kerklike gesag.

|219|

’n Klassis het dus nie oor ’n kerkraad of ’n sinode oor ’n klassis op sterkte van posisie, gesag of seggenskap (authoritas) nie. Christus is ’n ewige Koning oor sy onderdane, wat die kerk is (NGB 27, Calvyn Inst IV.6.ix). Hy is daarom die enigste algemene Biskop en enigste Hoof van sy Kerk, sodat die predikante, opsieners of ouderlinge net “een en dieselfde mag en gesag het, omdat hulle almal dienaars van Jesus Christus is” (NGB 31).

Die ewige Koning regeer ons met sy Woord en Gees (Heid Kat S 12). By Hom berus al die outoriteit. Dit laat slegs een konklusie toe: In die ware kerk geld dwarsdeur een en dieselfde gesag en seggenskap, naamlik dié van Christus.

 

2. Bedienende mag

Christus gee aan sy kerk lewe deur sy regering (Van der Walt 1976:48), wat Hy direk of deur die diens van mense in ampte of vergaderings uitoefen. Omdat hy die enigste Hoof van sy kerk is, kan ampsdraers en kerkvergaderings nie met hulle handelinge presedensiële reg skep nie. Presendensiële reg verleen aan die “vaders” of vorige vergaderings (selfs as hulle van die Skrif sou afwyk) normatiewe gesag naas Christus (Visser 1982:95,308). Dit kom op die Roomse standpunt neer.

Calvyn onderskei drieërlei kerklike mag: om te leer (potestas docendi) om wette te maak (potestas gubernandi of regiminis) en om reg te spreek (potestas jurisdictionis of disciplinae, vgl Bavinck 1930:393-403; Inst IV hfst 8-12). Die gesag van biskoppe, kerkrade en sinodes moet altyd bedienend van aard wees, dit wil sê behoort te sê wat Christus in sy Woord sê (Calvyn: Inst IV.6.Ix,x:7.xiii). Hulle mag word deur die Woord begrens, is daaraan onderworpe en daarin ingesluit. Hulle mag niks anders leer of voorskryf as wat hulle van God ontvang het nie (Inst 8.iv,v).

Kerke formuleer leer en voorskrifte meestal in meerdere vergaderings. Gevolglik moet die vergaderings die Skrif uitlê (Inst 9.viii,xiii). Hulle mag nooit die vryheid waarin Christus die gelowiges gestel het, deur die gesag van mense of sinodes aantas nie. Die gelowige is in sy gewete in diens aan God verhewe bo insettinge en voorskrifte van mense (Inst 10.i,v-vii).

Regspraak en dissipline berus basies by die opsiener en kerkrade. Ander kerke staan in klassis en sinode kragtens kerkorde ’n kerk by in tugoefening (artt 33,77,79) of ten opsigte van die diens van die Woord (artt 4-14). Al hierdie handelinge moet een en dieselfde gesag laat geld. Meerdere vergaderings oefen nie ’n eie, hoër of ander gesag langs die kerkrade uit nie. Daar mag gesag in (besluite van) meerdere vergaderings wees en nie gesag van sinodes nie (Visser 1982:273).

Die Nederlandse kerkreg wat met sekulêre Romeinse regsbeginsels soos privatiewe, kumulatiewe, oorspronklike en afgeleide gesag opereer, moet as onkerklike en nie-teologiese debatvoering afgewys word (vgl Bouwman 1934:347v, 594; De Jongh 1918:77; Visser 1982:107). Opsieners en kerklike vergaderings moet niks meer as bedienaars van dieselfde seggenskap, wat op die toepas van die Woord van die Koning neerkom, wees nie.

|220|

3. Die regsposisie van Gereformeerde kerke

’n Gereformeerde kerk (plaaslik) is in terme van die gewone reg ’n gemeenregtelike persoon wat nie op kontrak (jus constituendum) nie, maar op interne verbandsreg (jus constitutum) berus, waaraan lidmate en kerkraad hulle onderwerp (Pienaar sa:17,55). Deur die hou van meerdere vergaderings word eenparigheid in kerkregering nagestreef en bewerkstellig. Kerke kom in kerkverband en nie as kerkverband saam nie (Pienaar sa:29). Kerkrade dra nie gesag aan meerdere vergaderings oor nie en die gesag van meerdere vergaderings vervang ook nie dié van kerke nie. Dit is ’n vergadering van meer kerke en nie ’n korporatiewe liggaam waaraan kerke onderwerp word nie. Die gewone wêreldlike reg gaan van die gesag van “gesamentlike besluit” in meerdere vergaderings uit, wat die plaaslike kerk bind in sake waaroor die plaaslike kerk nie gesag mag of kan uitoefen nie (Pienaar sa:30). Laasgenoemde stelling is aanvegbaar, omdat dit die kerke en nie Christus nie as gesagbasis neem, hoewel dit tog Christus as basis wil erken (Ibid 86).

Dis kerkvergaderings is gebind aan ’n interne verbandsreg wat in die Bybel, belydenisskrifte en kerkorde opgesluit is. Die kerkraad moet toestemming verkry van die lidmaat vir handelinge wat vir die lidmaat gevolge het, soos byvoorbeeld aankoop of vervreem van eiendom, aanvaar van finansiële verpligtinge, verandering van lokale regte, ensovoorts. Die kerkraad mag nooit optree as verteenwoordiger van 'n sinode by die kerk nie, maar verteenwoordig die kerk in sinodes (Pienaar sa:37).

Die kerke beleef ’n eenheid in belydenis as akkoord van kerklike gemeenskap. Hulle stel ’n kerkorde vas. Die kerkorde positiveer nie meerdere vergaderings nie, maar wil ordelike kerkregering volgens die aanvaarde Skrifvereistes verwesenlik.

Omdat ’n meerdere vergadering tydelik van aard is, kan dit nie met regspersoonlikheid beklee word of ’n “naam” dra soos byvooreeld “sinode Middellande” nie (vgl Pienaar sa:53,55). Wanneer ’n meerdere vergadering besluit, word dit nie ipso facto besluit van ’n kerkraad nie. ’n Kerkraad moet self sy besluite wysig en herroep en in ooreenstemming met dié van meerdere vergaderings bring (Pienaar sa:56). Die term “regeerliggaam” (Van der Linde, 1983:142) moet derhalwe nie vir ’n meerdere vergadering gebruik word nie en daar behoort ook nie van kerklike vergaderings gepraat te word asof elkeen eie sake het nie (Ibid 144). Meerdere vergaderings is bloot funksionele byeenkomste van plurale kerke om hulle kerkwees en kerkeenheid in gehoorsaamheid aan Christus ten beste te dien.

 

4. Die gemeente

Die artikel praat nie oor seggenskap van die kerkraad oor die gemeente of van die gemeente oor die kerkraad en individuele dienaars nie. Dit word basies veronderstel omdat dit reeds fungeer wanneer die kerke met mekaar die kerkordelike akkoord aangaan. Hierdie gesag is ook dieselfde bedienende gesag van Christus. Die gesag van Christus kom deur die werk van die Gees in die afsonderlike gelowige en in die historiese en sigbare bestaanswyse van

|221|

die gemeente na vore (Ridderbos 1965:196). Die apostels beroep hulle op die onderskeidingsvermoë en bevoegdhede van die gemeente (Rm 15: 14; Kol 2: 5; Fil 1: 5,6,9v; 1 Kor 5: 4; 2 Kor 8: 18,23, 1 Kor 16: 3). So moet die gemeente ook sy eie reëls vir orde neerlê en mag hulle nie op “vryheid” van Gees (charismata) beroep nie (1 Kor 14). Soos die apostel soms verordinerend oor die huwelik, houding teenoor offervleis, plek van die vrou in erediens, of nagmaal praat, beperk hy hom ook tot die gee van adviese (Ridderbos 1965:197 v).

Meerdere vergaderings moet ook met die bevoegdheid, selfstandigheid en vryheid van die gemeentes rekening hou. Die gemeente gehoorsaam self Christus om orde en tug daarvolgens te verseker. Ridderbos wys dat die apostel hom nooit oor die gemeente heen tot ampsdraers rig nie (1965:201). Die gemeente stuur Paulus en Barnabas na Jerusalem (Hd 15: 2). Hulle word deur gemeente, apostels en ouderlinge ontvang (Hd 15: 4) en die gemeente werk mee aan die publikasie van die besluit (Hd 15: 22). Kragtens die eenheid van die kerk (1 Kor 12) mag die kerkraad nooit eie heerskappy oor die gemeente voer nie. Die gemeente moet aan die Hoof meer gehoorsaam wees as aan die mense (Hd 4: 19).

“Die opvatting dat die gemeente nie as ’n onmondige of onselfstandige skare onder die outoriteit van aangestelde ampsdraers hoef te skik nie, maar die mag en roeping het om hulleself op te bou, vertoon prinsipieel die regte insig in die Pauliniese begrip van die gemeente en van die orde en reg wat in die midde van die gemeente moet geld” (Ridderbos 1965:201, vertaald). Die gemeente is aan dieselfde gesag en orde onderworpe waaraan elke kerklike vergadering onderworpe is.

Instrumente bedien wel die gesag van Christus in die gemeente (1 Ts 5: 12v; 1 Kor 16: 16,18; Fil 2: 29). Daar is kommunikasie in korporatiewe gemeenskap tussen Christus as Hoof en die gemeente as liggaam (Ridderbos 1965:203). Omdat die gemeente liggaam van Christus is, is daar geen volmag of amp sonder die gemeente nie en het Christus die gemeente van geen gesag uitgesluit wat slegs die amp of kerkvergadering oor sou beskik nie. Dit waarsku teen die populêre stelling (vgl Die Kerkbode 17.8.83) dat “lidmate hulle aan gesag moet onderwerp” wat in die “kerkverband en meerdere vergaderings” setel. Wie die gesag in die struktuur fundeer, vervang Christus as Hoof van sy kerk deur strukture.

 

B. Kerkregering

1. Redaksie van die artikel

Gedurende die 16de eeu is gevrees dat predikante wat in sinodes saamkom weer soos Roomse biskoppe oor staat en kerk sou wou regeer. Selfs kerkrade was baie bang vir ’n sinodale struktuur (vgl art 1 in Franse KO 1559; art 1 Emden 1571). Die kerke aanvaar in 1571 nie die uitgewerkte Kerkorde van Wezel 1568 nie, maar maak versigtig vir meerdere vergaderings voorsiening, waarna die kerkorde ontwikkel (1571-1619), op voorwaarde dat die selfstandigheid van die kerk en kerkraad onder gesag van die Hoof van die kerk (Christus) ononderhandelbaar gewaarborg word. Robert Parker van die Engelse

|222|

kongregasionaliste en Voetius het in dié verband sterk standpunt ingeneem en saamgewerk (Deddens 1984; vgl Bos 1950: 143-145).

Op ’n vraag in 1581 word pertinent geantwoord dat die kerke altyd “goeie” besluite van ’n meerdere vergadering moet nakom. ’n Besluit is goed wanneer kerkvergaderings gelyke en identiese gesag (“het selfde segghen”) uitoefen. Wanneer die Remonstrante kort daarna op die toneel verskyn, sê die kerke egter in 1599 dat die mindere vergaderings “in die algemeen” besluite van meerdere vergaderings moet nakom (Bos 1950:144).

Dit is ongelukkig moontlik om hierdie artikel deur die bril van Kollegialisme te lees asof kerkrade aan meerdere vergaderings ondergeskik gestel word en asof ’n sinode die hoogste gesag in die kerkgemeenskap voer (Spoelstra 1967:227). Die gees van die Reformasie (sola Scriptura) en die woordjie “dieselfde” weerspreek egter dié hiëragiese opvatting. Bouwman sê dat hierdie artikel nie oor die basiese en wesenlike kerkregering (vgl Calvyn Inst IV.121; KO artt 16,23,37,38,71-79) van die ouderlinge in die gemeente praat nie (1934:63), maar net handel oor die hulp wat meerdere vergaderings aan kerkrade gee. ’n Klassis en partikuliere of algemene sinode het gevolglik dieselfde bevoegdheid.

 

2. Gesag en seggenskap

“Gesag” en “seggenskap” is nie dieselfde nie. Gesag berus wesenlik alleen by Christus as Hoof van sy kerk (NGB 7,31,32), terwyl dienaars kragtens hulle roeping (art 3) “seggenskap” verkry (Van der Linde 1965:32). Hulle amp is om te regeer (Hd 15: 28; 1 Tm 3: 5; 5: 17). Die seggenskap dra egter in ampsvervulling en in kerkvergaderings altyd ’n bedienende en geestelike karakter en verskil daarmee wesenlik van gesag in natuurlike samelewingskringe (vgl 5de gebod).

Die seggenskap in die kerk moet die Woord van die Hoof van die Kerk, wat gesag dra, bedien. Die stelling dat Christus kerkrade en sinodes instel en met gesag beklee om te regeer (vgl NGK KO 1972 art 22; Van der Watt 1983:9), vind nie grond in die Skrif nie. Daarom gaan die stelling van Die Kerkbode (17.8.83) dat “lidmate, leraars en kerkrade” hulle aan die “gesag van die kerkverband en meerdere vergaderings” moet onderwerp “omdat dit is wat Christus van hulle verwag” nie op nie. Die redenasie om die kerkvergadering selfstandig gesag te gee omdat Christus dit sou ingestel het, berus op argumente waarmee Rome die onfeilbaarheid van die pous as regeerder namens Christus handhaaf.

 

3. Kerklike gesag

Die kerkorde is ’n basiese ooreenkoms (gesamentlike akkoord, Biesterveld, Kuyper 1905:240) tussen kerke. Sommige bepalings dra kerklike gesag en kan weer verander word (vgl artt 46,86). Gevolglik het artikel 31 KO vroeër duidelik gesê dat iemand ook op grond van die kerkorde regskrenking kan beweer

|223|

solank die betrokke bepaling nie deur ’n sinode verander is nie. Die vraag is egter of alle bepalings dieselfde gesag dra.

Meerdere vergaderinge het vroeër in konkrete gevalle na hulle besluite as “advies” vir kerkrade verwys. Dit eerbiedig die selfstandigheid van die kerkraad (art 30) sowel as belewing van kerkverband. Besluite bind slegs wanneer hulle op die Woord van God gegrond is.

Die vraag het gevolglik al in die Sinode van 1571 na vore gekom of kerklike vergaderings alle besluite met die Heilige Skrif moet bevestig. Die antwoord lui dat sake wat die gewete van gelowiges raak, met Gods Woord bevestig moet word, terwyl dit nie by “middelmatige” sake nodig is nie (Biesterveld, Kuyper, 1905:49 par 2; 127 par 1). Calvyn verwerp die aanspraak dat God mense as “geestelike wetgewers” oor die gelowiges aangestel het. Iemand wat ’n besluit wat slegs op kerklike gesag berus, nie onderskryf nie, mag nie daarin gedwing of vanweë “ongehoorsaamheid” getug word nie (Inst IV.10.vi,vii).

 

4. Dieselfde seggenskap

Hierdie woorde in artikel 36 beklemtoon dat in die kerk opsieners en verskillende kerkvergaderings dieselfde en enigste gesag wat in Christus setel en wat hy na geen ampsdraer of vergadering delegeer nie, moet bedien (Van der Linde 1983:143). Die “kerklike wyse” (art 30) en “kerklike weg” (art 33) en bediening van dieselfde gesag deur “dieselfde seggenskap” (art 36) hang onlosmaaklik saam. Die meerdere vergaderings bied aan die minderes slegs hulp om die een en dieselfde gesag te bedien. ’n Mens kan dit vergelyk met ’n voertuig wat bly staan. Daar kom net al meer kerke in meerdere kerkvergaderings by om die kerk(e) wat vasgeval het, te probeer uitstoot. Daarom het ’n vergadering van meer kerke nie groter of hoër mag as ’n mindere vergadering nie en is ’n klassis die eerste en belangrikste meerdere vergadering.

 

5. Oorspronklike en afgeleide gesag

Nederlandse kerkregtelikes soos Kuyper, Bouwman, Rutgers en ander het die mag en gesag wat die kollegialisme en die beginsel van volksoewereiniteit aan sinodes oor kerkrade verleen het, bestry deur aan die kerkrade “oorspronklike” durende mag toe te ken en vir die kerkvergaderings uit die kerkrade mag af te lei. Kerkrade en kerkvergaderings is as strukture in eie reg beskou (Spoelstra 1967:31v; 1977:50) hulle het van die “kerk” as ’n “liggaam” en nie van die koninkryk as dinamiese regering van Christus uitgegaan nie. Wie die gesag van strukture aflei, moet kerkreg in terme van reg in sekulêre samelewingsverbande vertolk.

Die Nederlandse kerkregtelikes het tereg opgemerk dat die ouderlinge en kerkraad tot die wese van die ordelike samelewing van die gemeente as kerk van God behoort. Sonder ouderlinge en kerkraad is daar geen plaaslike kerk nie, terwyl kerke (gemeentes) voor 1571 sonder sinodes as kerke van Christus in Nederland bestaan het. Dit het die Nederlandse teoloë van die oorspronklike mag en gesag in die kerkraad en afgeleide mag van sinodes laat praat omdat

|224|

die kerkrade na die samekomste afgevaardig het (Bouwman 1934:17,64; Spoelstra 1967:30). Hierdie opvatting koppel gesag aan kerkstrukture en bring dit nie in verband met Christus as Hoof van die kerk nie (Van der Linde 1983:144; Spoelstra 1977 45v). Dié opvatting is verwant aan kollegialisme behalwe dat dit die plaaslike kerk as kollegium in plaas van die sinode as “algemene kerk”, as uitgangspunt neem.

Wanneer die gesag van Christus en van Hom alleen afkomstig is, is daar ook geen sprake van groter of “opgehoopte” mag (potestas cumulata) by sinodes nie. ’n Klein kerkraad het dieselfde bevoegdheid as ’n groter kerkraad (Spoelstra 1967:229).

 

6. Kan ’n klassis ’n kerkraad afsit?

In die Geref Kerke van Nederland het herhaalde skeuringe voorgekom wanneer meerdere vergaderinge in teologiese dispute stelling geneem en kerkrade, predikante en ouderlinge geskors het wat ’n sinodale uitspraak oor ’n teologiese kwessie (wat nie die Belydenis direk op ’n essensiële punt geraak het nie) verwerp het (bv in die “vrymaking” van 1944). Hoewel sommige kerkregtelikes dissiplinêre ingrype van ’n klassis in ’n kerkraad regverdig (Van der Linde 1983:125), dui die regsposisie van die kerk en kerkraad (Pienaar sa:54v) in die teenoorgestelde rigting. ’n Klassis kan wel van ’n kerkraad en kerk verklarings verwag en voorwaardes stel vir samelewing in dieselfde klassikale verband — en indien ’n kerkraad bande verbreek, reël dat gelowiges wat in kerkverband wil voortlewe, onder leiding van ’n konsulent ampte gaan institueer (artt 37,38), sodat daar as ’t ware ’n ander kerk sigbaar word.