|403|

Artikel 75

Die wyse van kerklike versoening

 

Artikel 75: Die versoening oor alle sondes wat uit hulle aard of deur veragting van die kerklike vermaninge openbaar geword het, moet as daar genoegsame tekens van boetvaardigheid is, in so ’n vorm en op so ’n wyse plaasvind soos elke kerkraad dit vir die stigting van die kerk nodig oordeel. Indien daar verskil is in die kerkraad oor die vraag of die versoening in bepaalde gevalle in die openbaar moet plaasvind, moet daaroor met advies van twee naburige kerkrade beslis word.

 

A. Kerkregtelik

1. Versoening doel van die kerklike tug

Hierdie artikel beklemtoon die regsbeginsels wat by artikel 71 bespreek is, naamlik dat kerklike tughandelinge bediening van die versoening wil wees. Artikels 71 tot 75 beskryf een orde. Artikel 75 gryp met “alle sondes wat…” op die vorige artikel terug, soos artikel 74 ook op 72 en 73 teruggaan. Verskillende Kerkorde-artikels reël die verskillende kerklike handelinge op sterkte van dieselfde regsgrondslag omdat daar maar een orde in die kerk is (Smit 1984:19,37,62) want die kerk is herstelde orde in die wêreld (Spoelstra 1973:28). Die tughandeling moet artikels dus saam toepas. Wanneer sondes onder aandag van die kerkraad kom en daarmee openbaar geword het en daarby berou en bekering ingetree het, moet die kerkraad aan die vorm en wyse van versoening besondere sorg bestee.

 

2. Openbare sonde, berou en openbare versoening

Versoening is vanuit die sentrum van die kruis van die Here Jesus ’n baie ryk evangeliese werklikheid. Dit gaan ons beperkte verstand en begripsvermoë ver te bowe (Rm 8: 31-39; Ef 4: 17-24; 1 Pt 2: 1-10). Versoening is genade van God wat gemeenskap met Hom herstel. Omdat Hy versoen, eis Hy dat ons ook sal versoen. Die sondaar moet berou (genoegsame boetvaardigheid) oor sy sonde teen God en sy naaste ondervind, sy skuld bely en die versoening met God en sy naaste omhels. “Boetvaardigheid” is die bereidheid om boete te doen. Dit kan “genoegsaam” wees wanneer berou en bekering as waar en eg bewys

|404|

en aanvaar word en daarmee die dissiplinêre tughandeling ophou, alhoewel helende versoening nog bewerkstellig moet word.

Sondes wat nie by die kerkraad openbaar gemaak was nie, word in kleiner kring of binnekamer uitgemaak en versoen. Openbare sonde (art 74) wat die gemeente ontstig en die naam van God onteer het, kan egter slegs versoen (vergewe en vergeet) raak wanneer die gemeente die berou en bekering as eg aanvaar, wat soms weens die aard van sommige openbare sondes moeilik bereik word. Gevolglik moet oor die wyse en vorm van versoening van openbare sonde verantwoordelik besin word. In die burgerlike lewe moet ’n moordenaar sy straf wat met sy oortreding korrelleer uitdien ongeag die vraag of hy berou het. Versoening vereis egter dat sonde, ongeag hoe groot dit was, vergewe moet word sodra opregte berou intree. Die opregtheid van berou word daarom gewoonlik aan bekering wat bewys is, getoets. Gevolglik moet daar soms ’n tyd verloop vandat die dissiplinêre behandeling tot ’n einde gekom het totdat die versoening afgehandel is.

 

B. Kerkregering

1. Die redaksie toon openbare versoening is nie die reël nie

Die begrip “openbare versoening” slaan op die onlosmaaklike intrinsieke band wat die gemeente kenmerk (1 Kor 12; Ef 4). Die kerkraad moet die tug met goedkeuring en medewete van die gemeente beoefen (Inst IV.12.vii; 1 Kor 5). Op die oog af bepaal hierdie artikel dat elke openbare sonde op ’n wyse wat die kerkraad vasstel in die openbaar (voor die gemeente) versoen moet word. Dit is egter nie die geval nie. Die kerkraad besluit in die reël wanneer openbare sondes versoen is.

Reeds die eerste Sinode (Emden 1571 art 29) wou praktyke afsny waar ’n predikant met of sonder ’n ouderling openbare versoening en die vorm wat dit moes aanneem in gemeentes voorgeskryf het. Moontlik wou sommige iets van die “cutty-chair” van Skotland toepas, alwaar byvoorbeeld meisies en vroue wat die sewende gebod oortree het, Sondae op ’n stoel in die voorportaal van die kerk moes sit om berou te betoon en openbare bestraffing van die gemeente te ontvang. Die Sinode van Emden besluit dat oor die wyse van versoening nie deur een of twee besluit sal word nie, waar dat dit slegs by die kerkraad sal berus.

Verskillende Sinodes wou al voor 1619 wanpraktyke van kwaai predikante hokslaan. In 1581 is selfs gedink dat advies van die klassis vir die voorskrif van openbare versoening nodig is. Die Dordtse Sinode 1619 (art 75 KO) bepaal dat slegs die kerkraad sal oordeel wanneer openbare versoening noodsaaklik is en hoe dit moes plaasvind. Op die platteland en kleiner dorpe waar slegs een predikant in ’n gemeente is, moes advies van twee naburige kerkrade eers ingewin word voor openbare versoening voorgeskryf kon word. Die handelinge van al die kerke gedurende die Hervorming beskerm die eer van die sondaar en streef na tug wat die gemeente sinvol opbou.

|405|

2. Genoegsame boetvaardigheid

Rutgers lei dus af dat versoening van openbare sondes in die reël nie voor die gemeente moes plaasvind nie, behalwe wanneer die herstel van die eer en goeie naam van die sondaar of die rus, vrede en stigting van die gemeente openbare versoening nodig gemaak het (De Jongh 1918:45v). Genoegsame boetvaardigheid is egter essensieel.

Openbare versoening van ’n dooplid (Bos 1950:289) of belydende gemeentelid kom eers ter sprake nadat die kerkraad vasgestel het dat daar “genoegsame tekens van boetvaardigheid” is. Die ou Kerkordes het van duidelike tekens van berou gepraat. Hieroor sal verskillende mense verskillend oordeel, afhangende van hulle verhouding tot die sondaar, simpatie vir ’n ander mens se swakheid, persoonlike etiese oortuigings en ander faktore. Wanneer ernstige verskil van mening oor die versoenbaarheid voorkom, moet die kerkraad versigtig handel en liewers aan ’n proeftyd dink, veral wanneer dit sondes soos dronkenskap, owerspel, gesinstwiste en egskeiding raak waar maklik in dieselfde sonde teruggeval kan word. Beloftes word maklik en oppervlakkig gemaak en berou kan soms selfs geveins word om van kerklike dissipline vry te kom. Die proeftyd mag nie in ’n “opgeskorte vonnis” nadat berou aanvaar is, ontaard nie (Kruger 1965:445). Gedurende ’n proeftyd moet die sondaar van die liefde, ondersteuning en voorbidding van die kerkraad verseker wees. Sodra die kerkraad oordeel dat die tekens van boetvaardigheid duidelik en seker is, moet die berou aanvaar en versoening van die sondaar met die gemeente afgehandel word.

 

3. Die kerkraad moet oordeel

Die amptelike bediening van die versoening van sondes wat in die kerkraad openbaar geword het, is die roeping en taak van die dienaars (predikante en ouderlinge) in die kerkraad. Kleiner kerkrade het soms nie genoeg onderskeidingsvermoë nie of persoonlike bymotiewe kan daar maklik ’n rol speel. Rutgers merk op dat predikante, ouderlinge of kerkrade wat hulle te na gekom voel, dikwels met tugmaatreëls wil reageer of hulleself regverdig deur ’n berouvolle sondaar tot openbare versoening te dwing.

Hoewel die GKSA in 1904 vanweë die landsomstandighede toegelaat het dat ’n kerkraad alleen artikel 75 uitvoer, bepaal die hersiene Kerkorde (Utrecht 1505 en SA 1916) dat sodra in ’n kerkraad verskil van mening oor die noodsaaklikheid of vorm van openbare versoening opduik, advies van twee naburige kerke ingewin moet word (behoudens artt 31 en 41 KO).

Die versigtigheid waarmee die kerke van die begin af met openbare versoening omgegaan het beklemtoon die waarde daarvan en erns waarmee elke kerkraad oor versoening van openbare sondes moet handel. Tog word dit dikwels nagelaat met skadelike gevolge. Dit kom voor dat ’n predikant, byvoorbeeld, in gedrang gekom het, moontlik as “onskuldige” party in ’n egskeiding. Daar bestaan nie genoeg grond om hom af te sit nie. Indien hierdie

|406|

oordeel nie behoorlik in openbare versoening deur die gemeente approbeer word nie, bly die aangeleentheid sweer tot skade van die kerk van die Here.

 

4. Wanneer openbare versoening noodsaaklik is

Wanneer openbare versoening die sondaar en sy sonde aan ’n deel van die gemeente gaan bekend stel, moet dit nie oorweeg word nie. Die kerkregbeginsel verbied dat openbare versoening die naam van die sondaar of sy eer aantas (Heid Kat S 43; Mt 7: 12; 1 Ts 5 :15). Openbare versoening moet slegs toegepas word wanneer die gemeente daardeur gestig en opgebou sal word. Gevolglik moet ’n kerkraad baie goed met die mense, omstandighede, denkwyse en verwagte reaksie rekening hou. Openbare versoening moet in ekonomiese taal uitgedruk die berouvolle sondaar produktief in die gemeente rehabiliteer, verkeerde menings en afleidings besweer en verdagmakery stopsit.

In talle gevalle sal die berouvolle sondaar uit die aard van omstandighede self ’n behoefte aan so ’n openbare versoening aanvoel en daarom vra. In gevalle waar ’n predikant betrokke is, mag huisbesoek deur die berouvolle sondaar saam met “getuies” selfs nodig wees om ontstigte gelowiges te versoen (vgl art 71: stigting van die gemeente).

 

5. Die wyse van openbare versoening

Die vorm en wyse van openbare versoening kan nie voorgeskrywe word nie en mag nie aan die predikant oorgelaat word nie en moet allermins die sondaar verneder of bedroef (2 Kor 2: 6,7) of die gemeente ontstel, of ligsinnigheid prikkel. Die een moet die ander uitnemender ag as homself (Fil 2: 3) en die berou, boetvaardigheid, bekering, vergewing, aanvaarding en gemeenskap beklemtoon sonder dat die sonde vergoeilik of gepropageer word.

Daar sal gevalle voorkom waar die kerkraad (en nie net ’n skriba of predikant nie) ’n noukeurigbewoorde afkondiging aan die gemeente moet doen. In ’n bepaalde geval mag dit wenslik wees om aan die berouvolle sondaar geleentheid te gee om self persoonlik voor die gemeente sy berou en bekering te betuig en om die vergiffenis en voorbidding van die gemeente te vra (Schoonhoeven 1579 by Bos 1950:289) of in geval van ’n ampsdaer mag dit nodig wees dat ’n berouvolle sondaar huisbesoeke aflê om vertroue in regstreekse ontmoetinge te herstel. Alles hang af van die aard, omvang en gevolge van sy sonde. Gewoonlik vereis afhandeling van die versoening dat die berouvolle sondaar hom nog van die nagmaal moet onthou om daarmee voor die gemeente sy berou, skaamte en skuld te betoon.

 

6. Eenvoudige afhouding of “stille sensuur”

Die kerkraad kan iemand aanraai (adviseer) of uitdruklik aansê om hom of haar van die nagmaal te onthou totdat die versoening afgehandel is. Iemand kan sonder of met advies van ’n ouderling meedeel dat hy homself van die nagmaal

|407|

gaan onthou sodat hy niemand aanstoot gee tydens afloop van die versoening nie. Die sondaar betuig as ’t ware daarmee dat al het God sy sonde vergewe, hy die gemeente tyd wil gun om sy opregte berou waar te neem en hom weer ten volle as lid in die liggaam van Christus te aanvaar. Hierdie “eenvoudige afhouding” van die nagmaal (Van der Linde 1983:240) moet deeglik van die dissiplinêre afhouding (art 76 KO) onderskei word. Dit word ook toegepas waar iemand, al is hy of sy klaarblyklik onskuldig, by ’n onafgehandelde saak soos egskeiding of deur ’n aanklag onder versoening verkeer. Die benaming “stille sensuur” word in die volksmond gebruik, byvoorbeeld waar ’n jong meisie ’n buite-egtelike kind verwag, terwyl sy reeds haar sonde bely het en die kerkraad van haar berou oortuig is. Openbare versoening sou onnodig feite openbaar terwyl deelname aan die nagmaal vrae en onrus in die gemeente kon veroorsaak.