|459|

Artikel 83

Kerklike sorg vir vertrekkende armes

 

Artikel 83: Aan armes wat om gegronde redes uit die gemeentes vertrek, gee die diakens soveel middele as wat hulle nodig oordeel en hulle pleeg oorleg oor die verdere versorging met die diakens van die gemeente waarheen die armes vertrek het.

 

A. Kerkregtelik

1. Die kerk is gemeenskap

Die kerk is in wese ’n lewende gemeenskap van mense in Christus. Daarom is elkeen ook skuldig om sy gawes tot nut en saligheid van die ander lede gewillig en met vreugde aan te wend (Heid Kat S 21 V/A 55). Armoede maak eie lewe en gemeenskap met ander mense moeilik. Die kerk as gemeenskap moet onderling en deur middel van die diakens armoede bestry omdat dit gemeenskap strem en met die verloste lewe in flagrante stryd is (kyk artt 25,40). Juis armoede laat armes migreer in die hoop om elders ’n beter heenkome te vind. Die liefde verplig die kerk om finansieel en fisies met kos en klere so te help dat hulle hulle bestemming kan bereik. Wanneer iemand verhuis kom die band van die persoon met die gemeente juridies en prakties tot ’n einde (art 82). Daarteenoor berus hierdie artikel op die feit dat die liefde nog die nood van daardie mens wil en moet aanspreek al sou die formeelregtelike verpligting nie meer bestaan nie.

 

2. Christus lê verantwoordelikheid ten opsigte van die armes op

Die arme appelleer op sy mede-gelowige se liefde en hulp sonder dat hy iets het om terug te gee. Die Here Jesus benadruk in Mt 25: 34-46 dat dié wat mense in nood help, veral medegelowiges, werk in die koninkryk van Christus doen. Ongelowiges word geoordeel omdat hulle armes, gevangenes en ellendiges nie gehelp het nie en daarmee Christus verwerp het. Gelowiges is ’n gemeenskap in Christus wat mekaar se laste dra (Gl 6: 2,9,10; Jk 2: 14-17).

 

3. Kerke dra in kerkverband verantwoordelikheid ten opsigte van armes

Wanneer armes om gegronde redes van een kerk na ’n ander moet vertrek, wil die gereformeerde kerke van die begin af die armes sowel as mekaar se

|460|

laste help dra. Hegte kerkverband en onderlinge verantwoordelikheid vir mekaar bring mee dat iemand wat uit nood verhuis, die advies van die diakens (en moontlik die kerkraad) nodig het om objektief te kan besluit of die verhuising ’n beter lewe beloof. Die diakens moet dus inleef en meeleef met die armes wat moet verhuis om te kan adviseer. Moontlik mag die ondersoek aantoon dat die diakens beter na die betrokke arme moet omsien (kyk art 25).

Kragtens kerkverband kan en moet die kerke met mekaar onderhandel oor die moontlikhede vir ’n beter lewe wanneer armes wil verhuis. Die attesterende kerk behoort hulp aan die kerk wat ontvang aan te bied, totdat die persoon in nood weer sy voete gevind het. Die onderlinge hulp tussen die kerke moet deur die diakens behartig word. Rutgers dui as ideaal aan dat ’n noodlydende eers verhuis wanneer die diakens van die ontvangende kerk gereël het dat hy hulle by hulle heenkome kan vind (De Jongh 1918:148). Dit verg natuurlik goeie onderlinge oorleg tussen die kerke.

 

4. Persoonlike verantwoordelikheid

Bestaande ordebepaling vir die kerke is onderhewig aan die beginsel dat die arme wat vertrek finalitêr self daaroor moet besluit. Armoede ontneem niemand sy vryheid tot en verantwoordelikheid in selfstandige keuse voor die Here nie. Die diakens begelei die behoeftige slegs met advies en hulp omdat hulle saam in Christus een liggaam is (1 Kor 12). Hulle mag nooit op burokratiese wyse aan ’n individu, soos in die sosialisme, voorskryf omdat die kerk finansiële hulp verleen nie.

 

B. Kerkregering

1. Redaksie van die artikel

Die eerste sinode van Emden 1571 moes tydens vervolginge en oorlogsomstandighede reël hoe die kerke hulle taak teenoor hawelose, reddelose en swerwende vlugtelinge kon nakom. Die kerke is dikwels misbruik om geld en voedsel in die hande te kry, net soos vandag nog boemelaars en rondlopers (wit en swart) met ’n Kerkalmanak in die hand en uitstekende kennis van kerklike opset van dorp tot dorp by predikante of meelewende gelowiges met ’n mooi storie gaan aanklop. Die Geneefse Kerkorde van 1561 het bedel op die kerkplein net na die eredienste uitdruklik verbied (Pont 1981 :31 art 68).

Die probleem was so groot dat die kerke te Emden (artt 42-47) probeer het om “verstrooide gelowiges” op te vang, ligvaardige rondtrekkery te beëindig, vertrekkende armes met onderstand te help, onderling in hulpverlening te korrespondeer en hulp op die attestasies aan te teken totdat die attestasies opgeskeur word in die kerk waar hulle hulle vestig. Die kerke moes vasstel waarom mense vertrek en hoe verspreidwonende "verstrooides" gehelp kon word. Die diakens het in die ou corpus christianum feitlik as ’n departement van volkswelsyn opgetree terwyl in besonder met die “huisgenote van die geloof” (Emden 1571 art 47) rekening gehou is.

|461|

Die Sinode van Middelburg 1581 vereis attestasie vir toelating van gaste tot die nagmaal (art 43), maar formuleer verder hoe attestasie afgegee moet word (art 67) en bepaal daarby dat die diakens diegene wat om gegronde redes uit die gemeente vertrek, sal bystaan en die omvang van die hulp op die attestasie sal aanteken (Biesterveld, Kuyper 1905:159).

Die Sinode van Den Haag 1596 (art 76) skei die algemene bepaling oor attestasie (art 75) van die besondere bepaling dat bystand aan vertrekkende armes en die plekke waarheen hulle wil gaan, agterop die attestasie aangeteken moet word (Biesterveld, Kuyper 1905:213). Die attestasie-praktyk het uit die attestasie vir vertrekkende armes ontwikkel.

Die artikel is in 1905 (Utrecht) enigsins gewysig met die byvoeging oor die meegee van voldoende reisgeld en koddige bepaling dat kerkraad en diakens moes toesien dat hulle nie te gretig hulle armes na ’n ander kerk sou aanhelp en sodoende daardie kerk “beswaar” nie. Die Sinode van Potchefstroom 1964 het die beginsel van “gegronde rede” vir vertrek teruggebring en positief bepaal dat die diakens van kerke onderling oor verdere versorging oorleg moet pleeg.

 

2. Toepassing van die artikel

In bepaalde tye, soos verstedeliking na die depressie van 1933, was die verskynsel van vertrekkende “armes” volop onder blankes in Suid-Afrika aanwesig. Tans kom die verskynsel meer onder swart gelowiges voor. Tog geniet dié bepaling van die kerkorde by die meeste swart kerke weinig aandag. Dit kan aan ’n swak ontwikkelde diakendiens en gebrek aan korrespondensie tussen swart en blanke diakonieë toegeskryf word.

Die beginsel kan nog toegepas word by reise van hulpbehoewende kinders, oumense, byvoorbeeld in tehuise, of behoeftige studente wat elders moet gaan woon, vakansie hou, familie besoek of studeer. Soms moet ’n behoeftige arme na dood van ’n eggenoot verhuis. Die beginsel van die artikel is in werking ten opsigte van studente aan die Hammanskraalse Teologiese Skool, alhoewel in hierdie geval die kuratore en nie die diakens van waar hulle kom of Temba nie, die hulp verleen en weinig korrespondensie tussen diakens plaasvind.

Finansiële hulp lei maklik tot misbruik onder “kansvatters”. Predikante en diakens kry dikwels met professionele boemelaars te doen wat hulle van plek tot plek voorthelp deur hulle as “lidmate” van hierdie of daardie kerk of student te Hammanskraal voordoen wat kwansuis net op deurreis in moeilikheid beland het. Hierdie artikel wys dat wanneer mense om ondersteuning aanklop, hulle ’n attestasie moet vertoon. As vreemdelinge met ’n mooi storie opdaag, moet minstens eers telefonies met funksionarisse in kerke of betroubare referente (selfs buite kerkverband) geraadpleeg word voordat geldelike hulp verleen word. ’n Behoeftige wat vertrek sonder oorleg met die diakens waarvandaan hy kom, doen op onordelike wyse aansoek om hulp waar hy onbekend is. Dit moet soos in die 16de eeu ontmoedig word.

|462|

3. Aantekening op die attestasie

Die beginsel van liefde (barmhartigheid) verplig dat die vertrekkende gelowige nie onversorgd weggestuur moet word nie (Jk 2: 5,14,15). In die 16de eeu het kerke op attestasies aangeteken watter hulp verleen was (Bos 1950:329). Vandag nog behoort diakens op die attestasie of in ’n begeleidende brief die diakens van die nuwe kerk op hoogte te stel met die tydperk, redes, vorm en omvang van die versorging wat gegee was.

Aansoeke om attestasie word gewoonlik deur ouderlinge buite die diakens om behandel. Die diakens moet gevolglik by afkondiging van attestasieaanvraag van ’n vertrekkende arme sonder versuim die aandag van die kerkraad vra om ’n noodsaaklike aantekening op die attestasie by te voeg. Tegelykertyd moet hulle oorweeg tot wanneer hulle versorging nog moet deurgaan. Hulle optrede moet die warm liefde van die kerk laat uitstraal sonder dat die persoon wat gehelp word enigsins voel dat die diakens van hom as ’n “las” ontslae wil raak.


Spoelstra, B. (1989)


COMMENTAAR OP
Kerkorde GKSA (2000) 83