|380|

Artikel 71

Bediening van die versoening is noodsaaklik

 

Artikel 71: Die kerklike tug is geestelik daarom is, afgesien van die burgerlike straf, die kerklike sensuur noodsaaklik om die eer van God te handhaaf, die sondaar met die kerk en sy naaste te versoen en die aanstoot uit die gemeente van Christus weg te neem.

 

A. Kerkregtelik

1. Tug vanweë die koninkryk van God en nie die kerk nie

Die Dordtse Kerkorde van 1619 het van “Christelike straffe” gepraat wat die Sinode Potchefstroom 1964 na “kerklike tug” verander het. Die sin verander wanneer “kerk” in die plek van Christus uitgangspunt word. In die lig van die sterk institusionele betekenis wat die woord “kerk” die afgelope twee eeue verkry het, klink dit asof tug handelinge van die sigbare kerklike organisasie behels. Enige organisasie, vereniging, genootskap of klub kan ’n “lid” op sterkte van magte, bevoegdhede en gronde wat in sy konstitusie beskryf is, dissiplineer of uitban. “Kerklike tug” sou dan iemand dissiplineer omdat hy met die kerkraad, ’n sinodebesluit, ’n interpretasie van Kerkorde of kerklike tradisie in botsing gekom het. Wie die kerk basies soos die kollegialisme as organisasie beskou, lê klem op eenvormigheid of “orde in die kerkverband”. Hierdie uitgangspunt identifiseer gehoorsaamheid aan ’n “kerk” in sy vergaderinge met gehoorsaamheid aan Christus. Die besluit van Sinode Potchefstroom 1945 (p 126) wat iemand se “lidmaatskap” laat verval omdat hy hom by ’n sekte laat doop het, toon hoe ban op grond van relasie tot ’n instituut uitgespreek word, sonder dat dit Christologies verantwoord is. Wanneer die kerk so pertinent as uitgangspunt geneem word, vervaag die verhouding van die “kerk” tot die “koninkryk” by talle teoloë (vgl Visser 1980:7-24).

Wie vanuit die “kerk” redeneer, span die kar voor die perde. Die Skrif en Gereformeerde Belydenis stel en vergelyk nooit koninkryk en kerk as selfstandige groothede nie. Inteendeel, die Skrif en Belydenis baseer die gesag wat vir tugoefening van grondliggende betekenis is, op die koninkryk van God en nooit op “kerk” nie. Die Here Christus het nie primêr gekom om ’n kerk op aarde nie, maar om die koninkryk van God te vestig (Mk 1: 14,15). In sy prediking verwys Hy net twee maal na die ekklesia, gemeente (wat die NAV een keer met “kerk” en een keer met “gemeente” vertaal). In albei gevalle word die gemeente in perspektief met die koninkryk of heerskappy van God teen

|381|

die sonde en kwaad gestel (Mt 16: 18,19 en 18: 18,20,23). Die tug hang saam met die sleutels van die koninkryk (Heid Kat S 31).

Die koninkryk is ’n monargie. Dit is basies regering of heerskappy wat God uitoefen (Ridderbos 1950:41). Christus is “enigste algemene Opsiener en die enigste Hoof van die Kerk” (NGB 27; vgl Heid Kat S 21). Die koninkryk gaan bo die kerk uit, is reeds in die kerk teenwoordig maar reik ook toekomstig na die voleinding uit en is daarom gebedsaak (Heid Kat S 48).

Die “kerk” is die Godsvolk wat Christus as Koning aanvaar en sy Woord en Gees gehoorsaam. Die kerk is vir Calvyn en die Gereformeerde Belydenis geen wetlike instituut nie, maar ’n dinamiese lewende organisme onder wie God orde deur sy Woord en Gees herstel het. Die kerk is herstelde orde, eenheid met Christus deur middele waarmee die Gees ons met Christus verenig (Spoelstra 1978:26-30). Elke mens is gevolglik soms meer, soms minder deel van die orde wat die kerk is. Dit hang af van hoe hy die Woord en Gees gehoorsaam. Christus is daagliks besig om rimpels uit sy kerk (die gelowiges) te stryk en vlekke af te was, want die kerk is op aarde nie volkome heilig nie (Calvyn Inst IV.1.xvii). Sodra die “kerk” as pous of konsilie (sinode) sy eie voorskrifte wat nie op die gesag van die Woord gegrond is aan die Godsvolk voorskrywe, voer hy heerskappy asof die pous of sinode (demokraties) die Koning verplaas.

Die tugoefening en eventuele ban mag slegs vanuit die perspektief van die koninkryk van God benader word. Die kardinale vraag is of iemand hom teen Koning Christus verhef en nie of hy aan die “kerk” (wat dit ook al beteken) ongehoorsaam is nie.

Die tughandeling is gevolglik ’n daad wat deur die gebed “laat u koninkryk kom” gedra moet word (Heid Kat S 48). “Dit Regnum Christi (koms van die koninkryk) staat ook by Calvijn centraal (soos by Bucer): geen ander doel mag ons gebed hebben dan de komst van Gods rijk"”(W van ’t Spijker 1985:18).

 

2. Die sleutels van die hemelryk

Die begrip “sleutels” in verband met die koninkryk van God wys op vergewe of nie-vergewe van sondes. Wanneer die evangelie verkondig en geglo word, gaan die koninkryk van die hemele oop. Wanneer dit nie geglo en geen bekering intree nie, sluit die oordeel van God die koninkryk toe. Gevolglik moet Christene wat hulle “onchristelik” gedra en daarin volhard, eers van die nagmaal afgehou word. Wanneer geen bekering volg nie moet so ’n mens uit die gemeente geban word, eintlik omdat God hom as ’t ware met sleutels uit die Ryk van Christus uitgesluit het (Mt 16: 18; 18: 17; Jh 20: 23; 1 Kor 5: 12,13; Heid Kat S 31 ).

Die uitsluiting uit die gemeente volg dus die weg wat God met die hardnekkige sondaar gaan. Die tughandeling wil en kan nie die sondaar straf nie, maar wil die persoon roep om hom te bekeer. Kerklike tugoefening moet volstrek nie lyk asof dit iemand se “lidmaatskap” tot die “kerk” wil beëindig nie. By die tugoefening behoort dit nie te gaan om “lidmaatskap” tot ’n “kerk” nie, maar om geloof en iemand se verhouding tot God, die Godsvolk, die liggaam van Christus. Die Bybel druk met die beeld van sleutelmag die hoogste gesag uit (Visser 1980:37).

|382|

3. Bediening van versoening deur vermaning

Die sleutels van die hemelryk hang, ten nouste saam met skuldvergiffenis waardeur die volk van God verander word. Hulle moet hulle gedurig bekeer om volk van God, huisgesin van God, kerk van God te bly. Daarom sê Calvyn dat die Twaalf Artikels die vergiffenis van sondes intiem aan die kerk, die gemeenskap van gelowiges, koppel (Inst IV.1.xx,xxi,xxii). Die dienaars verkondig die evangelie van vergiffenis van sonde en daardeur kom die gelowiges as kerk van God saam (Rm 10: 9-15). Die wese van die kerklike tug is gevolglik die bediening van die versoening met God en met mekaar (Joh 20: 23; 2 Kor 5: 18-21; Kol 1: 19-23; Heid Kat S 31).

Op sterkte van die bediening van versoening kon die apostel onmiddellik met krag vermaan (2 Kor 6: 1). Vermaning kom van dieselfde woord waarmee die Heilige Gees die Trooster genoem word. Die woord beteken om iemand eenkant te roep om intiem, reguit, onder vier oë hom met die evangelie en wil van God te konfronteer met die doel om hom te troos, te bemoedig, te bestraf, kortom hom deur die genade van God in die volle gemeenskap met die volk van God te laat lewe.

Selfs die uitsluiting uit die gemeente of Christelike ban is bediening van versoening. Dit sluit in werklikheid nie iemand uit die koninkryk van God en sy gemeente nie, maar konstateer slegs dat sorrde van die verharde sondaar wat weier om hom te bekeer en in gemeenskap van die Godsvolk terug te keer, homself buite die koninkryk van God gestel het.

Die woorde bind en ontbind, sondes hou of nie hou nie, insluit of uitsluit uit die koninkryk van God (Mt 16: 19; 18: 18; Joh 20: 23; Heid Kat S 31), hang onlosmaaklik met die bediening van versoening en vergiffenis van sondes saam. Daarom lyk dit sinvol om die tugartikels onder die opskrlf van “bediening van die versoening” en nie onder die noemer “kerklike tug” te behandel nie. Die benaming kerklike tug kan maklik horisontaal en genootskaplik vertolk word. Artikel 71 sluit feitlik woordeliks by die motief van versoening aan. Die Sinode van Potchefstroom 1964 (p 73) kon versoening met God (2 Kor 5: 18-21 ) in plaas van “eer van God” in artikel 71 ingevoeg het.

 

4. Tweërlei Goddelike Regering

Die eerste stelling in artikel 71 wat die tug “geestelik” kwalifiseer en van burgerlike straf onderskei, berus op Calvyn se opvatting waarvolgens God deur middel van owerhede die natuurlike regering en deur middel van ouderlingopsieners die geestelike regering behartig (Spoelstra 1982:232-237) Die burgerlike regering word gekenmerk deur die mag van die swaard (Rm 13) waardeur sondes gestraf, vir die kerk ’n veilige ruimte geskep en die kwaad met mag bedwing kan word. Die owerhede moet growwe sondes teen die Wet van God straf. Die owerhede bly aan God verantwoordelik (Inst IV.1 vi,xxiv,xxv; 11 .iii; vgl NGB 37).

Die Here regeer ook geestelik en direk deur sy Woord en Gees, maar Hy gebruik ook daarvoor mense as bedienaars van sy geestelike regering

|383|

(Inst IV.20.i,ii; Spoelstra 1982:233-237 ). Wanneer artikel 71die tug “geestelik” noem, dui dit ’n wesensverskil met die burgerlike regering aan. Hierdie “geestelike” regering sluit soos met sleutels die koninkryk van die hemele oop en toe. Die geestelike regering word op aarde konkreet sigbaar waar geloof in en gehoorsaamheid aan die Koning van die Koninkryk en Hoof van die kerk bewys word. Die dienaars moet dus die Woord verkondig, vermaan, leer, bemoedig, waarsku, oorreed en kyk of die Gees van God die hart verander. Hulle kan egter niemand met geweld tot geloof dwing om in te gaan in die koninkryk nie. Die geestelike “straf” of tug dra daarom ’n bedienende, ministeriële of diakonale karakter.

Uit die tweërlei regering wat God gebruik, volg dat die burgerlike owerheid en regspraak volgens Calvyn deur die gelowiges erken en gebruik mag word terwyl die Wederdopers slegs die “kerk” as God se ryk erken Die regspraak en straf van die owerheid dra egter ’n totaal ander (dwingende, vergeldende en voorkomende) karakter, maar kan meewerk om ’n kwaaddoener se lewe te verander. Dit is egter verkeerd wanneer iemand die gereg uit haat gebruik (Inst IV.20.xix-xxii). Die kerklike dienaars mag nie op die terrein van die burgerlike owerhede indring nie (Inst IV 11.iii, vgl art 30 KO), maar moet ’n eie doel op ’n eie “geestelike” wyse dien.

 

5. God regeer ook deur menslike bedieninge

Wanneer ons let op die intieme verband tussen bediening van die Woord en bediening van die ban as die twee sleutels van die hemelryk, maak Jonker se opmerking sin dat die sleutelmag nie soseer ’n mag (potestas) as ’n diaconia (bediening) is nie (by Visser 1980:62). Van die kant van die bedienaar is dit waar. Van die kant van God beskou, is sleutelmag egter ’n daadwerklike mag wat ewige wel en wee beslis. Die sleutelmag behoort aan hulle wat deur die Gees van God en deur sy Woord gelei word. Deur die krag van die Heilige Gees en die Woord van God word die sleutelmag uitgeoefen (W van ’t Spijker 1985).

Die kerkregtelike grondslae van die kerklike dienste as bedieninge wat Christus regstreeks gebruik, is reeds bespreek (vgl by artt 2,3,4,16,23) en moet hier ook in ag geneem word (vgl NGB 27-32 en die Bevestigingsformuliere vir die opsienersampte van predikant en ouderlinge). Juis omdat die kerk, Godsvolk, mense, ’n gemeenskap van gelowiges is en die Skrif deursigtelik duidelik en genoegsaam God se wil bekend maak (art 7 NGB), moet elke gelowige oor homself en die gemeente kan oordeel (Mt 18: 17; 1 Kor 5: 12,13). Die onderlinge vermaning vloei uit die wese van die liggaam van Christus voort (1 Kor 12), vorm die fondament vir die tugoefening (Inst IV 12.ii,iii) waarop die taak van die “herder” volg (Inst IV.3.i-viii; 12.ii).

Dit is egter eers wanneer hieraan nie gevolg gegee word nie, dat Calvyn met verwysing na burgerlike regering, van ’n kerkraad as vergadering van ouderlinge met die oog op dissiplinêre tugoefening of kerklike regspraak melding maak. Hulle moet egter in samewerking met die gemeente handel (Inst IV.11.i,vi).

|384|

6. Die wese van die kerk as vergadering van gelowiges

Die wese van die kerk, universeel en plaaslik, as vergadering van gelowiges, bepaal in ’n groot mate die artikels wat die tugoefening reël (vgl Inleiding, artt 1,53,56,61). Calvyn skryf die vierde boek van sy Institusie oor die “uiterlike hulpmiddels waardeur God ons roep tot die gemeenskap met Christus en daarin bewaar”. Hy begin met die universele kerk, die liggaam van Christus wat onder leiding en regering van die ampte in die samekoms van die gemeente by die suiwere bediening en ontvangs van Woord en Sakramente sigbaar word (Inst IV.1.iv-xii).

Die eerste tugprosedures op die Sinode van Emden 1571 (artt 25-34) wat in die Kerkorde van 1619 opgeneem is, neem kennelik die Institusie van Calvyn as kerkregtelike grondslag en Artikel 71 is feitlik woordeliks daaruit geneem (IV.12.v). Die sensuur of afsnyding uit die kerk berus op die in- of uitsluit uit die koninkryk van God. Wie God uitsluit kan die kerk nie insluit nie. Die merktekens van die ware kerk (art 29 NGB) vorm ’n sentrale motief en grondslag vir die tugoefening. ’n Ware kerk leef tot eer van God en ’n gesonde kerklike liggaam reageer teen die kwaad (1 Kor 5: 1-13; 12: 12-28). Tegelykertyd moet die behoud, opbou, ewige heil en belange van die individuele mens by die gemeente voor God swaar weeg (Ef 4: 11-16). Elke gelowige wat sondig moet met God en die gemeente versoen kan word. Geen tug moet uitgeoefen word om van iemand ’n afskrikwekkende voorbeeld te maak of om daarmee te probeer demonstreer dat die gemeente wel tug oefen nie.

Die Rasionalisme leer dat die kerk as eie regspersoon deur vrywillige assosiasie van mense ontstaan. Tug word beskou as ’n handeling namens “die lidmate van die kerk” deur middel van kerklike amptenare. Wie met die wil van die genootskap bots, kom soos ’n politikus teenoor die party te staan met wie se koukus hy verskil. Die kerk stel dus as “samelewingsverband” sy eie reëls op (Nauta 1971:7,9).

 

7. Versoening vereis barmhartigheid, liefde en lankmoedigheid

Calvyn wat in die oë van baie ’n streng tugoefening bepleit het, het self na 2 Kor 2: 7,8 verwys en te streng optredes afgekeur. Wanneer die meerderheid ’n sondaar bestraf het, moet hy vertroos word sodat ’n te groot hartseer hom nie breek nie. Die sonde moet bestraf word, maar die sondaar behou word (Inst IV.1.x,xix,xxii; 11.i,ii; 12.i-vi,viii,ix). Tugoefening moet met versigtigheid en matigheid geskied, sodat koring nie saam met onkruid uitgetrek word nie (Inst IV.12.xi). Wanneer ’n hele gemeente met sonde besmet is, het Augustinus reeds 'n barmhartige optrede voorgeskrywe wat deur vermaning en onderwys en nie deur sensuur nie verbeter moet word (Inst IV.12.xiii).
Tug moet met deernis geskied. Calvyn haal Cyprianus aan wat gesê het: “Laat die mens met barmhartigheid verbeter wat hy kan; en wat hy nie kan verbeter nie, met lydsaamheid verdra en met liefde betreur en beween” (Inst IV.12.xi). Dit belet egter nie gesonde tugoefening nie (kyk artt 72-79). Juis wanneer Paulus oor die wese van die kerk as organisme skryf (1 Kor 12), wys hy op die allerbeste weg van optrede, naamlik die liefde (1 Kor 13) in die lig

|385|

waarvan hy daarna onmiddellik oor die konkrete orde in die gemeente handel (1 Kor 14). Die kerklike tughandelinge moet in liefde uitgeoefen word en tegelykertyd diepe liefde betoon (Visser 1980:61). Die mens wil gewoonlik tug met ’n mate van ergernis of ongeduld uitoefen, maar by die tughandeling moet juis lankmoedigheid en sagmoedigheid die botoon voer omdat dit die waarmerk van die arbeid van die Heilige Gees dra. Dit moet immers Christus wees wat tug en nie ons nie (Gl 5: 22; 6: 1; Ef 2: 1-10; Calvyn tap; Visser 1980:72v). Die sondaar stoot hom gou teen die Fariseër in ’n vermaning uit die hoogte, asof die vermaner meen dat hy sonder sonde is. Sagmoedigheid hou egter geensins swakheid, saampraat of goedpraat van sonde by wie ook al in nie. Die liefde vereis daarom ook dat die erns toeneem namate die verharding voortduur. Wanneer in ’n gemeente geen onderlinge en herderlike tug bedien word nie, is dit ’n gemeente sonder liefde omdat dit sondaars liefdeloos aan die toorn van God oorgee (vgl Vlsser 1980:63).

 

8. Die gemeente (kerk) is onvolmaak

Die Humanisme het gedurende die Reformasie teen die Roomse klerikalisme gereageer en die verantwoordelikheid van die individu vir sy geloofskeuse benadruk. In Zurich is die volwasse doop aangelê as waarborg van ’n bewuste geloofskeuse waarin hulle hulle aan Christus in ’n heilige gemeente verbind het.

Calvyn het simpatie met hulle kritiek teen die verwêreldlikte kerk gehad, maar hulle bestraf wanneer hulle hulle aan die suiwer bediening van die Woord en sakramente (die kerk) onttrek en geestelike hoogmoed teenoor ander vertoon (Inst IV.1.xiii-xix). Hy verwys onder andere na die gemeente van Korinthe en verwerp die norm van en aanspraak op perfeksionisme wat die Donatiste en Wederdopers op die kerk aangelê het. Waar iemand stuit teen sonde by predikante en kerkmense, moet hy onthou dat die krag van die Woord en Sakramente nie afhang van wie dit bedien nie. Die werking gaan nie verlore wanneer ’n onrein persoon daaraan sou deel gehad het nie. Dit lê nie op die weg van mense om in die plek van God te probeer oordeel nie. Gelowiges moet verskil van mening kan verdra en geduldig probeer verbeter wat verkeerd is. Dit bly egter onomstootlik waar dat goeies en slegtes in die gemeente tot op die dag van die wederkoms vermeng sal wees (Inst IV.1.x-xix; 12.xii). Die kerk kan nie oor die hart van ’n ander mens oordeel en uitmaak of hy gelowig of ongelowig is nie (De intimiis ecclesia non iudicat). Oor iemand se leer en lewe kan egter wel in die lig van die Woord en Wet van God geoordeel word.

Calvyn het juis met die tughandeling wat hy aan die nagmaal verbind het (Inst IV.12.vi, vgl NGB 32, artt 76,77 KO) die kritiek van die Wederdopers ondervang en getrag om die liggaam van Christus as vergadering van ware gelowiges so duidelik as wat tugoefening dit moontlik maak, aan die nagmaaltafel tot openbaring te bring (Balke 1973:225-238; Spoelstra 1982:240). Juis die kerksentrisme van die Anabaptiste het hulle hulle visie op die heerskappy van Christus in die wêreld laat verloor (Balke 1973:76,96).

|386|

9. Die gemeente moet swak bediening kan verdra

In die Bybel (1 Kor 12: 28; Ef 4: 11v; 1 Tm 3 ens) en Belydenis (NGB 30-31) is die ingestelde ampte of dienste van ouderlinge of biskoppe die enigste en essensiële aspek van kerkinstituering. In die Gereformeerde kerke word gevolglik eers ampte en daarna kerkrade ingestel (vgl Calvyn: lnst IV.3.i-viii; 11.i,ii; 12.xiv; artt 16,23,37,38 KO). Wanneer ’n biskop of herder sy amp versuim, begin die gemeente die kenmerke van ’n ware kerk verloor (NGB 28,29). Gelowiges moet daarom die diens van die herders gedurig beoordeel. Calvyn waarsku egter baie ernstig daarteen wanneer mense gou op sterkte van die versuim van herders of mense ’n gemeente die naam van “kerk” ontsê, of hulle oor die ampsversuim van herders van die kerk onttrek, of probeer bewys dat hulle beter as ander is, of maklik van die kerk afskei omdat party mense sedes en opvattings (selfs afwyking in ondergeskikte aspekte van die Christelike Belydenis) koester wat van hulle eie verskil (Inst IV.1.xiv,xv,xviii).

Calvyn verabsoluteer nie die “eenheid van die kerk” as struktuur oor verskille nie, maar beklemtoon die krag wat van die Woord en Sakrament uitgaan wat skuld van sondaars of gebreke van bedienaars nie kan vernietig nie (Inst IV.l.xvi). Wanneer die gemeente kerklike dienaars (ouderlinge, kerkrade, kerkvergaderings) herhaaldelik vermaan het maar hulle hardnekkig weier om hulle te bekeer en in hulle dienste aan bly, moet die gemeente ter wille van sy eie heil en tot eer van God die bedienings reformeer deur nuwe herders te roep en ’n nuwe kerkraad in te stel.

 

10. Die ban of afsnyding as bediening van versoening

Die evangelie van God as sleutel van die hemelryk het twee kante: genade en oordeel (Heid Kat S 3; 2 Kor 2: 14-17). Verharding teen die roep van die evangelie en heerskappy van God (sy koninkryk) kom neer op die onvergeeflike sonde teen die Heilige Gees (Mt 12: 31,32; Hb 6: 4-6, 11: 29; 1 Joh 5: 16,17). Juis die wegneem van die oorsaak van ontsteltenis en onrus in die gemeente deur middel van ekskommunikasie (afsnyding, ban), herstel eendrag, vrede en rus tot eer van God en welsyn van die gemeente (NGB 32). As sodanig dien die ban ook die versoening wat artikel 71 KO op die oog het.

 

B. Kerkregering

1. Kerklike tug

Hierdie artikel stel primêr die aard, noodsaak en doel van “de Christelijke straf” (DKO 1619) en “kerklike sensuur” wat Sinode Potchefstroom as “kerklike tug” omskryf het. Die ou woord “Christelike” bring tog iets meer as “kerklike” na vore terwyl die Woord “tug” bo die huidige betekenis van “straf” verkies word. Tug kom van ’n ou Nederlandse woord “tien” wat regtrek, opvoed, weghou van kwaad beteken (Kruger 1966:424). Die Latynse woord disciplina hou verband met dissipel, leerling-maak en benadruk ook die karakter van onderrig, aanwys

|387|

wat reg en wat verkeerd is. “Sensuur” kom van die Latynse woord censura wat sensor, beoordeel, takseer of skei van die goeie en nuttige van die slegte en kwade, beteken.

Die Christelike (kerklike) tug berus basies by die ouderlinge toesig wat Christene op mekaar in die gemeente moet uitoefen omdat hulle in Christus een in leer, lewe, geloof en doop is (Ef 4). Die bediening van die biskop- of opsieneramp in prediking, kategese en huisbesoek om te leer, te weerlê, te onderwys (1 Tm 3: 16) behoort ook tot die “kerklike tug” of Christelike dissipline. Emden 1571 het met “kerklike dissipline of Christelike straf” ’n bepaalde toesig van die predikante en ouderlinge bedoel wat van hulle openbare lering, vermaning en bestraffing onderskei (Pont 1981 :106 art 25) en weldra “kerkelijke vermaningen en straffingen” genoem en as Christelike straf wat “geestelik” is van die straf van die owerheid en burgerlike straf onderskei word (1578 art 92). Dit word ook “kerklike sensuur” (1581 art 58) genoem. “Kerklike tug” kom primêr op vermaning en bestraffing van sonde deur middel van onderrig in die wil van God neer. Christelike tugoefening soek nie vergelding en mag nie strafmaatreëls wees nie.

Die toesig en eventuele tugoefening gaan oor elke gelowige in totaliteit en nie net oor sy kerklike meelewing nie. Wanneer sy deelname aan politiek, sport, verenigings of selfs arbeidsaangeleenthede verbintenisse of praktyke inhou wat God onteer omdat dit teen die Wet van God, sy Woord en Belydenis ingaan, dwing die liefde kerklike tughandeling af wat sonder aansien van die persoon oor ryk en arm, aansienlik en eenvoudig, moet gaan.

 

2. Tug gaan oor leer en lewe

Die gelowige gee in wat hy bely (sy Belydenis) antwoord op die Woord van God (kyk by artt 53,54,55,61,80 KO). Tweedens toon sy lewenswandel of hy aan God se Woord en Wet gehoorsaam is of nie. Die kerklike sensuur gaan gevolglik oor leer en lewe waarin iemand sy verhouding tot die Hoof Christus openbaar. Dit wil beoordeel en medies heel (Balke 1973:76,128v). Dit beteken nie dat elke verkeerde ding, mening, opvatting, of praktyk sensuur verdien nie. Iemand mag uit onkunde verkeerde afleidings uit die Skrif maak of ydel en ligsinnige dinge kwytraak, of uit swakheid sy humeur verloor, nie sy skuld kan betaal nie, ensovoorts (De Jongh 1918:56). Oor hierdie sondes moet iemand persoonlik bestraf maar nie kerklik getug word nie. Sonde wat kerklike tug verdien, moet verset teen Christus openbaar.

Calvyn het onderskei tussen struikeling en misdade, ligter en swaarder of growwer sondes (crimes en vices). Die kerklike tug as sensuur of ban het op die ernstige of growwer sondes betrekking (Inst IV.12 iv). Nalatigheid om teen kleiner dwalinge en struikelinge te stry is geen rede om daarom van die kerk af te skei nie. Elkeen moet eerstens homself beproef en nie net op ander kyk nie (Inst IV.1 .xv).

Die Roomse boetestelsel, ban en interdik het soos ’n regterlike strafstelsel gehoorsaamheid aan die pous by mense en selfs konings afgedwing. Ongelukkig neig kerklike tugoefening dikwels ook om kerklike standpunte, besluite of gebruike met sensuur af te dwing. Die tughandeling moet steeds

|388|

versoening van oortredinge in leer en lewe, dit wil sê ’n mediese helende doel voor oë hê en onthou dat die werklike regterlike oordeel oor sondes van leer en lewe steeds aan God toekom. Die tugoefening moet gevolglik dikwels sake aan die sondaar se gewete en God oorlaat.

 

3. Elke geval op eie meriete behandel

Omdat die kerklike tug primêr elke gelowige sondaar se verhouding met die Hoof Christus wil herstel en nie straf namens Christus oefen nie, bestaan daar geen tugreglement vir verskillende soorte “sondes” in leer en lewe nie. Elke mens is uniek en daarom moet elke geval op sy eie meriete behandel word, selfs wanneer iemand krities teenoor gevestigde kerklike opvattings en gebruike staan.

Goeie kerklike orde vereis eenheid in essensiële geloofswaarhede, maar nie eenvormigheid in elke detail nie. Indien iemand klaarblyklik in leer en lewe as gelowige in die gemeente meeleef, moet die persoon met sy bepaalde swakhede in leer of lewe met groter verdraagsaamheid bejeën word as iemand wat sy rug op die kerklike bedieninge keer. Die weg vir gesprek, vermaning en opvoedende tug, bly wawyd oop (Hd 20: 31; 2 Kor 10: 4; Rm 12: 6-8; 1 Kor 7: 17-20; 2 Tm 3: 16-4: 2).

Rutgers hou rekening by die toepassing van tug met die aard van die sonde sowel as groepsoortuigings en gebruike in bepaalde kerke, streke of tye. Soms moet ’n bepaalde afwyking in een geval baie strenger as in ’n ander geval behandel word al na gelang wie die persoon is, sy plek en rekord in die gemeente, vooruitsigte vir beter gedrag in die toekoms, skadelike gevolge wat sy optrede of die tug op die gemeente mag hê, ens. Indien die Skrif ’n sagter vorm van tugoefening regverdig, moet dit oorweeg word. “Op kerkelijk gebied komt bij de toepassing van tucht eene groote mate van Christelijke wijsheid en voorzichtigheid te pas” (De Jongh 1918:65).

 

4. Die versoening

In artikel 71 KO is sprake van “eer van God handhaaf, die sondaar met die kerk en sy naaste te versoen en aanstoot uit die gemeente weg te neem”. Waarom daar in 1581 van versoen met die kerk en wegneem van aanstoot uit gemeente gepraat word, is nie duidelik nie. Die vorige Sinode van Dordrecht 1578 (art 92) het die tug noodsaaklik geag om die “sondaar met God en sy naaste te versoen en die ergernis uit die gemeente van Christus weg te neem”. Die kerklike tughandeling maak slegs sin wanneer dit soos in 1578 geformuleer en verstaan is.

In die Kerkorde van die 16de eeu beteken sigbare kerk die gemeente onder leiding van ampte. Juis die gelowiges neem aanstoot aan sonde en ly onder die sonde van elke lid (1 Kor 12: 26). Die kerklike tug geskied nie met die oog op die sigbare instituut nie, maar ter wille van die kerk as gemeenskap van gelowiges. Talle Westerlinge beskou hulleself so individualisties dat hulle nie kan begryp dat die gemeente en ander wat op Christus let deur hul sonde geraak en ontstel word nie en dat sonde so die Here en sy kerk in gedrang

|389|

bring nie. Die kerklike tughandeling ontaard in blote formele optrede (verenigingstug) van die kerkraad teen ’n “lidmaat”, wanneer dit by die kerkraad sowel as die persoon wat getug word nie oor sonde en skuldbesef ten opsigte van Christus en die medegelowiges gaan nie.

Die bedienaar(s) van die tug moet hulle dus goed voorberei sodat die kerklike tughandeling nie as regterlike straf wat wil vergeld nie, maar as ’n wonderlike bediening van versoening ondervind sal word. Die sondaar moet vermaan word om in te sien dat die gemeente nie growwe sondes kan duld sonder om self daardeur as kerk van Christus geaffekteer te raak nie (1 Kor 5: 6-11; 10: 9; 1 Tm 5: 20; Tit 3: 9-11). Die sondaar moet onder die tug ervaar hoe liefde teenoor hom bewys word, hom wil vashou en juis daarom hom tot inkeer, berou en bekering wil bring (2 Ts 3: 14,15).

 

5. Sonde teen die eendrag en eenheid van die kerk

Die Kerkhervorming en kerklike afskeidings soos in Suid-Afrika 1859 illustreer dat gelowiges probleme ondervind om onvoorwaardelik gehoorsaamheid aan die kerklike regeerders ter wille van goeie orde te bewys. Die Heilige Gees verleen nie mag, gesag en waardigheid aan mense ter wille van hulle posisie nie. Gesag is onlosmaaklik aan die Woord wat bedien word verbonde (Inst IV.8.ii,iv). By tugoefening moet noukeurig onderskei word tussen wat van God en wat van mense afkomstig is, terwyl beuselagtige voorskrifte vermy word. ’n Mens moet respek betoon vir die gewete van ’n ander mens, selfs wanneer hy fouteer, so lank hy hom daarin direk aan God verantwoord.

Calvyn verwerp die Roomse aanspraak dat die Here geestelikes aangestel het om as geestelike wetgewers reëls vir gelowiges voor te skrywe sodat wie daaraan ongehoorsaam is teen God en die kerk sou sondig (Inst IV.10.vi). Uitsprake van sinodes (konsilies) is tyd-, persoon- en situasiegebonde en moet daarom omsigtig en krities hanteer word en slegs afgedwing word wanneer dit die toets van die Skrif deurstaan (Inst IV.9.viii,xiii). Kerklike dwang op die gewete tydens die Kerkhervorming en optrede teen ongeleerde, maar gelowige “Doppers” (Spoelstra 1961: 63-84; 118-141) sonder Skrifgesag het juis reformasie van kerklike bediening kragtens die Christelike vryheid (Hd 4: 19,20; Gl 5: 1) veroorsaak. Die vaste grondreël is dus dat slegs die Woord van God kan bepaal wat sonde is en wat nie (Inst IV.8.viii; NGB 7).

Tog moet die kerkregeerders soms tydgebonde kerklike reëls en bepalinge maak wat eendrag en eenheid moet verseker. Hierdie bepalinge moet egter nuttig en min in getal wees en nooit die gewetens van mense bind nie (NGB 32; Inst IV.8.xxvii-xxx vgl IV.10). Iemand kan nie oor dergelike bepalinge onder tug kom en geëkskommunikeer word nie.

 

6. Tug oor belydende gelowiges

Wie belydenis van geloof doen, of met attestasie oorkom of by die gemeente aansluit, aanvaar daarmee dat tug en kerklike vermaninge volgens die Kerkorde oor hom uitgeoefen kan word indien hy sou sondig. Die sekulêre reg aanvaar dat die persoon vrywillig die kerklike konstitusie aanvaar en hom daarmee aan

|390|

kerkordelike tughandelinge onderwerp. Enige Christen en ouderling (Mt 18: 15v: artt 23,72-74) kan ’n ander mens vir sy verderf waarsku, terwyl die kerkordelike tughandelinge slegs binne die gemeente onder leiding van die herders uitgevoer word. Die handelinge moet beëindig word wanneer iemand nie meer regtens deel van die gemeente (kerk) is nie. Ouderlinge beskou die kerk soms so veel as ’n menslike vereniging dat ’n “lastige” lidmaat geadviseer word om te bedank. Dit beteken dat hy hom aan die gereformeerde kerklike bediening moet onttrek en van versoening nie sprake is nie. Dit kom op misbruik van die tug en versuim van roeping neer. Wanneer in liefde en verantwoordelik aan die Here opgetree word, behoort in ’n gemeente nie sogenaamde “dooie” lidmate te wees wat nou kwansuis as “evangelisasie-voorwerpe” beskou kan word nie.

Die bediening van die kerklike tug stuit soms op besondere moeilike gevalle in die gebroke wêreld, soos wanneer swaksinniges of mense met bepaalde temperamentele, intellektuele of karaktergebreke bearbei moet word. Hierby moet in ag geneem word dat die Kerkorde die gewone normale orde aandui, terwyl uitsonderingsgevalle op ’n eie wyse volgens die kerkregtelike beginsels bearbei kan word.

 

7. Tug oor dooplede

Die vraag na die graad van verantwoordelikheid en vlak van toerekenbaarheid bepaal die tughandelinge ten opsigte van “dooplidmate”. Kragtens die kerksentriese uitgangspunt van. die kollegialisme, kan diegene wat nie belydenis van geloof gedoen het nie, nie as “lidmate van die kerk” gereken word nie omdat hulle hulle nog nie vrywillig en toerekenbaar met die kerk geassosieer het nie. Gewoonlik word net aangedring dat die persoon moet katkiseer en “lidmaat word”. Die tugoefening gaan nie verder nie. 

Gereformeerdes reken egter primêr met die verbond van God (art 56 KO) en die kerk wat Christus vergader (Heid Kat S 21 ). Die vrae by die kinderdoop aanvaar dat die kind uit ’n gelowige huisgesin as lid van die gemeente van Christus gedoop moet word (vgl art 56 KO). God se volk bestaan soos enige volk uit en sy koninkryk is vir volwassenes en kinders. Die GKSA sê tereg dat dooplidmate ook aan sensuur en afsnyding onderworpe is (GKSA 1904: art 102). Daarna is weer te Potchefstroom verkeerdelik ’n Nederlandse besluit van 1893 onkrities oorgeneem wat dooplede se “lidmaatskap” op dertigjare leeffyd laat verval het (GKSA 1916: artt 141 ,154; Kruger 1966:431 }. Vanuit kollegialistiese en kerksentriese vertrekpunt is die verkeerde idee van “inkomplete lidmaat” van ’n instituut op die dooplid toegepas, terwyl ’n kind kragtens die verbond net soos ’n volwassene lid van die liggaam van Christus is. Calvyn wys hoe ’n mens een maal as lid van die kerk gedoop word (Inst IV.18.xv). Die GKSA het die uitspraak van 1916 gevolglik herroep en gepraat van “inkomplete” tug oor gedoopte lede (GKSA 1961: artt 37,114). Die tugoefening verskil nie wesenlik nie maar in graad van toepassing van die tug oor volwassenes, omdat dooplede byvoorbeeld nie van die nagmaal afgehou kan word nie.

Ten opsigte van dooplede dwing artikel 71 as bediening van versoening tot geduldige vermaninge en bestraffinge. Namate die persoon egter ten volle

|391|

toerekenbaar en verantwoordelik, raak, moet vermaninge ook dringender word. Niemand moet gedwing word om byvoorbeeld bloot omdat hy 18 of 30 jaar oud geword het belydenis van geloof te doen of afgesny te word nie. Iemand wat nooit belydenis doen nie kan tog nog gelowig wees. Wanneer ’n volwasse dooplid egter sy rug op die koninkryk en gemeente van God keer, moet hy afgesny word met die tugprosedure van artikel 77 KO (GKSA 1961 artt 37,1 14). Indien so ’n dooplid later tot inkeer en bekering kom moet hy deeglik onderrig (gekatkiseer) word en belydenis van geloof doen.