|39|

Artikel 4 en 5

Beroeping tot en bevestiging in die diens van die Woord

 

Artikel 4: Die wettige roeping en toelating van iemand wat nie tevore in die diens van die Woord gestaan het nie en wat deur die klassis waarin hy woonagtig is, voorbereidend (preparatoire) geëksamineer is, bestaan uit:

ten eerste, die verkiesing na voorafgaande gebede, deur die kerkraad en die diakens volgens die reëling wat daarvoor plaaslik in gebruik of soos deur die kerkraad vasgestel is en verder in kerke met slegs een bedienaar van die Woord, ook met advies van die klassis of van die konsulent wat hiervoor deur die klassis aangewys is;

ten tweede, die ondersoek na die leer en lewe (peremptoire) van die beroepene deur die klassis (waar die beroeping ter goedkeuring voorgelê moet word) wat met advies van die deputate van die partikuliere sinode moet plaasvind;

ten derde, die approbasie en goedkeuring deur die lidmate van die betrokke kerk wat daarin bestaan dat daar, nadat die naam vir minstens drie Sondae in die kerk afgekondig is, geen wettige beswaar ingedien is nie;

ten laaste, die openlike bevestiging voor die gemeente in teenwoordigheid van die klassikale deputate, volgens die formulier wat daarvoor vasgestel is.

 

Artikel 5: Waar 'n bedienaar van die Woord van een kerk na 'n ander binne die kerkverband beroep word, geskied dit soos volg:

ten eerste, die verkiesing deur die kerkraad en die diakens na voorafgaande gebede, met onderhouding van die reëling wat

|40|

daarvoor plaaslik in gebruik of deur die kerkraad vasgestel is en van die algemene ordinansies vir die beroepbaarheid van diegene wat buite die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika gedien het en verder in kerke met slegs een bedienaar van die Woord, ook met advies van die klassis of van die konsulent wat hiervoor deur die klassis aangewys is;

ten tweede, die goedkeuring deur die lidmate van die betrokke kerk, as daar, nadat die naam vir minstens drie Sondae in die kerk afgekondig is, geen wettige besware ingedien is nie;

ten derde, die kontrolering deur die kerkraad saam met die klassikale deputate van die goeie kerklike getuienis ten opsigte van leer, lewe en ampsbediening en van losmaking.

 

A. Kerkregtelik

1. Die kerk moet ondersoek en vasstel

Die Skrif sê dat kerklike dienaars betroubaar en bekwaam bevind moet word (1 Kor 2: 3; 2 Kor 11: 12-15; 1 Tm 3: 7,10; 1 Joh 4: 1). Die kerk (gemeente) moet daarom voornemende sowel as diensdoende predikante, voortdurend beoordeel. Hierdie taak behoort veral by die opsieners (Hd 20: 28-31). Hulle is die adres van die kerk en handel namens Christus en sy kerk {Hd 11: 30; 15: 2,6; 1 Ts 5 :12). Die feit dat artikels 4 en 5 die diakens by die ouderlinge voeg, verbreed slegs die basis waarop die kerk deur middel van die ouderlinge handel (vgl Hd 15: 22 en Fil 1: 1).

Die kerk (gelowiges) moet seker wees dat die dienaar met reg aanspraak op ’n innerlike roeping maak, die gawes vir die diens ontvang het, ’n Christelike oortuiging en lewenswandel besit, oor kennis van die Woord, die gereformeerde leer, liefde vir Christus en sy gelowiges beskik. Hy moet ook bereid wees om homself te verloën, van aardse goed af te sien en homself lewenslank, selfs al word hy beledig en vervolg, aan die diens toe te wy. Bevestiging, wyding of ordening het dus van vroeg af altyd met deeglike ondersoek gepaard gegaan (Inst IV.4.xiv).

 

2. Wettige beroeping en toelating tot die diens van predikant

Artikels 4 en 5 vorm saam met 2 en 3 ’n eenheid. Artikel 4 kwalifiseer “beroep” (art 3). Die kerkregtelike beginsels wat by artikels 2 en 3 bespreek is, geld dus ook by artikels 4 en 5 om wettige beroeping en toelating te laat plaasvind.

|41|

3. Die persoon meld homself aan

Iemand wat nog nie-tevore in die diens van predikant gestaan het nie, het homself in die vroeë christelike kerk vir opleiding en praktiese ondervinding aangemeld (Inst IV.4.ix). Talle is destyds soos vakleerlinge opgelei. Elkeen moet persoonlik kan getuig dat hy innerlik geroep is. Tekste soos Hd 18: 26; 20: 29: 2 Kor 6: 4; 10: 12,18; 11: 13,15; Gl 1: 15-24; 1 Tm 3: 1; 1 Joh 4: 1; 2 Joh 10; Jd 11 toon aan dat ook valse dienaars hulle mag aanmeld. Iemand wat as predikant wil studeer, behoort hom by die kerkraad aan te meld wat hom met attestasie moet kan aanbeveel (kyk art 8 p 73 en art 19).

 

4. Die unieke en verhewe diens van die Woord

Die Roomse bediening van die priesters het op die sewe sakramente aan “leke” saamgetrek. Luther het daarteenoor prediking van die Woord, waardeur die Gees geloof werk, en die selfstandige priesterskap van die gelowiges gestel. Calvyn sê dat God die “herders”-amp soos die apostelamp met die hoogste eer en agting beklee (Inst IV.3.iii; vgl Jes 52: 7; Rm 10: 15). Sonder herders en leraars kan die kerk daarom nooit wees nie. Hulle moet die Woord, Sakramente en tug bedien en die Skrif uitlê (Inst IV.3.iv). Hierdie diens bind gelowiges in een liggaam, die gemeente, die kerk, saam (Inst IV.3.ii). Die ware kerk is vrug van die bediening van Woord en Sakramente en word sigbaar waar die Evangelie suiwer gepreek en ontvang en die Sakramente gelowig bedien en gebruik word (Inst IV.1.x.xxii). So beklee die diens van predikant 'n besondere, unieke en verhewe plek onder die vier erkende dienste en verg dit gewoonlik spesiale opleiding (vgl by artt 8,18). Tegelykertyd lê die gemeenskaplike geloof tussen verskillende kerke in Christus 'n nou verband (Du Plooy 1982) sodat hulle met mekaar saamwerk om predikante in diens te stel. Ook is beroeping van een kerk na 'n ander moontlik en soms noodsaaklik (Van der Linde 1983:28).

 

5. “Verkiesing” deur die gemeente

Die Here gee voorskrifte waaraan die dienaars moet beantwoord (Inst IV.3.xii, 1 Tm 3: 1 en Tit 1: 7). In die wyse waarop hulle beroep moet word, staan nie die manier van verkiesing nie, maar die godsdienstige erns en eerbied waarin dit moet geskied voorop (Inst IV.3.xi,xii).

Vir die wyse van verkiesing is daar geen vaste reël nie. Die vroegste gelowiges het meegewerk in die nominasie of verkiesing van die dienaars (Hd 6: 3; 14: 23). Die lot het aanvanklik die verkiesing na nominasie beslis (Hd 1:1 4-23). Die apostels het hulle opvolgers op voorstelle “aangestel” (Hd 3: 3,6; 14: 23; 1 Tm 5: 22; 2 Tm 2: 2). Soms het ’n opsiener(s) ander dienaars aangewys (Inst IV.3.xiii-v; Tit 1: 5; 1 Tm 5: 22). Die apostels het vir kontinuïiteit van die diens van die Woord deur beroeping en opleiding gesorg. Hierdie beginsel lê aan artikels 4 en 5 ten grondslag.

|42|

Die Griekse gebruik was om hande op te steek (Inst IV.3.xv; Hd 14: 23). Die verkiesing het egter eers “wettig” plaasgevind wanneer die gemeente onder leiding van die herders die persoon vir die amp eenstemmig goedgekeur het (Inst IV.3.xv). Die wyse waarop die nominasie gedoen word, is dus van middelmatige belang. Die wesenlike vraag is of die gemeente toestem en approbeer dat God die persoon geroep en bekwaam het (Inst IV.4.ix). Later het die pous die gelowige volk met sy heerskappy onmondig gemaak (Inst IV.5.ii). “Kiesreg” (vgl GKSA 1982:501v) van die gemeente is strydig met die wese van die kerk en die monargale (koninkryks-) karakter van Christus se regering in sy kerk.

 

6. Bevestiging en handoplegging

Die karakter van kerkdiens oor die algemeen en diens van die Woord in besonder vereis dat so ’n persoon uitdruklik in die diens gestel moet word (vgl Hd 6: 3-6). Volgens Joodse gebruik (vgl Christus, Mt 19: 15) het die apostels iemand die hande opgelê wanneer hy in diens gestel is. Dit gee te kenne dat die persoon aan God voorgestel en toegewy word en simbolies gawes van die Gees ontvang (Hd 19: 6). Die handoplegging kan die waardigheid van die amp by die gemeente tuisbring, indien geen bygelowigheid of blote formalisme daarmee gepaard gaan nie (Inst IV.3.xvi). Die kerklike goedkeuring, erkenning en aanvaarding van die innerlike roeping word deur handoplegging gesimboliseer (1 Tm 5: 22).

 

7. Diens en verbondenheid aan een kerk

In die vroeë christendom het onder die opsieners (biskoppe) in dieselfde plaaslike kerke spoedig ’n prominente voorganger uitgestaan (Op 1: 20; 2: 1 ens). Waar Rome net een monargale biskop (pous) aan die hoof van die hiërargie ken, noem Calvyn elke bedienaar van die Woord ’n biskop en verbind elkeen aan ’n bepaalde kerk op ’n bepaalde plek. Elkeen moet weet dat hy kragtens die goddelike beroep lewenslank aan die diens in daardie kerk gebind is (art 12; Inst IV.3.vii) tensy hy ordelik tot diens in ’n ander kerk beroep en bevestig word.

 

8. Beroeping van een kerk na ’n ander is moontlik

In die Roomse stelsel kan die senior biskop priesters van een parogie (dorpsgemeenskap) na ’n ander verplaas. Talle Protestantse stelsels maak ook van verplasing van predikante deur biskoppe of superintendente gebruik. In gevalle waar byvoorbeeld die burgerlike owerheid predikante in diens neem, kom verplasing ook voor (vgl by art 6).

Ouderlinge en diakens (artt 23,25) word egter nie van een kerk na ’n ander beroep nie, maar dien plaaslik. ’n Predikant mag op ’n ordelike wyse van standplaas verander wanneer algemene belang of die behoeftes van ’n kerk dit nodig maak. ’n Predikant mag nie verandering met die oog op sy eie voordele

|43|

soek nie en behoort nie alleen oor die wenslikheid van verplasing te oordeel nie (Inst IV.3.vii; art 10).

 

9. Goeie kerklike getuienis

Kerke staan in kerkverband kragtens hulle eenheid in leer en lewe. Een kerk moet gevolglik aan ’n ander sekerheid oor ’n predikant wat verhuis se leer en lewe oordra. Dit geld ook in geval van enige ander gelowige (vgl art 82). ’n Predikant benodig dus bepaalde getuienis wanneer hy na die ander kerk oorkom. Behalwe oor sy leer en lewe moet ook oor sy ampsbevoegdheid en ampsbediening getuig word. Sonder goeie getuienis kan hy nie tot die diens toegelaat of van een kerk na ’n ander verhuis nie (vgl art 10 KO).

 

B. Kerkregering

1. Redaksie van die artikel

Die Dordtse Sinode het in artikels 4 en 5 bepaal dat stedelike en plattelandse kerke predikante na goeie “korrespondensie” (ooreenstemming) met die plaaslike Chnstelike owerheid moes verkies (Vgl die Christelike ryksopset p 10v.) Die kerke moes in die 16de eeu eenvoudig die staatskerkopset aanvaar.

Die Dordtse Kerkorde van 1619 hou in artikel 5 daarmee rekening dat dorpsowerhede hulle predikante kon verplaas (Pont 1981:177). Die kerke het vrugteloos probeer dat die owerhede deur die Kerkorde te erken aan hulle meer seggenskap in hulle eie sake sou verleen. Die toegewings aan die owerheid by beroeping, die bepaling dat die magistraat sowel as die klassis ’n beroep eers moes goedkeur en toegewing dat predikante vir beroepe mag aansoek doen, het niks gehelp nie. Die owerhede het die Kerkorde nooit gesanksioneer nie.

In Nederland het die owerheid hom eers teen die middel van die vorige eeu aan die kerke onttrek. Die huidige artikel 5 is toe in 1905 geformuleer. Advies van ’n konsulent word as alternatief vir die klassis gestel wanneer kerke met slegs een predikant moes beroep. Die wyse van beroep geskied volgens plaaslike reëlings en sinodale bepalings, terwyl die gebruik van die Formulier by die Bevestiging uitdruklik voorgeskrywe is. Die “reg” om vir diens aansoek te doen, het verval. Sinode van Middelburg 1904 het vir “klassikale deputate” voorsiening gemaak wat in 1964 in die Kerkorde opgeneem word.

Gedurende die 17de eeu kon ’n teologiese kandidaat verkies (beroep) word en eers daarna kerklik geëksamineer word met die doel om vas te stel of hy toegelaat kan word. Daarna moes die approbasie van gemeente sowel as van die owerheid verkry word voordat hy bevestig kon word (Pont 1981:176). Die Nederlandse kerke het te Utrecht 1905 ’n bykomende voorbereidende (proponents-) eksamen en beroepbaarsteliing tussen die akademiese kandidaatseksamen en oorspronklike toelatingseksamen ingestel. Die GKSA het dit in 1916 sonder besinning net so in die Kerkorde oorgeneem, en tog nie so toegepas nie. Drie kerklike eksamens, te wete kandidaatseksamen,

|44|

proponentseksamen (preparatoire) en toelatingseksamen (peremptoire) lyk na oordrewe reglementering. Die redaksie voor 1905 is beter.

 

2. Die Kandidaateksamen

2.1 Selfstandige kerklike opleiding

Die Kerkorde hou rekening met kandidate wat gestudeer het (art 4) en wat nie gestudeer het nie (art 8 KO). Dit skryf tereg nie voor waar iemand moes gestudeer het nie. Nie die plek waar iemand gestudeer het nie, maar die geskiktheid van die kandidaat moet deurslag gee. Kandidate vir beroeping kan hulle vanuit nie-kerklike, semi-kerklike en suiwer-kerklike opleidingsentra vir diens aanmeld. Calvyn is aan ’n Roomse Universiteit opgelei. Nederlandse studente het in die 16de eeu te Genêve en in die buiteland gestudeer. Na die bevryding van Spanje het die staatsuniversiteit van Leyden opleiding in teologie verskaf. Predikante in Nederland tot 1834 en in Suid-Afrika tot 1859 het hulle opleiding feitlik uitsluitlik aan staatsuniversiteite ontvang.

Die Afskeiding van 1834 in Nederland het plaasgevind uit reaksie teen die vrysinnige teologie wat deur staatsuniversiteite aan predikante oorgedra is. Om die erfenis van die Reformasie suiwer te bewaar het hulle (as ’t ware soos Rome!) weer die beginsel gestel dat kerkdienaars predikante onder kerklike sorg moes oplei. So het feitlik as ’n stukkie vertraagde reformasie ’n eie, onafhanklike en selfstandige kerklike opleiding die lig gesien. Aanvanklik is kandidate soos vakleerlinge by bepaalde predikante opgelei en daarna kerklik geëksamineer en beroepbaar gestel. Later is professore vir die opleiding onder direkte beheer van die kerke beroep.

 

2.2 Die kandidaatsertifikaat

Die kerke behartig die toesig oor die opleiding deur middel van ’n kuratorium wat ’n kandidaatsertifikaat aan suksesvolle studente uitreik. Daarin erken die kuratorium die “teologies-wetenskaplike” bekwaamheid en “regsinnigheid” van die kandidaat (Sinode 1967:48), ongeag die vraag of hy ook ’n universiteitsgraad vir dieselfde opleiding ontvang. Elke kandidaat moet hierdie kandidaatsertifikaat voorlê in die kerklike vergadering waar hy volgens artikel 4 geëksamineer moet word.

Die vraag is of die kerke self in ’n kuratorium die eksamen afneem en ’n kandidaatseertifikaat uitreik en of dit deur ’n buite-kerklike instansie (soos ’n universiteit) gedoen was. Indien die kerke uit die provinsiale sinodes die kuratorium soos ’n sinode konstitueer, maak die proponentseksamen net na die kandidaatseksamen nie sin nie. Die kandidaatsertifikaat van die kuratorium kan as kerklike beroepbaarstelling erken word. Dit verskil wesenlik van ’n sekulêre akademiese kwalifikasie (bv ’n universiteitsgraad) wat liberale opvattings sou verlang asof die beroep van predikant soos ’n sekulêre professie universitêre skoling vereis. Omdat die werklike toelating tot die diens eers na verkiesing, beroeping, toelatingseksamen en approbasie plaasvind, behoort die kandidaatseksamen van die kuratorium vir beroepbaarstelling te geld. Die kerke

|45|

kan bepaal dat so ’n proponent wat na ’n bepaalde tydperk nie beroep is nie by ’n partikuliere sinode moet verskyn vir ’n ondersoek om te oordeel of die beroepbaarstelling en preekverlof verleng of ingetrek moet word.

 

2.3 Kandidate wat elders gestudeer het

Kandidate vir die diens van die Woord mag hulle aanmeld met ’n sertifikaat wat hulle in die buiteland verwerf het. In Nederland en die VSA word teologiese seminaries dikwels as selfstandige en selfs interkerklike opleidingsentra, onder ’n eie raad van beheer bedryf. Kerke hou nie daar so direk toesig oor die opleiding deur middel van kuratore soos by ons die geval is nie.

Elke aansoek moet deeglik op eie meriete behandel word (kyk art 85). Onderskeid mag nodig wees tussen ’n kandidaat wat iewers studeer het en iemand wat reeds ’n proponent by “erkende kerke” (1904: art 125) is. ’n Proponent kan slegs proponeer binne die ressort en jurisdiksie van die bepaalde kerklike gemeenskap wat hom toegelaat het. Om te proponeer is ’n voorreg, geen kerklike diens nie.

Die Sinode van Middelburg 1904 (art 125) het bepaal dat proponente (wat wel kerklik geëksamineer was) uit buitelandse kerke met wie enger korrespondensie (kerkverband, art 52 KO) onderhou word, nie weer geëksamineer sal word nie. Die kuratore moet slegs met so ’n kandidaat ’n indringende en broederlike onderhoud (colloquim doctum) voer omdat hulle in 1904 beroepbaar gestel het. Dergelike kandidate moet hulle vandag dus ook wend na die instansie wat beroepbaar stel. Suiwer kerkregtelik beoordeel behoort ’n klassis en nie kuratore nie te handel met ’n kandidaat wat elders studeer het.

Vandag stel die Kuratore nie meer iemand in die GKSA beroepbaar nie. ’n Proponent of kandidaat uit die buiteland moet dus, volgens artikel 4 KO, of by die klassis waar hy bekend is of volgens huidige reëling, by ’n Part Sinode om toelating aanklop en daar sy sertifikaat ten opsigte van opleiding en kerklike getuienis uit die buiteland voorlê. Indien hy reeds ’n tyd lank in kerke binne Suid-Afrika verkeer het, sal hulle getuienis (attestasie) ook onontbeerlik wees.

Gereformeerdes pas soms bloot formeel akademiese maatstawwe toe op kandidate of proponente uit “erkende” kerke in die buiteland (vgl Van der Linde 1983:20). Die Part Sinode Oos-Transvaal het in 1972 in stryd met Sinode 1904 artikel 125 geweier om ’n proponent uit ’n “erkende” (Skotse) kerkgemeenskap vir eksamen onder artikel 4 toe te laat, omdat sy voorbereidende (nie teologiese nie!) studie nie in alle opsigte (bv tov Filosofie en Latyn) met die formele vereistes wat vir eie studente geld geklop het nie. So ’n proponent is gevolglik nie vanweë gebrekkige teologiese kennis of onregsinnigheid geweier nie, maar om onder middelmatige vereistes. Die Sinode Potchefstroom 1973 (Acta: 221-236) het die gronde van ’n appêl nie behoorlik beantwoord nie (vgl Ibid, minderheidsrapport; artt 30,46,84,85 KO en GKSA 1904 art 125). Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika behoort nie hulle besondere manier van doen en nie-teologiese opleidingsvereistes as norme te laat geld vir die opleiding in buitelandse gereformeerde kerke nie, omdat op hierdie wyse ’n bekwame en geroepe dienaar wat regsinnig is; om blote formele redes toelating tot die diens

|46|

geweier sou word. Die handeling van Sinode 1973 eerbiedig ook nie kerklike “korrespondensie” nie (art 52).

Kandidate uit kerkgemeenskappe met wie nie enger korrespondensie onderhou word nie, kan ook volgens artikel 4 by die korresponderende kerkraad van ’n klassis of ’n partikuliere sinode aansoek doen om met die oog op beroepbaarstelling geëksamineer te word. Elke aansoek moet op eie meriete behandel word. Daar moet vooraf geoordeel word of die opleiding in essensiële aspekte genoegsaam en regsinnig was. In die lig daarvan en persoonlike ondersoek (colloquim doctum) kan korrektiewe of aanvullende opleiding voorgeskryf word. Die ondersoek moet gaan oor die kandidaat se leer en lewe sowel as die redes waarom hy juis vir diens in die Gereformeerde Kerke aanmeld en of die kandidaat reeds in dié kerke ’n goeie getuienis verwerf het, ensovoorts. Die kerke kan na analogie van artikel 9 ’n “proeftyd” of aanvullende opleiding voorskryf. Die opleiding kan goedskiks by ’n paar predikante in die klassis plaasvind. Die Kerkorde skryf nie optrede buite eie kerkverband voor nie. Elke vergadering moet dus sy eie modus operandi vir elke buitengewone geval vaststel.

 

2.4 Kerkorde en kerklike eksamens in die GKSA

Die Nasionale Sinode van 1866 het die eerste kandidate wat volgens artikel 8 KO na vore getree het en deels by predikante touwys gemaak is, selfs in nie-teologiese vakke geëksamineer. Twee van vier kandidate is beroepbaar gestel en tot die diens toegelaat. Die toelatingseksamen (peremptoire) is net geïgnoreer. Die proponente moes met ’n eed teen “simonie” (Hd 3:18-23) sweer dat hulle nie met die oog op geld sal dien nie. Tegelykertyd het die Sinode ’n “Sinodale Kommissie” met verteenwoordigers uit elke “staat” benoem om toekomstige eie kandidate sowel as predikante en proponente uit ander “kerkgenootskappe” te ondersoek en toe te laat (1866:9-13,17). Die Kommissie is klaarblyklik volgens artikel 50 van die Dordtse KO as synodus contracta bedoel.

Die Sinode van 1869 behartig weer self die eksamen (1869:10-13) en maak vir teologiese opleiding op Burgersdorp in samewerking met die kerkraad voorsiening. ’n “Collegie” van kuratore, saamgestel uit twee predikante of ouderlinge wat deur elke Algernene Vergadering deputeer word, sou voortaan die opleiding bepaal en beheer en net “één beslissende” eksamen afneem. Die “collegie” kon selfs iemand wat nie aan ’n “Kweekskool” studeer het nie, maar oor goeie attestasies van 'n gereformeerde kerkraad en Algemene Vergadering beskik, ondersoek en beroepbaar stel (1869:21-22). Die Raad van Kuratore tree hier duideliker as ’n kleiner Sinode (synodus contracta) volgens art 50 van die DKO na vore met ’n opdrag wat slegs by kerklike vergaderings volgens artikels 4,8,9 tuishoort. Tegelykertyd vorm die kandidaatseksamen ook toelatingseksamen (toe voor 1905 nog geen proponentseksamen was nie).

Die GKSA sluit volledig aan by die Reformasie van 1834 in Nederland en breek met die ou Nederlandse staatskerkpraktyk met sy opleiding aan staatsuniversiteite.

Die GKSA net die hersiene Kerkorde van Nederland 1905 te Steynsburg in 1916 aanvaar en artikel 4 in praktyk geïgnoreer. Die Kuratorium het nog die

|47|

kandidaatseksamen en beroepbaarstelling behartig. Die toelatingseksamen is afgeneem deur die Algemene Vergadering (later partikuliere sinode) uit wie se ressort ’n proponent afkomstig was, terwijl die vergadering in wie se ressort hy ’n beroep aanvaar het, dit eintlik moes doen. Poponente is dus toegelaat ongeag die vraag of ’n beroep ontvang was of nie. Die kerk waarvandaan die proponent kom, laat hom tot die diens toe terwyl dié kerk waar hy in diens tree, niks te sê mag hê nie. Die GKSA het verkeerdelik in praktyk die toelatingseksamen met beroepbaarstelling vervang asof ’n proponent in ’n genootskap toegelaat word.

Die Sinode van Utrecht 1905 in Nederland het met die ekstra voorbereidende eksamen probeer reglementeer na aanleiding van die stryd oor die proponentsformulier in die Ned Herv Kerk. Só ’n eksamen kan slegs sinvol wees wanneer iemand aan ’n staatsuniversiteit of buite eie kerkverband opgelei is (GKSA 1967:52 pt 5).

Die bepaling dat die “Teologiese Skool” moet vasstel of ’n kandiaaat van buite ’n kandidaatsertitikaat mag ontvang, wys hoeveel van “papiere” gemaak word en is prakties onuitvoerbaar. Iemand ontvang ’n sertiflkaat van wie hom opgelei het. 'n Teologiese Skool kan nie ’n sertifikaat uitreik op sterkte van ander se opleiding nie. Toelating moet nie op grond van akademiese, maar van kerklike evaluering in die klassis saam met deputate van die Part Sinode geskied en op bekwaamheid, regsinnigheid, Skrifkennis en wat met die bediening saamgaan, nadruk lê. Daar is goeie riglyne vir die kerklike eksamens neergelê (GKSA 1964:74-79; 1967:49-51).

Sinodes het van 1955 tot 1964 verkeerdelik aangeneem dat die Kuratorium in terme van artikel 49 deputate van ’n Nasionale Sinode en daarom nie ’n kerklike “liggaam” in eie reg was nie Gevolglik is geredeneer dat die Kuratore nie ’n kerklike eksamen kan afneem of beroepbaar stel nie. In 1964 is artikel 4 toe letterlik in werking gestel (GKSA 1964;74-79). Kandidate het toe vir ’n kort periode kandidaatseksamen by die Kuratorium, onmiddellik daarna voorbereidende of proponentseksamen in die klassis waarvandaan hulle kom en daarna toelatingseksamen in die klassis waar hulle ’n beroep aanvaar het, afgelê. Laasgenoemde twee eksamens het in vorm en inhoud grotendeels oorvleuel.

Die Sinode van 1970 (127-128) het toe, sogenaamd omdat sommige klassisse nie deeglik kon eksamineer nie (Van der Linde 1983:19), net een eksamen aan die Part Sinodes uit wie se ressort studente hulle oorspronklik vir studie aangemeld het, opgedra. Die ondeurdagte navolging van artikel 4 soos Nederlandse kerke dit te Utrecht 1905 geformuleer het, het in die GKSA se praktyk net verwarring gestig. Hoewel tans na kandidaats- weer soos in die 16de eeu net een kerklike eksamen volg, het die aksent egter van die toelatingseksamen (DKO 1619) na die proponentseksamen (Utrecht 1905) verskuif. Die Kuratorium is ’n kerklike vergadering (vgl Sinodes 1982:60-67; 1985:534-543) wat na geslaagde kandidaatseksamen proponente beroepbaar kan stel. Die klassis van die kerk waarheen die proponent ’n beroep aanvaar; moet regtens die toelatingseksamen afneem, omdat die proponent daar in diens tree en daar verbind word. Sy toelating moet daar approbeer word (vgl art 30).

|48|

Die vraag kan in die lig van Sinode 1970 (127-281) gevra word of net ’n Part Sinode tans die proponentseksamen mag afneem, en of ’n klassis dit ook nog mag doen. Geen Algemene Sinode het nog die Kerkorde artikel 4 verander nie. Die besluit van 1970 maak dus net vir ’n alternatiewe metode vir kerke binne ’n bepaalde nasionale sinodale verband voorsiening. Die Kerkorde bly norm vir Sinodebesluite en nie omgekeerd nie (vgl artt 31,33,86 KO). Gevolglik geld die prosedure van artikel 4 KO ook nog so lank ’n Algemene Sinode dit nie gewysig het nie.

Dit maak prinsipieel geen verskil of die eksamen in een klassis of deur ’n paar klassisse in partikuliere sinode afgeneem word nie (Sinode 1970:127; Kruger et al 1966:56; Van der Linde 1983:19). Trouens proponentseksamen in ’n klassis saam met deputate van die Part Sinode is nodig vir aanvullende of buitetydse aansoeke.

Indien ’n klassis onverwags om eksamen genader word, moet die korresponderende kerkraad in oorleg met die roepende kerkraad vooraf reëlings tref en die deputate van die partikuliere sinode oproep. Dit sluit die benoeming van eksaminatore, reëling van proefpreke, ensovoorts in.

In die geval van kandidate wat te Hammanskraal opgelei is, moet artikel 4 uitgevoer word. Hulle kom nie uit die kerke wat die opleiding voorsien het nie (Sinode 1964:177). Hulle moet in die kerke waar hulle vandaan kom beroepbaar gestel word. Daardie kerke moet die bekwaamheid van kandidate, sowel as hulle leer en lewe eksamineer. Indien die kerke deur middel van hulle kuratore tydens die kandidaatseksamen die beroepbaarstelling moet behartig, sou dié kerke liewer daarna soos voor 1905 met ’n indringende toelatingseksamen kon volstaan.

 

3. Proponents- of Voorbereidende-eksamen in klassis met deputate van die Part Sinode volgens artikel 4 KO

3.1 Eksamen in die klassis van die kerk waarvandaan die kandidaat kom 

Kerklike eksamen (examinatio) beteken ’n ondersoek, ’n toets om seker te maak of om iets vas te stel. Dit gaan nie om ’n persentasie punte of minimum standaard te behaal nie. Die Dordtse Kerkorde van 1619 het die toelatingseksamen aan die klassis saam met deputate van die Part Sinode opgedra. Die kerk wat die proponent beroep het, is deel van die klassis wat die eksamen afneem. Soos reeds genoem, het Nederlandse kerke ’n proponents- (preparatoire) eksamen in 1905 (in SA 1916) ingestel en die kerk en klassis waarvandaan kandidaat oorspronklik gekom het, betrek. In Nederland was die deputate van die partikuliere sinode nie hierby nodig nie. Die GKSA het egter in 1967 sonder motivering die deputate van die Part Sinode bygevoeg (1967:52 pt 6b). Skynbaar moes die beroepbaarstelling uit struktuurdwang dieselfde patroon as die toelatingseksamen aanneem. Dit het die toelatingseksamen verdring en die beroepbaarstelling van die persoon geniet tans meer aandag as die toelating tot diens in die kerk van die Here.

|49|

3.2 Deputate van die partikuliere sinode

Die beginsel en praktyk van kerklike deputate (vgl art 49) het ontstaan toe die Dordtse Sinode in 1619 deputate van die partikuliere sinodes benoem het om na die stryd met die Remonstrante klassisse by die toelatingseksamen behulpsaam te wees (Pont 1981 :176). Hulle advies moes help om regsinnigheid indringend vas te stel. Die klassis moet egter besluit (Bos 1950:29). Indien die deputate (of iemand anders) nie by die besluit van die klassis kan berus nie, moet hulle na die partikuliere sinode appelleer {art 31; Bos 1950:28).

Die deputate van die partikuliere sinode kan en mag volgens die beginsels van Kerkorde (vgl artt 4,30 en 49) nooit as verteenwoordigers van of plaasvervangers beskou word wat namens 'n partikuliere sinode optree nie. Deputate is en bly persone en gee hulle advies in persoonlike hoedanigheid, waarna die klassis besluit. By die kollegialisme behartig “kommissies” die toelating of legitimasie van predikante. Deputate van die partikuliere sinode mag nie hierin ontaard nie.

 

3.3 Die aard en inhoud van ’n proponentseksamen

Die proponentseksamen moet nie akademies of wetenskaplik-teologies soos die kandidaatseksamen gerig wees nie (GKSA 1967:48-52). Die eksamen moet gaan oor die integriteit en bekwaamheid van die kandidaat vir die diens van die Woord. Gevolglik gaan die ondersoek eerstens oor die innerlike roeping deur middel van ’n goedbeplande vertroulike gesprek en ondersoek van betroubare getuienisse waarvoor die kerkraad(e) verantwoordelik is. Die kandidaat moet sorg dat die kerk waar hy woon getuienis oor sy gawes, leer en lewe aan die vergadering voorlê. Die vergadering kan enige ander ter sake getuienis, selfs mediese verslae, elders opvra en oorweeg.

Vervolgens moet die kandidaat se regsinnigheid aan die hand van die Belydenisskrifte sowel as sy bekwaamheid om die leer uit te dra, getoets word. Dit vereis rekenskap van sy preekvermoë, waarby kennis van homiletiek, liturgiek, kategese, Skrif en dogma te pas kom. Verder moet seker gemaak word dat hy soos 'n herder kan optree en die kerk regeer (GKSA 1967:49v). Dit moet vasstaan dat die kandidaat prediker en herder kan wees. Vir ’n deeglike ondersoek wat verantwoordelik met biddende erns afgeneem word, moet voldoende tyd ingeruim word. Na suksesvolle eksamen moet die proponent die formulier onderteken in die vergadering wat beroepbaar stel (vgl artt 53,54).

 

3.4 Goeie kerklike getuienis

Die oorspronklike Kerkordes het die kerklike getuienis oor leer en lewe ook vir die eksamen met die oog op toelating tot die diens (peremptoire) nodig geag. Slegs kerkrade kan daardie kerklike getuienis gee wat meer as ’n attestasie (art 82) inhou, omdat dit moet handel oor die vereistes wat vir die diens van die Woord nodig is. Dit moet die opbou van die kerk op die nog hê. Die kerkrade moet seker maak dat dienaars van die Woord en nie “verkoopsmanne” (2 Kor 2: 17) nie, toegelaat word. Hierdie getuienis word tans by die

|50|

beroepbaarstelling beoordeel, terwyl dit kerkregtelik by die kerk (en klassis) waar diens aanvaar word, tuishoort soos dit gebeur met die akte van losmaking wanneer ’n predikant in ’n nuwe kerk bevestig word.

 

3.5 Verval beroepbaarstelling na ’n tyd?

Die huidige enkele eksamen vir beroepbaarstelling geskied tegelyk met die oog op toelating tot die diens. Militêre diensplig, wag op ’n beroep, siekte, ensovoorts, kan veroorsaak dat ’n proponent nie beroep word nie. Slegs ’n kandidaat wat ’n beroep begeer en in staat is om dadelik ’n wettige beroep te aanvaar, moet geëksamineer word (1970:128). Dit is sinloos om iemand beroepbaar te stel wat nie tot die diens kan toetree nie. Omdat die huidige proponentseksamen ook toelating tot die diens impliseer selfs sonder dat ’n beroep aanvaar is, kan dit nie onbepaald geldig bly nie

Indien die kuratore normaalweg beroepbaarstel, kan die beroepbaarstelling volgens die huidige artikel 4 KO net gebruik word vir gevalle waar die kuratore nie beroepbaar gestel het nie of waar die kuratore se vergunning van beroepbaarstelling verstryk het. Die vergunning van beroepbaarheid behoort jaarliks oorweeg te word wanneer ’n proponent nie beroep word of ’n beroep aanvaar nie. Talle partikuliere sinodes binne die GKSA het ook bepaal dat, wanneer ’n proponent na ’n vasgestelde tyd nog nie ’n beroep aanvaar het en bevestig is nie, hy voor bevestiging die toelatingseksamen (peremptoire) volgens artikel 4 moet doen (kyk GKSA 1979:367v, 387-398, 529v).

 

3.6 Aansoek om beroepbaarstelling

Aansoeke met die oog op beroepbaarstelling moet aan die betrokke korresponderende kerkraad (art 45) van die betrokke klassis of partikuliere sinode gerig word en van die kandidaatsertifikaat en kerklike getuienis vergesel wees (GKSA 1967:49-51; 1970:127-128). ’n Aansoek om 'n toelatingseksamen af te lê nadat ’n beroep aanvaar is, moet van die sertifikaat van die proponentseksamen vergesel wees. Indien ’n proponent lank proponeer het, moet hy resente kerklike getuienis van soveel as moontlik kerke waar hy redelik bekend geraak het, voorlê. Die aansoek om te proponeer vra om ’n vergunning en maak nie op enige reg aanspraak nie.

 

3.7 Behoefte aan hersiening?

Die kerklike beroepbaarstelling in die huidige artikel 4 maak egter wel sin wanneer iemand oor ’n kandidaatsertifikaat beskik en eers later beroepbaar gestel moet word. Die Sinode van 1964 het egter die deputate van die partikuliere sinode onnodig daarvoor by artikel 4 gevoeg. Die swaartepunt van kerklike eksamen moet berus by die kerk en klassis waar die proponent diens aanvaar (peremptoire). Die ondersoek of eksamen (examinatio) pas by die toelating tot ’n heilige diens (Hd 20:28v) en is aan die roeping (vocatio)

|51|

verbonde (art 3). Met die oog daarop het die kerke in die 17de eeu deputate van die sinode by hierdie toelatingseksamen bygevoeg.

 

4. Die beroep

4.1 Na advies van die klassis of van die konsulent

Waar meer as een predikant in ’n kerk dien, lei een van hulle die ouderlinge en diakens in die verkiesing. Daar is geen advies van die klassis of ’n konsulent voor nodig nie (artt 4,5).

Die Kerkordes van die 16de eeu het slegs van “advies van die klassis” gepraat totdat die Sinode van Utrecht 1905 die konsulent bygevoeg het Die klassis wys ’n konsulent aan om as voorsitter die ouderlinge en diakens in ’n vakante kerk te lei. Hy moet ’n bedienaar van die Woord wees (art 35). Indien die predikant of konsulent ’n kerk adviseer om nie te beroep nie, moet die beroep uitgestel word totdat advies van die klassis ingewin is (art 41 ).

 

4.2 Wie is verkiesbaar?

Binne algemene sinodale verband is in enige kerk alle diensdoende en geëmeriteerde (art 13) predikante en professore (art 18), sowel as proponente beroepbaar. Verder kan predikante en professore uit ander Gereformeerde Kerke met wie korrespondensie (kerklike eenheid) onderhou word (art 52), beroep word. In so ’n geval behoort nogtans ’n broederlike onderhoud tussen alle partye voor die bevestiging plaas te vind (Bos 1950:34). Dit is baie wenslik dat predikante of proponente uit wie beroep word by die gemeente bekend sal wees, anders is “verkiesing” nie moontlik nie.

Iemand mag vra of ’n predikant uit ’n kerk met wie nie enger korrespondensie onderhou word nie (art 52) na ’n Gereformeerde kerk beroep sou kon word. Vanuit twee verskillende uitgangspunte kan twee verskillende antwoorde gegee word. Wie formeel van “kerkverband” as struktuur uitgaan, of kerkreg uit die Kerkorde aflei moet artikel 5 limitatief vertolk. Predikante is dan feitlik amptenare wat tot kerke in kerkverband beperk is en nie daarbuite mag optree nie.

Die Kerkorde reël egter nie optrede buite kerkverband nie. Wanneer ’n plaaslike kerk met ’n diensdoende predikant buite formele kerkverband onderhandel soos die Sinode 1866 voorsien het, moet die kerk dit op meriete behartig. Gevolglik maak artikel 9 vir dergelike situasies voorsiening. So ’n weg moet egter met groot versigtigheid en verantwoordelikheid bewandel word.

Dit is selfs moontlik dat ’n predikant uit byvoorbeeld die Gereformeerde Kerke van Nederland (Vrygemaak) beroep sou kon word. Die inisiatief kan van die predikant of van die kerkraad uitgegaan het. Die “verkiesing” van so ’n predikant sou nie op die gewone wyse kon plaasvind nie, maar die vrug van plaaslike onderhandelinge gewees het. Wanneer die kerk en kerkraad die betrokke predikant verkies het, sal daarna na analogie van artikels 4,5,8 en 9 kerklike approbasie in die klassis verkry moet word. Die klassis saam met deputate van die Part Sinode sal die motivering en aansoeker moet ondersoek en kan moontlik ’n “proeftyd” bepaal (art 9).

|52|

4.3 Die “verkiesing”

Die “verkiesing” moet in die lig van die besondere karkakter van die amp verstaan word. By beroep moet ’n kerk iemand wat Christus aan hulle gee (1 Kor 12: 28, Ef 4: 11; 1 Tm 3: 5) in diens van Christus stel sonder dat hulle hom in hulle diens neem. Gevolglik het die Kerkordes van die 16de eeu bepaal dat die verkiesing eers na ernstige gebede (en selfs met vaste indien iemand vir die eerste maal tot die diens toetree) sou plaasvind (Hd 14:23; Biesterveld, Kuyper 1905:96 art 3; Van der Linde 1983:20). God regeer. Daarom moet gebed voorafgaan. God moet self deur middel van die kerk roep (Hd 20: 28-30; 2 Pt 2: 2; eerste vraag in die Bevestigingsformulier). Die sogenaamde “verkiesing” is dus in wese slegs ’n nominasie waarop verdere ondersoek en bewilliging van die hele kerk volg om dit as ’n beroep te “bevestig”.

 

4.4 Wie beroep?

In beginsel beroep God self (art 3), maar Hy gebruik daarvoor die lot of mense. So maak artikels 4 en 5 voorsiening vir die “verkiesing deur die kerkraad en diakens” volgens plaaslike reëling as die eerste stap waarin die “beroep” uitgevoer word. Van der Linde meen dat artikel 4 gewysig behoort te word sodat die gemeente onder leiding van die kerkraad (skynbaar sonder diakens) sal verkies (1983:21). Die huidige bepaling is beter omdat dit meer as een vorm van verkiesing toelaat.

Die kerkraad en diakens kan alleen of saam met die gemeente (volgens die plaaslike reëling) iemand “verkies”. Daarna gaan die keuring (approbasie) egter die kerk as geheel aan (1 Kor 12). Die kerkregtelike gronde pleit daarvoor dat die gemeente nie teenoor die ampsdraers (kerkraad en diakens) gestel moet word nie, allermins onmondig en onbekwaam geag moet word en nooit die gevoel moet kry dat hulle slegs pro forma by beroepe betrek word nie. Wanneer die beroep uitgebring word, neem die kerkraad (ouderlinge) saam met die diakens die offisiële verantwoordelikheid as verteenwoordigers van Christus en die kerk.

 

4.5 Die sogenaamde “kiesreg” van die gemeente

Wie prinsipieel “kiesreg” verdedig, mag die gemeente selfs nie op grond van “onkunde” (Van der Linde) uitsluit nie. Begrippe uit die sekulêre demokratiese tradisie soos “stemgeregtigde lede”, “manslidmate” (Kruger et al 1966:58) en “kiesreg” (Van der Linde 1983:21), kom nie in die Skrif voor nie. Dit kom te pas wanneer die kerk as ’n vereniging (blote instituut) beskou word. Waar “kiesreg” vir vroue bepleit word, word met reëlmatige frekwensie na ’n kiesreg “in die kerk” verwys (GKSA 1985:325-331). Die instituut, vereniging of “kerk” vorm die uitgangspunt en norm wat geen “diskriminasie” tussen “lidmate” toelaat nie. Die wyse waarop in kerklike “verkiesings” van “stembriefies” en “stemgeregtigde belydende manslidmate wat nie onder sensuur is nie” gepraat word, versterk die indruk dat kerklike “verkiesing” met ’n sekulêre eleksie ooreenkom.

|53|

Mense beskou die rol van man en vrou in die 20ste eeu anders as wat in die Bybel en vroeër die geval was. Die moderne individualisme en seksisme het geen begrip vir mense in gemeenskap (1 Kor 12), man en vrou as ’n twee-eenheid (Ef 5: 23) en funksionele differensiasie binne dieselfde liggaam (1 Kor 12; 14: 33-35) waardeur een in ’n ander en vir ’n ander ’n roeping vervul nie. Moderne mense beskou derhalwe die “verkiesing” deur mans as diskriminasie teen die vrou. So word “menseregte” op grond van uitgediende kultuurbeskouings verkrag. Wanneer sommige hulle nog meerderwaardig op die “hoofskap” van die man beroep, is die vet in die vuur. ’n Mens hoor soms skerp, neerhalende, smalende kritiek van byvoorbeeld sogenaamde “ontwikkelde vroue” wat hulleself vergelyk met en verhef teen “snuiters” wat wel mag “stem”.

Hierdie argumente verraai hoe min die kerk in terme van 1 Kor 12 as liggaam in Christus beleef word. In die kerk as lewende organisme vervul sommige mans tog ook ten behoewe van ander mans (en daarom ook tov vroue) sekere dienste. Om van “kiesreg” vir ’n “lidmaat” te praat, skreeu egter teen die wese van die kerk van die Here. In die kerk het gelowiges onderskeie roepinge en verantwoordelikhede en nie enerse “regte” nie (1 Kor 12; vgl Spoelstra 1985:45-48).

Die Kerkorde bepaal dat die nominasie of “verkiesing” volgens plaaslike gebruik tot die meeste stigting moet dien. Dit moet selfs nie die swakker broeder en suster laat struikel nie. Die monargale (koningkryks-) karakter van die kerkregering sluit “kiesreg” prinsipieel uit. ’n Volk het nie kiesreg in ’n monargie nie. Die kerk is eenvoudig nie ’n demokratiese vereniging nie. Juis vanweë die wese van die kerk (1 Kor 12) wys die Here op unieke en selfs veelvormige wyses mense vir sy diens aan.

Sommige stel weer kerkraad en gemeente teenoor mekaar asof die gemeente net mag “adviseer”, terwyl die kerkraad “beroep”. Die eenheid in die liggaam van Christus plaas nie kerkraad en gemeente soos bestuur en vereniging teenoor mekaar nie, maar onderskei slegs tussen die Hoof Christus en die gemeente wat in die verhouding tussen man en vrou binne huwelikseenheid weerspieël word (Ef 5: 29-32; vgl NGB 31; Bevestigingsformuliere).

 

4.6 Prosedure by verkiesing behoort hersien te word

Elke kerkraad stel saam met die diakens sy eie prosedure vir die nominasie of “verkiesing” van predikante, ouderlinge en diakens vas. Predikante word nie noodwendig op dieselfde wyse as ouderlinge en diakens beroep nie. Die besondere plek wat die diens van die Woord ten opsigte van die gemeente beklee (Calvyn Inst IV.1.x) en die feit dat te beroepe predikante anders as ouderlinge en diakens in die gemeente betreklik onbekend mag wees, regverdig vir die beroep van ’n predikant ’n eie prosedure. ’n Beroep kan slegs sinvol geskied wanneer die predikante aan die gemeente bekend of enigsins voorgestel is. Die kerkraad behoort te sorg dat die gemeente van tyd tot tyd ook ander predikante deur middel van ruildienste leer ken.

|54|

In Nederland stuur sommige kerke ’n “hoor-kommissie” wat hulle gaan vergewis van verskillende predikante se persoon, gawes en dienswerk, hom selfs “pols” en dan verslag doen waarna ’n groslys saamgestel word. Die gebruik om voor ’n beroep ’n predikant te “pols” moet ten alle koste bestry word. Dit maak van ’n beroep na gebede ’n klug, is sonde teen die derde gebod en open die weg vir beroepjagtery, vlug van eie roeping of probleme, ensovoorts. Tog kan ’n stil, verantwoordelike besinning, selfs deur middel van ’n hoor-kommissie, nie sonder meer afgekeur word nie. Indien die opdrag aan ’n hoor-kommissie goed omskryf word en ewewigtige betroubare broeders daarop dien, sou die kerkraad hulle bevindinge oor ’n paar verskillende predikante objektief aan die gemeente kon voordra, waarna die gemeente kon “verkies” wie beroep moet word.

Die verb!ntenls tussen ’n predikant en gemeente moet uit beginsel as lewenslank aanvaar word. Beroepe moet daarom met die grootste verantwoordelikheid, nooit lukraak nie en allermins op grond van gerugte dat ’n predikant wil verhuis, deurgevoer word. ’n Predikant wat dergelike gerugte versprei, is reeds onverantwoordelik teenoor die roeping waarin hy staan.

In die Gereformeerde Kerke was predikante vroeër landswyd bekend, sodat talle kerke vrye verkiesings gehou het. Tans lê die Kerkraad en diakens gewoonlik die name van net twee predikante (in ’n enkele geval moontlik ’n drietal) aan die gemeente voor om een te verkies. In baie gevalle ken die gemeente nie eers een van dié predikante nie. Selfs wanneer “name” vooraf van die gemeente ingewin was, hou die kerkraad en diakens hulle nie juis by die name uit die gemeente nie en dikwels haal ’n naam op ’n gerug in die kerkraad onverwags die tweetal.

Hierdie optrede degradeer die gemeente, open die weg vir manipulasie van die verkiesingsprosedure, en menslike foute waarvoor die verantwoordelikheid na ’n gebed op die Here geplaas word.

Talle van die probleme en selfs die twyfelagtige aandrang om universele (vroue) “kiesreg”, kan uitgeskakel word wanneer die kerkraad en diakens vooraf die vereistes vir die betrokke diens aan die gemeente uitspel en die gemeente (manne en vroue, vgl 1 Kor 14: 35) versoek om gemotiveerde voorstelle met die oog op die beroep in te dien. Indien die kerkraad die gemeente by die nominasie betrek, behoort die kerkraad en diakens die finale nominasie uit die gemeentevoorstelle vir die finale verkiesing voor te lê. Indien die eerste nominasies oorweldigend op ’n bepaalde leraar dui, kan die kerkraad en diakens sy naam slegs vir goedkeuring aan die gemeente voordra. Die nadele aan groter inspraak vir die gemeente, onder andere dat “georganiseer” mag word, kan deur toesig en afkondigings ontmoedig word. Dit is in elk geval minder moontlik as dat ’n lukraak tweetal in die kerkraad gestel sal word.

 

4.7 Die wyse van verkiesing

Die verkiesing van persone geskied met stembriefie en nadat ’n volstrekte meerderheid behaal is (GKSA 1873:art 173). By staking van stemme moet die naam van die Here dadelik aangeroep en die lot gewerp word. Wanneer stemme staak oor die vraag of iemand die proponentseksamen (of toelatingseksamen)

|55|

slaag, word hy nie tot die diens toegelaat nie (GKSA 1873:art 173,35). Die voorsitter in ’n kerklike vergadering het geen beslissende stem nie (GKSA 1910:art 176).

’n Volstrekte meerderheid vereis dat een kandidaat minstens een stem meer op hom verenig as die helfte van die totale aantal stemme op al die kandidate saam uitgebring is. Om uit te stern moet trap vir trap tussen diegene gestem word wat met behulp van die stemme van kandidate wat weggelaat word nog die meeste stemme op hul sou kon verenig het. Byvoorbeeld: A kry 15, B 12, C 9, D 8, E 3, F 3 en G 2 stemme. D kan nie A met die stemme van alleen F en G oortref nie, terwyl hy met die stemme van E, F en G meer as A, B en C kan behaal. Daar sal dus eers tussen A, B, C en D gestem moet word. Sodra een 27 stemme of meer behaal, het hy 'n volstrekte meerderheid op hom verenig. Soms moet voordat die finale stemming plaasvind, eers tussen die tweede en derde hoogste totale uitgestem word om te bepaal wie teen die hoogste stemtotaal gestel moet word. Die beginsel is solank geen kandidaat die helfte plus een of meer stemme behaal het nie is daar nog nie ’n besliste meerderheid verkry nie.

By staking van stemme in ’n finale rondte kan een keer herstem word, maar as daar dan nie ’n beslissing kom nie, moet die lot gewerp word. 

 

4.8 Die goedkeuring van die beroep deur die gemeente

Na die “verkiesing” of nominasie dra die gemeente (elke man, vrou en kind) as gelowiges in die liggaam van Christus die verantwoordelikheid om die verkiesing goed of af te keur. Afkeuring moet gemotiveer word. Volgens die Bevestigingsformulier behaal die approbasie (en nie die “verkiesing” nie) die uiteindelike beroep. Hierdie prosedure verskil prinsipieel van demokratiese “kiesreg” waarin die wense van die meerderheid eerbiedig moet word. Een enkele persoon (bv ’n jong dogter) kan ter wille van die koninkryk van God getuienis voorlê (’n stem uitbring) by die kerkraad wat die hele beroep vernietig. Dit is nie nodig om hier eers die weg van Mt 18 en 1 Tm 5: 17 te volg soos by besware teen ’n dienende ampsdraer nie. By approbasie dra die kerk as liggaam (1 Kor 12) sorg dat ’n ware dienaar van Christus tot die diens van die Woord toegelaat word.

Die classis contracta (kerkraad saam met deputate van of twee naburige kerke) moet die gewig of “wettigheid” van elke “beswaar” teen ’n beroepe predikant beoordeel. Indien hulle die beswaar ligtelik afwys, het die beswaarde die reg en plig om die saak voor die klassis te lê (art 31). Volgens ’n ou kerkregtelike beginsel geld “geen beswaar” altyd as stilswyende goedkeuring (approbasie) van die beroep deur die gemeente (Biesterveld. Kuyper 1905:97 art IV).

Met die oog op die goedkeuring moet die naam van ’n geroepene vir minstens drie Sondae in die “kerk” (die gemeente in erediens) afgekondig word. Hierdie bepaling rus nie op ’n Skrifbeginsel nie en daarvan sou afgewyk kon word wanneer kerkbelange dit vorder en die gemeente wel (’n kort) geleentheid gehad het om die beroep te bewillig.

|56|

4.9 Die beroepsbrief

Tans stuur baie kerke dadelik na die “verkiesing” ’n beroepsbrief af, waarvan ’n konsep in die kerkordeboekie (GKSA 1979:97) afgedruk is. Daarvolgens “vertrou” die kerkraad dat die beroepene die beroep sal opvolg “nadat dit die nodige kerklike approbasie verkry het”. Sommige meen dat hierdie beroepsbrief eers na die kerklike approbasie afgestuur behoort te word (Kruger et al 1966:63) en die beroepene ondertussen slegs van die verkiesing of “benoeming” kennis behoort te kry (Biesterveld, Kuyper 1905:94).

Indien ’n kerkraad ’n beroepsbrief namens die hele gemeente reeds afstuur terwyl oor 14 dae heen nog in offisiële afkondigings bewilliging van die kerk gevra word, lyk dit nie asof so ’n kerkraad veel van die goedkeuring van die beroep deur die gemeente dink nie. Dit bemoeilik die moontlikheid om die bekwaamheid (gawes), regsinnigheid of lewenswandel van die beroepene te bevraagteken. Oorhaastige beroepe het al vir gemeentes en predikante baie pyn en skade berokken. Juis dié bewilliging van die Beroep, benadruk dat dit van die kerk van die Here kom (eerste vraag by bevestiging), terwyl onmiddellike afstuur van die beroepsbrief die gemeente en beroepene voor ’n voldonge feit stel.

 

5. Die toelatingseksamen (peremptoire)

Gedurende die 16de eeu het die kerkraad saam met diakens op advies van die klassis of alternatiewelik drie naburige predikante afgestudeerde kandidate “benoem” waarna die breë kerkraad die kandidaat eksamineer het. Die Beroep moes daarna deur die owerheid en gemeente oor ’n tydperk van 14 dae “bewillig” word. Indien iets teen die beroepene voorgebring word, moes die kerkraad met behulp van sommige uit die klassis (vgl naburige kerkrade) daaroor oordeel (Biesterveld, Knyper 1905:96 art IV). Hieruit blyk dat beroeping, ondersoek en bevestiging prinsipieel by die plaaslike kerk berus (art 30) en dat naburige kerke daarby slegs hulp verleen.

Die kerk wat beroep het en die kerke in klassis moet van elke predikant se beweegredes, roeping, akademiese en persoonlike bekwaamheid, regsinnigheid, houding oor bepaalde kerklike vraagstukke, Christelike lewe, etiese beginsels en selfs gesindheid ten opsigte van eienaardighede, politieke ligging en kulturele karakter van die betrokke gemeente of naburige kerke seker wees ter wille van die opbou van die kerke (GKSA 1964:74-79; 1967:48-51). Daarom behoort ’n indringende toelatingseksamen in die klassis van die kerk wat beroep het saam met deputate van die partikuliere sinode tuis. Die klassis moet hulle eie ondersoek beplan. Hierbo is herhaaldelik daarop gewys dat die jongste redaksie van artikel 4 beroepbaarstelling in plaas van toelating tot die diens van die Here op die voorgrond gestel het.

Tans tree ’n classis contracta by die toelating van ’n proponent (art 4) op soos by die bevestiging van ’n predikant (art 5). Indien daar enige vrae oor die leer of lewe van die proponent of die te bevestigde predikant bestaan, moet die classis contracta as bevoegde meerdere vergadering sonder om te huiwer

|57|

daarop ingaan. Slegs wie suiwer in die leer en onbesproke in die wandel en bekwaam vir die diens bevind is, mag tot diens toegelaat en daarin bevestig word.

Beroep (art 3) plaas egter die toelating tot diens van die Woord in ’n bepaalde kerk binne sy eie unieke situasie op die voorgrond. Daarom behoort die classis contracta ’n indringende vertroulike onderhoud te voer met die proponent wat daar tot die diens toetree. Dit mag selfs by die bevestiging van ’n predikant sinvol en tot opbou van die kerke wees.

Hoewel die werklike toelatingseksamen (art 4), grootliks in onbruik geraak het, maak die Kerkorde nog steeds daarvoor voorsiening. Enige klassis sou kon reël om saam met deputate van die partikuliere sinode ’n proponent se regsinnigheid of suiwerheid van wandel te ondersoek, veral as daar besware met die oog op sy bevestiging by die kerkraad na vore gekom het.

Die toelatingseksamen is altyd gerade wanneer ’n proponent vir ’n geruime tyd geproponeer het, in die buiteland gaan studeer het, aan vreemde invloede onderworpe was of deur ’n klassis volgens art 4 beroepbaar gestel is. Wanneer art 4 op voet af vir beroepbaarstelling gevolg word, moet dit ten opsigte van toelating tot die diens ook gebeur.

 

6. Bewilliging van bevestiging deur middel van ’n classis contracta

Die naburige kerke het kragtens kerkverband belang by wie as predikant in ’n naburige kerk bevestig word. Tog het die Kerkorde van 1619 die naburige kerke slegs by die toelatingseksamen en hulle predikante by die handoplegging tydens die bevestiging betrek. Tans betrek art 4 die naburige kerke by die bevestiging.

Die Suid-Afrikaanse situasie het die Sinode van Middelburg 1904 beweeg om ’n “kommissie van toesig vanweë die Algemene Vergadering” by die losmaking en bevestiging van predikante en proponente aan te wys. Die Kommissie is later “klassikale deputate” genoem wat saam met die kerkraad die kerklike getuienis kontroleer (GKSA 1964:68) en van die ordelike afloop van bevestiging (artt 4 en 5) en ontslag (art 10} aan die betrokke korresponderende kerkraad kennis gee. Die reiskoste moet deur die kerk wat beroep het, betaal word (GKSA 1904:40 art 132). Die “verkleinde klassis” (classis contracta) bestaan uit twee afgevaardigdes uit elk van twee naburige kerke en die kerk wat beroep het met die konsulent as voorsitter.

Van der Linde (1983:30v) sê tereg dat die benaming “klassikale deputate” uit die kollegialisme spruit. Dit strook nie met art 49 KO nie. Die klassis het nie die persone benoem nie. Die twee naburige kerke kom deur middel van deputate saam soos in ’n klassis. Die artikel behoort, soos dit vroeër was, na die klassis te verwys terwyl die taak (vgl Sinode 1904) deur ’n classis contracta (“kommissie”) uitgevoer word. Die beginsel dat naburige kerkrade deur middel van afgevaardigdes in ’n klassis ’n ander kerk in ’n gewigtige saak bystaan, word in ’n classis contracta slegs deur minder naburige kerke vervul omdat dit hier met die oog op ’n bepaalde en beperkte opdrag (artt 4,5,10) geskied. Die Sinode van 1904 kan hom vir ’n classis contracta op die kerkrade (art 79)

|58|

beroep. Die classis contracta moet die kerkraad en die kerk waar die predikant (of proponent) bevestig word, ondersteun.

Die kerke het in 1936 bepaal dat die leraar na sy bevestiging in teenwoordigheid van die classis contracta die klassikale ondertekeningsformulier van predikante moet onderteken (GKSA 1936:59). So vergewis die kerke in kerkverband hulle van die eenheid in leer wat die ruggraat van kerkverband vorm (vgl art 53 KO).

Dit is altyd beter om moeilikhede te voorkom as om te probeer genees. Die naburige kerke moet vasstel of die beroepsbrief met bylaes deur die predikant en kerkraad goed en eners verstaan word. Die classis contracta behoort ook met die proponent of predikant wat in die kerk en klassis nuut en vreemd inkom, ’n broederlike onderhoud en gesprek oor bedieningsbehoeftes en omstandighede te voer. ’n Proponent het immers nog geen praktiese ervaring nie en mag byvoorbeeld met ’n stedelike agtergrond, ’n plattelandse situasie nie begryp nie. Bepaalde besware, vrae of onsekerhede en beroepsprosedure mag die classis contracta verplig om ’n gedeë vertroulike samespreking (colloqium doctum) met die beroepene te voer voordat bevestiging bewillig word. Daarvoor moet genoegsame tyd ingeruim word. Tans kom die naburige kerke meesal slegs ’n paar minute voor die bevestiging saam asof dit ’n sinlose formaliteit is. Dit doen die erns in die kerk skade aan.

 

7. Openlike Bevestiging volgens die Formulier

Die Formulier beskryf die kerkregtelike gronde vir die diens van die Woord. Die Formulier moet gelees word sodat die beroepene met die gemeente as getuie sy diens kan aanvaar soos die Skrif dit bepaal (en nie soos mense of die “kerk” dit omskryf nie).

Die gemeente (kerk) bevestig dat hulle die dienaar nou as geroepene van die Here (art 3) erken en ontvang.

’n Predikant wat “kerklik beroep” is met “spesiale opdrag” of vir ander werk as wat die Bevestigingsformulier vir Bedienaars van die Woord uiteensit (GKSA KO 1979:97), is nie ’n predikant soos Christus gegee het nie en mag nie voor ’n gemeente bevestig word me. ’n Predikant word nie in diens van die kerk, nie maar in ’n bepaalde diens van God binne ’n kerk gestel.

 

8. Oplê van hande

Handoplegging is in die vroeë kerk toegepas waar ’n dienaar bevestig is. Tans gebeur dit slegs waar ’n proponent bevestig word. Die seremonie kan sinvol wees Wanneer die sin daarvan aan die gemeente oorgedra word.

Die 16de eeuse Kerkordes het bepaal dat die dienaar wat die Formulier lees sy hand op die hoof van die proponent wat bevestig word, moet lê terwyl ander dienaars wat teenwoordig is ook daaraan kan deelneem. In praktyk ontwikkel egter allerlei probleme. Wanneer ’n groot aantal dienaars, sommige moontlik uit ander kerkgemeenskappe, die hande oplê kom dit nie so stigtelik oor soos wanneer net ’n paar dit doen nie.

|59|

9. Ondertekeningsformulier

Nadat die proponent volgens die Formulier in ’n erediens bevestig is, moet hy daar in die openbaar die Formulier onderteken waarin hy sy instemming met die Drie Formuliere van Eenheid betuig, onderneem om hierdie leer voor te staan en hom tot bepaalde optrede verbind indien hy teen die leer besware sou ontwikkel (kyk art 53).

 

10. Losmaking en getuienis van die vorige kerk by predikante

Wanneer ’n diensdoende predikant ’n beroep elders wil opvolg, bepaal artt 5 en 10 dat hy daarvoor goedkeuring, toestemming en ordelike “losmaking” in ’n classis contracta by die kerk wat hy gedien het, moet verkry. Goeie kerklike getuienis en losmaking vervul by die bevestiging van ’n diensdoende predikant dieselfde funksie as geslaagde eksamens en goeie kerklike getuienis in die geval van ’n proponent. Die Kerkordes van 1619 en 1905 het die klassis (naburige kerke) by die beoordeling van die kerklike getuienis in die kerkraad betrek. Die Sinode van Middelburg 1904 het dit aan ’n classis contracta opgedra. Wanneer verskil van oordeel voorkom, sal die aangeleentheid na die klassis verwys moet word.

 

11. Die konsulent

’n Konsulent het in die GKSA vroeë ’n baie belangrike rol gespeel toe talle kerke klein en vakant was. Klein kerke het selfs konsulente beroep om in ’n vaste verhouding tot die kerk te staan. Gevolglik is konsulente vir Woord- en Sakramentsbediening, siekebesoek en selfs begrafnisse in vakante kerke verantwoordelik gehou.

Die konsulent is egter ’n predikant wat ’n klassis aanwys om as voorsitter van die kerkraad ’n vakante kerk te adviseer met betrekking tot die wenslikheid, moontlikheid en verantwoordelikheid om weer te beroep. Die konsulent het geen keurstem of beslissende stem in ’n kerkraad waarin hy presideer nie, maar is ook nie ’n deputaat (vgl art 49) van die klassis nie. Die klassis het hom slegs aangewys om sy funksie in die betrokke kerkraad te vervul. Hy is die verantwoordelike voorsitter gedurende die vakature en kan as voorsitter tot verantwoording geroep word. Gevolglik behoort geen kerkraad sonder verlof van die konsulent ’n ander voorsitter vir die kerkraad aan te wys nie.

Indien ’n vakante kerk geen konsulent het nie, moet die kerkraad by die klassis advies oor beroep al dan nie, vra. Die klassis sal dan minstens ’n konsulent aanwys. Nogtans bly beroep primêr ’n eiendomlike saak van die plaaslike kerk.

Die konsulent se advies sal eerstens op die kerkregtelike aspekte, tweedens op kerklike adviese en prosedures by beroepe, derdens op die finansiële vermoë en moontlik spesiale omstandighede van die kerk wat beroep, gerig wees. Hy durf egter nie by voorbaat besluit wie die beroep sal aanneem of bedank nie of ’n beroep op bepaalde voorwaardes vir ’n vriend probeer beding nie. Dit lê nie op sy weg om ’n kerk te beinvloed wie om te beroep nie. Wie dit doen tree oneties, ongevoelig, onbehoorllk en aanmatigend op. Hy kan eerder help reël dat soveel moontlik predikante in die vakante kerk bekend raak.

|60|

Indien die vakante kerk van ’n konsulent Woord- en Sakramentsbediening verlang, moet met die kerkraad van die konsulent onderhandel en die koste uitgeklaar word (GKSA 1952:297-301). Die vakante kerk het nie aanspraak op die dienste wat die kerk waar die konsulent dien, ontwrig of tot ekstra koste vir plaasvervangende dienste verplig nie.

Die Sinode van 1907 (36) het geoordeel dat ’n vergadering van ouderlinge en diakens sonder ’n predikant of konsulent as voorsitter in buitengewone gevalle gehou kan word wanneer die saak nie uitgestel kan word nie, oorleg met die konsulent (byvoorbeeld deur middel van telefoniese kommunikasie) gepleeg is en die handeling op die eersvolgende gewone vergadering gerapporteer word. Wanneer ’n predikant sonder voorwete van die konsulent as voorsitter in ’n vakante kerk optree, dring hy in die diens van die konsulent, in.

 

12. Kerke met meer predikante

Gedurende die Reformasie was in Europese stede en dorpe, byvoorbeeld in Genève, sestien en meer predikante. Die Kerkorde beskou dit as normaal dat in dieselfde kerk meer as een predikant (“biskop”) sal wees. In Suid-Afrika weer (behalwe vir Kaapstad) was daar tot diep in die 19de eeu gewoonlik in elke kerk net een predikant. Die GKSA het met die verstedeliking van die 20ste eeu so gou moontlik “afgestig” om aan elke nuwe “kerk” sy predikant te gee. Beroeping van ’n tweede predikant is selfs afgewys deur te sê dat meer as een predikant nie “klaar kom nie” en sonde so gekondoneer. Elke predikant moes skynbaar alleen biskop in ’n kerk wees.

Kuyper het daarvan uitgegaan dat elke “plek” (“burgerlike gemeente”) net een kerk (kerkraad) kan hê, al omvat dit duisende mense (1883:36). Hy benadruk die noue verband tussen mense en “kerk” as institusionele struktuur. Hoewel die GKSA Kuyper se opvatting afwys, het die kerk as instituut tog swaarder geweeg as bediening deur meer predikante in dieselfde kerk. Meer kerke en nie meer predikante in dieselfde kerk nie is as “meerdere bediening” beskou.

Die situasie het hom met die verloop van tyd begin wreek. Ouer stadgemeentes het so klein geword dat hulle nie meer die bediening van ’n predikant kon bekostig nie. “Afgestigte” kerke het vir ’n paar dekades floreer, in geboue gekapitaliseer en daarna geleidelik vergrys. By die “afstigting” (vgl art 38 KO) het klassisse gewoonlik nie die prognose van die “afstigtende” en “afgestigte” kerk oor ’n paar dekades korrek gelees nie.

Wanneer kerke vergrys, strem dit gemeenskap van gelowiges, katkisasie, meelewing van die jeug, beskikbaarheid van gawes vir die ampte, finansiële vermoë, dinamiese lewe na buite en baie meer. Daar moet liewer ’n tweede en selfs derde predikant beroep word voordat aan “afstigting” gedink word. Die kriterium moet “bediening” en nie “afstigting” wees nie. ’n Kerk moet slegs “afgestig” word, wanneer ’n nuwe gemeenskapsentrum ontwikkel het en die prognose vir die afstigtende kerk oor jare genoeg bloei en verantwoordelike benutting van kapitaalbelegging voorspel. Die waarde wat die dienste van meer

|61|

as een predikant en aanwending van hulle verskillende gawes in dieselfde kerk en omgewing het, moet nie onderskat word nie (vgl art 81 KO).

 

13. Kombinasieberoepe

Die Sinode van Colesberg 1920 (p 39) het die praktyk van “konsulentgemeentes” probeer uitfaseer deur middel van kombinasies van kleiner kerke wat saam een predikant beroep. Die Sinode van Bloemfontein (GKSA 1939:34-38) het vaste orde en riglyne vir kombinasieberoepe gegee, alhoewel ’n eenvormige kombinasiepatroon onmoontlik is. Elke situasie moet op eie meriete in ’n kombinasie-akte gereël word.

’n Kombinasie is nie ’n permanente of nuwe kerklike “struktuur” nie. ’n Kombinasie is slegs ’n ooreenkoms tussen kleiner en gewoonlik finansieel swakker maar selfstandige kerke met die oog daarop om saam ’n bepaalde beroep uit te bring. Die ooreenkoms duur slegs vir die duur van daardie beroep. Vir ’n volgende beroep moet ’n nuwe kombinasie-ooreenkoms opgestel word.

Die kombinasie-ooreenkoms moet aan die klassis vir inspraak en goedkeuring voorgelê word. Dit reël die wyse van beroeping, verkiesing, ondertekening van die beroepsbrief, bylae tot die beroepsbrief, samestelling van die gekombineerde kerkraad uit al die “kerkraadslede” of uit ’n gelyke aantal wat per kerk of hoofdelik stem, diensverdeling, tug oor die predikant, ensovoorts. Predikante in kombinasies van kerke kan beurtelings deur die kerke na ’n klassis afgevaardig word (GKSA 1958:135). Elke kerk wat kombineer bly volkome selfstandig. Die kombinasie moet duidelik en uitsluitlik die beste voorsiening van bediening van die Woord en Sakramente in elke kerk op die oog hê.

 

14. Vraagtekens agter sommige beroepspraktyke

’n Predikant word geroep om die koninkryk te verkondig waar die Here hom deur middel van die kerke plaas. Die gemeente is dus nie daar om die predikant te dien, te versorg en te vertroetel nie. Die aansien van die diens en dienaar van die Woord ly skade wanneer op “beroepe jag” gemaak word (Van der Linde 1983:29) of wanneer ’n beroep ter wille van groter “salaris”, byvoordele, of eer aan die staanplek verbonde, gesoek, uitgelok of aanvaar word (1 Tm 3: 3; Tit 1: 7; 1 Pt 5: 2). Wanneer ’n predikant ’n beroep sou aanvaar met die oog op sy eie voordele, ontwikkeling, studiegeleentheid of huislike belange, dui dit daarop dat ’n dienskneg self gedien wil wees.

Hoewel toesig oor beroepspraktyke op terrein van klassisse lê (art 30), het verskillende sinodes al euwels probeer bekamp byvoorbeeld wanneer ’n predikant binne een jaar weg beroep word, kan die kerk wat beroep het vir die koste van die vorige beroep verantwoordelik gehou word (1879). So is die koste-aspek, maar nog nie die nadelige uitwerking op die diens nie, aangespreek. Die Sinode van 1945 het adviseer dat “dit nie wenslik is dat ’n leraar wat nog geen twee jaar in sy gemeente werksaam is nie, beroep sal word, aangesien die kort bediening in stryd is met die belange van die gemeente” (GKSA 1945:113; vgl Bos 1950:33). Die feit dat sinodes probeer

|62|

reglementeer, dui daarop dat die naburige kerke in die classis contracta by die losmaking (art 10) en bewilliging van die beroep (art 5) nie werklik effektief na die belange van albei kerke omsien nie. Die wil en wens van predikante weeg waarskynlik swaarder as die belange van die kerke.

Soms bedank ’n predikant 'n beroep en word hy kort daarna weer beroep. Hierdie praktyk kan of deur ’n predikant uitgelok word of “onbehoorlike druk” op ’n predikant plaas (Van der Linde 1983:29). Wanneer ’n predikant ’n beroep bedank en die kerkraad hom van die beroep onthef het, het die kerkraad aanvaar dat daardie predikant nie deur die Here vir daardie kerk bestem was nie. Daar moet minstens ’n jaar of meer verloop voordat so ’n predikant weer beroep word. Die Nederlandse Sinode van Hertogenbosch 1875 het gereël dat dieselfde persoon nie in dieselfde vakature sonder toestemming van die klassis vir ’n tweede maal beroep mag word nie (vgl Bos 1950:33). Ook in hierdie opsig behoort die classis contracta wat beroepe bewillig (artt 5 en 10), hulle plig na te kom of anders eers advies by die klassis in te win (art 41 ).