Artikel 12

Die predikant is lewenslank geroep

 

Artikel 12: Omdat ’n bedienaar van die Woord wat eenmaal wettig beroep is, lewenslank aan die kerkdiens verbonde is, mag hy nie tot ’n ander staat van die lewe oorgaan nie, behalwe om gewigtige redes waaroor die kerkraad en die klassis moet oordeel met advies van die deputate van die partikuliere sinode.

|94|

A. Kerkregtelik

1. Christus roep tot diens

Christus roep mense tot sy diens (art 3). Gevolglik kan niemand ’n persoon wat nie meer die roeping voel nie, in die diens dwing of hou nie. Christus roep ook tot dienste van ’n ander karakter op ander lewensterreine. In uitsonderlike gevalle word ook predikante op sterkte van besondere aanleg en gawes deur middel en op aandrang van die gemeenskap vir ’n ander taak geroep. Die inisiatief gaan in daardie geval nie van die predikant uit nie.

 

2. Die predikant mag kragtens gewone reg sy diens beëindig

Net soos die kerk die band tussen kerk en predikant ordelik kan opsê (art 11), kan ’n predikant ook sy diens opsê. So werk Demas saam met die apostel (Kol 4: 14; Fm: 24) maar rig hom daarna op “die teenwoordige wêreld” in Tessalonika (2 Tm 4: 10). Hoewel ’n persoon in eie reg dié keuse uitoefen, sê Calvyn dat die ware dienaar onder goddelike beroeping nie self mag dink aan verhuising en ontslag al na gelang dit hom voordelig voorkom nie (Calvyn 1951:333).

 

3. Die amp is diens en nie ’n titel of status nie

Die Skrif gebruik deurgaans (behalwe by Hb 5: 4) die begrip diens (diakonia) en woorde wat op taak, funksie of werk dui. Selfs die enkele keer waar “eer” in verband met die diens ter sprake kom, hou dit verband met iemand wat diens verrig en onder beroep van God staan (1 Tm 5: 17; Hb 5: 4; GKSA 1964:600). Die Skrif ken gevolglik nie ’n amp of posisie as waardigheid of status op sigself nie.

 

4. Lewenslange diens

Die kerkregtelike gronde wat op die roeping van God tot diens wys (kyk by art 3; Hb 5: 4) hou in dat die diens lewenslank (so lank dit God behaag) moet wees. Aan die ander kant moet die gelowiges erken dat die Here iemand ook weer die roeping kan ontneem. Die geval van Demas (1 Tm 4: 10) is hiervan ’n voorbeeld. Die wyse waarop die Skrif oor die roeping van die dissipels en apostels handel en aandui hoe in die oudste kerke die apostolaat in die diens van herderopsieners voortgesit word (1 Tm 3:15; 2 Tm 2:1-6, 15; 4:4 ens) wys op lewenslange diens sodat Rome selfs tradisioneel die amp as onverloorbaar beskou (character indelebilis). Die diens verdien dus al ons Iiefde, al ons tyd, al ons volharding en algehele toewyding (Kruger et al 1966 96). Hierdie gereformeerde diensbegrip kom vandag onder druk namate die opvatting oor “amp” sekulariseer en as ’n posisie in die kerk by kerkvergaderings verstaan of horisontaal as ’n vrywillig gekose “beroep” of professie beskou word.

|95|

B. Kerkregering

1. Redaksie van die artikel

Oënskynlik maak die artikel voorsiening daarvoor dat iemand op eervolle wyse “kan oorgaan tot ’n ander staat van die lewe” (Van der Linde 1983:56). In werklikheid het die Sinode van Dordrecht 1578 eers net die positiewe beginsel van lewenslange diens gestel en daarmee die deurlopende Skrifgegewens oor die opsieneramp korrek weergegee. Ons leef in ’n gebroke menslike werklikheid. Gedurende die Reformasie het gemeentes selfs verdwyn en moes predikante ’n ander heenkome soek. Gevolglik het die Sinode van Middelburg 1581 ontslag by wyse van uitsondering moontlik gemaak en veronderstel dat nie die persoon nie, maar ’n partikuliere sinode sou oordeel of dit geregverdig is (Bos 1950:62). Tereg het die kerke te Den Haag in 1586 die klassis in plek van die partikuliere sinode gestel en eers in 1920 is deputate van die Part Sinode bygevoeg (Bos 1950:63). Tussen die lyne kan mens lees dat ’n nuwe gees die beginsel van “lewenslange diens” begin betwyfel en probeer het om nie-kerklike werkkringe wat ’n “geestelike karakter” (let op die piëtistiese norm) dra, by “kerkdiens” te betrek (Bos 1950:64). So bepaal en beskik die kerk in plaas van Christus die ampstermyn. In die Gereformeerde Kerken van Nederland het hierdie sekularisering verder gegaan sodat die “amp” vandag volkome as ’n funksie “in” en “van” die “kerk” (as genootskap) beskou word.

 

2. Eiemagtige en eiewillige neerlê van amp is trouelose diensverlating

Enige predikant kan regtens sy “bedanking” vir die roeping by ’n kerkraad indien. Wanneer dit gebeur, moet dit dadelik voorlopig aanvaar word. In ’n sekulêre beroep kan iemand nog kontraktueel verplig word om ’n tyd van “kennisgewing” uit te werk tot ’n plaasvervanger gevind word. Dit is egter in die kerk onmoontlik om iemand wat verklaar dat hy hom nie meer van Christus geroepe voel tot die diens nie en ’n ander beroep wil gaan beoefen, selfs vir ’n enkele verdere diens as predikant te erken.

Dit kan gebeur dat ’n predikant weier om op die oordeel van kerklike vergaderinge te wag of om hom daaraan te onderwerp en eiemagtig besluit om die diens neer te lê. In hierdie geval sal die kerkraad die smartlike feit van trouelose verlating van die diens aan die klassis moet berig wat dit moet konstateer en die kerke in kerkverband daarvan in kennis stel. Die oordeel kan selfs in afwesigheid van die persoon gevel word. So ’n persoon sal kwalik ooit weer as predikant toegelaat kan word, omdat hy die roeping nie geag het nie (vgl art 80 KO).

 

3. Oorgaan tot ’n ander “staat van lewe”

Bostaande uitdrukking uit die ou Nederlandse Kerkordes berus waarskynlik op die ou standeverdeling waar predikante (clerus) ’n afsonderlike sosiale “stand”

|96|

beklee het. Die eie stand het ’n besondere “status”, “radikaal” of “ampstitel” verleen (Bos 1950:64, GKSA 1939:76; 1942:116).

In die GKSA het die vraag of ’n predikant wat as parlementslid verkies word, “oorgaan tot ’n ander staat van lewe” baie aandag geniet (Acta 1916:90; 1930 meerderheidsrapport p 145, minderheidsrapport p 148; 1933:53; 1939:76; 1942:116). Die Sinode van 1930 stel “geestelik” teenoor “wêreldlik” en onderskei in Kuyperiaanse sin die “terrein” van “besondere” van “algemene genade” en oordeel dat ’n predikant nie parlementslid mag word nie. ’n Minderheid redeneer dat ’n parlementslid as “volkverteenwoordiger” nie ’n professionele politikus is nie.

Dit illustreer die verwarring wanneer die diens van predikant as ’n “beroep” ontleed en losgemaak word van die “kerkregtelike” vraag of die predikant nog primêr dié diens verrig waartoe hy geroep was (artt 2,3,16). Die Sinode van 1964 het aan die verwarring ’n einde gemaak, vorige sinodebesluite herroep en gewys dat artikel 12 nie reël hoe ’n ex-predikant sy amp mag behou nie, maar aantoon hoe hy eervol uit die diens ontslaan word. ’n Predikant kan slegs as sodanig erken word wanneer hy die werk doen wat in sy beroepsbrief omskryf is (Acta 1964:100). Sodra ’n predikant uit daardie diens tree, beklee hy de facto nie meer die amp (diens) nie en moet hy daarvan ook de jure ordelik losgemaak word, anders gee hy valslik voor om ’n predikant te wees. Die uitsondering op die reël word in artikels 13 en 14 gereël.

 

4. Die oordeel oor ontslag

Die kerkraad moet eerstens oor die redes waarom ’n predikant sy diens wil verlaat, oordeel. Dit hou in dat ’n predikant die redes wat ontslag mag noodsaak aan die kerkraad moet voorlê, terwyl hy self nog nie daaroor geoordeel en besluit het nie.

Indien die kerkraad oordeel dat die redes gewigtig is en die predikant tot ontslag uit sy diens verplig, verwys die kerkraad die redes (gronde) vir ontslag na die klassis om daaroor finaal te oordeel nadat die deputate van die Part Sinode (art 49) hulle advies gegee het. Indien die klassis die advies nie aanvaar nie, konformeer die deputate met die klassisbesluit of appelleer dadelik na die Part Sinode (art 31).

Wanneer die klassis oordeel dat die redes ontslag noodsaaklik maak, verleen die kerkraad eervol ontslag uit die diens van predikant. So ’n persoon is van daardie oomblik af nie meer predikant nie en mag nie meer uitgenooi word om, op grond van wat hy vroeër was, in kerke te preek nie (Bos 1950:64).

 

5. Gewigtige redes vir ontslag

Die Sinode Leeuwarden 1920 wou nie ontslag volgens artikel 12 reglementeer nie. Elke geval moet op meriete behandel word. Daar moet primêr uitgemaak word of die predikant nog oortuig is dat God hom tot die kerkdiens geroep het (art 3). In bepaalde gevalle mag ’n predikant beweer dat hy nog geroepe voel, terwyl hy klaarblyklik onbekwaam is of volharding en deursettingsvermoë ontbeer. Iemand wat volgens artikel 11 op “waggeld” geplaas was en in die

|97|

bepaalde tyd nie ’n beroep na ’n ander kerk ontvang het nie, moet uit die diens tree. Iemand wat byvoorbeeld deur ’n motorongeluk fisies vir predikantsdiens onbekwaam geword het, mag eerder as om vir altyd siek en nooit dood met emeritaat ’n las op die kerk te wees (art 13), liewers in ’n ander beroep of besigheid sy brood gaan verdien.

Indien ’n predikant self die redes verskaf waarom hy in ’n beroep of besigheid wil ingaan, moet hy aantoon waarom juis hy en niemand anders daardie werk kan en moet doen. Kortom, wanneer iemand die roeping tot predikant nie meer vir homself ken nie, moet hy ter wille van die gemeente uit die diens “eervol” ontslaan word.

 

6. Terugkeer tot die diens van predikant

In Nederland waar die roeping tot diens van predikant grootliks tot ’n amp, posisie of betrekking “in die kerk” verselfstandig is, word van “herstel in die amp” gepraat. So laat die Sinode van Den Haag 1914 dit afhang van die tipe “staat van die lewe” waarvoor die ex-predikant sy diens verruil het, sy motiewe by diensverlating en by sy aansoek om terug te keer. Opportunisme, materiële of ander voorregte (bv pensioen), mag geen rol speel nie.

Kerkregtelik kan daar glad nie van “herstel in die amp”, maar slegs van terugkeer tot die diens sprake wees. So ’n persoon moet weer deur ’n klassis geëksamineer word met die oog op beroepbaarstelling (art 4). Die klassis sal in diepte moet ondersoek en vasstel of die aansoek geloofwaardig aantoon waarom die roeping eers verloor en tans weer terug ontvang word. Die kerke durf geen subjektiewe willekeur of spel met die roeping tot die diens van predikant duld nie. Wanneer iemand wat sy amp eiewilllg neergelê (“bedank”) het, moontlik toe tugstappe gevrees was of omdat hy die roeping verloor het (art 12), tot die diens wil terugkeer, moet baie versigtig opgetree word.

Iemand wat weer tot die diens wil toetree, moet toestemming en selfs ’n aanbeveling van die kerk waar hy woon sowel as van die kerk en klassis waar hy uit die amp ontslaan is, voorlê. Berou is geen afdoende rede om weer beroepbaar gestel te word nie. Die beslissende vraag is of die persoon weer met stigting die kerk sal en kan dien en of hy die onmisbare gawes van ’n ware evangeliedienaar soos getrouheid, roepingsbewustheid, selfverloëning, volharding, ensovoorts besit in die kerklike ondersoeke moet sy motiewe vir terugkeer indringend ondersoek word (GKSA 1973:318). In geval van die minste twyfel moet nie aan beroepbaarstelling gedink word nie.

Mense is geneig om die persoon wat terugkeer simpatiek te oorweeg en die kerk en koninkryk van die Here agter te stel. Persone het al teruggekeer, en die ou probleme is herhaal. ’n Ander is beroepbaar gestel, het beroepe bedank, diens aanvaar, op vroeë ouderdom geëmeriteer sodat dit lyk asof nie diens nie, maar emeritaatsgelde die terugkeer motiveer het.