Artikel 30

Behandeling van kerklike sake en mindere bevoegdheid van meerdere vergaderings

 

Artikel 30. Kerklike vergaderings moet alleen kerklike sake en dit op kerklike wyse behandel. Op meerdere vergaderings moet alleen sake behandel word wat nie in mindere vergaderings afgehandel kan word nie of sake wat by die meerdere vergaderings tuishoort.

 

A. Kerkregtelik

1. Elke gemeente is ’n kompleet selfstandige kerk

Hierdie basiese Skriftuurlike beginsel tree voortdurend as norm vir die kerkreg en kerkregering na vore. Die een liggaam van Christus (NGB 27) word op ’n bepaalde plek in die gemeente (NGB 28) as ’n gemeenskap in ware geloof rondom die Woord, sakramente en tug (NGB 29) onder leiding van die ampte en kerkraad (NGB 30, 31) sigbaar. Die kerke kan met ander kerke ’n ooreenkoms (kerkorde) aangaan om mekaar te help en by te staan, maar kan nie die roeping en taak wat op die dienaars rus, oordra nie. Die kerkvergaderings vul die komplete kerke nie aan nie, kan hulle nie verplaas, vervang,

|178|

voorskryf of oorheers nie. Gevolglik mag ander kerke nie indring in die lewe en verantwoordelikheid van ’n kerk, behalwe wanneer by ’n kerk gehoorsaamheid aan Christus herstel moet word (NGB 7,31,32; artt 36,84 KO). Die kerke (gemeentes) word nie deel van ’n groter kerk wat aan hulle voorskryf nie.

Die wese van die kerk lê ’n absolute beperking op die agenda van ’n samekoms van kerke (sinode), sowel as op die wyse waarop die agenda behandel moet word (vgl by artt 2,3). Kerke is in die wêreld, maar nie van die wêreld nie (Van der Linde 1983:123). Met hierdie beginsel het die Reformasie die aanspraak van Rome dat die pous ook hoof van die wêreldlike en politleke owerhede is, verwerp.

Hierdie Christologiese uitgangspunt staan lynreg teenoor die genootskaplike of ekklessiologiese vertrekpunt wat die kerk as vereniging van gelykgesinde “lidmate” beskou. Die standpunt word aanvaar dat kerkrade op gesag van sinodes lidmate bestuur, dat kerkrade as regspersone in ’n kerkorde hulle bevoegdheid na sinodes as organe van die “kerkverband” (of “kerk in die algemeen”) delegeer en daaraan ontleen, dat die sinode bevoegdheid oor die mees eiendomlike aspekte van die plaaslike kerk, soos lidmaatskap, beroeping, tug, ensovoorts verkry omdat dit daarheen delegeer is (vgl Fourie 1973:38v,63v,82v,102v,128). Sinodes moet dan veral “eenvormigheid” in die genootskap verseker.

 

2. Vryheid in en verantwoordelikheid aan Christus

Luther en Calvyn bots vierkantig teen die Roomse hiërargie en absolute monargale episkopaat. Hulle bely Christus as Hoof van sy kerk (Van der Walt 1976). Die Gereformeerdes het gevolglik in die 16de eeu gevrees dat sinodes weer 'n vorm van pouslike heerskappyvoering sou meebring (art 84).

Die Skrif sê: “Staan dan vas in die vryheid waarmee Christus ons vrygemaak het en laat julle nie weer onder die juk van diensbaarheid bring nie” (GI 5: 1). Die Reformasie beklemtoon die mondigheid van elke gelowige en genoegsaamheid van die Skrif om die lewens van die gelowiges te reël (NGB 7). Die kerk kan slegs die sleutelmag as geestelike regering bedien. Daarin verskil dit radikaal van die owerheid wat die mag van die swaard bedien. Wanneer mense hulle op die dwingende gesag van hulle amp of die vergadering beroep, tree menslike of valse kerkregering na vore (NGB 29, tweede deel).

’n Ampsdraer kan nie op grond van sy amp aanspraak maak dat God hom aangestel het om oor gelowiges te regeer nie. Hulle kan slegs voorskrywe wat in die Woord van God gevind word (Calvyn Inst IV.10.vi). Daarom moet die gelowiges die kosbare gawe van vryheid van die gewete teen die tirannie van kerklike opsieners, as dit nodig word met hulle lewe verdedig (Calvyn 1965:92v). Die Reformasie beskou ampsdraers en kerkvergaderings nie soewerein nie, maar hulle is aan die wet en reg in die Skrif ondergeskik (art 31). Hulle bevoegdheid en jurisdiksie is beperk tot bediening van dit wat in die Skrif gevind word en mag nie aan die vryheid van die vergadering oorgelaat word nie.

|179|

3. Beperking van bevoegdheid in die kerkorde

Elke kerk tree selfstandig op, maar kerke in kerkverband tree nie onafhanklik van mekaar of in gemeenskaplike sake alleen op nie (Calvyn Inst IV.9.xiii, Du Plooy 1984). Om saam te vergader moet kerke dus ’n afspraak maak en vrywillig tot ’n ooreenkoms geraak waarin hulle basiese soewereiniteit beskerm bly (artt 1,31,86). Kerke kan nie die opdragte wat Christus aan die ampte in die plaaslike kerk gegee het, delegeer of aan ander kerklike strukture opdra nie. Hulle kan ook nie nuwe eenhede vorm, aansluit by of oplos in ander liggame of strukture nie (vgl Geldenhuys 1951:156). Hulle kan egter met behoud van eie selfstandigheid met ander kombineer om saam te doen wat tot die eenheid, goeie orde en beswil van elke kerk sal strek. Om hierdie optrede moontlik te maak, gaan die selfstandige kerke kragtens hulle kerkverband in Christus ’n kerkorde met mekaar aan wat die gegewe Skriftuurlike kerkreg behoort te respekteer.

Die Dordtse Kerkorde van 1619 sluit aan by die 16de eeuse feodale stelsel van pluralisme waarin die soewereiniteit, vryheid en verantwoordelikheid van individue, munisipaliteite, provinsies, korporasies, universiteite en broederskappe teenoor die magsaanspraak, absolutisme en gesag van vorste en sentrale owerhede in kontraktuele reg beskerm is (P J Loots 1962:49,66). Die 18de eeuse ontwikkeling stel egter die soewereiniteit van die volk, staat of kongres teenoor die reg. Die wil van die meerderheid in die betrokke vergadering word as hoogste gesag en formuleerder van nuwe en geldende reg beskou.

Die kerke het met artikel 30 bedoel om mekaar se selfstandigheid, verantwoordelikheid, eie geroepenheid en vryheid voor die Here te erken en te verseker in hulle kerkordelike ooreenkoms. Tog wou hulle ook vir die noodsaaklike en nodige samewerking voorsiening maak waar die selfstandige kerke volgens ’n afspraak saamkom.

 

4. Kerkregering het ’n unieke karakter

Kragtens die soewereiniteit, heerskappy (koninkryk) en verordening van God regeer Hy sy kerk deur Christus (1 Kor 15: 24-28; Ef 1: 22, NGB 27). Hy doen dit deur sy Woord en Gees en maak gebruik van mense (vgl by artt 2,3,16,23,71). Die kerkregering kom veral neer op die bediening van die sleutels van die hemelryk om die eenheid in leer en lewe te verseker. Daarom noem Calvyn dit ’n geestelike wyse van regering (Calvyn Inst IV:3 en 11 iii,iv; vgl NGB 30-32).

Die soewereine God verordineer egter ook mense om op ander terreine as dienaars van God te regeer: ’n vader in sy huis (1 Tm 3: 3), die vors en regering in die land (Rm 13: 1v, 1 Tm 2: 2), die bestuur van ’n vereniging, ensovoorts. Hierin hanteer die owerheid die mag van die swaard wat dwing en selfs met die dood straf. Hierdie dwingende regering verskil radikaal van die geestelike en bedienende karakter van kerkregering (NGB 36; vgl art 28 K0; Calvyn Inst IV:20). Die eerste sinode wat vanweë die Spaanse politieke en kerklike vervolging in die buiteland moes vergader, het op grond van die unieke karakter van kerklike regering geweier om in te gaan op ’n versoek van die Prins van

|180|

Oranje om behulpsaam te wees om huursoldate te bekom en te betaal (Bouwman 1934:30).

 

B. Kerkregering

1. Redaksie van die artikel

Die kerkorde van 1574 belet predikante en ouderlinge om in konsistories, klassisse en sinodes ander as kerklike sake te behandel, terwyl predikante oor gemengde sake, soos huweliksbepalinge, die oordeel van die owerhede moet aanvra. Daarna word in 1578 bepaal dat kerklike vergaderings slegs kerklike sake volgens die “wyse van kerkregering” moet behandel, terwyl owerheid en kerkraad gesamentlik oor gemengde sake moet beslis (Pont 1981:17). ’n Daaropvolgende artikel bepaal dat slegs sake wat in die mindere samekoms nie afgehandel kan word nie of wat die kerke gemeenskaplik aangaan na die “groter versameling” gebring mag word. By die druk van die Kerkorde in 1586 word die twee tot een artikel saamgevoeg (Biesterveld, Kuyper 1905:199) en tot vandag as artikel 30 behou.

Die regsposisie van kerkrade stem basies ooreen met dié van Nederlandse munisipaliteite wat selfstandigheid en eie verantwoordelikheid teenoor die provinsies en State-Generaal gehad het.

 

2. ’n Historiese probleemveld

Roomse biskoppe het seggenskap en heerskappy oor die “leke” op alle terreine gevoer. Die Reformasie herstel die mens as beeld van God en wys dat elke gelowige geroep word om persoonlik, huislik, maatskaplik en op politieke gebied die Here te dien, sodat “de kerk ophouden voogdes van het natuurlijke leven te zijn”. Nietemin het gereformeerde kerke hulle selfs in die 16de eeu dikwels ingelaat met nie-kerklike sake (Bouwman 1934:29). Dit het veral vir die Franse Kerke droewige gevolge meegebring.

Die verhouding tussen burgerlike en kerklike owerhede lewer nog gedurig probleme op. Volgens Romeinse reg het die keiser as hoof van die staat in 313 die Christelike godsdiens gewettig, self die sinode van 325 te Nicea saamgeroep, daaroor gepresideer om oor die belydenis te besluit. Volgens die Germaanse feodale stelsel was die feodale heer regtens verantwoordelik vir die geestelike versorging van diegene wat hom gedien het. Luther erken hierdie reg van vorste jus patronatus in sacra). Die Kompanjie aanvaar in 1652 verantwoordelikheid vir die gereformeerde godsdiens en kerk aan die Kaap. Owerheidsbemoeiing met kerklike sake was vir meer as twee eeue hierna nie vreemd nie. Daar is voorbeelde waar kerklike persone en sinodes met 'n beroep op die Bybel eenvoudig die wil van politieke owerhede uitgevoer het (vgl Kaapse Sinode 1837 oor die Groot Trek en biskoppe van die Russies Ortodokse Kerk in Rusland vandag).

In teenstelling hiermee het die Roomse biskop Sircius as kerkman in 385 alle verantwoordelikheid vir die Christendom aanvaar. Gedurende die

|181|

Middeleeue het die biskop van Rome aanspraak gemaak dat hy as verteenwoordiger van Christus ook wêreldlike vorste moet aanstel en kontroleer. Gedurende die Reformasie vrees selfs gereformeerde politieke owerhede dat predikante en sinodes weer politieke heerskappy sal probeer uitoefen. In die hoop dat die owerhede die kerkorde sou goedkeur, wil die kerke die beginsel van kerkregering suiwer stel. Dit sluit aan by Calvyn wat in 1541 na Genève teruggekeer het op voorwaarde dat die Politieke Raad die selfstandigheid en verantwoordelikheid van die kerk en kerkraad met betrekking tot kerklike tug erken.

Die demokrasie het by kerklike voorgangers en vergaderings weer die idee wakker gemaak dat hulle politieke owerhede namens die “kerk” moet kontroleer. Die Amerikaanse filosoof Ayn Rand teken ’n ewige stryd tussen die “koning” en “toordokter”, tussen “staat” en “kerk”. Kerklike persone en magte het by tye politieke owerhede gehiet en gebied. Vandag meng kerklike voorgangers dikwels op politieke gebied in. Dit skep soms die indruk dat hulle meen dat, omdat hulle met die Bybel werk, hulle met gesag van God die laaste woord oor elke politieke, wetenskaplike, kulturele, sosiale, ekonomiese of persoonlike aangeleentheid mag spreek. Die deputate van die GKSA na die GES te Harare in 1988 het tevergeefs op die beginsel probeer wys (RES 1988:88-93).

Hierdie artikel is dus baie nodig om die wese van die kerk en kerkregering te beskerm. Dit is egter moeilik om toe te pas. Dit vereis fyn geestelike aanvoeling en verantwoordelikheid vir die koninkryk (heerskappy) van God om selfdissipline te kan beoefen teenoor mense se pragmatiese en emosionele regverdiging van eie belange of tradisionele oorwegings. Mense soek gewoonlik na ’n kerklike hupstootjie vir aksies wat hulle na aan die hart lê.

Optrede teen een of ander sosiale euwel of sonde moet primêr van die gelowlges, die kerk as organisme, uitgaan. Hulle is geroep om lig, sout en suurdeeg in die wêreld te wees. Daarop moet die ampsbediening en besluite van kerkvergaderings gerig wees, terwyl mense altyd wil hê “die kerk” moet in ’n sinode na buite praat. Soms mag samewerking tussen kerke in klassikale of wyer verband nodig wees. Tog word sake te gou na sinodes verwys met die verkeerde idee om met meer “gesag” te kan praat. Die kollegialisme glo dat die “hele kerk” in sinode deur predikante praat en dat die gesag afhang van wie en hoeveel praat.

Die gelowiges moet hom op die gesag van die Woord en so op God beroep (NGB 7). Kerkvergaderings moet die roeping van die gelowiges nie oorneem of lamlê nie.

 

3. Die begrip “kerklike sake”

Stryd oor wat onder “kerklike sake” verstaan moet word, kom gewoonlik in krisistye soos oorlog, depressie, sosiale en maatskaplike twis op kerkvergaderings na vore. Die Sinodes van 1916 en 1942 het tydens oorlog en broedertwis probeer om “kerklike sake” te definieer. Nadat die Sinode “alles gesê het”, het hulle eintlik maar net gesê dat elke kerkvergadering vir homself moet uitmaak wat kerklike, wat “gemengde” en wat nie kerklike sake is nie.

|182|

“Gemengde” sake mag huwelikswetgewing, onderwys, armversorging. onsedelikheid, die eed en dergelike sake wees. Die moet deur “korrespondensie” (vgl art 52) met die betrokke owerhede of liggame hanteer word. Daarteenoor pas “staatkundige, maatskaplike of streng wetenskaplike kwessies” glad nie op die tafel van ’n kerkvergadering nie (GKSA 1942:24-26).

Dié bepaling van artikel 30 KO word gewoonlik stilweg geïgnoreer of ’n beroep op artikel 30 ontlok ’n hewige debat. Die probleem word grootliks veroorsaak wanneer die aard van die “saak” met “ander sake” op vorige sinodes vergelyk word om “presedente” te soek, asof ’n vroeëre fout ’n latere regmaak. Daar moet liewer gevra word watter aspek van die saak om die lig van die Skrif of heerskappy van Christus vra. Dit moenie oor “standpunt van die kerk” gaan nie. Kortom, dit is nie die objektiewe aard van ’n saak wat dit as kerklik kwalifiseer nie, maar eerder die vraag of en in hoever die Woord van God op die saak lig werp.

Verskillende maatstawwe waarmee beoordeel word, sal tot verskillende oordele lei. Vanuit koninkryksperspektief word gevra of die saak Christus se regering van sy kerk raak. Kerklike sake raak alle gestaltes van Woordverkondiging na binne en na buite, dissipline en tug, bedieninge, belydenisse (formulering van geloof), etiese en morele vraagstukke in die lig van die Skif, kerklike sustentasie, armversorging, korrespondensie (artt 28,52). Dit moet nie piëtisties beperk word asof die kerklike sake net tot ’n “geestelike” terrein behoort nie. Die koningskap van Christus gaan in sy Woord om die hele mens.

Vandag word die “kerk” as organisasie en regspersoon meestal as norm geneem. Hierdie artikel word dan omseil deur te vra of die “lidmate” in die saak leiding van die “kerk” nodig het. So kan feitlik enige saak as “kerklik” kwalifiseer, omdat die gelowige in sy totaliteit ook aan die lewe deel het. Die prediking moet lig so laat skyn. Daarna moet elke “lidmaat” as geroepe en mondige Christen (en nie sinodes nie) die lig van die Skif op die ander lewensterreine toepas. Die “kerk” moet nie in alles voorsê nie. Die gelowige moet in elke saak sy keuse aan die norme van Christus verantwoord.

Dit is baie moeiliker vir die “kerk” en kerkvergaderings as vir die gelowige om die lig van Gods Woord op die genuanseerde verskeidenheid van konkrete situasies (vgl bv alle vorme van dans, kaartspeel, kleredrag, ens) voorskriftelik te laat val. Bemoeiinge van sinodes ontlok eerstens die vraag watter (selektiewe?) situasies aangespreek moet word. Vervolgens is die vraag of dit plaaslik, klassikaal, provinsiaal of in algemene sinodale verband moet gebeur. Bepalend moet die vraag wees watter norme werklik aan die Skrif en watter aan gewoonte, tradisie, kultuur, konteks, ensovoorts ontleen word.

Die Kaapse Sinode oordeel in 1837 vanuit Engels-kolonialistiese hoek dat die Groot Trek sonde teen die vyfde gebod was. Voorskriftelike besluite van sinodes oor toneelspel, enige vorm van kaartspel, gemengde baaiery, kleredrag en modes, geboortereëling, verhouding tussen geslagte, ensovoorts, het ellende veroorsaak en word later laat vaar. Tegelykertyd bots hierdie soort besluite teen Calvyn en die Reformasie, wat sê dat God se Woord genoegsaam is om by te lewe (NGB 7) en dat kerkregeerders nie deur God aangestel is om vir die gelowiges voor te skrywe nie (Calvyn Inst IV.10.vi,vii).

|183|

4. Kerklike roeping na buite

Christus het hom nie aan die samelewing van sy tyd onttrek nie. Hy het hom egter ook nie met enige van die partye of godsdienstige groepe van sy tyd vereenselwig nie. Sy evangelie bevat nie ’n sosiale of politieke program nie. Dit gaan veel dieper en lê norme vir menslike gedrag neer. Die kerk moet vir Christus teen die antichristelike magte (Ef 6: 12) diensbaar wees.

Die kerk raak so organies en institusioneel in spanning, bekommernis antitese en op ’n afstand by die van God afvallige wêreld betrokke om die evangelie van die koningskap van Christus uit te dra. Die gelowiges, selfs wetenskaplikes moet deur die Woord in kerklike bedieninge gemobiliseer, toegerus en opgelei word om vir Christus in die wêreld te getuig; hulle moet intree met voorbidding; die lyde en nood van die wêreld in diakonia aanspreek en oorsake van die ellende en verdrukking bestry.

Hierdie dienste na buite moet op ’n kerklike wyse gelewer word. Die kerke mag hulle nie inlaat met allerlei sosio-politieke programme of met 'n bepaalde politieke groep, party of aksie identifiseer nie. Daardeur sou die kerke agterryers vir politici word. Nietemin moet die prediking die lig van die Skrif verantwoordelik op probleemvelde laat val. Die bevryding in Christus moet teenoor verslawing deur sonde of uiterlike verdrukking gepreek en deur die lewe van gelowiges demonstreer word. Die prediking moet die gewetens van die gelowiges opskerp en vir hulle norme en kriteria uit die Skrif leer wat hulle in hulle sosio-politieke en ekonomiese bedrywighede profeties moet uitleef. Kerkvergaderinge mag geroep word om konkrete situasies met verklarings uit die Skrif aan te spreek, vertoë tot owerhede te rig (vgl artt 28,52) om vorme van onreg, sedeloosheid, lyde, godslastering, ensovoorts te verander en op te hef.

Die kerk(e) mag egter in ’n situasie beland, soos onder ’n totalitêre of een-party staat, waar hulle toegelaat en verdra word, maar niks teen die regering of sy ideologie mag sê nie. Dan nog moet die gelowiges individueel en gesamentlik hulle roeping om lig en sout te wees, vervul (Mt 5: 13-16). Die diakens moet die gemeente voorgaan en lei om plaaslik, nasionaal en internasionaal diens te lewer. Waar nodig moet hulle met owerhede, sakeondernemings, vakbonde, industrialiste onderhandel om weë en middele te vind om die lewenskwaliteit van minderbevoorregtes te verbeter (artt 25,26).

Menings verskil oor die kerklike roeping na buite op politieke. maatskaplike, ekonomiese, kulturele, wetenskaplike en tegnologiese gebied. Die GES het in deeglike studiestukke oor “The Church, Science and Technology” (1983) belangrike riglyne aangedui. Die Here roep ook gelowiges om wetenskap en tegnologie te beoefen. Hulle moet die wêreld waarsku teen die godsdienstige en ideologiese ondertone wat uit die Rennaissance tot ’n gesekulariseerde, humanistiese en materialistiese lewensbeskouing ontwikkel het. Christene doen dikwels onkrities hieraan mee en wys ook aan die tegnologie ’n messiaanse rol toe. ’n Normlose ontwikkeling van wetenskap en tegniek veroorsaak probleme en bedreig die mensdom. Ewe-so stuur ’n normlose revolusionêre ingesteldheid alles in die rigting van chaos. Teen hierdie Babelkultuur moet die kerke die norme van die evangelie van Christus proklameer (vgl 2 Ts 2; 2 Tm 3; Rm 1: 18-32; Op 13,19,20,21).

|184|

5. ’n Kerklike wyse van behandeling

Die manier waarop ’n kerklike vergadering ’n saak behandel moet by die voorskrifte van die Hoof van die kerk, Christus, pas (1 Pt 5: 2-4; Mt 23: 10,11 ens). Sake moet te alle tye met ’n oop gesindheid behandel word. Die een moet die ander uitnemender ag as homself. Die optrede moet die stempel van liefde vir die Here en die naaste, selfs vir die lastige sondaar dra, terwyl die sonde en alles wat God onteer, gehaat en bestraf word. Enige vooraf-koukus, partyvorming, manipulasie van prosedure, dreigemente, staking, omkoop, uitstap, dwang, diensweiering, stoomrollertaktiek, propaganda of kerkpolitiek om eie standpunt of dié van 'n kliek te laat seëvier, is oneties, onordelik en ’n wêreldse metode in stryd met artikel 30.

Geestelike kerkregering moet die Woord of wil van God bedien (Calvyn Inst IV.10.v-vii,xxx). Sinodes van die GKSA het tot 1924 dikwels geweier om uitspraak te doen wanneer die Skrif oor ’n saak swyg. Namate Sinodes die soewereniteit van die Skrif verplaas het, is al meer uitsprake van sinodes gevra sonder dat Skrifgronde vir die versoek aangevoer is, oor byvoorbeeld “die vrou in die kerk”, vermake soos kaartspel, dans, bewegings soos vrymesselary, kulturele sake soos kleredrag, tegnologie soos reënmaak uit wolke. Sinodes moet as ’t ware die kanon van die Skrif met uitsprake aanvul of ’n “beleid” formuleer.

’n Kerklike vergadering moet elke saak op sy eie meriete behandel. Daar moet nie onder invloed van die Engelse regstelsel na presedente gevra word, asof soewereine vergaderings met hulle optrede reg voorskryf en die Skrif aanvul nie. Kerklike besluite behoort so geneem te word dat dit adviseer, teregwys, lei of bemoedig en nooit dwing met 'n beroep op kerkgesag nie.

Die kollegialisme het in die laaste dekades toenemend in die GKSA van die “soewereine” sinodes "eenvormige" voorskrifte of allerlei “studies” gevra. Wanneer ’n bestaande kerklike oordeel, praktyk of tradisie plotseling in “studie” geneem word, plaas dit die aangeleentheid reeds in twyfel. Dit is onordelik. Studie (oor byvoorbeeld “plek van die vrou in die kerk” GKSA 1985) word buitendien net deur een of twee persone gedoen asof hulle kon vind wat duisende voor hulle nie kon vind nie. Uiteindelik besluit 'n hele sinode oor die aangeleentheid deur die bril van daardie paar studente. Sinodes kan nie studeer nie. Studie hoort tuis by persone, predikante en teoloë (art 30). Hulle kan op eie stoom publiseer en daarna in die lig van studieresultate vergadering, uitbreiding of iets nuuts voorstel (artt 30,31,33,46).

Soms is dit nodig dat ’n kerkvergadering presies aandui waaroor vir ’n volgende byeenkoms meer inligting ingesamel moet word (art 49 “welomskrewe mandaat”). Sinodes behoort egter voorstelle sonder studieresultate wat verwag dat ’n sinode ander mense met “studie” moet belas, van die tafel te reël. Studie hoort by die voorsteller tuis (art 30). Sinodes kan onmoontlik “studie maak” van alle voorkomende sondige, ketterse, afwykende groepe, praktyke, strominge, bewegings, teorieë en probeer om indekse op te stel en by te hou. Die Gereformeerde Kerken in Nederland wat probeer het om oor Skrifgesag, homofilie en atoombomme te studeer, het in toenemende ideologiese verwarring, onsekerheid en deformasie geraak waarin die waarheid en evangelie gerelativeer is.

|185|

Om te verseker dat besluite op die Woord van die Here en nie op kerkgesag berus nie, behoort kerklike besluite die probleem kort en saaklik sonder beredenering in konteks te plaas en te analiseer. Daarna moet die ter sake Skriftuurlike, konfessionele, kerkregtelike of ander beginsels aangedui word, waarop die besluit berus. Rapporte voor die GES verskyn gewoonlik onder die hoofde “materials and mandate; background; observations; considerations; recommendations”. Nederlandse sinodes neem kennis, oorweeg, en spreek ’n oordeel uit en besluit. Stukke voor sinodes van die GKSA kom dikwels rommelrig, omslagtig, onduidelik op die tafel en besluite word geneem sonder dat dit duidelik is waarom dit geneem is. Dit lyk asof sinodegesag eerder as die gesag van oorweginge bedien word.

Kerklike vergaderings behoort goed te onderskei tussen prinsipiële en middelmatige sake. Niemand mag ter wille van “eenvormigheid” gedwing word om op kerkgesag met ’n middelmatige saak te konformeer nie. Uit agting vir die vryheid van die gelowiges het sinodes in die verlede sing van Skrifberyminge, plek van kollekte onder eredienste, kleredrag van ampsdraers, vorme van nagmaalviering, ensovoorts aan die kerke oorgelaat om te maak soos hulle goedvind. Iets soos psalmmelodieë is byvoorbeeld nooit voor 1973 (Acta p 206) gereglementeer nie.

 

6. Beperkte agenda vir meerdere vergaderings

Die kerke het in die kerkorde artikel 30 bepaal dat meerdere vergaderings nie in die wye bevoegdheid van die plaaslike kerk sou indring nie. Juis die selfstandigheid van die plaaslike kerk maak die klassis die belangrikste meerdere vergadering omdat dit die naaste aan die selfstandige kerkrade is (vgl artt 4,5,8,10-15,31,36,39,41,43,44,45,77,79). Die partikuliere sinodes staan reeds verder weg (artt 8,15,31,43,45,47-50). Nasionale en algemene sinodes is slegs by die gemeenskaplike sake soos die Formuliere van Eenheid, kerkorde, sekere aspekte van korrespondensie, opleiding, ensovoorts ter sprake (artt 45,48-53,86).

Die kerke moet doelbewus in meerdere vergaderings vra of ’n bepaalde saak nie in ’n mindere afgehandel kan word nie en of dit op die weg van die betrokke vergaderings lê om oor die saak te handel. Byvoorbeeld, ’n partikuliere of nasionale sinode kan nie oor die traktement van predikante, hulle huisvesting grense van kerke, bedieningspatrone en so meer handel nie. Dit behoort by die betrokke kerk en hoogstens by die klassis tuis. Verder moet die kerke insien dat ’n prinsipiële besluit van een klassis oor ’n aktuele saak ewe-goed die beginsel vir kerke in ander klassisse stel, omdat meerdere vergaderings nie strukture en gesagsfere afbaken nie. Kragtens die eenheid in Christus is wat prinsipieel vir kerke in een klassis waar is, ook waar vir ander kerke in dieselfde kerkverband (kyk art 48).

 

7. Wat by vergaderings tuishoort

Die Kerkorde reël in artikels 31,33,41,44,49,86 ensovoorts watter sake by sommige vergaderings tuishoort. Selfs besware teen besluite van algemene

|186|

sinodes behoort die volle kerklike weg te gaan. Die ondertekeningsformuliere skryf hierdie prosedures vir predikante met leerbesware voor. Ten spyte daarvan het die Sinode van 1964 die sinodale tafel vir direkte besware geopen. Dit misken die feit dat besluite van meerdere vergaderings besluite van kerke in kerkverband is en dat mindere vergaderings besware kan beantwoord sodat dit nie op ’n meerdere vergadering hoef te dien nie. Die mindere vergaderings behoort ook toe te sien dat opdragte vir meerdere vergaderings behoorlik, duidelik en korrek geformuleer word (vgl artt 31,33,46). Elke saak wat by ’n meerdere vergadering tuishoort, behoort ook by ’n bepaalde of alle plaaslike kerke tuis.

’n Saak hoort by 'n meerdere vergadering tuis indien dit ordelik daar ter tafel kom. Elke vergadering het sy eie huishoudelike aangeleenthede, soos prosedure, deputate, roepende kerkraad, sensuur, ensovoorts. Dit pas nie by gereformeerde kerkregering om sake volgens vergaderingstrukture te kompartementeer nie. Weliswaar kan mindere vergaderinge sake behandel om vas te stel wat hulle kan en nie kan afhandel nie, voordat dit by meerdere vergaderings voorgedra word (art 33).

 

8. Kan ’n meerdere vergadering ingryp in ’n kerkraad?

In Nederland het sinodes ingegryp en tug oor ouderlinge en predikante uitgeoefen (GKN 1944). Kerkregtelikes sê aan die een kant meerdere vergaderings mag nie ingryp in die plaaslike kerk en wil aan die ander kant by “wanbestuur” die ingrype ook verdedig (Van der Linde 1983:125). Dit is ondenkbaar dat wanneer ordelike kommunikasie nie ’n kerkraad tot ander insigte gebring het nie, ander kerke daar met reg kan ingryp. Die kerk en kerkraad wat sy eie weg gaan, het reg op sy eiendomme, keuse van optrede — al breek dit van ander kerke weg.

Wanneer ’n kerk onder leiding van sy kerkraad essensiële geloofsaspekte, eenheid in leer en lewe aantas en so kerkverband met ander kerke verbreek, sou die gelowiges wat trou wil bly liewer onder leiding van dienaars uit kerke (moontlik in opdrag van die klassis) ’n kerkraad in kerkverband moet institueer (artt 37,38).

 

9. Kerklike teenoor wêreldlike regspraak

Op sterkte van 1 Kor 6: 1-8 wil sommige gelowiges kerklike vergaderings as howe gebruik om geskille onder gelowiges op te los. Gelowiges behoort nie regsake teen mekaar te hê nie. Indien dit egter wel gebeur, is die kerklike vergaderings nou eenmaal nie geregshowe nie. Die Here het aan geregsdienaars en geregshowe hulle eie roeping tot diens aan die gemeenskap gegee. Kerklike dienaars mag nie daar indring nie, net soos die regbank nie oor kerklike sake behoort te beslis nie (Roeleveld 1982:17-45).