Artikel 68

Stelselmatige opbou in geloof 

 

Artikel 68: Die bedienaars van die Woord moet op Sondag, gewoonlik in die tweede diens, die hoofinhoud van die Christelike leer soos vervat in die Heidelbergse Kategismus uitlê en soveel moontlik jaarliks afhandel volgens die Sondagsafdeling daarvan.

|369|

A. Kerkregtelik

1. Geloofsgemeenskap is wese van die kerk

Die Skrif ken die samekomste van die gelowiges met die oog op volharding in die geloof (Hb 10: 23-27; Hd 2: 1; 44-47; 6: 2; 1 Kor 11: 17-20; 14: 19,26-35). Dit het in die tradisie van die NT kerk gewoonlik op die eerste dag van die week plaasgevind (Hd 2: 1; 1 Kor 16: 2; Op 1: 10). Die “tweede diens” as sodanig het ’n tradisionele en nie ’n Skriftuurlike basis nie.

Die artikel aanvaar die regsbeginsel dat op Sondae erediens(te) plaasvind. Die KO bepaal slegs die inhoud van die tweede diens volgens die belangrike kerkregtelike beginsels wat artikels 53,54 beheers. Die wese, eenheid en welwese van die kerk word deur ware geloof bepaal. Die kerk (gelowiges) moet daarom stelselmatig in geloof (Ef 4: 4-6) opgebou word (Ef 4: 11-16). Die leer moet verkondig word (vgl 1 Tm 4: 11-16; 5: 17; 6: 3; 2 Tm 3: 14-17). Kategismusprediking stel tematies belydenis wat op meer as een teks gebaseer is, soos by vrystofprediking aan die orde, waar Skrif met Skrif vergelyk moet word. Die aksent rus nie op die Kategismus nie, waar op die belydenis wat die gemeente op grond van die Skrlf moet vashou.

 

2. Bedienaar van die Woord op Sondag

Hierdie artikel spreek tereg die bedienaar van die Woord (kyk by artt 2,16,53,55) aan. Nie “die kerk” of “kerkraad” nie, waar die leraar moet die Woord verkondig waardeur die Gees stelselmatig die kerk in die eenheid van ’n ware geloof (Heid Kat S 21) opbou. Die eenheid word bewustelik in ’n Belydenis (Hb 4:14) uitgedruk. Die Kategismus voeg niks by die Woord nie, waar formuleer wat die Wnord sê. Uitleg van die Kategismus moet Woordverkondiging wees wat opnuut die belydenis eiendom en belydenis van elke gelowige maak. Dit kan moeilik teksprediking wees.

Artikel 68 wys die “tweede diens” op Sondag daarvoor aan sonder om eksklusief te wees. Die kerke beoog nie ’n spesiale soort preek nie, waar dat die hoofinhoud van die Christelike leer “soveel moontlik jaarliks” verkondig word. Die hele raad van God en nie net sappiger uitsoek-leerstukke of vryestof nie, moet gepreek word (2 Tm 3: 14-17).

 

3. Die Heidelbergse Kategismus voorgeskryf

’n Mens sou eintlik verwag dat aldrie Formuliere van Eenheid in artikel 68 in verband met “die Christelike leer” genoem sou word. Die Kategismus is egter in 1563 in opdrag van die keurvors Frederik van die Paltz in die vorm van ’n leerboek vir die gemeente in Sondagsafdelings opgestel. Dit bevat grotendeels dieselfde leer as die ander Belydenisskrifte. Hierdie artikel reël orde en skryf nie die Kategismus eksklusief voor nie.

|370|

B. Kerkregering

1. Historiese agtergrond van die tweede diens

Die Jode het pasga en vroeë Christelike kerke nagmaal in die aand gevier. In die tweede eeu verskuif die nagmaal na die oggend en vind die liefdesmaaltye in die aand plaas (lucenarium). Teen die vierde eeu het die vespers begin ontwikkel. Die Reformasie stel ’n preekdiens in die plek van die vespers waar alle nadruk op onderrig van die volk geplaas is. In Nederland en Suid-Afrika het die middagdiens gebruiklik geword. Slegs die Gereformeerde Kerke het die tweede diens as egte leerdiens behou (vgl Dressel 1979).

Die Kerkorde skryf nie die tweede diens as sodanig voor nie, omdat dit nie doel van die Kerkorde is nie. Dit bepaal slegs die karakter van die tweede diens wat bestaan het. Nietemin het die onderhouding en bywoning van die tweede diens van die begin af baie probleme veroorsaak.

Sommige kerke ervaar omstandighede wat ’n aanddiens bemoeilik en hulle hou twee eredienste kort na mekaar in die oggend. Hierdie praktyk moet ontmoedig word. Dit kom prakties op een erediens met ’n onderbreking neer wat eie byeenkoms en prediking nadelig tref. Die vormlike voorskrif van twee dienste spreek nie sterk aan nie. Hoe kan die gemeente geseën word om te gaan en binne ’n halfuur terug verwag word? Waar omstandighede ’n tweede diens en opbou van die hele gemeente verhinder, moet liewer (met advies van die klassis) met een diens volstaan en Kategismusprediking al om die ander Sondag plaasvind sodat die hele gemeente daardeur opgebou word. Afwisseling van Kategismuspreke tussen oggend- en tweede dienste kan ook oorweeg word.

 

2. Geloofsbelydenispreke

Sommige keur afwisseling van Kategismuspreke met preke oor die Nederlandse Geloofsbelydenis op grond van verskil in doel en opset tussen dié twee Belydenisskrifte af (Van der Linde 1982:224). Dié argument verval wanneer die Skrif met Skrif so gepreek en vergelyk word dat die gelowiges weer die taal van die NGB of Dordtse Leërreëls hulle belydenis teenoor die wêreld en dwaalleer maak.

 

3. Ander tweede diens-modelle

In meeste kerke word die tweede diens swak bygewoon. Die Kategismusprediking word blameer en dan probeer predikante allerlei nuwe modelle vir die aanddiens ontwerp (vgl Dressel 1979). Die tweede diens word egter ook swak bygewoon in kerke waar Kategismusprediking lankal nie meer plaasvind nie of as “vrystof” gepreek word. Die vraag is of die tweede nie as alternatiewe diens ingerig moet word vir diegene wat verhinder was om die eerste diens by te woon nie. Dieselfde preek kan selfs gepreek word. ’n Preek wat die oggend getref het, mag sommige weer die aand wil hoor om dit beter in te neem. Dié wat die oggenddiens moes ontbeer, moet tog ook bedien word, al is hulle hoe min (vgl gelykenis van een skaap uit honderd).