Artikel 63

Gereelde nagmaalvierings

 

Artikel 63: Die nagmaal van die Here moet minstens elke drie maande gehou word.

 

A. Kerkregtelik

1. Die jaarlikse pasga 

Die Here Jesus stel die nagmaal in by die derde beker van die jaarlikse pasga en Hy word by die Joodse paasfees gekruisig. Indien die nagmaal bloot die pasga vervang het, sou ’n mens een nagmaalviering per jaar verwag het. Die Here Jesus vervul egter die Ou Testamentiese paasfees (Joh 1: 29; Hb 9: 13-18). Daarom stel hy die nagmaal as durende herinnering en verkondiging soos voeding van die liggaam in (Calvyn Inst IV.18.xix).

 

2. Die Nuwe Testamentiese liefdesmaaltye en nagmaalvierings

In die Nuwe Testamentiese kerk van Jerusalem vind daaglikse liefdesmaaltye plaas waarby dikwels nagmaal gevier word. Nagmaal word baie meer dikwels as die pasga gevier. Paulus sê vir die Korinthiërs om die nagmaal ordelik te laat verloop “so dikwels” as dit gevier word (1 Kor 11: 25,26).

Naas die sakramentele versekering van God se beloftes aan die gelowige, verkondig die nagmaal ook die dood van die Here “totdat Hy kom”. Calvyn het daarom tereg gesê “dat die gelowiges dit dikwels kan gebruik, en nie maar

|351|

net eenmaal in die jaar, en dit nogal terloops” soos in die Roomse godsdiens nie. Dit behoort soos in die ou kerk in elke vergadering van die gelowiges plaas te vind. ’n Jaarlikse nagmaal noem Calvyn ’n “uitvindsel van die duiwel, want dan kan die mense ’n hele jaar lank sorgeloos lewe” (Inst IV.17.xlliv, xlvi). Gereelde en veelvuldige gebruik van die nagmaal is gestalte van ’n gehoorsame geloofslewe. Wie sondig lewe, staan onverskillig teenoor dit wat die nagmaal afteken en verseël.

Dit kan nie sonder meer uit die Nuwe Testament (bv Hd 2: 46, 20: 7; 1 Kor 11, ens) afgelei word dat die nagmaal weekliks gevier moet word nie. Selfs Calvyn skryf dit nie voor nie. Weeklikse nagmaalvierings (Van der Merwe 1976) loop gevaar dat die nagmaalviering die Woordverkondiging sal verdring, formele gewoonte sal vorm of selfs bygeloof mag kweek. Die burgerlike owerhede in Genève het die nagmaal driemaandeliks verlang as kompromis tussen ’n enkele keer per jaar en ’n weeklikse nagmaalviering. Dit is belangrik dat die nagmaal gereeld en sinvol vir elke lidmaat tot opbou van die gelowiges en verkondiging van die dood van die Here gevier word. Die aantal nagmaalvierings moet aan die sin en betekenis van die nagmaal (kyk artt 59,61,62) diensbaar bly en “meer nagmaalvierings” moet nooit as ’n doel op sigself nagejaag word nie.

 

B. Kerkregering

1. Redaksie van die artikel

Die kerkregtelike agtergrond verplig gereformeerde kerke om kerkordelik vir reëlmatige en ordelike nagmaalvierings voorsiening te maak. In 1563 word ses nagmaalvierings per jaar beoog, terwyl in 1578 versigtig vir bykomende nagmaalvierings op die kerklike feesdae (soos by Lutherse kerke in gebruik was) opening gelaat word (Bos 1950:231v). Die Dordtse Kerkorde van 1619 bepaal gevolglik: “Die nagmaal van die Here sa! soveel as moontlik elke twee maande gehou word en indien dit in kerke stigtelik en paslik kan geskied, kan dit ook op paasfees, pinksterfees en Kersdag gebeur. Indien daar egter op ’n plek nog geen kerklike 'orde' is nie, moet eers ouderlinge en diakens ’by provisie’ gestel word” (Pont 1981:183).

Hieruit blyk dat gedurende die Reformasie meer nagmaalvierings as een maal per kwartaal kon plaasvind mits daar kerklike orde en selfs voorlopige amptelike toesig mee gepaard sou gaan. Tog het kwartaallikse vierings gewoonte geword.

Die Nederlandse kerke het in hulle gevestigde omstandighede te Utrecht 1905 die voorlopige voorsiening van ’n kerkraad sowel as nagmaalsviering op feesdae geskrap. Hulle sou gevrees het dat dit die feesdae op die agtergrond mag druk (Kruger 1966:387), ’n argument wat nie oortuig nie. In 1905 word die frekwensie vir nagmaal “ten minste elke twee of drie maande” gestel. Die kerke in Suid-Afrika het hierdie redaksie in 1916 op die voet gevolg en in 1964

|352|

slegs die “twee maande” weggelaat en vervang met “minstens elke drie maande”.

 

2. Die verantwoordelikheid van die plaaslike kerk

Die bediening van die Woord en Sakrament is die primêre roeping van die predikant in en vir die kerk op ’n bepaalde plek. Nagmaal word nie bedien op voorskrif van ’n kerkorde of kragtens sinodebesluit nie, maar op grond van die opdrag van Christus aan ’n bepaalde bedienaar in sy kerk (artt 3,16 KO). Daaroor hou die gelowiges en in besonder die ouderlinge toesig. Gevolglik het die Kerkorde van die CGKN van 1837 duidelik die bepaling van nagmaalvierings aan die kerkrade opgedra (Bos 1950:232). Kerkrade moet dus uitmaak hoe dikwels nagmaal tot opbouing van die hele gemeente moet plaasvind. Sedert die Reformasie bestaan konsensus dat nagmaal ten minste elke drie maande gehou moet word.

 

3. Twee nagmaalvierings op dieselfde dag?

Die eertydse gebruik om tydens oggend- en aanddiens nagmaal te bedien het stilswyend veronderstel dat slegs diegene wat die oggend nie teenwoordig was nie aan die “tweede nagmaal” sou gaan. Die res van die aanddiens was egter vir die hele gemeente bedoel. Hierdie skeiding tussen bediening van die Woord en Sakrament binne dieselfde erediens is onverdedigbaar. Indien op dieselfde Sondag in dieselfde kerk twee nagmaalvierings nodig geag word, moet die hele gemeente in die oggend sowel as die aand aansit. Wanneer in ’n uitgestrekte gemeente op dieselfde of agtereenvolgende Sondae in verskillende wyke nagmaal gevier word en sommige ouderlinge of gelowiges by elke geleentheid teenwoordig is, durf hulle nie deelname aan die nagmaal weier omdat hulle pas ’n nagmaal meegemaak het nie. Hulle is inteendeel verplig op sterkte van die eenheid in Christus en met die mede-gelowiges om die bevel van die Here om sy dood te gedenk en te verkondig so “dikwels” as hulle gelowig kan, te gehoorsaam. Calvyn sou selfs by elke erediens nagmaal wou bedien (Inst IV.17.xliv; 18.xix).

 

4. Tug oor versuim van nagmaalgebruik

Die huisbesoek word in besonder aan die nagmaal verbind (artt 16,23 KO). Gevolglik het reeds die Sinode van Dordrecht 1574 dit aan die “dienaren en kerkraden” opgedra om toe te sien dat al die lede van die gemeente nagmaal vier en om diegene wat versuim te vermaan, vir die oordeel van God te waarsku en as dit nie help nie voor die kerkraad te bring (Bos 1950:232). By Leiden 1619 moes die kerke gewaarsku word om deeglik ag te gee op die redes wat nagmaalversuim veroorsaak. Wanneer mense die nagmaal minag moet totaal anders gehandel word as wanneer hulle weens swakhede, soos geestelike aanvegting of gewetensprobleme van die nagmaal wegbly. Te Dordrecht 1879 het die Christelike Gereformeerde Kerke gewys op nagmaalgebruik as verpligte voorreg vir elke belydende gelowige maar dat die kerke egter in praktyk met

|353|

’n “siekteverskynsel” te doen kry waar mense op sterkte van ’n Nederlandse tradisie hulle van die nagmaal onthou. Die kerkesituasie kan nie deur “’n sinodale besluit of toepassing van sensuur” verander word nie, maar moet deur deeglike en geduldige onderwys van die kant van predikante, sowel as ouderlinge, in prediking, katkisasie en huisbesoek oorwin word (Bos 1950: 233).