Artikel 27

Reëling van dienstyd van ouderlinge en diakens

 

Artikel 27: Die dienstyd van ouderlinge en diakens word deur die kerkraad gereël soos hy tot die meeste stigting van die kerk ag. By periodieke aftreding na minstens twee jare diens of meer, moet ’n eweredige deel jaarliks aftree.

|164|

A. Kerkregtelik

1. Verskil van mening

Die sinodale handelinge en kerklike praktyk in die GKSA voor 1959 toon dat oor hierdie artikel groot verskil van mening geheers het. Verskillende sinodes het geweier om die artikel voor te skryf (1869: art 48; 1888: art 70; 1891: art 88; 1894: artt 86,102; 1904: art 29). Sinode 1907 (art 70) verklaar dat die Skrif oor die dienstyd van ouderlinge en diakens geen bepaling maak nie en derhalwe kan die Sinode daarin nie voorskryf nie.

Diegene wat van die amp as middel wat Christus aan die gemeente gee uitgaan (vgl artt 2,3,12), oordeel dat niemand wat nog die roeping voel en uitvoer, verplig mag word om ontslag uit sy amp te neem nie. Periodieke aftrede wil die vorming van regerende klieke uitskakel en meer mense in die ampte betrek.

Namate die kerk as vereniging verkeerdelik uitgangspunt vir organisasie geword het, is verwag dat sinodes die dienstyd van “kerklike amptenare” reël. Die artikel het as agtergrond die seggenskap wat die burgerlike owerheid in die kerkinrigting gedurende die 16de eeu gehad het (Van Ginkel 1975:235v). Wanneer artikel 12 (“lewenslank”) met artikel 27 vergelyk word, tree onmiskenbaar ’n diskrepansie aan die lig.

 

2. Periodieke diens is moontlik

In die Ou Testament het die priesters “diensbeurte” ten opsigte van tempeldiens vervul (Lk 1: 8). Die feit dat iemand ’n tyd lank diens lewer en dit daarna onderbreek (Kol 4: 14, vgl 2 Tm 4: 10), doen niks af aan die kwaliteit daarvan nie. Waar die Here gawes aan meer broeders gee en die gemeente die roeping kan opmerk en approbeer, is daar op sigself nie onoorkomelike beswaar om “periodieke aftreding” te erken nie. Dit is egter nie noodsaaklik nie.

Waar die Here die dienste gegee het met die oog op die opbou van die gelowiges (Ef 4:11 v), moet die periodieke aftrede egter altyd die beste belange van die gemeente op die oog hê. Verpligte periodieke aftreding is nie ’n beginsel nie. Die feit dat ouderlinge en diakens nie in hulle diens finansieel versorg word nie, maak periodieke aftreding makliker maar kan nie die rede daarvoor wees nie.

 

3. Politieke druk

Dit staan vas dat Calvyn met sy Kerkorde van 1537 net die dienste van predikant (biskop) en diaken geken het. By Bucer het hy kennis gemaak met die regeerouderling uit die gemeente. Hy kon dus in 1541 die Raad van Genève oortuig om ’n kerkraad vir tugoefening in hulle Kerkorde te erken en die Raad het vereis dat die ouderlinge uit die raadslede verkies sou word en die kerkraad onder voorsitterskap van die burgemeester sou vergader. Die diens van hierdie raadslede as ouderlinge is vir ’n jaar vasgestel (Pont 1981:29,30 artt 49, 50, 55).

|165|

Periodieke aftreding is grootliks uit politieke druk en buite-kerklike pragmatisme gebore. Dit wou owerhede gerus stel dat daar geen predikanteheerskappy of “tirannie” in die gemeenskap sou posvat nie, en dat dienende ampsdraers nie hulle persoonlike belange verwaarloos nie (Bos 1950:102; Van Ginkel 1975:242v).

 

B. Kerkregering

1. Redaksioneel

Reeds die eerste Kerkorde te Emden 1571 bepaal dat die helfte van ouderlinge en diakens jaarliks sou aftree, maar waar belange van die kerke dit nodig maak kon hulle langer dien (Pont 1981:104 art 15). Hierdie reëling is in 1905 effens verander toe vir “herkiesing” van dié wat uittree, voorsiening gemaak is. Tereg het die kerke In 1964 die huidige redaksie in lyn met die oorspronklike bewoording vasgestel.

 

2. Kontinuïteit by aftrede

Die reëling van vroeg af dat slegs die helfte mag ontslag neem, toon dat in belang van die kerk kontinuïteit van kennis en ervaring behoue moet bly. Talle kerkrade reël derhalwe dat slegs ’n derde of kwart jaarliks uittree en dat wie ontslag geneem het vir minstens twee jaar daarna nie weer vir dieselfde diens oorweeg sal word nie, tensy dit nie anders kan nie. So word verhoed dat periodieke aftreding net ’n breuk in die kontinuïteit veroorsaak en nie werklik ander in diens stel nie. Tegelykertyd kan die kerkraad deeglik oorweeg wat die omstandighede en beste belang van ’n bepaalde kerk of afgeleë wyk mag wees en in die lig daarvan bepaalde dienstye selfs onbepaald verleng totdat die broeder self redes aanvoer waarom hy ontslag moet neem. So ’n reëling moet egter nooit die wense of eer van die ampsdraer as uitgangspunt neem nie. Die reëling moet altyd die beste bediening In die gemeente op die oog hê.

 

3. Misbruik van periodieke aftrede

Elke kerkraad moet waak dat periodieke aftrede nie die wese van die onderskeie dienste (artt 2., 3) verdof en veroppervlakkig asof die diens nie ernstig geneem moet word nie.

Periodieke aftrede kan misbruik word waar net een predikant in ’n kerk dien wanneer hy sy heerskappy in die kerk wil bevorder. So kan ’n predikant periodieke aftrede met beroep op die Kerkorde invoer om van “lastige” ampsdraers ontslae te raak, wat hom nie blindelings wil volg nie. Kerkrade wat periodieke aftrede misbruik om heerskappyvoering in die kerk toe te laat, versuim hulle roeping en stel die kerk bloot aan tirannie en kenmerke van die valse kerk (art 29 NGB).