Artikel 78

Versoening van en met ’n afgesnedene

 

Artikel 78: As iemand wat afgesny is hom weer deur boetvaardigheid met die gemeente wil versoen, moet dit — voor die viering van die Heilige Nagmaal, of anders wanneer dit geleë is — tevore aan die gemeente bekend gemaak word, sodat hy by die eersvolgende nagmaal, as niemand daarteen beswaar inbring nie, openlik met betuiging van sy bekering weer opgeneem kan word volgens die Formulier wat daarvoor vasgestel is.

 

A. Kerkregtelik

1. Bediening van versoening

Dit het reeds telkens geblyk dat die geestelike tug versoening wil bedien (artt 71,75). Wie in Christus glo se sonde is volkome versoen (Heid Kat V/A 56 en S 23; NGB 15-24). Daarom moet versoening bedien word aan elkeen wat sy skuld bely en Christus met ’n ware geloof aanroep. Die kennis van sonde en geloof in Christus kom nie uit die wil van ’n mens op nie, maar is die vrug van die wedergeboorte wat God deur sy Gees werk (Dordtse Leerreëls 3,4:11-14). Gevolglik is dit reg en plig van dienaars van Christus om versoening te bedien aan elke berouvolle persoon wat van die kerk afgesny was.

|423|

2. Versoening herstel gemeenskap

Daar is reeds herhaaldelik gewys op die kerkregtelike gronde wat kerkwees en nagmaal verbind (kyk by artt 61,71,76 KO). Nagmaal vergestalt vir ’n berouvolle sondaar goddelike versoening en herstelde gemeenskap in die gemeente van Christus (De Jongh 1918:99). Gevolglik verbind artikel 78 versoening van ’n afgesnedene aan die nagmaal. Tog bewerk die nagmaal nie die versoening nie. Daarom kan ’n kerkraad wanneer daar goeie rede voor bestaan, versoening ook op ’n ander geleë tyd laat plaasvind.

 

3. Die kerk moet versoen

By die afsnyding (art 77) het duidelik geblyk dat die kerk (die gelowiges) daadwerklik die afsnyding moes deurvoer en gemeenskap met die afgesnedene verbreek. Indien die kerkraad iemand formeel sonder die gemeente sou opneem, sou die persoon de facto nog buite die kerk as gemeenskap van gelowiges (Heid Kat S 21) staan. Dle gelowiges (kerk) wat afgesny het, moet dus weer opneem. Die kerk kan niemand bekeer nie, maar kan versoen. Versoening plaas die seël op afsnyding as “laaste tugmiddel” wat die Here gebruik het om die sondaar te bekeer en te behou.

 

B. Kerkregering

1. Opname met die Formulier

’n Kerkraad wat iemand wat afgesny was weer in die kerklike gemeenskap wil opneem, betrek die gemeente wat afgesny het by die opname deur approbasie te verkry en die Formulier te gebruik. Aanvanklik gedurende die Hervorming het elke kerkraad op sy eie wyse opgeneem. Die Sinode van Den Haag het egter in 1586 vir die opname ’n Formulier daargestel (1586: artt 69,71). Die bepaling is in 1619 as artikel 78 in die DKO opgeneem. Nie die Kerkorde nie maar die Formulier gee ’n uiteensetting van die Skriftuurlike regsbeginsels waarop die opname berus.

Die Formulier bevat twee dele vir twee verskillende Sondae. Eerstens is daar ’n afkondiging van voorneme met die oog op die aanstaande nagmaal om ’n afgesnedene weer op te neem waartoe die kerk moet instem. Indien niemand ’n wettige beswaar teen die voorgenome opname voorlê nie, vind die opname regtens die volgende Sondag met die tweede deel van die Formulier plaas. Anders as toe die Formulier vir afsnyding gelees is (art 77), sal die persoon wat weer opgeneem word persoonlik voor die gemeente verskyn en die vrae beantwoord.

Die Formulier stel die feit van bekering sowel as die medewete en bewilliging van die gemeente. Daarop volg Skrifgetuienis oor die sleutelmag en wonder van bekering en verlossing. Die afgesnedene word voor die gemeente op sy gewete oor sy berou, sonde en hardnekkigheid, asook sy bekering gevra. Wanneer die persoon bevestigend antwoord, word verklaar dat hy (of sy)

|424|

opgeneem en die gemeenskap herstel is terwyl nog ’n trooswoord volg. Met die beeld van die tuiskoms van die verlore seun (Lk 15: 24), word die gemeente opgeroep om die persoon, soos die engele in die hemel, met blydskap te ontvang.

 

2. Die inisiatief berus by die afgesnedene

Die Kerkorde aanvaar dat die inisiatief by die persoon wat afgesny was, berus om die proses van weeropname aan die gang te sit. Hy moet die verandering wat God bewerk het, kenbaar maak. Die kerkraad moet daarna uit die persoon se leer en lewe vasstel of die boetvaardigheid opreg en diepgaande is. ’n Gesprek tussen die volle kerkraad en die afgesnedene sou daarvoor die beste prosedure wees.

 

3. Die kerk moet opname bewillig

Wanneer iemand wat afgesny was weer opgeneem word, het die kerkraad nie diskresie om te besluit of die versoening in die openbaar sal plaasvind soos by artikel 75 KO nie. Hierdie artikel bepaal dat die kerkraad bewilliging van die gemeente voor die nagmaal moet verkry. Die gemeente ,oet ten volle geleentheid hê om besware teen die opname in te dien. Gevolglik gaan die geformuleerde afkondiging die voorgeskrewe Formulier vooraf (kyk agter in die Psalmboek).

Indien besware ingebring word, sal die kerkraad waarskynlik die opname tot na die eersvolgende nagmaal moet uitstel sodat daar voldoende tyd is om die besware te ondersoek. Verwysings na die erns en omvang van die oorspronklike sonde en optrede in die verlede is nie ter sake nie, dog alleen getuienis wat aantoon dat die berou nie opreg is nie. Die vraag by enige opname is of ’n berouvolle sondaar hom werklik tot Christus begeer en sy koningskap oor sy lewe aanvaar. Verantwoordelike optrede moet weer deur haas u langsaam (festina lente) gekenmerk word sodat nog die persoon nog die gemeente die opname vertroebel.

 

4. “Evangelisasie” moet boetvaardigheid bewerk

In praktyk word soms van “evangelisasie” (sending) onder afgedwaaldes, onverskilliges en buite-kerklikes gepraat. Mense is geneig om besonder toegeeflik te wees wanneer evangelisasie-gevalle tot die “kerk” wil terugkeer. Die begrip evangelisasie is omstrede (Kruger 1985c:29-41) en Van der Linde wys tereg dat werklike bekering die opname moet beslis (1983:250). Te dikwels beoog “evangelisasie” om kerklike lidmaatskap sonder hartgrondige berou en bekering tot Christus en die gemeenskap van die gelowiges te herstel. Die essensiële beginsels wat in die Formulier vir weeropname uitgespel word, behoort by die ondersoek na en besluit oor die weeropname van sogenaamde “evangelisasie gevalle” die kerkraad te lei. Wanneer iemand slegs weer “aan

|425|

die kerk" wil behoort sonder om werklik die gemeenskap van die gelowiges te begeer, ontbreek die gestalte van boetvaardigheid (vgl Ps 31: 51; 51: 17-21; Mt 5: 23-26; Jk 5: 16).

 

5. Heropname van gedoopte buite-kerklikes

Sommige voer ten onregte aan dat die Formulier tegelykertyd ’n geloofsbelydenis inhou, sodat gedoopte persone wat afgesny was, tegelykertyd geloofsbelydenis doen wanneer hulle opgeneem word (Kruger 1966:464). Dooplede wat afgesny was en tot inkeer kom sal eers deeglike kategese moet deurloop. Wanneer die kerkraad hulle tot openbare geloofsbelydenis wil toelaat, sal vooraf ’n afkondiging (kyk Formulier vir Weeropname) aangepas moet word om die gemeente te laat bewillig. Die openbare geloofsbelydenis dien daarna as die formele opname in die boesem van die kerk.

Iemand wat hom of haar as dooplid self aan die kerk onttrek het, word nie weer as “dooplid” opgeneem nie. Dit gaan immers nie oor formele tipes van “kerklidmaatskap” nie. Die “dooplid” wat nou volle gemeenskap met Christus en sy kerk begeer, sal na gepaste kategese belydenis van geloof doen. Sy terugkeer bewys dat hy nou die verbond met God, waarvan die doop teken en seël is, omhels.

 

6. Watter kerk neem op?

Sommige redeneer op grond van die bewoording in die Formulier dat dieselfde kerk wat geëkskommunikeer het, weer moet opneem (Jansen 1950:334). Dit sal so gebeur wanneer die twee handelinge kort op mekaar volg of die persoon in dieselfde plek bly woon. Rutgers bewys egter dat die kerk waar die persoon woon, moet opneem nadat oorleg gepleeg is met die kerk wat afgesny het (De Jongh 1918:97-99). Nie die kerk as ’n regspersoon nie, maar die kerk as organiese gemeenskap (NGB 27-37) neem op.