|426|

Artikel 79 en 80

Waak oor die heiligheid van die amp

 

Artikel 79: As ampsdraers ’n openbare growwe sonde bedryf wat in die kerk skandelik of ook by die owerheid strafbaar is, moet hulle deur die kerkraad dadelik voorlopig in hul amp geskors word, ouderlinge en diakens moet dan deur die kerkraad en ’n naburige kerkraad of deputate van twee naburige kerkrade in hulle amp geskors of daarvan afgesit word. Bedienaars van die Woord moet deur die kerkraad en deur die naburige kerkraad of deputate van twee naburige kerkrade egter net geskors word, waarna die klassis met advies van die deputate van die partikuliere sinode oordeel of hulle heeltemal uit hulle amp afgesit moet word.

Artikel 80: Onder die growwe sondes wat skorsing in of afsetting uit die diens verdien, is die volgende die vernaamste: valse leer of kettery, openbare skeurmakery, openbare godslastering, simonie, trouelose verlating van die diens of indringing in die diens van ’n ander, meineed, egbreuk, hoerery, diefstal, geweldpleging, gewoontedronkenskap, vegtery, onregverdige winsbejag — kortom, al die sondes en misdade wat die bedrywer by die wêreld en die kerk eerloos maak.

 

A. Kerkregtelik

1. Die wese van die amp

Die kerkregtelike beginsels wat die wese van die amp bepaal, is uitvoerig behandel (kyk 2v en by artt 2,16,23 en 25). By die apostels, vroeë Christelike kerke, Rome en die Reformasie, gaan die amp en bediening aan die kerk vooraf omdat Christus deur die diens van Woord en Gees sy kerk vergader (Heid Kat S 21; NGB 27-32; Calvyn Inst IV.3.i-viii). Die dienaars word wel gaandeweg middellik deur die kerk geroep (Hd 1: 26; 6: 3,5; 14: 23; 2 Tm 2: 2 ens), maar hulle amp staan regstreeks in verband met die Hoof van die kerk, Jesus Christus.

|427|

God bou self deur hulle diens (amp) sy kerk op (Rm 10: 14-18; Mt 28: 18-20; 2 Kor 5: 18-6: 4 ens).

Die amp dra in die Nuwe Testament ’n sterk teosentriese karakter. Die Koning laat Hom monargaal by sy volk, die kerk, verteenwoordig (Spoelstra 1971:2633). Die dienaar ontvang geen waardigheid in homself nie. Hy mag slegs die Woord bring wat die Gees gebruik. Gevolglik moet sy leer en lewe bewys lewer dat hy ’n dienaar van en aan Christus gehoorsaam is. Die oomblik wat hy ’n growwe sonde bedryf, skend hy deur sy eie toedoen sy geloofwaardigheid as gesant en dienaar van Christus en maak sy sonde hom sy diens onwaardig en daarvoor onbekwaam.

 

2. Die Skrif skryf kwalifikasies vir die amp voor

Die Skrif eis dat diegene wat die dienste verrig aan sekere vereistes beantwoord (Hd 6: 3; 20: 28-31; 1 Tm 3; Tit 1: 7-11 ens) en oor “goeie getuienis” beskik (kyk inleidende paragraaf, bevestigingsformuliere). Wie ’n growwe sonde in leer of lewe begaan, beskik nie meer oor goeie getuienis nie en hy beantwoord nie meer aan die eise wat die Here self vir die dienaars gestel het wat Hom by sy volk moet verteenwoordig nie. Gevolglik moet iemand wat nie meer die amp waardig is nie uit die diens gesit word, anders sou dit net beteken dat mense bly dien wat Christus volgens die Skrif nie vir die diens geskik ag nie.

 

3. Christus gebruik sondige mense as dienaars

Elkeen wat tot kerklike diens geroep word, weet dat hy, wat die Here by sy volk in sy bediening moet verteenwoordig, self ’n sondige en swakke mens is (Rm 7: 7-26; 2 Kor 4: 7; 6: 4-10; 10: 9; 13: 9). Die Here Christus begenadig sondige en swak mense om heilige werk vir Hom en die gelowiges te doen (Gl 2: 3; 3: 26-67; 5: 4-7; 6: 1-5,14; Ef 4; Fil 3: 7-14; Kol 1: 28,29 ens). Dit gaan daarom nie daaroor dat kerklike dienaars volmaak moet wees en geen sonde het nie.

Wie egter in “growwe” sonde val, het op daardie oomblik sy oog nie op Christus gehou nie. Al word sonde vergewe, het sonde noodwendig en onvermydelik gevolge (2 Sam 12: 13-14; Ps 51: 6,10). Gevolglik moet die aard en omstandighede waarin ’n ampsdraer sondig, noukeurig oorweeg word. Slegs “growwe” sonde maak hom sy diens onwaardig. Sonde is “grof” wanneer die owerheid dit as misdaad beskou of die kerk van die Here dit in ’n baie ernstige lig beskou (art 80 KO), omdat die aard van die sonde nie met ’n dienaar in die kerk van Christus gerym kan word nie. Wanneer ’n dienaar “eerloos” in kerk of samelewing geword het, kan hy nie langer in die diens van God staan nie.

Gevolglik moet ’n indringende ondersoek na die aard, omvang en gevolge van die sonde van ’n dienaar ingestel word in die lig waarvan besluit moet word of die dienaar uit sy amp afgesit moet word en of met ’n vermaning of soms met ’n “proeftyd” volstaan kan word. Herstel in die amp, sonder afsetting, hang saam met die vraag of iemand in sy eer herstel kan word.

|428|

4. Tug oor ampsdraers en “gewone” tug

Die verhouding van elke gelowige tot die Hoof van die kerk, ons Here Jesus Christus, is grondliggend. Geen enkele gelowige kan daarom van die tug volgens artikels 71 tot 78 vrygestel word nie. Dit gaan sonder aansien van die persoon oor elkeen in die gemeente van Christus. Die sonde waaraan ’n ampsdraer hom skuldig maak en wat uiteindelik afsetting verdien, mag begin het toe hy vermaninge volgens artikels 72 tot 74 hardnekkig in die wind geslaan het. Sodra hy van die nagmaal afgehou moet word (at 76), kom sy ampwaardigheid in gedrag.

Rome onderskei tussen geestelikes en leke en beoefen ’n eie tug en regspraak oor geestelikes. Visser loop dieselfde gevaar wanneer hy redeneer dat “sleutelmag” oor “lidmate” volgens artikels 72 tot 78 maar oor ampsdraers volgens artikels 79-81 uitgeoefen word (Visser 1982:98-135,152). Hy voer as doel vir ampstug onder andere ook die behoud van die sondaar aan (1982:119-121; 341) en stel dat ’n ampsdraer hom vanweë sy amp in dieselfde sonde meer skuldig as ’n “gewone” lidmaat maak en daarom “dubbel-swaar” volgens ’n eie tug bedien moet word (1982:17,112,393). Indien ampstug “sleutelmag” (Heid Kat S 31) sou wees, sou afsetting uit die amp onses insiens ook uitsluiting uit die koninkryk beteken het, wat nie aanvaar kan word nie.

Tug oor ampsdraers hou ’n “strafbepaling” in (Visser 1982:393,427, vgl 156,147,542) wat ook nie by “gewone” tug die geval is nie. Daar is sprake van “vonnis” voorberei en uitvoer en onherroeplike “afsetting” (dispositio major; Visser 1982:344,533). “Gewone” tug moet saam met en na afloop van ampstug (vgl Visser 1982:538-540) sy loop neem en dit dra nie soos ampstug die karakter van “straf” (vonnis) nie.

Die Skrif, Belydenis en Kerkorde bied geen grond om “ampsdraers” ten opsigte van “gewone” gelowiges vir ’n afsonderlike tughandeling te onderskei nie. ’n “Ampsdraer” dra geen besondere “status” soos die Roomse clerus wat hom aan eie reëls onderhewig maak nie. Die apostels skryf eenvoudig as “ons” oor hulleself en die gelowiges. In sover die geloofsverhouding tot Christus, wat die wese van die kerk as vergadering van gelowigs bepaal, op die spel is, is dieselfde tug gelykelik op ampsdraers en gelowiges van toepassing (artt 71-78; Heid Kat S 31). Hierdie tug wil die sondaar in die koninkryk behou en bereik sy doel op die oomblik waarop berou en bekering intree.

By die tug oor ampsdraers moet egter oor afsetting uit die amp besluit word ongeag die vraag of die sondaar diep berou het. Die tug oor ampsdraers dra ’n dwingende en straffende karakter en mag selfs as afskrikmiddel dien (1 Tm 5: 19,20). Wanneer ’n predikant afgesit word, het sy sonde vir hom en sy gesin selfs finansieel gevolge. As dit die gewone tug oor sy “sonde” ingehou het, sou ’n ampsdraer in stryd met die reg in artikels 76,77 inderdaad kerklik gestraf word.

Hierdie opvatting is met die Skrif in stryd. Dit gaan by die tug oor ampsdraers (artt 79,80 KO) nie basies oor die versoening van die persoon met God en die gemeente nie, maar oor die ampswaardigheid al dan nie. Op grond van artikel 71 KO beoog tug oor ampsdraers die eer van God (Visser 1982:112) sodat die bediening nie beklad word nie (2 Kor 6: 3; Visser 1982:122-124) en die heil van die gemeente (Visser 1982:115-116) verseker word. Visser sê tereg

|429|

dat sonde by ampsdraers die gemeente in werklikheid herderloos laat (1982:116). Juis hierdie beginsels noodsaak dat onmiddellik wanneer ’n growwe sonde openbaar geword het (kyk by art 76 KO) die ampsdraer geskors en selfs binne ’n kort tyd afgesit word om die wonderlike bediening van versoening (2 Kor 5: 17-6: 3) nie vir een oomblik te laat skade ly nie. Hoewel die ampstug medies radikaal ingryp vereis die doel van die bediening van versoening volgens artikel 71 dat die gewone tughandelinge gelyktydig met die ampstug sy loop sal hê. Trouens, juis hierdie tughandeling kan die ampsdraer wat gesondig het en daaroor diep berou het, vertroos en die aanstoot uit die gemeente wegneem wanneer werklike versoening deur vergiffenis plaasvind.

Dit is soms nodig soos by huweliksprobleme om ’n ampsdraer “heimlik” te vermaan totdat die aangleentheid onder artikel 76 voor die kerkraad gelê word. Eers daarna en dan kan die kerkraad voorlopige skorsing (art 79) oorweeg. Dit is fataal as die ampstug vooraf en los van die bediening van versoening (artt 72-76) plaasvind. Dit kom dikwels op onbekookte prosesse neer.

 

5. Wie oefen tug oor ampsdraers uit?

Ons bely dat die ampsdraers “dienaars van Jesus Christus, die enigste algemene Opsiener en die enigste Hoof van die Kerk” is (NGB 31) en dat die “regeerders van die Kerk” ’n beperkte kerkorde vir die welwese (instandhouding) van die kerk mag instel solank dit nie afwyk van wat Christus in sy Woord voorgeskryf het nie (NGB 32). Die Here Christus oefen self in die kerkregering tug oor ampsdraers wanneer die tug in die gees van Christus en volgens die voorskrifte in sy Woord verloop.

Die gemeente rondom die genademiddele (NGB 27-30) maak die een kerk van Christus op aarde sigbaar onder leiding van die dienaars. Die ampte is aan die plaaslike kerk verbonde (Visser 1982:96. Vgl Inst IV.3.vii,viii). Dit kan egter kollegialisties misverstaan word asof die kerk oor die “ampsdraers” beskik en demokraties tug uitoefen. Die Heilige Gees het egter ouderlinge aangestel om toesig oor die kerk en oor mekaar te hou en om valse voorgangers uit die gemeente te weer (Hd 20: 28-31).

Elke ouderlinge hou toesig oor sy mede-ouderlinge, predikant en diaken (Mt 18: 15-17 en 1 Tm 5: 19) terwyl ook die gelowiges onderlinge toesig uitoefen (kyk artt 72-76 KO). Wanneer iemand eers alleen en daarna saam met ander (“getuies”) vrugteloos ’n ampsdraer vermaan het, kan hulle die aangeleentheid in die kerkraad openbaar maak (vgl ooreenkoms Mt 18: 15v en 1 Tm 5: 19). Daarna tree die ouderlinge as raad van die kerk na vore om die tug namens Christus te oefen (NGB 30, artt 76,79 KO). ’n Belangrike aspek van onderlinge vermaning word verder by artikel 81 KO bespreek.

Die vergadering van ouderlinge (kerkraad) moet dus die opsig en tug verder voer en oordeel of uitsetting uit die amp in die plaaslike kerk moet plaasvind. Hiervoor is die kerkraad immers ingestel (Calvyn: Inst IV.4.i,ii; 11.i.vi). Die Konfessie ken naas die kerkraad geen ander kerklike “vergadering” nie (art 30 NGB). Tog het “meerdere vergaderings” ’n plek in die regering van die plaaslike kerk (kyk by artt 29,36 KO). Die Presbiteriane en sommige gereformeerdes gee aan meerdere vergaderings naas die kerkraad namens

|430|

“kerkverband” ’n selfstandige regeertaak (Macpherson sa:136-141; Van der Linde 1965: hfst 4). In Nederland is selfs aangevoer dat die reg om ampsdraers af te sit nie die kerkraad nie, maar meerdere vergaderings (soos by Presbiterianisme) toekom. Hoewel ontken word dat dit hiërargiese mag is (Jansen 1952:338), het Gereformeerde Kerke in Nederland ’n tragiese rekord met betrekking tot tug deur meerdere vergaderings.

Visser argumenteer dat kerkrade deur hulle kontraktuele ooreenkoms met ander kerke in die aangaan van “kerkverband” deur middel van ’n Kerkorde hulle bevoegdheid om tug oor ampsdraers uit te oefen “gesamentlik en vrywillig” begrens en aan “meerder kerklike vergaderings inspraak in sake van tug oor ampsdraers” verleen het (Visser 1982:204-5,216,391,519). Hy ken daarom ’n beperkte eie tugreg aan meerdere vergaderings toe (Visser 1982:308,316), asof kerke oor die reg beskik.

Hierdie stelling berus op sekulêre verenigingsreg wat aan ’n kollegium regspersoonlikheid verleen waardeur hy vrylik ooreenkomste met ander kan aangaan en sy magte en bevoegdhede na ander instansies kan delegeer. So ’n kollegium is koning oor homself. Die Skrif en Kerkorde beskou egter Christus as monargale Hoof van sy kerk. Wanneer Hy ’n taak aan bepaalde dienaars opgedra het, mag hulle dit nie aan ’n ander instansie oordra nie. Voor en gedurende die Reformasie het geen bipolêre opvatting voorgekom wat soos Visser teenoor Spoelstra (1982:248) “meerdere vergaderings” as eie selfstandige strukture langs en buite die kerkraad aanvaar nie (Spoelstra 1966:19-20, 177-180; 1967:23v; 1977:45v; 1980:3v; 1970:47v).

Talle tughandelinge oor predikante en professore spreek van ’n patetiese onvermoë by sogenaamde “meerdere” vergaderings om beginsels van die Skrif en Heilige Gees en prosedures van die Kerkorde te handhaaf. Visser wys dat in talle gevalle die kerkade regsbeginsels beter as sinodes hanteer het (vgl Vlsser 1982; Coolhaes 348v,357v,447v; Arminiane 363v; Beijer 505v; Swart 555v; Venter 558v; Geelkerken 279v,371 v,463v; Schilder en Greijdanus 257v,374v,464v). Die Konfessie erken slegs een raad in die kerk (NGB 30). “Meerdere vergaderings” kan derhalwe nie alternatiewe of mede-bedienaars van die tug wees oor iemand wat onder toesig van die ouderlinge (kerkraad) van ’n bepaalde kerk op ’n bepaalde plek verkeer nie (Calvyn Inst IV.3.vii,viii).

Die kerkraad is self in ’n meerdere vergadering aanwesig. In daardie sin vergader die kerkraad saam met ander kerkrade (by wyse van getrapte verteenwoordiging deur afvaardiging) om kragtens die geestelike eenheid in Christus (kerkverband) saam met meer kerke die regering van Christus wat die kerkraad alleen moes doen, te bedien. Die kerkraad aanvaar nie ’n besluit of advies van ’n klassis omdat hy kontraktueel in ’n Kerkorde gebind is of omdat die kollegialisme of presbiterianisme sê dat die geheel groter as die dele is nie. Die vraag is dus nie watter posisie die struktuur beklee wat die besluit neem nie, maar watter kwaliteit, gronde en strekking die besluit inhou.

Kragtens art 30 NGB en art 30 KO kan slegs die kerkraad tug oor ampsdraers volgens art 79 KO bedien. Die kerkraad verkry daarvoor kragtens en in kerkverband die advies en hulp van naburige kerke (kerkrade) in meerdere vergadering. Die verwoestende stryd oor “tugreg van meerdere vergaderings” in Nederland is ’n valse probleemstelling wat grootliks op sekulêre regsbeginsels oor status, bevoegdheid en posisie van “verenigings” soos

|431|

kerkrade en meerdere vergaderings, berus. Die probleem gaan dan van bedienende na dwingende mag oor.

 

6. Kerkraad met of sonder diakens

Die kerkraad bestaan volgens Calvyn uit ouderlinge (Inst IV.4.ii, 11.i.vi). Die Kerkorde volg hom daarin na, alhoewel diakens by klein kerkrade volgens plaaslike reëling by die kerkraad bygereken kan word (art 38).

Kruger (1966.467) wys die uitoefening van die tug oor ampsdraers aan die kerkraad saam met diakens toe. Die Dordtse Kerkorde 1619 het die beroeping van predikante, ouderlinge en diakens aan die “kerkraad en diakens” opgedra (DKO 4,10,22,24). Sommige kerkregtelikes (Visser 1982:202,511, Van der Linde 1983:255) en die Sinode van Potchefstroom 1979 (p 560) beperk die bediening van tug oor ampsdraers by die kerkraad van ouderlinge.

Daarteenoor verleen artikel 38 KO aan die kerkraad diskresie om deur “plaaslike reëling” die diakens by te reken. Kragtens artikel 81 kan diakens oor ampsbediening toesig hou. Die diakens was betrokke by die roeping tot die amp. Diegene wat tot die roeping tot die amp meegewerk het, behoort ook by die skorsing in en afsetting uit die amp betrokke te wees terwyl die ouderlinge die tug van artikels 74-77 behartig.

Die ouderlinge bedien die geestelike tug (artt 72-78) oor gelowiges en ampsdraers. Wanneer egter oor die ampswaardigheid van ’n ampsdraer geoordeel word, sou inspraak van die diakens minstens by die amp van ’n medediaken verdedig kon word. ’n Kerkraad sal sy diskresie (art 38 KO) kan uitoefen wanneer hy diakens in die tug oor die ampsdraer wil bybring.

 

B. Kerkregering

1. Redaksie van artikel 79

Die Konvent van Wesel 1568 adviseer dat die tug oor ampsdraers in klassis (presbiteriaans) uitgeoefen moes word (Pont 1981:89). Die eerste Sinode dra dit egter aan die kerkraad (konsistorie) op om ouderlinge en diakens af te sit. Die klassis sou oordeel of predikante heeltemal uit hulle diens afgesit moet word. Indien die kerkraad nie tevrede was nie, kon hy hom op die Provinsiale Sinode beroep (Emden 1571 :33).

Toe appèl in ’n aparte artikel gereël is het dit uit die tugartikel verdwyn (1578). In 1581 word ’n naburige kerkraad by die afsetting van ouderlinge en diakens bygebring en die Dordtse Kerkorde 1619 die kerkraad saam met die naburige kerkraad ook oor die skorsing van predikante laat oordeel. Die GKN te Utrecht 1905 laat die kerkraad en naburige kerkraad oor skorsing van ouderlinge, diakens en predikante, oordeel, terwyl die klassis na advies van deputate van die partikuliere sinode (art 11,49) oor die afsetting van predikante besluit. Die “advies” van deputate is dus eers in hierdie eeu by die “oordeel” oor afsetting van predikante bygebring.

|432|

In Suid-Afrika het die Sinode van 1907 vanweë landsomstandighede aan die naburige kerkraad opgedra om ’n kommissie te deputeer om die kerkraad by te staan. Die Sinode van 1936 benoem as alternatief vir ’n naburige kerkraad kommissies uit twee naburige (naasgeleë) kerkrade. Die GKSA neem dit in 1964 in die redaksie van die artikel op. Volgens Sinode 1936 moes die kommissie uit die predikant of konsulent en minstens twee ouderlinge bestaan (art 87) wat vandag nog die reël is. Die bewoording van 1964 gee duideliker te kenne dat die kerkraad reeds voorlopig moet skors (Kruger 1966:466).

 

2. Hoe die klag ter tafel kom

Wanneer ’n ampsdraer ’n growwe openbare sonde gedoen het waarvan ’n deel van die kerkraad kennis dra, kan die kerkraad die aangeleentheid direk ter tafel neem, die klag formuleer en die betrokke ampsdraer daarmee konfronteer. Hy moet die geleentheid kry om hom oor die klag te verantwoord (Visser 1982:512).

Wanneer iemand ’n ampsdraer heimlik en met getuies vrugteloos vermaan het (art 72 KO, 1 Tm 5: 19), staan hy onder verdenking dat sy verwerping van die vermanings op ’n growwe sonde neerkom (artt 74,76 KO). Die ampswaardigheid van die betrokke ampsdraer is dadelik ter tafel.

’n Paar gemeentelede kan ’n growwe openbare sonde van ’n ampsdraer per brief of in afsonderlike briewe by die kerkraad aanmeld (1 Tm 5: 19). Gemeentelede kan ook vra of hulle saam die kerkraad kan ontmoet om ’n klag te lê. Hulle kan ook by die Voorsitter en/of skriba ’n klag teen ’n ampsdraer mondelings formuleer en dit onderteken.

Aan 1 Tm 5: 19 moet altyd voldoen word (kyk Dt 17: 6; 19: 15). Wanneer ’n man en vrou teen ’n ampsdraer ’n klag lê, moet vasgestel word of dit werklik onafhanklike “getuies” oor ’n growwe openbare sonde is. In talle gevalle geld ’n man en vrou se getuienis as een en dieselfde getuienis en moet hulle eers saam met ’n ander persoon volgens Mt 18: 15-17 en 1 Tm 5: 19 die ampsdraer gaan vermaan.

In ’n uitsonderlike geval kan sensuur oor ’n mede-ampsdraer volgens artikel 81 KO ’n growwe openbare sonde aan die lig bring. ’n Mede-ampsdraer wat reeds saam met “getuies” ’n kollega vermaan het, kan by sensuur onder artikel 81 KO nogeens ’n ampsdraer vermaan. Daarvandaan mag die “breë kerkraad” ’n klag na die raad van ouderlinge moet verwys. Iemand mag egter nie toegelaat word om onder artikel 81 KO ’n klag oor die leer of lewe van ’n mede-ampsdraer te lê as daar nog nie volgens Mt 18 of 1 Tm 5 heimlik vermaan is nie.

’n Kerkraad moet, waar nodig, in die lig van getuienis ’n klag beter formuleer. Die wêreldse hof gooi ’n klag uit wanneer dit formeel nie goed geformuleer is nie. Die kerkraad is egter nie ’n hof nie, maar ’n raad van ouderlinge wat hulle in terme van die voorskrifte van die Hoof van die kerk moet verantwoord oor presies waarvan ’n ampsdraer aangekla word. Wanneer ’n klag swak of onvolledig in die lig van die ondersoek formuleer is, moet die kerkraad stap vir stap die klag duideliker of omvattender formuleer. Die kerkraad moet in diens van Christus soms as klaer, pleitbesorger, vermaner en beoordelaar, soos ’n vader by ’n klag teen sy kind, optree.

|433|

3. Openbare growwe sonde

’n Sonde wat skorsing in of afsetting uit die amp verdien, moet lynreg teenoor die essensiële vereistes vir ’n dienaar van Christus in 1 Tm 3 en Tit 1 staan (Visser 1982:500). Bucer het Calvyn gevolg en gepoog om dié growwe sondes, soos in artikel 80 KO, aan te dui (Visser 1982:502).

Skorsing en afsetting van ampsdraers vind plaas op grond van “openbare growwe sonde wat in die kerk skandelik of ook by die owerheid strafbaar is” (art 79). ’n Ampsdraer moet volgens artikel 80 KO aangekla word van ’n sonde of misdaad wat hom “by die wêreld en die kerk eerloos” maak. Wanneer ’n ampsdraer hardnekkig die vermanings van meer as een verwerp het (Mt 18: 15-17; artt 72-74 KO), maak dit hom in die kerk eerloos. ’n Klag teen ’n ampsdraer kan slegs ter tafel geneem word indien daar formeel twee of meer onafhanklike klaers is en die klag prima facie (op die oog af) ’n sonde in terme van artikel 80 KO aandui.

Die Konvent van Wesel het in 1568 ’n lys van sondes genoem waaroor ’n ampsdraer vermaan maar nie geskors of afgesit kan word nie, byvoorbeeld oppervlakkige of ligsinnige Skrifuitleg, luiheid in Skrifstudie, laksheid ten opsigte van ampspligte, vuil grappe, leuentaal, kwaadsprekery, openbare gierigheid, woede-uitbarsting, huislike onenigheid, pronksug en heerssug (Pont 1981:89 art 116). Oor hierdie soort sondes moet ’n ampsdraer onder die “gewone tug” (en art 81 KO) ernstig vermaan word. Eers wanneer hy herhaalde vermanings verwerp, kan hy aangekla word dat hy sy amp onwaardig geword het. Iemand moet ook ’n tyd lank in kettery, dronkenskap en gierige winsbejag volhard, voordat dit in terme van artikel 80 KO as ’n growwe openbare sonde kwalifiseer. Ketterjagtery of vitterigheid teen ampsdraers moet afgewys word.

Die sonderegister is natuurlik slegs ’n leidraad, soos die laaste reël in artikel 80 KO ook sê. In breë trekke kan dié sondes verdeel word in sondes teen die eerste tafel van die Wet (valse leer, kettery, rebellie as openbare skeurmaking, openbare godslastering, meineed) en sondes teen die tweede tafel van die Wet (egbreuk, hoerery, diefstal, geweldpleging, gewoontedronkenskap, vegtery, onregverdige winsbejag). Sondes teen die kerk van Christus (skeurmakery, simonie, trouelose verlating van die diens of indringing in die diens van ’n ander) is per implikasie ook sondes teen die Koning van die kerk en die naaste. By die owerheid sal sommige sondes teen die eerste tafel en enkeles teen die tweede tafel van die Wet soms ook strafbaar wees. Daarbenewens sou talle oortredings van wette, soos verkeersoortredinge, nie deur die owerheid as “krimineel” of deur die kerk as tugwaardig beskou word nie.

Trouelose verlating van die diens is nie dieselfde as eiewillige neerlê van die amp nie, maar kom neer op eiewillige versuim van ampspligte byvoorbeeld deur net te verdwyn, sonder dat van die “ampregte” (Visser 1982:507) afstand gedoen word. Indring in die diens van ’n ander ampsdraer berus op selfoorskatting, heerssug, trots en aanmatiging wat Christus as Hoof van die Kerk misken (1 Sm 15: 23).

Oor die algemeen kom die formulering van openbare growwe sondes in artikel 80 KO verouderd voor. Dit pas in ’n eenvoudige kulturele samelewing. Vandag kom valse leer, kettery en godslastering soms voor in ingewikkelde wetenskaplike teorieë en stelsels, teologiese strominge, sinkretisme tussen

|434|

godsdienste, ensovoorts. Sondes teen die tweede tafel van die Wet soos roekeloos bestuur, strafbare manslag, permissiewe seksuele praktyke, gewelddadige politieke verset, obskure vermaak oor videos, insolvensie, gemaklike egskeiding, saamwoon, beroeps- en sakepraktyke (moontlik van die eggenote van ’n ampsdraer), skep probleme wat in die 16de eeu haas onbekend was en vandag dikwels geïgnoreer word. Iemand word nie meer so maklik in die permissiewe wêreld of in swart gemeenskappe as eerloos beskou nie. Sondebesef raak gerelativeer en kan verskillend en selektief toegepas word. Sondes soos “simonie” (kyk Hd 8: 18-25) waar iemand ’n kerklike amp kon koop of verkoop, het waarskynlik verdwyn, terwyl in bepaalde gevalle die “amp” met die oog op status, salaris, honorarium of jag op finansiële byvoordele gesoek en bedryf mag word (kyk 2 Kor 2: 17; 1 Pt 5: 2). Trouelose verlating van diens vind nie meer soos in die 16de eeuse vlugtelingkerke en by rondloperpredikers plaas nie. Dit kan egter verfynd beoefen word onder vorme van emeritaat, verlof, strewe na akademiese, militêre of politieke loopbane en, indien dit platval, word met die kerklike diens (sonder innerlike roeping, art 3) voortgegaan. Indringing in die diens van ander geskied nie fisies konkreet nie, maar subtiel. Oor ’n ander se diens word gepraat maar nie met hom nie. Soms word visitasie gebruik om teen ’n predikant met ’n ander politieke of kerklike sienswyse aan te hits, ensovoorts, ensovoorts.

Hierdie vorme van sonde sal nie almal tug onder artikels 79,80 verdien nie. maar moet bestry word. Uit die sondige hart van mense kom vandag nog dieselfde sondes van onverskilligheid, verwêreldliking, geldsug (1 Pt 5: 2), winsbejag, wellustigheid soos in die 16de eeu, net in moderne vorme, voor. Die “eer” van die kerklike amp en ampsdraer het vandag al grootliks verdwyn. Ouderlinge en diakens word bykans nie meer gereken nie. Predikante word as opgeleide professionele beroepsmanne beskou wat vir hulle eie voordeel werk. Daar sal blykbaar ernstig besin moet word hoe die regte ampstug die eer, aansien en integriteit van kerklike dienste kan handhaaf en herstel.

 

4. Voorlopige skorsing

Wanneer ’n kerkraad ’n klag ontvang, hoef hy nie die naam van die klaer(s) aan die aangeklaagde bekend te maak nie, maar wel die klag omdat die kerkraad die klag oorneem Wanneer hy dit ter tafel neem (vgl “aanneem” 1 Tm 5: 19). Kerklike tugoefening is nie ’n proses tussen ’n klaer en aangeklaagde nie (De Jong 1918:111). Die kerkraad roep ’n ampsdraer op om hom teenoor ’n klag aan die kerkraad te verantwoord.

Die voorlopige skorsing word in kerklike praktyk dikwels verkeerd verstaan. Sommige lees artikel 79 asof daar staan: “As ’n ampsdraer van openbare growwe sonde beskuldig word... moet hy dadelik deur die kerkraad voorlopig geskors word…”. Kortom, sodra ’n klag met twee handtekeninge ontvang word, vind die voorlopige skorsing plaas en word naburige kerkrade ingeroep om oor afsetting (in geval van ouderlinge en diakens) of skorsing (in geval van ’n predikant) te handel. Die kerkraad het dan nog niks ondersoek, vasgestel en beoordeel nie.

|435|

Die artikel neem egter die bedryf van ’n growwe openbare sonde en nie gerugte nie as uitgangspunt. Wanneer ’n klag aan 1 Tm 5: 19 en aan artikel 80 KO beantwoord, moet die kerkraad vasstel of die beweerde sonde inderdaad begaan is of bedryf word (Visser 1982:515). In die loop van sy ondersoek mag die kerkraad die klag wyer of smaller moet herformuleer en die beskuldigde daarmee konfronteer.

Wanneer die kerkraad ’n growwe openbare sonde vasstel (dit kan bv op ’n skulderkenning onmiddellik of anders moontlik eers na ’n tydperk van ondersoek gebeur), moet die persoon van die nagmaal afgehou word (art 76), al is daar nie ’n nagmaal binne afsienbare tyd op hande nie. Op sterkte van die growwe openbare sonde word die ouderling en diaken geskors, maar ’n predikant voorlopig geskors. Dit is ondenkbaar dat iemand wat weens ’n growwe openbare sonde geskors word (art 79), in goeie reg nagmaal sou kon gebruik. Die bearbeiding en bediening van versoening volgens artikels 74-76 stel die kerkraad in staat om die hele aangeleentheid duidelik te kry.

Die ondersoek voor en na onderskeidelik die skorsing en voorlopige skorsing is die taak van die kerkraad kragtens die roeping wat Christus op die ouderlinge en gemeente gelê het (Hd 20: 28-29; 1 Kor 5: 12,13; Kol 2: 16v; 1 Ts 5: 21; 2 Ts 3: 6; 1 Tm 6: 3v). Die kerkraad het diskresie om ouderlinge en diakens te skors en dit na ’n tyd op te hef. Wanneer die kerkraad egter oordeel dat die sonde afsetting uit die amp mag verdien, roep hy naburige kerkraad of deputate van twee naburige kerkrade by om hom oor afsetting te adviseer.

Die kerkraad het dieselfde primêre bevoegdheid in geval van ’n klag teen ’n predikant. Wanneer die ondersoek tot “voorlopige” skorsing lei, kan die kerkraad volgens diskresie eers verder ondersoek instel (soos bv by huweliksonenigheid) of selfs bevind dat bepaalde klagtes tog geen “growwe openbare sonde” inhou nie en die voorlopige skorsing ophef. Kragtens artikel 30 KO behartig die kerkraad die ondersoek, aanhoor van getuies, gesprekke met of bearbeiding van die betrokke ampsdraer en stel die feite vas. Wanneer die kerkraad oordeel dat afsetting van ampsdraers of skorsing van ’n predikant in gedrang is, lê hy die stukke aan die classis contracta voor. Die classis contracta heropen dus nie weer die saak nie, hoor nie die getuies nie, ensovoorts. Kragtens die Presbiterianisme word artikel 79 egter soms so verstaan dat die klassis (die presbiteriaanse ring) bestuursbevoegdheid oor kerkrade het en dat elke gegronde klag aan naburige kerke (classis contracta) of in geval van predikant aan die klassis voorgelê moet word om weer op die hele aangeleentheid in te gaan.

Wanneer ’n kerkraad tydens sy ondersoeke voor die vraag te staan kom of ’n bepaalde sonde skorsingswaardig is, kan hy ’n naburige kerkraad vir advies inroep. Dit geskied buite artikel 79 om op grond van kerkverband (vgl art 41). Indien ’n kerkraad sou besluit om te skors of om nie te skors nie en iemand oordeel dat die kerkraad reg krenk, kan hy hom op die klassis beroep (art 31). In daardie geval gaan die meerdere vergadering in op die getuienis wat die kerkraad beoordeel het en mag getuies weer gedaag moet word.

Wanneer die predikant in gedrang of die saak spoedeisend is, wys die kerkraad ’n voorsitter uit sy midde aan, liefs nadat die konsulent geken was (kyk by art 5; GKSA 1907: artt 113,115). Indien moontlik, lei die konsulent die kerkraad in die ondersoek na klagte teen sy predikant.

|436|

Tydens “voorlopige skorsing” (by predikante) of skorsing (by ander ampsdraers) word die egtheid van berou tydens kerklike sensuur (art 76) getoets. Dit kan volgens Rutgers juis ’n persoon daartoe bring om homself die amp van Christus onwaardig te ag en gevolglik om ontslag uit die amp vra wat dan toegestaan moet word (De Jongh 1918:105). Visser beskou dit “onaanvaarbaar” omdat die ampsdraer by bevestiging beloof het om hom aan kerklike vermaning en tug te onderwerp (1982:551). Geen ampsdraer het “die reg om die tugtoepassing langs ’n ‘kortpad’ te omseil ... nie. Geen kerkraad het ook die reg om in so ’n geval die tugoefening op te skort en ontslag uit die amp te verleen nie.” Artikel 79 sou geen voorsiening vir “ontslag” maak nie (Ibid 552).

Visser bejeën die “tug” moontlik te veel as straf of vergelding en as ’n proses wat by ampsdraers die plek van die bediening volgens artikels 72-77 neem. Hy merk nie soos Rutgers op, dat daar wel kerklike sensuur aan die ampsdraer bedien word nie (art 76) en dus dat daar nie sprake van ontduiking van kerklike vermaning en tug was nie. Ons wil die eenheid in kerklike bediening en orde beklemtoon wat gelyktydig in 'n paar afsonderlike artikels aangedui word. Artikel 79 waak primêr oor die ampwaardigheid van kerklike dienaars en skryf geen tug- of strafprosedure teen die persoon voor nie. Gevolglik moet artikel 79 nie in isolasie van artikels 72-76 beoordeel word nie.

Visser het egter gelyk dat geen kerkraad te maklik, wanneer ’n ampsdraer in sonde geval het, op sy versoek ontslag uit die amp moet verleen nie. So ’n optrede kan die weg van die minste weerstand (pragmaties) wees en glad nie met roeping (art 3) rekening hou nie. In bepaalde gevalle (bv versoening van huweliksonenigheid) mag die oorsaak tydens die skorsing verdwyn en ampwaardigheid herstel word.

In die kerklike praktyk word “eervol ontslag” (kyk artt 12,27) uit die amp verleen. Die gebruik wil waarskynlik verskil met ontslag onder artikels 79,80 aandui. In geen stadium wat ’n saak onder artikels 79,80 ter tafel is, kan van “eervol” ontslag sprake wees nie. Wanneer ’n ampsdraer gemeenskap met die kerk opsê, om ’n tughandeling te staak, kom sy kerkregtelike posisie met dié van ’n ampsdraer wat volgens artikels 79,80 afgesit is, ooreen. Hy sny daarmee die bediening van versoening (artt 74-77) ook af. Wie sy amp eiewillig neerlê, loën die inwendige roeping tot die amp (art 3).

 

5. Die classis contracta

Die kerkraad het ’n keuse ten opsigte van die naburige kerkraad of kerkrade wat om advies en hulp gevra sal word. Wanneer deputate van twee naburige kerkrade gevra word (wat meestal gebeur), moet minstens twee ouderlinge saam met die predikant of konsulent van die kerk wat deputeer, gestuur word (GKSA 1936 art 87). Indien ’n konsulent die kerkraad lei, moet die kerk wat hy dien liefs nie as naburige kerk optree nie (GKSA 1907 art 155). Die vergadering van die kerkraad en naburige kerke is nie ’n “gekombineerde kerkraadsvergadering” (Kruger 1966:470) nie, maar kragtens kerkverband ’n vergadering van die kerkraad saam met ’n naburige kerkraad (of twee deputasies van kerkrdae). Dit is dus ’n verkleinde klassis met ’n beperkte

|437|

agenda (classis contracta). In ’n “gekombineerde kerkraadsvergadering” sou die meerderheid van hoofdelike stemme kon beslis het (Visser 1982:520), terwyl artikel 79 stemming per kerk veronderstel.

Die classis contracta ontvang sy inligting uit die stukke wat die kerkraad voor hom lê. Die kerkraad moet dus die resultate van sy ondersoek en oordeel geordend ter tafel lê. Die aangeklaagde kan, indien hy dit verkies of wanneer die classis contracta hom daarom vra getuienis gee en die behandeling van die saak bywoon. Hy moet hom egter bepaal by wat ter tafel is.

Kruger (1966:470) sê dat die classis contracta vooraf moet beoordeel of die voorlopige skorsing “formeel en prinsipieel” geregverdig was. Hierdie opvatting kan nie onderskryf word nie, omdat dit sonder appèl (art 31) op hersiening neerkom. Die kerkraad het werk wat by hom tuishoort (artt 30,79). Die kerkraad is nie onder verhoor nie, maar verlang kragtens kerkvervand bepaalde hulp in wat hy verder moet doen (De Jongh 1918:1 15).

 

6. Oordeel oor skorsing en afsetting

Wanneer die classis contracta oordeel dat ’n ouderling of diaken deur sy sonde homself eerloos en daarmee die amp onwaardig gemaak het, word verklaar dat hy uit sy amp gesit word. Sy amp het op daardie oomblik verval. Die kerkraad neem die besluit saam met naburige kerke. Na gesamentlike ondersoek word in die classis contracta afsonderlik per kerkraad gestem of die voorlopige skorsing opgehef, die skorsing bestendig, die ouderling of diaken afgesit of in geval van die predikant die oordeel van die klassis oor afsetting gevra moet word (vgl GKSA 1907 art 115). In laasgenoernde geval het die classis contracta diskresie wanneer en of ’n klassis oor afsetting bygeroep moet word. Dit is slegs in ’n buitengewoon, ernstige en dringende of lang slepende geval wat regstreeks van skorsing by ’n klassis aansoek om afsetting gedoen sal word.

Die huidige redaksie van artikel 79 verleen aan die classis contracta bevoegdheid om oor die skorsing van enige ampsdraer te besluit. Wanneer die voorlopige skorsing nie opgehef of afsetting van ’n ouderling of diaken op daardie oomblik nie regverdig kan word nie, kan met skorsing ’n tyd lank volstaan word. Dit mag om verskillende redes nodig wees. Eerstens mag ’n ampsdraer wat ’n nie-sedelike sonde begaan het en wat die gemeente nie erg ontstig het nie, na berou en versoening, moontlik weer met vrug in die amp dien. Gedurende skorsing ontvang hy geleentheid om sy eer te herstel deur berou te betoon of sy misstap ongedaan te maak. Soms mag byvoorbeeld ’n emeritus-predikant, weens geestelike gebreke ontoerekenbaar geword het en permanent geskors moet word, sonder dat hy sy naam en eer en versorging as predikant verloor. Verder mag ’n predikant geskors word terwyl ontwikkelinge afgewag of onduidelikhede opgeklaar word voordat die oordeel van die klassis gevra word.

Skorsing ontneem iemand die reg om die bepaalde amp te bedien, terwyl afsetting uit die amp die persoon die amp self ontneem (Kruger 1966:471). In bepaalde gevalle word ’n predikant voorwaardelik geskors. Hy word dan belet om sekere ampspligte uit te voer, terwyl hy byvoorbeeld met siekebesoek,

|438|

kategese en ander werk mag voortgaan. Nie die belange of situasie van die predikant nie maar die bediening van die gemeente en die eer van Christus namens wie hy dien, moet beslis.

Die classis contracta moet vasstel of die aard van die sonde volle skorsing en/of afsetting vereis en of die skorsing (al was dit voorlopig), opgehef moet word. Hoorsê en omstandigheidsgetuienis moet deeglik van die feite geskei word. Rutgers wys tereg daarop dat regspraak in kerklike vergaderings deur eenvoudige gemeentelede, en nie deur regsgeleerdes nie, uitgeoefen word. Dit berus dikwels op algemene regsgevoel en waardevolle gebruike (usansies) van voorgeslagte (De Jongh 1918:109). Die kerklike tug hang altyd af van die aanvoeling, oordeel en beslissing van die betrokke kerklike vergadering. Dit het in elke stap die uitsluitlike reg om te bepaal wat die aard, erns en gevolge van die bepaalde sonde is (De Jongh 1918:106). Dit is egter noodsaaklik dat die uitspraak, met die gronde waarop dit steun, duidelik genotuleer word en, wanneer die aangeklaagde daarom vra, dit aan hom gegee word (De Jongh 1918:113).

’n Predikant word nie “betaal” volgens die hoeveelheid werk wat hy doen nie en daarom mag in geen enkele omstandigheid aan ’n geskorste predikant sy onderhoud weerhou word nie (Visser 1982:532).

Van der Linde (1983:258} sê dat die classis contracta wat ’n predikant skors, verplig is (soos in ’n presbiteriaanse tugprosedure) om daarna die oordeel van die klassis te vra of hy uit sy amp afgesit moet word. Dit kom daarop neer dat al die koste en moeite met ’n classis contracta onnodig gedoen was net om ’n voorlopige skorsing te bestendig.

Die classis contracta kan eers met skorsing vir ’n proeftyd volstaan sonder om oorweging van afsetting by die klassis aan te vra. Artikel 79 plaas duidelik die primêre feitevasstelling en skorsing (al is dit voorlopig) by die kerkraad en verg advies van meer vir afsetting van ouderlinge en diakens en nog meer kerke om ’n predikant af te sit. In gereformeerde kerkregering staan nie die vergadering wat die besluit geneem het nie, maar die gronde waarop die besluit berus, voorop. Wie van die classis contracta verskil, behou die reg van appèl (art 31).

Die klassis is nie 'n presbiteriaanse regeerliggaam in eie reg, naas die kerkraad wat kragtens artikel 79 ’n eie tugreg verkry, soos in Nederland betoog is deur M Bouwman (1936} en J Jansen (1950) nie. Die kerkregtelike band bestaan basies tussen die predikant en kerkraad (NGB 30; Inst IV.3.vii; Bos 1950:306v; artt 4,5,10,11,30 KO). Wanneer die classis contracta (dus die kerkraad saam met ander kerke) besluit om slegs te skors en op die beginsel van haas-jou-langsaam (festina lente) met verdere stappe te wag, moet dit swaar weeg. Die classis contracta moet dus oordeel dat afsetting oorweeg moet word voordat die saak na die klassis deurgegee word.

Wanneer ’n predikant hom by sy kerkraad self gaan aankla en in die classis contracta getuig dat hy ’n growwe openbare sonde begaan het wat hom sy amp onwaardig maak en die classis contracta kom tot dieselfde oordeel, kan hy reeds daar uit sy amp ontslaan word en kerke in kerkverband in kennis gestel word. In wese kom dit daarop neer dat die predikant op sy eie versoek op gewigtige gronde wat die kerkraad en classis contracta (kerke in kerkverband) toestem, ontslaan word. Dit is tot eer van God, stigting van die kerk en in belang

|439|

van die betrokke predikant (en sy mense). Waar geen materie omstrede is nie, sou geen klassis anders kon oordeel nie. Om ’n selfevidente saak na die klassis te verwys, bots met artikel 30, die liefde wat sondes bedek en die risiko wat nog meer skadelike publisiteit vir die kerk meebring.

 

7. Die klassis met deputate van die Part Sinode

Die gronde waarom meer kerke in ’n klassis moet oordeel oor die afsetting van predikante is dieselfde as waarom kerke in kerkvervand optree by die toelating en bevestiging in die diens van die Woord en die oor en weer beroepbaarheid van predikante. Tegelykertyd het afsetting ernstige implikasies met betrekking tot lewensonderhoud vir die predikant en sy gesin. Die klassis moet dus verseker dat afsetting nodig is om die eer van Christus en opbou van die kerk te verseker. Die eer, belange en finansiële onderhoud van mense mag nie soos by wêreldse “jobbing” die eise vir ampswaardigheid in die kerk van Christus op die agtergrond dwing nie.

Predikante wie se skorsing of afsetting in die classis contracta of klassis onderskeidelik ter tafel kom, is geneig om sonder appèl die hele saak soos dit oorspronklik gedien het, te heropen en die basis van die saak verdag te maak by mense wat nie alles gehoor het nie. Hier moet geld: Indien hy nie appelleer het nie, het hy die skorsing aanvaar. Hy kan slegs pleit en getuienis aanvoer waarom hy nie afgesit moet word nie. Hy moet egter nie probeer om in hierdie stadium sonder ’n appèl sy onskuld te bewys nie. Die klassis durf nie op sy eensydige getuienis die oordeel van die classis contracta wat om afsetting vra, ter syde stel nie.

Die klassis met deputate van die partikuliere sinode oorweeg die erns en gewig van die saak uit die stukke voor hom. In die lig van Bybelse voorskrifte vir ’n ampsdraer moet besluit word of hy in die kerk kan herwin as die skorsing voortduur en of hy in sy amp herstel kan word omdat die redes vir sy skorsing nie meer bestaan nie. By herstel in die amp is berou oor sonde nie voldoende rede nie. Iemand moet na buite en na binne die amp van Christus waardig geag word.

Die Part Sinode wys deputate aan maar gee geen omlynde opdrag oor wat hulle in voorkomende omstandighede namens die Part Sinode moet adviseer nie. Hulle is dus nie deputate volgens artikel 49 KO nie. Hulle verteenwoordig allermins die Part Sinode. Hulle posisie as dienaars in die klassis kan enigsins met die van visitatore in ’n kerkraad volgens artikel 44 KO vergelyk word. Goeie advies maak die oordeel nog gewigtiger. Die deputate moet egter adviseurs bly, nie inmeng of die ondersoek en beoordeling oorneem nie. Hulle kan vrae vra, afsonderlik vergader en hulle advies ter tafel lê. Indien die klassis en deputate sou bly verskil oor afsetting al dan nie, sou die oordeel van die Part Sinode gevra moet word. Afsetting uit die amp kan egter moeilik in ’n Part Sinode behandel word. Dit hoort in wese by die kerkraad (Bos 1950:306-309) na die oordeel van die klassis, tuis soos dit in ou Kerkordes bepaal was. Die deputate moet dit in ag neem en alleen om gewigtige redes dit in appèl na die Part Sinode neem.

|440|

Dit is gebiedend noodsaaklik dat die klassis ’n duidelike en deeglike besluit neem, veral wanneer tot afsetting oorgegaan word. Die besluit behoort eerstens kort en feitlik die agtergrond te skets, tweedens opmerkings sonder beredenering oor die feite te maak, derdens die prinsipiële en persoonlike oorwegings en laastens die bevinding te gee. Bykomende maatreëls (byvoorbeeld versorging van ’n afgesette predikant uit diakonale bronne, indien nodig) moet nie deel van die besluit oor afsetting vorm of daarop invloed hê nie. Die besluit moet berus op die growwe openbare sonde en hoedanig dit die predikant sy amp onwaardig maak. Daarin moet die eer van God, die rus, vrede, opbou en stigting van die gemeente en die reinheid van die geestelike bevinding (2 Kor 6: 3) die deurslag gee.

Die rapport van die deputate van die Part Sinode moet, net soos dié van visitatore (art 44) baie versigtig opgestel word. Beginsels soos artikel 30 KO, liefde wat sonde bedek, eer en naam van persone en die onpartydigheid van die Part Sinode is op die spel. Deputate behoort slegs aan die Part Sinode te rapporteer dat hulle deur ’n klassis opgeroep was en advies gegee het. Slegs wanneer verskil van mening tussen hulle en die klassis in die Part Sinode beslis moet word, sal hulle die gronde waarop die verskil berus in die rapport moet aandui. Die deputate mag in geen geval inligting oor die huishoudelike sake van die klassis, al sluit dit hulle advies in, aan die Part Sinode vir “inligting” of “goedkeuring” rapporteer nie. “Inligting” sou die Part Sinode in stryd met artikel 30 KO onvolledig, eensydig en onnodig by sake van ’n klassis en kerkraad betrek. “Goedkeuring” kan en mag die Part Sinode nie gee nie. Om goed te keur moet die Part Sinode op die hele afgehandelde saak ingaan, anders kies dit op getuienis van twee of drie deputate kant. Indien voor hom geen appèl is nie, het die Part Sinode met ’n klassisbesluit niks te doen nie.

 

8. Moontlike orde by afsetting uit die amp in die klassis

Aangesien die tugsaak oor sonde en ’n persoon gaan, sal die klassis in komitee (agter “geslote” deure) vergader. Die classis contracta wat geskors het, stel in stukke aan die klassis in kort die feitlike agtergrond van die klag sonder kommentaar. Afleidings of beredenering kan as opmerkings oor die feite van die kant van die kerkraad, die aangeklaagde en die classis contracta daarna aangestip word. Daarop volg die oorwegings waarom die classis contracta die oordeel van die klassis oor die noodsaaklikheid al dan nie van afsetting vra. Dit sal die oordeel van die classis contracta nadat dit die saak behandel het, kon insluit of as aanbeveling in verband met afsetting voordra.

Die betrokke predikant kry geleentheid om aan te voer waarom hy dink dat hy nie afgesit behoort te word nie. Hy mag egter nie toegelaat word om die materie waarop sy skorsing berus te bestry, indien hy nie daarteen geappelleer het nie. Die klassis en deputate van die Part Sinode kan vrae stel en hulle met die gronde waarop die ampswaardigheid beoordeel moet word, goed op hoogte stel.

Hierna moet die klassis en deputate van die Part Sinode afsonderlik vergader. Die deputate van die Part Sinode moet hulle “advies” vir die klassis opstel, terwyl die klassis ondertussen tot ’n “voorlopige bevinding” probeer geraak.

|441|

Indien dit nie gebeur me, mag die deputate die klassis teveel beïnvloed of op sleeptou neem. Wanneer die advies van die deputate van die part sinode ter tafel kom, kan die deputate dit verduidelik, maar daarna moet die klassis sonder die deputate daaroor oordeel. Die oordeel kan inhou dat die predikant langer (vir ’n bepaalde tyd) geskors sal bly, voordat die klassis weer afsetting of herstel sal oorweeg. Dit kan beslis dat hy dadelik deur die kerkraad uit sy diens ontslaan moet word. In bepaalde gevalle mag die klassis aanbeveel dat die skorsing opgehef moet word en gronde daarvoor aanvoer.

Die oorspronklike redaksie van die artikel in 1571 toon dat die klassis nie ligtelik die oordeel van die kerkraad in ’n saak soos hierdie buite rekening mag laat nie. Die klassis kan nie ’n predikant aan die kerkraad opdring nie (Bos 1950:306). Die kerkraad kan die advies oorweeg (vgl Pienaar 1984), weer die classis contracta raadpleeg en ’n volgende klassis weer om afsetting uit die amp vra. Dit lyk nie na die regte prosedure om die saak na die classis contracta terug te verwys wanneer die klassis nie genoegsaam gronde vir afsetting vind nie (Visser 1982:535), omdat die classis contracta nie 'n permanente liggaam is nie en die klassis die kerkraad adviseer.

In alle gevalle waar ’n klassis ’n predikant uit sy amp ontslaan, moet die predikant self, die kerk wat hy gedien het, en die kerke in kerkverband daarvan in kennis gestel word. Die ontslag word effektief deur die kerkraad voltrek wanneer die wedersydse verpligtinge opgehef word. Indien die afgesette predikant na die part sinode appelleer, sal oor sy onderhoud ooreengekom moet word en met beroep van ’n ander predikant gewag word as die kerkraad nie twee predikante kan onderhou nie. Indien ’n appèl slaag, sal agterstallige onderhoud betaal moet word. Die kerkraad sou die part sinode ook om advies oor verdere onderhoud vra, indien die appèl by die part sinode nie slaag nie en verder gevoer word (Visser 1982:535v).

 

9. Tugreg van meerdere vergaderings

Onder Gereformeerdes bestaan twee verskillende beskouings oor meerdere vergaderings. Volgens een beskouing is dit strukture wat namens en as “kerkverband” in die kerkregering optree en daarvolgens behoort die tugreg oor predikante by strukture van klassis en sinodes (Bouwman 1934:17,47,68,83; Jansen 1952:338; Visser 1982:215v). H Bouwman grond die tugreg op die feit dat die “meerdere vergadering ... toezicht heeft op de kerken en predikanten”. Hierin kom hy baie naby aan die presbiterianisme (Bannerman 1974; Hodge 1879). Hy beweer dat die meerdere vergadering nie ’n “hoër bestuur” soos by die Nederlandse Hervormde Kerk is nie, maar “de macht en het recht” het om oor predikante “het vonnis der afzetting” uit te spreek kragtens “het kerkverband” (Bouwman 1934:597,663). M Bouwman (1937:14; Spoelstra 1967:27) ken selfstandige regeermag aan die meerdere vergaderings toe omdat dit vergaderinge van “ampsdraers” is. Rutgers lei die reg en mag weer van die “gekombineerde” kerkrade af (De Jongh 1918:77). Jansen (1950:167) sê die meerdere vergaderings kry hulle mag deur middel van die afvaardiging as mag van die kerke afgelei, aan die afgevaardigdes opgedra en in die meerdere vergaderings saamgebring. Hy sê daarom dat die mag van

|442|

die kerkraad aan dié van die meerdere vergadering “ondergeskik” (1950:166) is. Dit is duidelik dat kerk en kerkverband, kerkraad en meerdere vergadering hier teenoor mekaar gestel word soos die kollegialisme en presbiterianisme plaaslike en algemene kerk teenoor mekaar stel (vgl Spoelstra 1967:29v; 1989).

Hoewel alle voorstanders van hierdie gedagterigting beweer dat hulle daarmee nie in die vaarwaters van die kollegialisme kom nie, bewys hulle dit nie. Dit is immers duidelik dat hulle mag aan die betrokke vergadering as kollegium toeken — of hulle dit nou ook al van ’n kerkordelike kontrak, “kerkverband” of van die ampsdraers of van die kerke aflei. In wese kom die argument op die Roomse veronderstelling neer dat Christus heersende en inklewende mag aan die amp (of konsilie) verleen het om namens Hom te regeer. Tweedens abstraheer en identifiseer regsfilosofie selfstandige “meerdere vergaderings” uit “kerkverband” teenoor die kerkrade sonder dat vanuit die Skrif of Konfessie meer as artikels 30,31 NGB kan bely. Die relasionele term “kerkverband” kan net so min teenoor “kerk” verselfstandig word as wat “gesinsverband” teenoor “gesin” gekonkretiseer en verselfstandig kan word (kyk Spoelstra 1979b:47v). Slegs kollegialisme en presbiterianisme kan sê dat ’n meerdere vergadering ’n hele kerkraad kan skors en afsit. Hulle beskou “kerk” los van kerkraad of as een groot geheel met plaaslike besture waaroor meerdere vergaderings toesig hou. ’n Meerdere vergadering kan hoogstens oordeel dat ’n kerkraad ontrou geword het en verklaar dat daar ’n valse kerk na vore getree het (NGB 28,29) met wie nie meer kerkverband beleef word nie (Bouwman 1934:64-67). Daarna kan die kerke in klassis reël om gelowiges wat daaruit wegvlug te help om weer getroue ouderlinge aan te wys (vgl artt 37-39).

Ander Gereformeerdes aanvaar op voetspoor van Calvyn dat die universele kerk net in die plaaslike kerk sigbaar word onder toesig van ouderlinge wat net in die kerkraad die sleutelmag van Christus dien (Bos 1950:306, NGB 2732). Kragtens die eenheid in Christus of kerkverband raadpleeg en besluit kerke met mekaar in periodieke samekomste of vergaderings van naburige kerke wat nie selfstandige of eiesoortige besture is of word nie (Bouwman 1934:22,64). Die kerkrade voer uit wat saam besluit was. Indien ’n kerkraad hom in ’n essensiële saak nie neerlê by die oordeel van die kerke in klassis (sinode) nie, kan die betrokke kerke kerkverband met die betrokke kerkraad en kerk verbreek (Visser 1982:372 ha Van Lonkhuyzen). Die gesag van ’n besluit in meerdere vergadering geneem, behoort geestelik van aard te wees en sy gesag aan die Skrif te ontleen (NGB art 7; art 36 KO). Gesag wat op strukture berus wat besluite neem, moet noodwendig tot hiërargie, oligargie of burokrasie lei wat die presbiteriale kerkregering in sy hart aantas omdat dit vanuit die “kerk” in plaas van die koninkryk redeneer. ’n Kerklike besluit wat die koningskap van Christus bedien, behoort daarom altyd die gronde aan te toon waarop dit berus.

 

10. Tug oor professore en emeriti-predikante

’n Teologiese professor (artt 2,18 KO) is ’n predikant wat in ’n kerk waar hy woon tot die diens van opleiding onder sorg van kerke in ’n bepaalde verband beroep en bevestig is. Oor sy diens as professor, dit wil sê sy taak van opleiding,

|443|

hou die kerke gesamentlik in ’n kuratorium en sinodes toesig. Gevolglik kan ’n professor deur ’n sinode ontslaan word uit die diens van opleiding sonder dat sy amp as predikant noodwendig daarmee verval. Hy moet deur die kerkraad waar hy woon volgens die prosedure van artikels 79,80 KO aangekla en afgesit word, voordat sy amp van predikant verval. Die kuratore mag hom byvoorbeeld ontslaan omdat sy werk akademies nie op peil is nie, ’n rede wat nie onder artikel 80 KO sy amp as predikant raak nie. Dit mag tot ’n situasie van “waggeld” (art 11) lei. Indien die kuratorium en/of sinode egter ernstige klagte oor sy leer of lewe het, moet hulle dit by die kerkraad waar hy woon, aanhangig maak (GKSA 1967:59; 1973:315V). Indien ’n professor as predikant ontslaan word, word sy diens as professor ipso facto beëindig.

Oor emeriti-predikante het die Sinode van 1970 (428) gereël dat waar die emeritus nie meer woon waar hy emeriteer het nie, die twee onderskeie kerke oorleg moet pleeg sodat die kerk waar hy woon tug volgens artikels 76 tot 78 toepas, terwyl die kerk wat emeriteer het volgens artikels 79,80 optree. Hierdie reëling berus waarskynlik op oorwegings wat met die EPPW en W-versorging van 1970 verband gehou het. Tog kan dié reëling kerkregtelik bevraagteken word. Dit verbind die “amp” aan ’n plek (kerk) in plaas van aan ’n dienaar, persoon (art 3). Die tug oor leer en lewe (artt 76,78) kan nie geskei word van die tug oor die ampswaardigheid van die emeritus nie. Oor die een moet in die lig van die ander deur dieselfde kerkraad geoordeel word. Dit bly ’n ope vraag waarom die kerk waar hy woon en wat volgens Skrif en Belydenis tug oor hom as mens oefen, nie ook kragtens kerkverband oor hom as predikant tug kan bedien nie. Wanneer ’n emeritus verhuis, behoort die attestasie as akte van losmaking die toesig oor hom as emerituspredikant oor te dra aan die kerk waar hy hom metterwoon vestig.

 

11. Judisiële en justisiële tug

Die Geref Kerke van Nederland het ’n droewige geskiedenis van “leertug”, byvoorbeeld met Geelkerken 1926 en Schilder 1944, agter die rug. Dit het skeurings veroorsaak en later moes die GKN skorsingsbesluite selfs herroep. Die onderskeid tussen judisiële en justisiële tug het toe in die sestigerjare beoog om judisieel ’n bepaalde leeruitspraak van ’n teoloog te veroordeel, sonder om meteen justisiëel ’n regterlike vonnis oor die ampswaardigheid van dié persoon uit te spreek. Dit moes langer tyd vir vermanings wen en uiteindelike tughandeling in hande van kerkrade in plaas van sinodes plaas. Visser (1982:148) verwerp dié begrippe omdat dit aan die strafreg ontleen is. (Meer terme uit die gewone regstaal soos verweer, appellant, repliek, partye, ensovoorts pas nie in kerkregering nie.) Die onderskeiding breek die een enkele geestelike tug uit die koningskap van Christus in twee soorte tug op. Die GKN het dit self nie aanvaar nie. Nietemin onderskei die begrippe twee aspekte van dieselfde tughandeling. ’n Mens kry die indruk dat daar dikwels te gou, te maklik en te meganies van ’n judisiële na ’n justisiële oordeel oorgegaan word en Calvyn se stelling vergeet word dat nie elke afwyking van die leer die eenheid van die kerk in gedrang bring nie (Inst IV.1.xii,xiii). Dié oordeel van die GKN

|444|

in die Schildersaak van 1941-1944 is ’n goeie voorbeeld van menslike tug waarin “leer” van een groep ampsdraers teenoor ’n ander groep gekanoniseer is en grond vir tug geword het sonder dat die Skrif of Belydenis in gedrang was.

 

12. Herstel van afgesette ampsdraers

Herstel in die amp kan slegs plaasvind wanneer skorsing in die amp opgehef word. Iemand wat afgesit was, behou nie ’n latente amp waarin hy herstel kan word nie. Hy moet opnuut beroep en bevestig word. Die nuwe kerkorde van die GKN bepaal (art 125) dat ’n kerkraad eers ernstig sal ondersoek of dit tot Gods eer en welsyn van die kerk sal wees dat hy weer beroep word. ’n Klassis sal iemand slegs beroepbaar mag stel na oorleg met die klassis en partikuliere sinode onder wie die “gemeente” ressorteer aan wie hy as predikant verbonde was (Nauta 1971 :442).

’n Predikant kan slegs weer langs die weg van artikel 4 KO tot die amp toegelaat word. Daarvoor benodig hy ’n aanbeveling van die kerk waar hy woon, sowel as van die kerk en klassis waar hy uit sy amp afgesit was (GKSA 1952:285; 1973:318). Indien hy sy amp eiewillig neergelê het, was hy de jure nie afgesit nie en kan hy hierdie getuienis nie bekom nie. Die vereistes vir herstel stem grootliks ooreen met dié van die CRC van die VSA. Hulle vereis voldoende getuienis oor opregte berou, ’n duidelike oordeel dat sy vroeëre sonde hom nie in sy diens sal strem nie en oortuiging dat sy hertoelating tot die diens tot eer van God en die welsyn van die kerk sal wees (Visser 1982:565). So ’n besluit behoort ook in byna volledige konsensus en nie met meerderheid van stemme geneem te word nie.

Kerkregtelikes maan tot groot versigtigheid om ampsdraers wat weens onsedelikheid of drankmisbruik afgesit is, weer tot die diens toe te laat. Die Presbiteriaanse Kerk in die VSA belet dit selfs heeltemal, tensy iemand hom oor ’n lang tyd voorbeeldig, ootmoedig en stigtelik gedra het en die plaaslike kerk oortuig is dat hy weer met vrug kan dien (Bouwman 1934:670). Augustinus en Voetius het ook by bepaalde ernstige sondes hertoelating tot ampsdiens onmoontlik geag (Visser 1982:561 dispositio major).

Predikante (en ouderlinge en diakens) wat eiewillig hulle amp neerlê terwyl hulle onder tug volgens artikels 79,80 verkeer, doen dit waarskynlik om getuienis wat by die saak betrokke is, van die tafel te hou. As sodanig ontneem hulle die kerkvergaderings die geleentheid om afdoende te oordeel. Eiewillige neerlê van die amp bewys verder dat die persoon hom nie meer inwendig tot die amp geroepe voel nie. In die lig van sy verlies aan roeping en onvoltooide kerklike oordeel, behoort so ’n persoon nie weer, behalwe op uitsonderlike goeie gronde, tot die amp toegelaat te word nie.