|412|

Artikel 77

Laaste tugmiddel: afsny van die gemeenskap van die kerk

 

Artikel 77: Diegene wat na afhouding van die sakramente en na herhaalde vermanings geen teken van boetvaardigheid laat blyk nie, maar hardnekkig in die sonde volhard, moet eindelik met die laaste tugmiddel, die afsnyding van die gemeenskap van die kerk, afgesny word volgens die formulier wat daarvoor vasgestel is.
Die finale afsnyding moet voorafgegaan word deur drie openbare afkondigings daarvan aan die gemeente, waarin vermeld moet word wat die oortreding van die sondaar is, dat daar veel arbeid aan hom bestee is deur bestraffing, afhouding van die sakramente en menigvuldige vermaninge en dat hy hom nie bekeer het nie. In hierdie afkondiginge moet die gemeente opgewek word om met die sondaar te spreek en vir hom te bid.
By die eerste afkondiging moet die naam van die sondaar, om hom enigsins te spaar, nie genoem word nie.
By die tweede moet met advies van die klassis ook sy naam genoem word.
By die derde moet aan die gemeente bekend gemaak word dat die sondaar, as hy hom nie bekeer nie, van die gemeenskap van die kerk afgesny sal word, sodat sy afsnyding met die stilswyende bewilliging van die gemeente kan plaasvind as hy hardnekkig bly.
Die kerkraad bepaal die tyd wat vir elke afsonderlike geval tussen die drie afkondiginge moet verloop.

|413|

A. Kerkregtelik

1. Die laaste tugmiddel

Calvyn verwerp die Roomse opvatting dat die ban iemand wat aan die kerk (pous) ongehoorsaam is, sonder hoop op vergewing aan ewige verderf oorgee. Aan die ander kant het hy die vrysinnige Libertyne weerstaan wat die ban as ’n blote menslike oordeel beskou het. Calvyn het tussen uiterstes na ’n Skriftuurlike pad gesoek: die ban is nie ’n kerklike bepaling om mense aan die kerk te onderwerp nie. Die vraag is of iemand wat die naam van Christen dra hom aan Christus en sy Ryk onderwerp. Hy het die Anabaptiste gelyk gegee dat diegene wat openlik goddeloos leef, nie ongesteurd tot die gemeente gereken mag word nie. Sleutels wat insluit of uitsluit (Heid Kat S 31 ) maak sin wanneer die apostel die Korinthiërs oproep om ’n growwe sondaar buite die gemeenskap te stel, “aan die Satan oor te gee” en om alle gemeenskap met so ’n blatante sondaar te breek (1 Kor 5: 1-13; 1 Kor 16: 22; GI 5: 12; 1 Tm 1: 20: Rm 9: 3; Mt 18: 17). Om iemand uit die “gemeenskap van die kerk” te sluit, sê baie meer as die gangbare “beëindiging van lidmaatskap van die kerk”.

Afsny beteken dat iemand wat skynbaar in die koninkryk van die lig was, bewys het dat hy tot die ryk van die duisternis behoort en daarheen verwys word (De Jongh 1918:88). Die woord “ban” lê nadruk op die feit dat die geëkskommunikeerde nie meer in die Christelike gemeente verkeer nie. Wie geban is het die regte en die voorregte van die gemeente verbeur.

Die drie trappe waarvolgens hierdie laaste tugmiddel verloop, kan vergelyk word met die heel laaste trein wat mense uit ’n gedoemde stad na veiligheid kan bring. Met klimmende erns en spanning roep mense na iemand om in te klim, maar hy bly weier totdat op ’n gegewe moment die deur toeskuiwe. Die trein vertrek en die persoon bly alleen onder die skaduwee van ’n gewisse dood agter. Dit kan nie met beëindiging van iemand se lidmaatskap aan ’n vereniging vergelyk word nie.

Waar die kerkraad met die vermaning belas was, kan die ban of afsnyding nie deur die kerkraad sonder die intieme medewerking van die gemeente afgehandel word nie (Calvyn Inst IV.12.vii). Die liggaam is by elke lid betrokke en na die ban moet die gemeente lewensomgang breek sodat selfs dit die hardnekkige sondaar terug mag roep na Christus en sy gemeente (vgl Formulier vir die ban).

 

2. Die Formulier vir die ban

Uit die staanspoor lê die Kerkorde (Emden 1571 art 31) nadruk op talle vermanings, die gemeente wat vir die persoon moet bid, bestraf (vermaan) en hom probeer bekeer, totdat die kerkraad die “verbanning en afsnyding van die liggaam van Christus aan die gemeente verkondig”. Aanvanklik was daar nie ’n Formulier nie en moes die predikant die gebruik en doel van die ban verduidelik sodat die gelowiges omgang met die hardnekkige sondaar sal beëindig. Die doel was om hom te beskaam, sodat hy sal nadink en hom bekeer. Die Sinode van Middelburg 1581 het ’n konsepleidraad vir afsnyding gegee

|414|

(part vr 40) totdat die Sinode van Den Haag 1586 die Formulier vir die Ban of Afsnyding opgestel het waarin die kerkregtelike beginsels vervat word (De Jongh 1918:73-75).

Die Formulier noem die feit van die oorspronklike growwe sonde, sê dat hardnekkigheid dit vererger en die gemeente steeds meer smart aandoen. Gevolglik eis die Woord van God dat die persoon afgesny word om die hele gemeente te beveilig en te verhoed dat die Naam van God gelaster word. In die Naam en krag van Jesus Christus word die persoon uit die gemeente van die Here en gemeenskap van Christus geban. Die gemeente moet hom as ’n “heiden en tollenaar” vermy om hom skaam te maak. Die persoon word dus nie as ’n “vyand” beskou nie, maar op ’n afstand gehou, totdat hy terugkom. Tegelykertyd moet die droewige gebeurtenis die gemeente waarsku teen die kleinste begin van die kwaad.

 

3. Toepassing met erns maar versigtig

Tydens die Reformasie het die Wederdopers mense om kleinighede summier geëkskommunikeer, byvoorbeeld wanneer iemand nie op voorskriftelike wyse sy “geloof” kon bevestig nie. Die Gereformeerdes het afsnyding egter met groot erns bejeën totdat iemand klaarblyklik buite God se koninkryk te staan gekom het (De Jongh 1918:76). Die beginsel van haas-jou-langsaam (festina lente) en herhaalde vermanings wat so sterk agter die prosedure van artikel 77 lê, is op die Skrif gegrond (2 Ts 3: 15; 1 Tm 4: 13; 2 Tm 3: 16; Tit 2: 6-10; 3: 10). Verdraagsaamheid, sonder dat ’n dwaling of sonde gekondoneer word, moet Christelike tug altyd kenmerk. By “gewone lidmate” word baie meer verdra as by ampsdraers (Visser 1982:435-439).

 

4. Verskil tussen sensuur en afsnyding

Meermale word van die drie trappe van “sensuur” by artikel 77 KO gepraat, asof sensuur en afsnyding dieselfde is. In werklikheid sluit sensuur ook die afhouding van die nagmaal in (art 76), wat glad nie met die afsnyding vereenselwig mag word nie. Rutgers onderskei dus twee trappe van sensuur, naamlik afhouding van die nagmaal en afsnyding. Die afsnyding verloop in die drie fases wat artikel 77 KO aandui (De Jongh 1918:84).

 

5. Die kerk handel

Die prosedure vir afsnyding verskil van die vorige tughandelinge daarin dat afkondigings nou die kerk ten volle op hoogte stel en betrek. Tug wat miskien soos in artikel 72 genoem, begin het (vgl artt 74,76 KO), moet nou deur die gemeente met die oog op afsnyding verder gevoer word. Die herders in die kerkraad moet nietemin die kerk lei om die stappe van artikel 77 KO na te kom (Inst IV.hfst II).

Die kerk handel nie op demokratiese gronde nie. Die reg van afsnyding kom hulle nie toe nie omdat hulle bloot moet instem om geen gemeenskap met die

|415|

afgesnedene te onderhou nie. Die kerk is vergadering van gelowiges in Christus wat vir mekaar in liefde sorg dra (1 Kor 12: 25 vgl 1 Kor 5: 11; 1 Kor 16: 22; Gl 6:1,2 ens). Hulle moet op bevel van Christus ter wille van die eer van die Here en heil van die kerk die lid wat geestelik afgesterf het, afsny (Mt 18: 17; 1 Kor 5).

Omdat ons nie ’n wesensverskil tussen kerkraad en meerdere vergadering en daarom ’n dualistiese verantwoordelikheid in tughandelinge aanvaar nie, bespreek ons nie die opvatting (Visser 1982:347) dat “meerdere vergaderings” ’n eie tugreg het nie. Die lang stryd in Nederland oor dié vraagstuk berus op die idee dat sekere strukture tugreg het sonder dat dit met die gesag van Christus (artt 7 NGB, 36 KO) in verband gebring word.

 

B. Kerkregering

1. Redaksie van die artikel

Die reg tot handeling en afsnyding kom die gemeente onder leiding van die ampte toe (Mt 16: 16; 18: 7) en daarom het die oudste Kerkordes daarmee volstaan (Emden 1571:31; Dordrecht 1578:97). Die Sinode van Middelburg 1581 (art 62) stel egter die voorbehoud dat niemand sonder advies van die klassis afgesny sal word nie, terwyl die Sinode van Den Haag 1586 (art 70) reël dat vir die tweede (afkondiging) waar die naam genoem word, advies van die klassis nodig is.

Die Sinode van Potchefstroom 1964 het die tweede deel van artikel 76 DKO as inleiding by artikel 77 KO geplaas. So stel artikel 77 duideliker as voorheen dat hier ’n nuwe en laaste fase in die tughandeling intree. Die inleiding motiveer hierdie nuwe fase. Die afsnyding vind na afhouding en na herhaalde vermanings as ’n “laaste tugmiddel” plaas.

 

2. Die laaste tugmiddel

In talle kerkraadsnotules staan gevalle opgeteken waar afhouding van nagmaal (art 76) as eerste stap van art 77 beskou en toegepas is. Die wydverbreide verwarring tussen afhouding (art 76) en afsnyding (77) word waarskynlik veroorsaak wanneer kerklike tug soos vaderlike of genootskaplike straf vertolk word. Kerklike tug oor growwe sondes (wat by voorkeur oor ongehude moeders gegaan het) is as ’n vergeldende straf en afskrikmidel van die kerk teen losse sedes vertolk.

Weliswaar hou afhouding (art 76) “straf” in die sin van “bestraffing” en afkeer van die sonde in, maar dit het met die afsnyding wat in artikel 77 gereël word of wêreldse vergelding niks te doen nie. Die stappe van artikel 77 KO volg eers na afhouding van die nagmaal en verskillende vermanings (“bestraffings”) wat geen teken van boetvaardigheid by die sondaar tot gevolg het nie. Dit moet bo alle twyfel vasstaan dat hy “hardnekkig in sonde volhard”. Daarom moet die vermaning of bestraffing elke keer die sondaar baie duidelik met eise van God se Woord en Wet konfronteer. Bepaalde kulturele of persoonlike teologiese opvattings en kerklike uitsprake (bv oor “gemengde” huwelik) bied op sigself

|416|

geen rede vir afsnyding nie. Die kerk is nie ’n politieke party wat lojaal aan sy leier, kongres of koukus se beleid moet bly nie. Die kerklike tug mag hom nie soos Rome met Luther vergryp en ’n gelowige in die liggaam van Christus uit die kerk ban nie.

 

3. Die kerkraad en gemeente moet saam optree

Gemeenskapsfaktore, soos byvoorbeeld in swart gemeenskappe waar mense in familietradisie heg saamlewe, kan veroorsaak dat ekskomrnunikasie maklik op weerstand uit die gemeente stuit. Rutgers sê dat die kerkraad in daardie geval besware ernstig en objektief moet oorweeg sodat die gemeente nie ontstig word nie. In elk geval kan die persoon oor wie enige van die drie trappe van artikel 77 toegepas word of enige iemand uit die gemeente in appèl volgens artikel 31 KO hersiening van die kerkraadsbesluit by ’n klassis aanvra (De Jongh 1918:85).

By kerkrade ontbreek soms die geduld en wil om aan ’n baie lastige mens langer te bly arbei en afsnyding kan misbruik word om van so ’n geval ontslae te raak (De Jongh 1918:87v). Die gemeente het soms weer te veel simpatie vir die persoon, sy eer en belange sonder dat hulle hulle afvra hoe die persoon se hardnekkigheid die eer van die Here en heil van die gemeente skaad. Die optrede van die kerkraad moet deur baie liefde, geduld, erns en bewoënheid gekenmerk word om die gemeente saam te neem. Die gevaar bestaan, veral in swart gemeenskappe, dat die gemeenskapsgevoel van familie en volksverwantskap die eintlike verantwoording aan Christus, die Hoof van die kerk, heeltemal kan uitskakel, terwyl die kerk van Christus vandag juis onder en in swart gemeenskappe teenoor heidendom en sinkretisme duideliker sigbaar gemaak moet word.

 

4. Die eerste afkondiging

Talle aansoeke om die tweede trap van artikel 77 toe te pas sneuwel by die klassis op grond van die oorhaastige of onnoukeurige manier waarop tot die eerste afkondiging oorgegaan was. Visser beskou die afkondigings as vermanings (1982:342}. Die afkondigings is egter tot die gemeente en nie die sondaar gerig nie en wil juis vermanings veroorsaak.

Die kerkraad moet baie duidelik in sy notule kan aantoon dat afhouding van die nagmaal plaasgevind en daarna baie arbeid gevolg het. By heimlike “sonde” het talle vermanings reeds voor afhouding plaasgevind. Die notules of bylaes moet die aard van die sonde duidelik aandui as verwerping van Christus en sy Woord. Reeds die eerste afkondiging moet by die gemeente tuisbring dat iemand (waarvan miskien enkeles die naam weet) na baie vermaninge nog steeds die wil en Wet van God weerstaan en die fase van afsnyding ingaan en dat die gemeente vir die persoon moet bid. Sommige sal op sterkte van die voorafgaande geskiedenis weet met wie hulle moet praat.

Op grond van die liefde maak die kerkraad nie by die eerste afkondiging, op die drumpel van afsnyding, die naam aan die gemeente bekend nie om die sondaar “enigsins” te spaar.

|417|

5. Voortgaande vermaning en bearbeiding

Die tweede paragraaf van artikel 77 KO stel ’n beginsel wat by die afkondiginge geldig is. Die hele gemeente kan na die tweede afkondiging met die sondaar praat. Daarvoor het die gemeente die inligting oor die arbeid wat aan die sondaar bestee is nodig sodat hulle daarop kan voortbou en kan goedkeur (approbeer) wat die kerkraad gedoen het.

By die aansoek om die tweede afkondiging by die klassis sal die klassis nagaan watter en hoeveel arbeid voor en na die eerste afkondiging van die kant van die kerkraad aan die sondaar bestee is. Getuienis van arbeid uit die gemeente mag daarby baie belangrik wees om die betrokkenheid van die kerk by die saak te laat blyk. Die hardnekkigheid en onboetvaardigheid van die sondaar moet daarteenoor in skril kontras staan.

 

6. Die tydsverloop tussen afkondiginge

Die kerkorde aanvaar uitdruklik die reg van die kerkraad om diskresie uit te oefen. Die kerkraad bepaal die tyd tussen die afkondigings. Geen klassis kan dus ’n aansoek om die tweede afkondiging afwys net omdat die klassis oordeel dat een afkondiging te gou op die ander volg nie. Die klassis kan egter bevind dat die kerkraad hom oor die tydsverloop tussen die afkondigings nie rekenskap gegee het nie en so artikel 77 in sy haas nie nagekom het nie. Daar moet genoegsaam tyd tussen afkondigings verloop, sodat herhaalde vermanings kan plaasvind. in geval van byvoorbeeld valse leer en ’n dreigende skeuring, moet ’n kerkraad ’n intensiewe vermaningsprogram voorskryf en as dit nie help nie, moet die advies van die klassis vir die tweede afkondiging dalk spoedig gevra word. (’n Vraag om advies van die klassis met betrekking tot art 77 KO moet van ’n vraag oor die regte bestuur van die gemeente volgens art 41 KO onderskei word.)

’n Sekere ds Verbrugge (The Banner 1980) verbind 2 Kor 2: 2 aan 1 Kor 5: 5 en lei af dat afsnyding daar van begin tot einde hoogstens twee jaar kon geduur het, terwyl by die CRC in die VSA maklik vyf tot tien jaar sou verloop het. Gevolglik wil hy die ban liewers met kerkbedank of vrywillige beëindiging van lidmaatskap vervang, omdat dit vir hom om lidmaatskap van die kerk as vereniging gaan. Die uitgangspunt verwissel deel hê aan heil met deelname in ’n kerklike huishouding. Die erns van die aangeleentheid laat nie toe dat te lank gesloer word met die afkondigings nie.

Wanneer iemand hoegenaamd geen teken van berou toon nie, kan hoogstens een jaar verloop tussen die eerste en tweede afkondiging. Waar tekens van boetvaardigheid en hardnekkigheid mekaar afwissel, moet die kerkraad in die lig van feite die aansoek vir die tweede afkondiging by die klassis motiveer. Die derde afkondiging kan moeilik langer as ses maande na die tweede plaasvind wanneer geen tekens van boetvaardigheid na vore getree het nie. Indien tekens van boetvaardigheid na die tweede afkondiging sigbaar word, sal die kerkraad hom uiters langsaam moet haas (festina lente).

|418|

7. Die tweede afkondiging

Die vraag waarom die kerkraad nie die tweede afkondiging sonder advies van die klassis kan doen nie, sal verskillend beantwoord word volgens die kerkregtelike beskouing oor die verhouding van kerkraad en klassis (vgl Inleiding, artt 29,31,41 KO). Die presbiterianisme wat die klassis as ’n afsonderlike struktuur van die kerk teenoor die kerkraad as plaaslike bestuur beskou, aanvaar dat die Kerkorde die kerkraad aan die klassis ondergeskik gestel het. Wie die klassis egter as ’n ad hoc-samekoms van kerke(rade) deur middel van afgevaardigdes aanvaar, begryp dat die kerkraad kragtens kerkverband “advies” van naburige kerke inwin om ’n ingrypende handeling in en vir die universele kerk van Christus te verrig.

“Advies” dui in die Kerkorde gewoonlik ’n oordeel van die kerke in klassis aan oor ’n handeling wat volledig by die kerkraad tuishoort, waaroor die naburige kerke vanweë die erns en gewig van die handeling, regverdigheid, onpartydigheid en met die oog op deeglike verantwoording aan die Here die kerkraad bystaan.

Rutgers van Nederland huldig die eienaardige beskouing dat die reg vir die klassis om te adviseer voortkom uit die “gekombineerde mag van die plaaslike kerke” wat hulle deur die Kerkorde aan die klassis oorgedra het (De Jongh 1918:77). Hierdie opvatting moet prinsipieel verwerp word (kyk by art 36 KO). Die kerkordelike ontwikkeling 1571-1619 lewer geen bewys dat kerkrade regte en gesag deur ooreenkomste aan ander strukture wou oordra nie. Die Kerkorde van 1581 wou met die advies van die klassis slegs die kerkraad wat handel, sowel as die persoon oor wie dit gaan, beskerm. Geen kerkraad kan wat Christus aan hom opgedra het aan ’n ander vergadering deur middel van ’n kerkorde oordra nie.

Al handhaaf Rutgers die opvatting van “gekombineerde mag” sê hy tereg dat die klassis nie die geval by aansoek van die tweede trap van sensuur van nuuts af moet gaan ondersoek of in herverhoor neem nie. Dit sou onsinnig wees om afgehandelde werk van die kerkraad oor iemand onder hulle sorg deur ’n klassis te laat oordoen (vgl art 30 KO). Die aansoek om die tweede trap is nie ’n appèl van die kerkraad teen sy eie handelswyse nie. Eers by appèl moet die klassis op die saak ingaan asof hy die kerkraad is (De Jongh 1918:78). Die klassis verhoor glad nie die persoon oor wie dit gaan voordat die persoon hom op ’n klassis beroep nie.

Die kerkraad behoort sy aansoek voor die klassis bondig en saaklik voor te lê: die oorsprong van die saak; hoe dit by die kerkraad openbaar geword het (artt 74,76); bearbeiding wat voor en/of na (by ’n openbare sonde) afhouding van die nagmaal gevolg het; die huidige stand van sake en gesindheid van die sondaar. ’n Volledige uittreksel uit die notules (sonder om die persoon se naam te vermeld) kan as bylae of deel van die aansoek dien. Die kerkraad moet sy notuleboek gereed hê om sy saak te staaf.

Om te verseker dat die klassis nie by die saak betrokke en geprejudiseerd ten opsigte van ’n eventuele appèl raak nie, moet die klassis slegs streng formeel oor die behandeling van die saak oordeel. Die klassis moet vir die persoon oor wie dit gaan ’n onpartydige adres vir appèl bly (art 31 KO), hoewel

|419|

iemand teen die toestemming van die klassis na die partikuliere sinode sou kan appelleer.

Die klassis moet hom eerstens vergewis of die oorspronklike sonde op die oog af grof is en openbaar geword het en dat dit lyk asof die sondaar gehoorsaamheid aan Christus en sy ryk afwys. Tweedens moet formeel vasgestel word of aan artikels 72 tot 76 voldoen was, waarby gewoonlik gekyk word of die vermanings talryk, indringend, voortdurend en liefdevol geskied het. Soms mag bybedoelings (male fide) of persoonlike vetes of heerssug na vore tree. In daardie geval moet die versoek dadelik geweier word. Die klassis mag op grond van sy ondersoek adviseer dat die kerkraad nog eers met meer en deegliker vermanings moet voortgaan.

Indien die klassis die kerkraad adviseer om die tweede afkondiging te doen, is die kerkraad selfs dan nog nie daaraan gebind nie. In die lig van enige nuwe inligting of kennis kan die kerkraad die tweede afkondiging uitstel of indien boetvaardigheid aan die dag getree het, selfs afstel.

Omdat die persoon se naam tot op die stadium wat die klassis toestemming verleen nog nie in die gemeente genoem is nie, maar wel in die notuleboek voorkom, moet die kerkraad nogtans in sy aansoek nie die naam aan die klassis vermeld nie. Die voorsitter en klassis moet waak dat die klassis nie besig raak om die kerkraad se handelinge te hersien nie (art 30). Die aansoek om die tweede afkondiging kragtens artikel 77 kan na ’n kommissie vir pre-advies verwys word. In geval van appèl op ’n volgende klassis kan sorg gedra word dat niemand van daardie kommissie weer op die appèlkommissie dien of in die klassis keurstem uitoefen nie.

Die tweede afkondiging aan die gemeente kom met die eerste ooreen, behalwe dat die naam van die sondaar nou uitdruklik genoem word en dat die gemeente gevra word om met hom te praat (en vir hom te bid) op grond daarvan dat die arbeid wat op die eerste afkondiging gevolg het nie vrugte afgewerp het nie. Die gemeente moet ook goed verstaan dat enige getuienis oor tekens van boetvaardigheid by die sondaar aan die kerkraad deurgegee moet word. In die lig van Mt 18: 17 sal ’n kerkraad ook moet vasstel of die gemeente inderdaad met die sondaar gepraat het en dat hy vir die gemeente ook nie luister nie, voordat tot die derde afkondiging oorgegaan kan word. Indien die gemeente en kerkraad na die tweede afkondiging intensief in alle liefde arbei, kan dit hoogstens ’n paar maande duur voordat die derde afkondiging gedoen word.

 

8. Die derde afkondiging

Die derde afkondiging vind plaas wanneer die kerkraad oordeel dat die tweede afkondiging sy doel gedien en die gemeente betrek het, terwyl die sondaar hom ook aan die gemeente en verdere bearbeiding van die kerkraad nie steur nie.

Die derde afkondiging bevat weer eens die besonderhede wat by die tweede afkondiging ter sake was, terwyl daar nou aangekondig word dat die afsnyding sal plaasvind indien die sondaar hom nie bekeer nie.

|420|

9. Die afsnyding

Die derde afkondiging was nog nie die afsnyding nie. Die gemeente en veral die kerkraad moet nog as ’t ware vir ’n laaste keer aandring dat die sondaar berou moet betoon en terugkeer na die gemeenskap met Christus en sy gemeente. Die motief van versoening moet die tughandeling enduit beheers. Dit moet so duidelik uit die kerklike bearbeiding straal dat die sondaar selfs al sou hy afgesny word, altyd bewys moet wees dat hy kan terugkeer wanneer hy tot inkeer gekom het (art 78).

Die kerkraad doen die derde afkondiging sodat die gemeente die laaste formele daad van afsnyding sal bewillig. Dit dien as finale kennisgewing dat die gemeente besware teen afsnyding of getuienis van boetvaardigheid sonder versuim aan die kerkraad moet voorlê. Wanneer die gemeente swyg, stem hulle in dat die kerkraad die ban namens die gemeente moet voltrek. Dit is opvallend by hoeveel handelinge die Kerkorde drie afkondiginge voorskryf wanneer goedkeuring (approbasie) van die gemeente in ’n belangrike kerklike handeling verkry moet word. Die kerkraad voltrek by wyse van ’n besluit die finale afsnyding en dra dit liefs skriftelik aan die sondaar oor. Selfs dan het so ’n persoon nog steeds reg om na die klassis te appelleer indien hy meen dat sy reg deur die kerkraad of gemeente gekrenk is. Weinig handelinge verloop so ver dat die kerkraad met die Formulier die ban in die kerk moet voltrek. Gewoonlik onttrek ’n verharde sondaar homself reeds voor die derde afkondiging aan die kerklike toesig en gemeenskap. Dit maak geen verskil aan die kerkregtelike posisie of so ’n persoon homself en of die kerk hom met die volle prosedure afgesny het nie.

 

10. Afsnyding van dooplede

Die Sinode van Potchefstroom (1961:126 vgl art 71 KO) skryf die prosedure van artikel 77 ook by die afsnyding van “dooplidmate met inagneming van inkompleetheid van hulle lidmaatskap” voor. Hier moet die twee fases van sensuur in ag geneem word. Belydende gelowiges kan van die nagmaal afgehou word, terwyl ondertussen veelvuldige vermaninge plaasvind. By dooplede kan slegs die veelvuldige vermanings plaasvind vanaf die oomblik wat die adolossente dooplid genoegsame sin vir verantwoordelikheid bereik het. Die vermanings moet verder oor ’n geruime tyd van die volwasse leeftyd strek.

Wanneer die kerkraad oortuig is dat die dooplid nie blyke van boetvaardigheid en geloof gee nie, kondig die kerkraad aan die gemeente af dat ’n dooplid hardnekkig in ’n bepaalde sonde volhard en die vermaninge van die kerkraad verwerp. Indien na ’n tyd en nog meer arbeid geen boetvaardigheid na vore tree nie, vra die kerkraad advies van die klassis om die dooplid van die gemeente af te sny. Op grond daarvan word sy naam genoem, die gemeente betrek totdat die derde afkondiging en uiteindelike afsnyding daarna plaasvind.

Geen dooplid wat wel gelowig is, mag afgesny word net omdat hy of sy nie bereid is om belydenis van geloof te doen nie. Tug mag nie gewetens dwing

|421|

nie. Die kerkraad sal baie goed moet ingaan en en arbei aan die probleme waarmee die dooplid worstel.

 

11. Opsê van kerklike gemeenskap

Gedurende die eerste 17 eeue het Rome en later ook die Reformasie onder “kerk” min of meer die mense in die sfeer waarin Christus hulle deur middel van opsieners regeer, verstaan. Vanaf die 18de eeu word “kerk” as ’n vrywillige vereniging met die oog op godsdienstige belange beskou en vermenigvuldig die getal “kerke” waarvan talle hoegenaamd geen tug handhaaf nie. Iemand wat van een “kerk” afval, kan selfs net in naam by ’n “ander kerk” gaan aansluit. Die gevolg is dat mense wat onder die laaste tugmiddel verkeer maklik een “kerk” (as vereniging) vir ’n ander verruil. Die stelling dat iemand wat hom elders laat doop daar aangesluit en daarmee kerkgemeenskap verbreek het (GKSA 1945:art 93a), berus ook op dié verenigingsbegrip.

Partymaal wil kerkrade ’n “bedanking” nie aanvaar nie om met die tug deur te kan gaan. Die algemene reg handhaaf dat kerklike tug slegs kan gaan oor diegene wat vrywillig by die kerk aansluit. Ook die Skrif beperk die tug tot dié wat binne is (1 Kor 5: 12).

Rutgers sê tereg dat die vereiste van formele kennisgewing wanneer iemand hom van die kerk afskei (“bewys van lidmaatskap”) op die begrip van “genootskap” rus (De Jongh 1918:86). Iemand kan egter mondeling voor twee of meer “getuie” sê dat hy hom aan die kerklike opsig en gemeenskap onttrek. Wanneer iemand kennis gee dat hy hom afskei, kom die tughandeling tot stilstand.

Wanneer kerkraad die kennisgewing van “bedanking” ontvang, hoef die kerkraad nie dadelik so iemand af te sny nie. Hulle goddelike roeping as opsieners verplig hulle volgens Rutgers om die persoon te probeer behou. Hy keur dit af dat kerkrade soms ’n formele “bedanking” gretig aangryp om van ’n lastige geval en langdurige tughandeling ontslae te raak, ’n houding wat hy as nie-Christelik en nie-Gereformeerd tipeer (De Jongh 1918:88). Hulle behoort eers die persoon te probeer oortuig dat hy liefde en tug wat sy heil soek, ontwyk en net verder dwaal. Niemand kan egter met dwang in ’n kerklike gemeenskap gehou word nie. Dit is ook in stryd met die gewone reg en mag tot regsprosesse aanleiding gee (De Jongh 1918:87).

Wanneer ’n ander “kerk” mense opneem wat kerklike tug ontduik, is hulle ’n menslike vereniging wat die naam van kerk van Christus onwaardig is. Dit is wel waar dat valse tug in die naam van Christus bedien kan word. Dit moet egter bewys en nie net beweer word nie. Valse tug soek nie die eer van God, opbou van die kerk en heil van die sondaar nie, maar vertoon die kenmerke van menslike heerssug (tweede deel NGB 29). Dit is skandelik wanneer tugoefening van een Gereformeerde kerk binne kerkverband in ’n ander op partydige hoorsê getuienis veroordeel word of een kerkraad weier om navrae oor sy tughandelinge aan ’n ander kerkraad binne kerkverband te verskaf. Dit lyk na soek van eie belang, heerskappyvoering en verloëning van die opdrag van Christus aan ander.

|422|

12. Gevolge van die afsnyding

Die begrip dat iemand van die “gemeenskap van die kerk” afgesny word (art 77), berus op verskillende Bybelse gronde (Mt 18: 17; Rm 9: 3,6; 1 Kor 5: 5,11; 16: 22; 2 Ts 3: 6,14; 1 Tm 1: 20; 6: 5). Gemeenskap van die kerk beteken gemeenskap van die gelowiges (Heid Kat S 21). Afsnyding hou dus in dat die gelowiges die gewone omgang met die persoon staak en hom nie meer as een van hulle erken nie aleer hy hom weer met Christus en die gemeente versoen. Die persoon word wel nie meer as broeder of suster erken nie, maar tog ook nie as vyand beskou nie (1 Kor 5: 5; 2 Kor 2: 7; 1 Ts 3: 15). Bywoning van eredienste behoort die eerste teken van terugkeer te wees (vgl art 78).