|127|

Artikel 19

Sorg vir teologiese studente

 

Artikel 19: Die kerke moet soveel nodig sorg dat daar studente in die Teologie is wat deur hulle ondersteun word.

 

A. Kerkregtelik

1. Die gelowiges moet vir die diens van die Woord sorgdra

Die kerk is geroepe gelowiges wat God dien in die “amp van die gelowiges” om die Woord te verkondig en algemene priesterskap te beoefen (Heid Kat S 12). As sodanig moet die gemeente uitkyk na manne in wie die Woord en Gees van die Here die roeping werk (art 3; Hd 6: 3, 13: 2; 2 Kor 8: 18,19; 1 Tim 3 ens). Die voorafgaande artikels rus telkens op die taak van die kerk (gelowiges) om dienaars te verkies, te ondersoek en in die diens van Christus toe te laat. Hierdie verantwoordelikheid begin reeds voordat iemand in sy diens bevestig is.

 

2. Die gelowiges moet reeds die toekomstige dienaars van die Woord ondersteun

Wie die kerk as uitgangspunt neem, sou kon redeneer dat Christus “ampte” (posisies, poste) in “sy kerk” gestel het en dat die kerk vir sy behoeftes soos ’n sekulêre instelling geskoolde werkers moet oplei. Teologiese studente studeer dan soos enige ander student vir ’n “beroep”. Teenoor hierdie beskouing aanvaar ons dat Christus ’n bepaalde persoon met bepaalde genadegawes (en menslike gebreke) tot ’n bepaalde diens ten behoewe van bepaalde gelowiges roep. So is die toekomstige dienaar self ’n gawe van Christus aan die gemeente (1 Kor 12: 28; Ef 4: 11; Spoelstra 1976:44; Ridderbos 1966:492-499). Die gemeente moet by die gawe betrokke wees, hulle gawes opmerk en erken, vir hulle bid, hulle aanmoedig en finansieel ondersteun. Die kerk as liggaam van lewende lede moet intiem met die lid wat hom vir die besondere diens voorberei, saamleef (1 Kor 12).

 

B. Kerkregering 

1. Redaksioneel

In 1578 het die Nederlandse kerke gevra dat die gemeentes vir die studente staatsondersteuning of hulp van “partikuliere persone” (vgl art 6) moet soek

|128|

sodat daar altyd “bekwame predikante” sal wees (Bos 1950:83). In 1581 is bepaal dat die gemeentes moet “arbei” dat daar studente in die teologie sal wees wat ex bonis publicis (publieke gawes) onderhou moet word en wat proefpreke (“propositiën”) met die oog op opleiding voor die gemeente kon lewer (Biesterveld, Kuyper 1905:145 art 14). Die onderhoud was toe bedoel vir studente wat aan staatsuniversiteite en in Genève moes studeer. Die onnodige verwysing na publieke gawes is in 1964 weggelaat.

 

2. Tussen die kerke en teologiese studente moet ’n geestelik-sedelike band bestaan

Tydens die vervolging van die 16de eeu (Bos 1950:83) en in Suid-Afrika toe die kerke intiem by die teologiese opleiding betrokke was, het die kerke studente geken en hulle diens ingewag. Namate verstedeliking plaasgevind het, het dit verander. Tans mag ’n teologiese student selfs in die tuisgemeente onbekend wees of hy word akademies-formeel as student beskou.

By die toelating van teologiese studente is die getuigskrif van die kerk waaruit die teologiese student hom aanmeld, onontbeerlik. Wanneer kerkrade hierdie plig as ’n formaliteit behandel byvoorbeeld net om die student aan ’n studiegeleentheid te help, versuim hulle hulle karakter en plig as kerk van Christus en dra by om die diens van die Woord te sekulariseer. Die kerke behoort hieroor op mekaar ag te gee (kyk artt 41,44).

 

3. Die kerke moet teologiese studente finansieel ondersteun

Nederlandse kerkregtelikes wil nie ondersteuning van teologiese studente met “barmhartigheid” in verband bring nie (Bos 1950:82). Hulle stel klaarblyklik “barmhartigheid” en “verpligting” teenoor mekaar. “Barmhartigheid” is egter liefde en liefde lê ’n dure plig op gelowiges. Die beurse vir teologiese studente moet uit liefde gegee word. Studente in hulpbehoewende omstandighede kan selfs verdere hulp by die kerkrade in die vorm van studielenings soek. ’n Student wat leningverpligtinge versuim en hoop dat die kerkrade dit ’n “skenking” sal maak omdat hy nie (kan) betaal nie, maak hom skuldig aan sonde teen die agste en negende gebooie. Die kerklike hulp raak basiese behoeftes en moet nie vir weelde soos motorkarre en luukshede aangewend word nie.

Elke student moet dankbaar wees vir die liefdegawes van die kerke. Hulle gee dit vir die diens en nie omdat die student volgens artikel 19 daarop aanspraak kan maak nie. Elke teologiese student is voor die Here ’n rentmeester en moet self uiters versigtig en verantwoordelik begroot en spandeer en nooit in sosialistiese sin die gemeenskap vir sy onderhoud verantwoordelik hou nie.

In die teologiese opleiding te Hammanskraal onderhou die kerke uit die Eerste Wêreld wat die opleiding voorlopig voorsien (GKSA 1961 177), ook grootliks studente uit kerke van die Derde Wêreld. Geleidelik begin dié kerke egter ook hulle verantwoordelikheid besef. ’n Breë kuratorium uit die kerke wat die professore daarstel en uit kerke waaruit studente kom, besluit saam

|129|

oor alle studentebelange. Kuratore uit sinodes waaruit studente kom, sou goedskiks die finansiële versorging van studente uit hulle kerke volledig kon oorneem. Hulle sou ook geleidelik professore kon beroep en aanbied en so geleidelik die opleiding oorneem.

 

4. Toelating van studente

Studente word versigtig en verantwoordelik toegelaat op sterkte van getuigskrifte van predikante, kerkrade en onderhoude met studente. In beginsel bly dit dus in die laaste instansie altyd die gemeentes wat met hulle getuigskrifte studente toelaat.

Die kerke en dosente moet oor voorbereidende studente se agtergrond en leefwyse gedurende hulle hele studieloopbaan toesig hou en hulle bekwaamheid en geskiktheid om as predikante opgelei te word, beoordeel. Die kuratorium moel gedurig getuienis oor al dié aspekte oorweeg en mag sonder opgaaf van redes ’n student wat akademies geslaag het in belang van “kerk en skool” toelating tot teologiese studie ontsê (GKSA 1958:389).

Die GKSA het op grond van die besondere band en ooreenkoms met die PU vir CHO selfs al gereglementeer dat voorbereidende studie aan dié Universiteit moet plaasvind. Dit gaan egter te ver omdat studente ook aan ander inrigtings voorbereidend mag studeer wanneer dit goedkoper of geriefliker (bv deeltyds of buitemuurs) kan plaasvind (GKSA 1958:388). Die Kuratorium moet basies slegs oordeel of die betrokke kandidaat homself geroepe weet en oor die akademiese toerusting beskik om die teologiese studie te kan doen en hulle daarvan weerhou om opleidingsentra voor te skryf asof ’n inrigting iemand se integriteit waarborg.