|360|

Artikel 66

’n Dag van verootmoediging en gebed

 

Artikel 66: In tye van oorlog, pestilensie, algemene volksrampe en ander groot beproewings waarvan die druk oral in die kerke gevoel word, moet die klassis wat daarvoor deur die algemene sinode aangewys is, ’n dag van verootmoediging en gebed uitskrywe.

 

A. Kerkregtelik

1. Calvyn lê nadruk op vas en openbare gebed

Calvyn sê in verband met die bediening van die kerklike tug dat wanneer sonde ’n hele gemeente in sy greep het, kan dit skadelik vir die getroues wees indien ’n groot klomp mense ineens van die kerk afgesny sou word. Sodanige sondes moet met vermaning en onderwysing verbeter word. Die herders moet in sodanige tye van nood die gemeente opwek om te vas, openbare gebede te doen en hulle gelowig toelê om boete te doen. Dit geld ook wanneer ’n sinode oor ’n leerstuk moet uitspraak doen of wanneer oorlog, pes of skaarste heers (Inst IV.12.xiii,xiv). In sodanige tye moet die herders die gemeente oproep orn te vas en ootmoedig te smeek dat die toorn van God afgekeer sal word. Calvyn verwys na Skrifgedeeltes soos Hd 13: 3, 14: 23; Lk 2: 37; Nh 1: 4; JI 2: 15; Jn 3: 5 (Inst IV.12:xv-xvii).

Gedurende “vas” word baie minder en heel eenvoudig geëet. Wettige vas moet die liggaam onderwerp, afmat en beteuel met die oog op gebede en om te getuig van skuldbelydenis en verootmoediging. Gevolgiik is dit nuttig om ’n vas- en biddag daarvoor uit te roep. Dit is beter om heeltemal nie te vas nie wanneer bygeloof insluip (Inst. IV.12:xix).

 

2. Daar is tweërlei regering oor die gemeente

In die koninkryk van God gebruik Hy burgerlike en geestelike of innerlike regering. Die burgerlike regering moet daarom ook die godsdiens en kerkdiens beskerm, die welvaart van die samelewing bevorder en toesien dat openbare goddeloosheid nie die ware godsdiens ongestraf afbreek nie (Inst IV.20.i-iii). Die regeerders moet die eer van God bevorder, omdat hulle deur sy genade regeer (Inst IV.20.ix; vgl art 36 NGB en 28 KO).

In die Romeins-Germaanse wêreld het gevolglik die idee van Christelike owerhede (regeerders) en Christelike staat (corpus christianum) opgekom. Dit het aan die begin van die 17de eeu sterk in die Nederlande geleef. Die Dordtse Kerkorde van 1619 het nog probeer om die owerhede gunstig te stem in die hoop dat hulle dit sou goedkeur. Hierdie artikel kan slegs uitgevoer word waar

|361|

’n groot mate van geestelike homogeniteit tussen die kerklike en burgerlike owerhede bestaan.

 

3. Geen vasgestelde vastye nie

Calvyn was gekant teen vasgestelde vas- en biddae of om die vorm van dergelike dae voor te skryf. Dié dae het geen betekenis in hulleself nie, maar is slegs ’n hulpmiddel om die gesindheid van die hart op die essensiële verhouding met God te rig. Die vasdae het egter geleidelik in onbruik geraak namate die oorlogsdruk afgeneem, welvaart toegeneem en Rasionalisme en Deïsme die besef van God se heiligheid, toorn en oordele verswak het (Nijenhuis 1982).

 

4. Die Klassis kan vir al die kerke beslis

Die redaksionele wysiging van 1905 bring ’n interessante en baie treffende gereformeerde beginsel na vore. Enige vergadering of samekoms van ’n aantal kerke is ’n sinode. Die klassis wat volgens die huidige redaksie van artikel 66 KO handel, dra nie gesag op grond van struktuur, byvoorbeeld omdat dit alle kerke verteenwoordig nie, maar omdat die kerke in klassis die meriete oorweeg en beslis. Die “algemene” sinode wys slegs aan watter kerke in klassis hierdie aangeleentheid vir al die kerke in algemene sinodale verband beslis. Die gereformeerde kerkregering wil die gewig van die gronde vir die besluit en nie die demokratiese aantal kerke of sinodale struktuur as gesagdraer eerbiedig. ’n Algemene sinode kan geen mag delegeer nie, want Christus en nie die algemene sinode nie is Hoof van die kerk.

 

B. Kerkregering

1. Redaksie van die artikel

Die Sinode van Dordrecht 1619 formuleer hierdie artikel soos volg: In tye van oorlog, pestilensie, skaarste (“dieren tijt”), vervolging van die kerke en ander algemene druk (“swarigheden”), sal die dienaars van die kerke die owerheid versoek om met sy gesag en opdrag openbare vas- en biddae uit te skrywe en te heilig.

Die GKN wysig in 1905 die artikel en die GKSA neem dit in 1916 oor: “In tye van oorlog, pestilensie, algemene volkrampe en ander groot beproewings waarvan die druk orals in die kerke gevoel word, moet ’n biddag deur die klassis uitgeskrywe word wat daarvoor deur die laaste algemene sinode aangewys is”.

Die Kerkorde van 1905 breek dus volledig met die beginsel van ’n Christelike staat en die Geref Kerke in Suid-Afrika volg op dié voet.

Die redaksie van 1619 reken met kerklike dienaars en politieke owerhede as persone. Dié van 1905 maak slegs ’n klassis, wat vooraf deur ’n algemene

|362|

sinode aangewys is, verantwoordelik om al die kerke tot ’n “biddag” op te roep terwyl nie meer van ’n “vasdag” gepraat word nie. Die GKSA praat van “’n dag van verootmoediging en gebed” (1964) in plaas van “vas- en biddae” (1619) of “’n biddag” (1905).

 

2. Uiteenlopende praktyke

Verskillende sinodes sedert 1885 het probeer om hierdie artikel op verskillende maniere toe te pas. Soms het sinodes met oog op drukkende omstandighede in oorleg met die plaaslike predikant ’n “biduur” of ’n “dankuur” gehou. Soms het die gedagte van “gereelde bid- en dankdae” in September en April posgevat (1949). Soms is verwag dat die owerheid ’n “biddag op ’n weeksdag” moet uitskryf (1913) waarvoor die owerheid nie te vinde was nie (GKSA 1967:138). Toe ’n Afrikaanse Regering in 1948 aan bewind gekom het en gedurende 1964-1968 besonder moeilike landboujare en politieke woelinge beleef is, herleef die gedagte om die Regering te vra om “biddae” (bv vir reën) uit te skrywe (vgl GKSA 1967:126-132).

 

3. Verwarring tussen kerk en owerheid

Gedurende 1964 was die praktyk dat die Regering as die “mees landswye” gesag uit enige hoek genader mag word om ’n “biddag” wat op die terrein van die kerk lê, op te roep. In daardie geval het die Eerste Minister “hom tot die Moderator van sy eie kerk” gerig om kerke en kerkleiers daaroor te sirkuleer om gesamentlik of elk op sy eie die biddag uit te roep (GKSA 1967:127). Op sterkte van die lidmaatskap van die Eerste Minister het die Moderator van daardie Kerk as die kerklike arm van die owerheid na vore getree.

 

4. Verwarring in die breë landsituasie

Verskillende probleme het spoedig in die periode na 1964 aan die lig gekom. Sommige wou ’n “biddag” vir ’n bepaalde Sondag uitskrywe, terwyl dan reeds eredienste bepaal was. ’n Sinvolle versoek sou in daardie geval slegs landswye voorbidding tydens die gewone Sondageredienste kon vra. Dit was dan nie ’n oproep vir ’n spesiale dag soos artikel 66 beoog nie. Samewerking tussen die Regering en die Afrikaanse kerke het maklik en dikwels op hulle inisiatief plaasgevind, terwyl Gereformeerde kerke onder swart volke nie betrek is nie (GKSA 1967:130). Wanneer die “biddag” verby is, kom dikwels weer die gedagte van ’n spesiale “dankdag” na vore wat moeilik met artikel 66 KO gerym kan word. Hoe staan die “spesiale” bid- en dankstonde in verband met die gereelde gelowige Sondag-eredienste wat bid- en dankdae moet wees (vgl GKSA 1967:125-142; 1970:105-120)?

|363|

5. ’n Dag van verootmoediging en gebed raak ’n universele ervaring van nood

Die bepaling van artikel 66 KO veronderstel dat druk van ’n beproewing oral in die kerke gevoel word. Hierdie artikel ontneem hoegenaamd nie die reg aan enige kerkraad, klassis of partikuliere sinode om in eie ressort ’n dag van verootmoediging en gebed uit te roep met betrekking tot ’n bepaalde nood wat in daardie kerke in besonder ervaar word nie. Die kerke het immers daaroor volledig bevoegdheid (art 30 KO). ’n Aansoek by die klassis wat in artikel 66 KO genoem word, moet gevolglik duidelik motiveer waarom die bepaalde nood oral in die kerke gevoel word en ernstig rekening hou met die implikasies wat die uitroep van ’n dag van verootmoediging op geloofbevindelike, kerklike, maatskaplike en politieke gebed inhou (GKSA 1967:139,141). Ten alle koste moet gewaak word teen demonstratiewe “biddae” of bygeloof wat die ingrype van die Here koppel aan hoe so ’n dag gehou word.

 

6. Die verhouding van volk en kerk

Die OT ken vas- en biddae tydens volksrampe. In die NT val kerk en volk egter nie saam nie, terwyl die geestelike en stoflike, volk en kerk, ook nie waterdig geskei kan word nie. Die kerk (gelowiges) is betrokke by en deel in die volk. Die kerk as Gods volk vorm ’n kern in die volk. Die Christelike owerheid en kerkregeerders staan vry teenoor mekaar maar nie los en onverskillig nie. So het die leraars tydens volksrampe ’n plig om ’n profetiese stem ook tot die volk en owerhede te laat uitgaan, terwyl die owerheid die bevoegdheid het om ’n dag te proklameer waarop verootmoediging kan geskied. Wanneer die owerheid nie Christelik wil wees nie, of die druk wat die kerke voel nie wil erken nie, moet die kerke alleen deurgaan in verootmoediging en voorbidding (GKSA 1970:107-1 12).

 

7. Die verhouding tussen verskillende kerkgemeenskappe

Wanneer verskillende kerkgemeenskappe met volksrampe of nood gekonfronteer word, moet verskillende beginsels in ag geneem word. Die eenheid van die liggaam van Christus (die universele kerk) maak gemeenskap in gehoorsaamheid aan die Woord en in gebed moontlik. Waarheid eis dat die mense hulle werklik voor God moet verootmoedig. Verdeeldheid oor bepaalde sake of verskille in ras en kultuur moet nie oorbeklemtoon word ten koste van die hoogsmoontlike samewerking en eensgesindheid in die verootmoediging en voorbidding voor God nie (Acta 1970:112). Waarheid belet ook dat voor God gedemonstreer en pretendeer word dat daar eenheid is wat in werklikheid nie bestaan nie (Acta 1970:113).

 

8. Die owerheid en veelheid van kerkgemeenskappe

“Die staat moet die gelykheid tussen die kerke en die uniekheid van elke kerkgemeenskap erken en eerbiedig. Die owerheid moet nie een kerkgemeenskap

|364|

voortrek en onderhandel asof dié namens alle (of ander) kerke “optree” nie (GKSA 1970:113). Die staat moet die geleentheid vir ’n algemene dag van verootmoediging skep, waarna die kerke langs eie weë leiding moet neem in die uitroep van so ’n dag. Enige kerk kan die owerheid nader om ’n algemene volksdag vir verootmoediging uit te roep. Indien egter vooraf interkerklike oorleg gepleeg word, sal dit die saak bevorder.

 

9. Algemene riglyne

Die dae van verootmoediging en gebed moet slegs aangewend word in gevalle van ’n algemene, besondere en akute nood wat die hele volk of die gesamentlike kerke benou. Daar moet nie te veel dergelike dae opgeroep word nie sodat dié dae geringgeskat of teenoor die weeklikse samekoms van die gemeente op Sondag oorskat word nie.

Die toorn van God moet die gewetens geraak het en dié dae moet nie as middel aangewend word om die gemeente te bearbei nie. Dit moet nie met gebede probeer aandag trek of Sondagse gebede van die gemeente devalueer nie. Dit moet nie op metodistiese wyse die Here aanroep nie. Die volk moet na die Ontfermer vlug wat die verbryselde hart aanneem en deur ons aangeroep wil wees.

Die dae van verootmoediging en gebed is nie bedoel om voor die Here die chroniese kwale en ellende waarmee land, volk en kerk gedurig te doen kry, te bring nie. Dit het te doen met gemeenskaplike nood wat ’n hele volk of die kerke in besonder beklem. Eers wanneer die gewete deur die majesteit van God se oordele geraak is sodat saam voor die Here in skuldbelydenis gestaan word teenoor al sy goedheid, maak dié dae sin. Onder druk van die harte word Hy gesmeek om in sy oneindige barmhartighede die oordeel weer weg te neem sodat sy Naam geëer word.

 

10. Die oproep van ’n dag volgens artikel 66 KO

Kerke in die klassis wat aangewys is om ingevolge artikel 66 KO te handel behoort staande twee deputate te deputeer na ’n classis contracta wat ingevolge artikel 66 KO saamgeroep mag word. So ’n klassis moet indien nodig binne 24 uur kan konstitueer (GKSA 1967:129,137). Wanneer kerke aansoek doen dat so ’n dag opgeroep word, behoort hulle nie die voorneme onnodig te publiseer voordat die ruggespraak met verteenwoordigers van ander kerkgemeenskappe afgehandel is nie. Daar is ’n afspraak nodig om gesamentlik op te roep. Een kerkgemeenskap behoort nie ’n ander voor voldonge feite of in verleentheid te stel nie. Wanneer een kerkgemeenskap besluit om nie mee te doen nie, moet hy nie deur die ander veroordeel word nie (GKSA 1970:119-120).

 

11. Die vorm van ’n dag van verootmoediging

Daar bestaan geen vaste voorskrif vir die vorm waarin ’n dag van verootmoediging en gebed moet plaasvind nie. Dit mag die vorm van ’n gewone

|365|

erediens aanneem waarin die predikant die nood rig en uitvoeriger in gebed voorgaan. Talle plattelandse kerke het ’n ouderling en ’n broeder uit die gemeente gevra om na die preek hulle voor te gaan in gebede, waarna die predikant met ’n kort gebed die erediens afsluit. In so ’n geval behoort die voorgangers oorleg te pleeg om onnodige oorvleueling en eensydigheid in die gebede te verhoed.