Artikel 16

Die bedienaar van die Woord

 

Artikel 16: Die amp van die bedienaars van die Woord is om in die gebede en bediening van die Woord te volhard, die sakramente te bedien, om goed ag te gee op hulle medebroeders, op die ouderlinge, op die diakens sowel as op die gemeente, en eindelik om saam met die ouderlinge die kerklike dissipline uit te oefen en te sorg dat alles betaamlik en ordelik plaasvind.

|112|

A. Kerkregtelik

1. Die Bedienaar van die Woord

Ons kry deur geloof deel aan Christus. Omdat ons swak is, is uitwendige middele nodig om die geloof in ons te werk en te versterk. Daarom het God herders en leraars aangestel om ons met gesag te onderwys en die sakramente te bedien (Calvyn Inst IV.1.i; Rm 10:14v; Ef 4:11-16). Die sentrale beginsel van die Reformasie, naamlik dat die Woord en Gees in die kerk moet regeer, verleen aan die diens van die Woord, sakramente en tug ’n besondere plek (Calvyn Inst IV.3.ii-vi).

Die vorige artikels het die instelling en toelating van dienaars deur roeping tot die diens van die Woord in besonder gereël (artt 1 tot 15). In aansluiting hierby noem artikel 16 nou in breë trekke die “amp” van die predikant. Die Kerkorde is nie soos in die kollegialisme ’n kerkwet of konstitusie waarin die “kerk” aan sy amptenaar mandaat of instruksie gee nie. Die Kerkorde stel net die daar-wees van die diens sodat orde in die kerk van die Here onderhou sal word (Calvyn Inst IV.3.viii; 1 Kor 14: 40).

 

2. Bediening van die gebede, Woord en Sakramente

Christus het die diens van leraar verorden (Mt 28: 19; Joh 20: 21-23; Ef 2: 20; 4: 11v; 1 Tm 5: 17; 2 Tm 3: 10-4: 5 ens). Hierin gaan die bediening van gebede voorop (Hd 6: 4; Kol 4: 12; 1 Ts 5: 12; Jk 5: 14; 1 Tm 2: 1-8) omdat God deur sy Woord en Gees moet handel (Heid Kat S 21; NGB 31). Die leraar is immers net ’n instrument deur wie God se Woord, onder leiding van die Heilige Gees bedien word en tegelyk ook mondstuk van die gemeente om dank en lof te betuig sowel as nood en behoeftes aan die Here voor te dra.

Die bediening van die Woord is omvattend (Rm 10: 11-20) en sluit bediening van sakramente in terwyl Rome glo dat die sakramente aan die prediking voorafgaan om sodoende genade uit te deel. Gevolglik het die opsiener by Rome weer priester geword.

Die konsep-beroepsbrief in gebruik by die GKSA beroep die leraar “om deur leer en voorbeeld, bestuur en opsig, alles te doen wat 'n herder en leraar betaam, ooreenkomstig Gods heilige Woord en die Belydenisskrifte van die GKSA wat daarop gegrond is.” Dit betrek leraarswerk “in besonder” op die verkondiging van die evangelie, bediening van sakramente en om leraar te wees in huisbesoek en weeklikse katkisasie wat deur die hele jaar gehou moet word (KO-boekie 1979:97). Die kerkregtelike aspek van die diens van die Woord word verder in die Formulier vir Bevestiging van Bedienaars van die Woord uitgespel. Opmerklik genoeg word die diens nie uit kerklike besluite nie, maar uit die Skrif en opdragte van die Hoof van die Kerk (NGB 31,32), afgelei.

 

3. Leraar-ouderling

Die konsep-beroepsbrief sowel as die Formulier vir Bevestiging meld dat die predikant as “herder en leraar van hierdie gemeente” beroep word. ‘n

|113|

Leraar-ouderling word in besonder tot ’n leerdiens geroep (1 Tm 5: 17). Die Here Christus wil sy kerk self regeer soos die hoof die liggaam regeer en derhalwe moet sy Woord die kudde voed, lei en in goeie orde hou.

Gevolglik moet die diens van die Woord leidend in die herderswerk (regering) na vore tree. So het selfs apostels die naam “ouderling” gedra (2 Joh 1; 3 Joh 1). Die “ouderlinge” moes die werk van die apostels voortsit (Hd 20: 28v; Van Ginkel 1975:41; Koole 1949:93; Dijk 1952:156v). Ouderling en opsiener dui in die Skrif dieselfde diens aan en word slegs van “diakens” onderskei.

In die vroeë Christelike kerke is die ouderlingamp geleidelik in die monargale hiërargie opgeneem en tot dié van priester omvorm (Van Ginkel 1975:43). Die Reformasie herstel die ouderling as pastor. Calvyn se eerste kerkordereëlings in 1537 ken net die dienste van predikante en diakens. In Genève en omgewing het destyds meer as een predikant in dieselfde gemeente gedien. Bucer ontwikkel in Strassburg die bedieningspatroon in die gemeente (ministerium ecclesiae, vgl Van ’t Spijker 1970:119v). Hy wil geen prinsipiële onderskeid tussen opsieners en ouderlinge maak nie, maar het tog die toelating van opsieners tot die diens van die Woord meer seremonieel gemaak (Van ’t Spijker 1970:392).

Bucer sowel as Calvyn (Inst IV.3.vii,viii), onderskei die bedienaars van die Woord as biskoppe (“opsieners”) naas die herder-ouderlinge (vgl art 23). Hierdie posisie hou die gevaar van hiërargie in. Talle predikante val in die versoeking om te wil heers. Calvyn waarsku dat die ware biskop geen wetgewer oor die gelowiges is om hulle te dwing om dinge te onderhou wat nie in die Woord van God gevind word nie. ’n Dienaar het geen bevoegdheid om verder te gaan as Christus, ons Regter, Wetgewer en Koning nie (Inst IV.10.vi,vii). Een predikant per kerk leen hom vir heerskappyvoering.

Die bedienaars van die Woord moet as opsieners en herders deurlopend toesig hou oor hulle mede-predikante, die herder-ouderlinge, diakens en die gemeente en wanneer nodig saam met die ouderlinge kerklike dissipline uitoefen (artt 71-82). Bucer sowel as Calvyn het primêr aangeneem dat elke herder voortdurend persoonlik pastoraal “ware sielsorg” met die Woord van God beoefen (Van ’t Spijker 1970:160v). Eers daarna wanneer nodig, doen hy sekondêr in die kerkraad aan “kerklike dissipline” mee (Calvyn Inst IV.11.i,vi). Tereg onderskei artikel 16 dus tussen die deurlopende opsienersdiens en wat “eindelik” in die kerkraad plaasvind.

 

B. Kerkregering

1. Redaksie van die artikel

Toe die Kerkorde in Nederland in 1571 sy eerste treë neem, het predikante lankal geweet en gedoen wat van hulle verwag word. Die bewoording van artikel 16 kom vir die eerste keer in 1581 (art 8) na vore. Die Kerkorde van 1578 (art 11) het daarteenoor van uitgebreide bevoegdhede, soos die bring tot geloofsbelydenis en aanstelling van ouderlinge en diakens, melding gemaak, wat weer weggelaat is. Die Kerkorde reglementeer dus nie die diens van die

|114|

predikant nie. Die Kerkorde vertrek van die bediening van die Woord wat aan bepaalde dienaars toevertrou is waarsonder daar nie kerke sou gewees het nie en praat nie soos vandag dikwels onder invloed van die kollegialisme en demokrasie van die “prediking van die kerk”, “pastoraat van die kerk” of “kategese van die kerk” nie. Die diens gaan van Christus en nie van die kerk uit nie.

 

2. Diens van die Woord verg voorbereiding

Die een predikant aanvaar hy is teologies “opgelei”, het sy eksamens geslaag, is beroep en bevestig. Hy het arriveer. Hy moet as sodanig aanvaar word en wanneer iets van hom verlang word, stroom “preke” of toesprake wat na diens van die Woord klink soos water uit ’n kraan. Hierdie “biskoplike” figuur verpersoonlik die “kerk” en verwag om gehoorsaam te word en nie deur “leke” teengespreek of tot verantwoording geroep te word nie

Die ware dienaar van Jesus Christus verstaan sy amp as diens (diakonia) die taak van 'n tafelbediende. Hy moet die kos (die Woord) wat sy Sender gee aan die huisgenote van sy Here gaan voorsit. Hy soek nie homself nie, maar om die Here se wil te doen. Hy laat die roep van die evangelie tot alle mense uitgaan en bou in besonder die huisgenote van die geloof in prediking. huisbesoek en kategese op (Ef 4: 11v). Hierdie dienaar bid gedurig om sy diens te kan verrig, berei hom met moeite voor vir elke diens, verloën homself selfs wanneer hy beledig word, luister na kritiek om sy diens net beter te kan lewer. Sy teologiese opleiding stel hom slegs in staat om die Skrif in sy diens beter toe te pas.

Die predikant self kan die grootste struikelblok vir die bediening van die Woord wees. Die predikant wat agter die Woord van God, soos gedra deur die Heilige Gees op die kansel, huisbesoek en in kategese verdwyn, sal geëer word (1 Ts 5: 12,13; 1 Tm 5: 17).

 

3. Die praktyk van die herder en leraar

Die predikant moet die Woord van God vermanend, opbouend bestraffend, vertroostend en oordelend bedien. Hy moet dit altyd eerste aan homself bedien. Bewaar die predikant wat vir ander preek maar homself daarbo verhewe ag. 

Kuyper het al gesê dat die predikant nie net herder by die siekbed of op huisbesoek is nie, maar juis op die preekstoel (Kruger et al 1966:115). Sy prediking moet dus waarlik herderswerk wees wat die kudde voed, waarsku, lei en vertroos met “so sê die Here!”. Vandag is daar ’n groot gevaar dat die prediking veroppervlakkig, moraliseer, verhorisontaliseer, probeer vermaak, verpolitiseer of vormlik raak omdat die “vorm” van erediens nog onderhou word sonder om werklik na die Woord van God te vra.

Die predikant is in die eerste plek leraar. Om te leer het vir Calvyn beteken om die waarheid van God se Woord onverswak tot opbou van die gelowiges uiteen te sit. Dit staan in kontras met die Roomse Sakramentalisme (Moore 1984:142v). Die “leerdiens” word vervul op die kansel, op huisbesoek veral waar mense leer- en geloofsprobleme ondervind, waar kinders gebore is, in

|115|

katkisasie, iemand siek of oorlede is, iemand in sonde geval of beproef word, evangelisasie (sending) nodig is, of iemand sy raad kom vra. Selfs waar iemand lastig, beledigend of aggressief word, mag hy hom nie deur die kwaad laat oorwin nie. Hy moet die Woord bedien wat die kwaad deur die goeie oorwin. Die Heelmeester Christus het immers gekom om te soek en te red wat afgedwaal, vervreem en verlore was.

Die predikant het ’n besondere leerdiens om teenoor die kerkjeug te vervul, te onderrig en op te voed in die vrese van die Here en in sy verbond. Hy mag die taak nie aan, helpers of sogenaamde hulpkragte oorlaat en ’n soort “Sondagskool” met soveel “klasse” as wat daar skoolstanderds is daarop nahou nie. Die predikant behoort met die kinders jonger as 12 jaar minstens Sondae saam te kom, die psalm wat gesing word te verduidelik en die Bybelgeskiedenis te behartig. Daarna kan die kleiner kinders in klasse van hulle eie voorbereiding rekenskap gaan gee by hulpkragte, registers gemerk word ensovoorts. Die kontak wat die predikant as leraar met jonger kinders maak, lê bande wat die koms van die koninkryk van God bevorder. Vanaf die ouderdom wat kinders leerstellig kan begin “verstaan” (ongeveer 12-jarige ouderdom), moet die predikant self aan al daardie kinders die volle raad van God onderrig en daarvoor genoeg tyd, by voorkeur in die week, inruim. Hulpkragte moet hier slegs gebruik word wanneer kerkkatkisasie deur die leraar onmoontlik is.

Die herder en leraar se diens is nie tot ’n kerk beperk nie. Hy moet dus ook die Woord van God laat spreek in die samelewing, by geleenthede in die skool, teen euwels en sonde in die gemeenskap, ontmoeting met plaaslike en hoër owerhede en veral om ook doelbewus God se koninkryk deur middel van evangelisasiewerk te laat kom (vgl Heid Kat S 48). Predikante tree te veel as amptenare in en van ’n kerk en te min as dienaars van Christus ook evangeliserend na buite op.

 

4. Saam met die ouderling

Die artikel praat van “medebroeders” omdat daar in die 16de eeu meer as een predikant in die gemeente gedien het. Die Kerkorde van Genève 1561 maak gevolglik voorsiening vir weeklikse predikantevergaderings en visitasie deur ’n kommissie van ouderlinge en predikante wat eenmaal per jaar by die gemeente rondgegaan het om vas te stel of die predikante hulle diens getrou uitvoer (Pont 1981 25; artt 20,27,31)

Die predikante moet in die tweede plek ouderlinge vergesel na probleemgevalle voordat so ’n saak op die kerkraad dien (Mt 18: 16). Die ouderlinge behoort die predikant te wys op gevalle waar sy leerdiens nodig is. In die laaste instansie oefen die predikant(e) saam met die ouderlinge die kerklike dissipline in die kerkraad uit (kyk artt 71-78. Calvyn: Inst IV hfst 11).

In een-predikant-per-gemeente-praktyk en onder invloed van die kollegialisme, word die posisie van die predikant oorspan. Die verkeerde neiging het ontstaan om die predikant soos ’n biskop die alleenadres vir klagtes oor sondes in die gemeente te maak. Hy moet as ’t ware self alle dissipline uitoefen of aan die “ouderling” opdrag gee, asof die ouderling sy helper is. Die predikant

|116|

is in die presbiteriale tugoefening volkome gelyk aan enige ander herder-ouderling en mag nie vir homself op grond van sy “leerdiens” in die kerkregering enige gesag of heerskappy as herder oor die ouderlinge aanmatig nie (kyk artt 22,37).

 

5. Geen ampsgewaad

Die kerke het in Sinode 1879 verklaar dat die Nuwe Testament nie ’n “ampsgewaad” vir predikante voorskrywe nie en dat predikante gevolglik slegs verplig kan word om hulle te gedra soos 1 Tm 4: 12 en Tit 2: 7,8 dit van hulle eis (art 158). Hierdie advies sluit aan by dié van Edam 1604 waarin predikante opgeroep word om te onthou dat mense verskil en oor kleredrag nie eners dink nie. Waar hulle die kerk moet opbou, moet hulle die gemeente wat daaroor anders dink in hulle swakheid soveel moontlik tegemoet kom om daaroor nie ergernis te veroorsaak nie (Bos 1950:77).

In die geskiedenis het sommige kerkrade tog ’n manél en soms ’n wit das (vroeër strikkie) ter wille van “eenvormigheid in die kerkraad” aan predikante, ouderlinge en diakens voorgeskrywe. Ander het slegs ’n netjiese dagpak verlang. Sedert 1950 het die voorskriftelike “ampsgewaad” uit feitlik alle kerke verdwyn. Kleredrag is ’n middelmatige saak wat deur kultuur, gebruike, gewoonte en smaak bepaal word, en nie kerklike voorskrifte of dwang vereis nie. Die diens verg slegs ’n netjiese voorkoms.

 

6. Die predikant is liturg

Die kerke stel gewoonlik kragtens hulle eenheid in kerkverband ’n liturgiese orde daar waaraan die liturg hom moet hou, sonder om in slaafse formalistiese eenvormigheid soveel as persoonlike voorkeure en veranderinge in die liturgie te verval (vgl GKSA 1927:80; 1955:403). Die liturg behou altyd ’n mate van vryheid (vgl GKSA 1876: art 93; 1955 art 262). Hy moet soms in bepaalde situasies die liturgie aanpas op sterkte van besondere geleenthede, beperkte tyd, ensovoorts. Hy moet egter nie die eenheid in diens tussen kerke in kerkverband versteur nie.