|371|

Artikel 69

Orde ten opsigte van die kerklied 

 

Artikel 69: In die kerke moet die 150 Psalms, die Tien Gebooie, die Onse Vader, die Twaalf Artikels van die Geloof, die Lofsange van Maria, Sagaria en Simeon gesing word. Ander skrifberyminge wat die sinode goedgekeur het, word in die vryheid van die kerkrade gelaat.

 

A. Kerkregtelik

1. Eenheid in die geloof

Eenheid van die kerk (gelowiges) word nie deur struktuur of eenvormigheid nie, maar deur een-wees in Christus, dit wil sê eenheid in ware geloof (Heid Kat S 21) bepaal. Die karakter en inhoud van die kerklied in die erediens moet daarom met die geloof ooreenstem en nie teen die Skrif en die Drie Formuliere van Eenheid (die uitdrukking van kerklike eenheid) bots nie. W E G Louw (van Stellenbosch) sê dat gedurende die 18de eeu valse leer en vrysinnigheid deur middel van sommige Gesange en Halleluja-liedere in die gemeentes in gesing is (vgl Van der Walt 1982: Voorwoord). In tye van geestelike verval word dikwels verandering van die kerklied gevra (Van der Linde 1982:226).

 

2. Liturgiese eenheid

Die eenheid in geloof bring ook eenheid van diens of liturgie na vore. Die liturgiese beginsels behoort nie tot die Kerkreg nie, hoewel die oudste liturgiese ordes tot reëling van orde in die kerk gereken is. Eenheid in liturgie vereis nie enersheid in vorme en gebruik nie. Daarom word sekere gebruike soms binne kerkverband aan die vryheid van die kerke oorgelaat. Dit laat predikante egter nie vry om deur “kerkraadsbesluite” ’n liturgie waaroor ooreengekom is, te verander nie (art 30).

Die eerste vyf Geref Kerke word in 1859/60 oënskynlik gestig omdat dié mense Gesange uit die liturgie wou ban. Ds Postma het egter op 11 Januarie 1859 in Pretoria prinispieel alles probeer om ’n kerklike breuk oor kerkliedere te verhoed. Hy het “orde sonder dwang en vryheid sonder belediging” begeer. Daarom sou hy geen kerk veroordeel wat regsinnige Gesange gebruik nie. Indien selfs dit aanstoot gee, moes dit liefs ter wille van die eenheid van die gemeente nagelaat word. Wie slegs Gesange sing waarvan die teks in die Bybel gevind word, is op die veiligste weg. Indien enige van die uitweë onmoontlik

|372|

blyk te wees, moet dit aan die “wysheid” van elke leraar oorgelaat word om volgens sy “gewete” en met die oog op die “toestand” van die gemeente te handel, sodat oor Gesange nie “verdeeldheid” of “skeuring” plaasvind nie (Spoelstra 1963:138).

Die Ned Herv Kerk het egter onverbiddelik besluit dat die NHK met sy Evangeliese Gesange gehandhaaf word en daardeur kerkregtelike dwang uitgeoefen. Lidmaatskap tot die NHK vereis onderskrywing van die Gesange asof dit kerkgemeenskap bepaal. Eenheid in liturgie het in die besluit swaarder geweeg as eenheid in geloof.

 

3. Gemeentesang in plaas van priestersang

Die boek Psalms toon dat gedigte, sang en kore in Israel se godsdiens voorgekom het. Gedurende die Middeleeue verdwyn gemeentesang, maar priesters en kore het die liturgie by die mis in aangrypende liedere deurgesing. Calvyn sou in trane uitgebars het toe hy vir die eerste keer gemeentesang in ’n Protestantse kerk gehoor het. Hy het met Luther saamgestem dat gemeentesang in die erediens moet voorkom (Bouwman 1934:498v). Waar Luther himnes toegelaat het, het Calvyn Skrifgebonde berymde Psalmgesang beklemtoon.

Augustinus ag slegs liedere wat die mens van God ontvang het, goed genoeg om aan Hom terug te sing {Kruger 1966:410). Kerksang is ’n noodsaaklike element van die erediens omdat dit die gemeente aktief in geloofsbelewing en geloofsopenbaring tot eer van God betrek. Daarin kan die gemeente die Here loof, hulle nood blootlê, sondes bely, gebede opstuur en seën afsmeek. So maak juis die kerklied die samekoms erediens (Kol 3: 16; Ef 2: 19; Hb 10: 19-22). Dit is jammer dat die sang so dikwels “sommer as sing” aangekondig en ervaar word en net so jammer dat Calvyn en ons Nederlandse erfenis vir ons so min Duitse kerkmusiek nagelaat het.

 

B. Kerkregering

1. Die Kerklied gedurende die Reformasie

Die 150 Psalms was by uitstek die vertrekpunt vir die kerklied. Gedurende die 16de eeu is feitlik net die “Onse Vader” as gebed uit die NT gesing (vgl 1574, Bos 1950:248). In 1619 word die berymde 12 Artikels, Lofsange van Maria, Sagaria en Simeon bygevoeg. Die Gesang uit die Duitse himne “o God wat ons Vader is” is aan die vryheid van die kerke oorgelaat (art 69 DKO 1619). Die CGK in Nederland verklaar in 1836 teenoor die vrysinnigheid van die 19de eeu dat die “werk van manne ... gedrywe deur die Heilige Gees” nie met die “werk van mense” waarvan die teks nie in die Bybel gevind word nie, gelykgestel mag word nie (Bos 1950:249). Dit is nog moeilik om te verklaar waarom dieselfde besware toe ook al in die NG gemeente van Cradock na vore gekom het, sonder dat dié geïsoleerde mense geweet het wat in Nederland

|373|

aangegaan het. Dit illustreer egter hoe vanuit dieselfde geestesgesteldheid dieselfde gewetensbesware in die liturgie opgeroep is.

 

2. Invoering van die Evangeliese Gesange

Gedurende die 18de eeu het die beginsel van die outonomie van die mens wat met sy rede en ervaring ook oor geloofsake kan beslis, ’n veranderde lewensgevoel geskep wat vreemd teenoor “gees” van die Psalms en Reformasie gestaan het. ’n Aantal partikuliere sinodes het gevolglik in Nederland 1807 onderling ooreengekom om ’n bundel Evangeliese Gesange of “vrye liedere” in gebruik te neem, sonder dat hulle die inhoud aan die Skrif en Belydenis getoets het. Die gemeentes van Stellenbosch en Kaapstad het afsonderlik in 1814 die voorbeeld gevolg en geleidelik het ander gemeentes gevolg. In die gemeentes van Cradock, Colesberg, Burgersdorp en Bloemfontein het hieroor groot onenigheid ontstaan. Die Ring van Graaff Reinet het sonder om die beswaardes te ontmoet of te hoor in 1841 (en Sinode 1848) die beswaardes verplig om die Gesange te aanvaar omdat die predikante daar nie fout mee vind nie. Wie teen die Gesange gekant is, is ’n deurboorder van die liggaam van Christus genoem. Die beswaardes het hulle vanweë die etiket van die nagmaal onthou. Die dwang om Gesange te aanvaar het in 1859 die stigting van Gereformeerde kerke (gemeentes) op die leerstellige, liturgiese en kerkregtelike basis van Sinode van Dordrecht 1618-’19 veroorsaak. Vyf van die kerke het in 1862 die Dordtse Kerkorde met artikel 69 KO as basis vir hulle Konfederasie in sinodale verband aanvaar. Toe die NG en NH Kerke die Evangeliese Gesange in Afrikaans bewerk het, verklaar hulle in die voorwoord van die Gesangboek dat sommige gesange in die lig van leerstellige besware weggelaat of hersien is. Daar kon dus met reg besware teen die inhoud van sommige Gesange gekoester word (Van der Vyver 1959 hfst IX). Op sigself is die sing of nie van regsinnige Gesange ’n middelmatige saak (vgl GKN Amsterdam 1936 by Bos 1950:252v). Wanneer ’n middelmatige saak egter op tipiese dominokratiese en burokratiese wyse van die presbiterianisme uit ’n Ring afgedwing word, kan daar nie meer sprake wees van die gesag van Christus wat bedien word nie (vgl Spoelstra 1963:66v; 118v).

 

3. Die Afrikaanse Psalmberyming

In Nederland is verskillende Psalmberymings gebruik waaronder dié van Utenhove {1566), Datheen (Konvent van Wezel 1568, art 31 ), Marnix (Dordt 1574, art 43) ensovoorts. In 1773 het die State Generaal ’n nuwe beryming daargestel. Die Sinode van Colesberg 1920 het aan prof J D du Toit (Totius) opgedra om die Psalms in Afrikaans te berym. Die Sinode van 1936 het die werk ontvang.

Die gereformeerde kerke onder die verskillende swart volke moes noodwendig van “Sionsliedere” gebruik maak waarin talle liedere ’n semipelagiaanse gees adem. Tot dusver het geen meerdere vergadering nog die Sionsliedere aan die Belydenis getoets nie, terwyl sang juis in dié kerke ’n baie

|374|

belangrike plek beklee. So groot as die behoefte aan regsinnige liedere is, so jammer sal dit wees as hulle liturgie tot berymde Psalms beperk sou word.

 

4. Gebruike van Skrifberyminge 1942

Die GKSA het te Bloemfontein 1939 die liedereskat uitgebrei met 48 ander berymde Skrifgedeeltes uit die pen van Totius (artt 86,116). Die plaaslike kerkrade kon daaroor oordeel, waarna die Sinode van Aliwal-Noord 1942 dit aan die kerkrade vrygestel het om te gebruik indien hulle so verkies. Tans is die Skrifberyminge in die meeste kerke in gebruik. Hierdie bundel ontsluit inderdaad die taal van die NT vir die liturgie. Die GKSA het in 1988 te Potchefstroom enkele Gesange oorweeg en Gesang 294 (Onse Vader) goedgekeur as alternatiewe Skrifberyming 28 vir gebruik in die erediens (1988:35).

Oor enkele Skrifberyminge in gebruik kan kritiese vrae gevra word. Kan ’n gemeente die kruiswoorde of leringe van God in gelykenisse of die briewe in Op 2 en 3 aan God terugsing? Bedoel en gee die Skrif dit met die oog op liturgie? Moet Skrifberyminge nie ontleen word aan liedere op poëtiese gedeeltes in die oorspronklike teks nie? Dié norme is nie in 1942 aangelê nie. 

 

5. Orrelbegeleiding

Calvyn en Nederlandse Sinodes van die 16de eeu het orrelbegeleiding van kerksang afgekeur omdat dit die gemeentesang mag verdring (Pont 1981 :253). Begeleiding of nie is ’n middelmatige saak, so lank die gemeente deur sy sang aktief in die erediens betrokke is. Omdat die gemeente deurleefd moet sing, moet aan die gehalte, tempo en volume van begeleiding bewoë aandag gegee word. Die orrel en orrelbegeleiding mag nooit in ’n uitvoering (konsert) ontaard nie. Omdat koorsang die gemeente uitskakel, tas dit die gemeenskaplike karakter van die erediens aan en kom dit as vermaak vir die gemeente voor. Koorsang kan baie gepas voor of na, maar nie tydens die erediens nie plaasvind (Kuyper 191 1:81).

 

6. Psalmmelodieë

Calvyn het hom beywer om al die Psalms te laat berym, waarvoor melodieë uit die volksmond ook aangepas is. Die 16de eeuse melodieë is volgens kundige musici van baie hoë gehalte. Die Afrikaanse psalmboek het ’n aantal populêre “lekkersing” wysies gehad wat nie van dieselfde gehalte as Geneefse wysies was nie. Toe dit uit die Afrikaanse Psalmboek geban word, het besware ingestroom. Opmerklik genoeg was die kommissie van kerkmusiek self verdeeld (GKSA 1979:618-621). Hoewel ’n sinode seker ter wille van koste net sekere melodieë in ’n Psalmboek wil opneem, kan ’n sinode vanuit kerkregtelike oogpunt nie musiek voorskryf nie. Dit kan hoogstens “adviese” ten dienste van die liturg en gemeente gee omdat musiek nie op ’n kerklike wyse (art 30) of met gesag (art 46) uit die Skrif voorgeskryf kan word nie. Musiek moet die

|375|

Woord dra en ’n gemeente kom aan die woord deur musiek wat hulle kultuureie is. Musieksmaak moet buite die erediens ontwikkel of waar nodig verander word. Die musiek is ’n middelmatige saak en melodieë behoort in vrye kompetisie hulleself te bewys. Daar is op sigself geen religieuse prinsipiële beswaar teen “Voortrekkerwysies” nie. Trouens, indien die gemeente dit uit volle bors aanhef, is dit diensbaar aan die eenheid en feestelikheid in die erediens. Melodieë wat vir ongeoefende stemme swaar sing en gemeentelede monddood maak, moet deur alternatiewe vervang word.