Artikel 82

Kerklike attestasie by vertrek uit die gemeente

 

Artikel 82: Aan diegene wat uit die gemeente vertrek, moet die kerkraad ’n attestasie (getuienis) van hulle belydenis en wandel saamgee wat deur twee van sy lede onderteken is.

 

A. Kerkregtelik

1. Die wese van die kerk bepaal lidwees

Die kerkregtelike beginsels wat op die wese van die kerk betrekking het, dra die ordebepaling in art 82 (vgl artt 53-56,61,71,76 ens). Die liggaam (kerk) van Christus word tot ’n eenheid saamgebind deur dieselfde geloof, gemeenskap in leer, belydenis en dieselfde gehoorsaamheid in hulle lewenswandel aan die Woord en Wet van die Hoof (1 Kor 12: 12-27; Ef 1: 22,23; 4: 1-6; Heid Kat S 21 ). Geloofseenheid is die wese van kerkverband. Wie dus van een kerk (gemeente) na ’n ander verhuis, moet getuienis lewer dat hy of sy dieselfde geloof en dieselfde lewenswandel onderhou as die kerk waarheen hulle gaan.

Wie vanuit die koninkryk van God die kerk bely as ’n heilige vergadering van almal wat waarlik in Christus glo (NGB 27,28) wat “in die eenheid van ware geloof” met Hom verenig is (Heid Kat S 21), weet dat mense se leer en lewe toon of hulle van dié onsigbare kerk lid is. Ons verwerp dus die opvatting dat die “kerk” ’n “vereniging” is waarin ’n mens “lidmaatskap” verkry en daarvoor ’n “bewys van lidmaatskap” (lidmaatskapskaart) soos van ’n party ontvang. Iemand se aktiewe meedoen aan die Christelike leer en lewe bepaal sy lidwees in die kerk van Christus (1 Kor 12). Wanneer Iemand fisies verhuis, kan hy of sy nie meer lid van die kerk op daardie plek (NGB 28) wees nie. Waar hy hom gaan vestig, al is dit vir ’n paar maande, voeg hy hom by die gelowiges rondom die genademiddele (Calvyn Inst IV.i.x) wat die kenmerke van die ware kerk op daardie plek openbaar (NGB 29).

Indien kerke nie met mekaar kerkverband beleef het nie, sou so ’n persoon wat verhuis weer geloof moes bely, vrome lewenswandel moes bewys en die kerklike toesig moes aanvaar om in die gemeente (kerk) opgeneem te word.

|451|

Kragtens kerkverband getuig die kerk waar gelowiges geleef het egter aan die kerk waar hulle gaan woon oor hulle leer en lewe en daardie kerk aanvaar hierdie getuienis, tensy hulle die teendeel sou kon bewys.

Mense vergeet soms dat die Kerkorde net die orde tussen kerke in dieselfde kerkverband wat die kerkorde aangegaan het, reël. Attestasies, of nog erger, “bewys van lidmaatskap” kan dus nie van ’n kerk buite die kerkverband ontvang of aanvaar word of aan ’n kerk buite kerkverband afgegee word nie. Indien kerke dieselfde leer, diens, regering en lewe onderskryf, behoort hulle in dieselfde kerkordelike verband te staan.

 

2. Die kerkraad moet getuienis magtig

Verhuis van een na ’n ander kerk van Christus vereis offisiële en betroubare getuienis of die persoon werklik aan Christus behoort. Gevolglik is dit al vroeg voorgeskryf dat die kerkraad die getuienis of attestasie onder sy offisiële seël of onder twee handtekeninge moet gee. Die seël is vroeër in was of lak op dokumente gedruk om aan te dui dat die dokument waar en eg is (De Jongh 1918:136-138).

Dit word in die Bybel uitdruklik gestel dat die waarheid in die mond van twee getuies vasstaan (Mt 18: 16; 2 Kor 13: 1). Sedert 1964 word slegs twee handtekeninge vereis, omdat elke kerk nie meer sy eie seël en seëlbewaarder het nie. Dit moet bewys dat die getuienis van die kerkraad uitgaan. Tegelykertyd word veronderstel dat die kerkraad aan die gemeente afgekondig het wie attestasie aanvra en die afgee van goeie attestasie toegestem het (De Jongh 1918:136).

 

4. Die gelowige moet hom by die nuwe kerk voeg

In die Skrif is talle voorbeelde waar gelowiges mekaar van kerk tot kerk deur middel van getuienis geken en in 'n ander kerk ontvang het (Hd 9: 27; 15: 23-30; Rm 16: 1; 1 Kor 16: 10; 2 Kor 3: 1 ; Kol 4: 10,11; Fm: 17; 3 Joh 1: 3). Dit lê in die aard en wese van die kerk opgesluit dat gelowiges mekaar deur getuienis sal ken en erken.

Rutgers benadruk dat ’n gelowige, waar twee gereformeerde kerke is, ’n keuse mag uitoefen by watter kerk hy hom gaan voeg. ’n Mens is vir hom nie ’n ding wat ander in hierdie of daardie laaitjie mag plaas nie. Die persoon moet self beslis (De Jongh 1918:134). In ons Suid-Afrikaanse praktyk heers egter dikwels ’n byna Lutherse opvatting dat ’n “kerk” ’n struktuur met vaste geografiese “grense” is. Ter wille van sogenaamde “orde” word aan mense voorgeskryf by watter “kerk” hulle hulle moet voeg. Soms weeg ’n grens in hierdie kerkbegrip swaarder as ’n mens.

Die Belydenis (NGB 28) stel inderdaad die gelowige verantwoordelik om hom by die ware kerk (NGB 29) aan te sluit. Binne gereformeerde kerkverband is alle kerke in leer, lewe en tugoefening nie identies nie en die gereformeerde naam waarborg nie dat elke kerk die kenmerke van die ware kerk sal uitstraal nie. Iemand mag soms ter wille van persoonlike voorkeur, familieverbintenisse, assosiasies, maar dalk selfs met die oog op die gehalte van Woordbediening,

|452|

kategese, huisbesoek en geestelike gemeenskap een gereformeerde kerk (gemeente) bo ’n ander verkies. Wie die kerk as hoogste norm neem, eis eenvoudig dat die persoon die grensreëlings eerbiedig. Wie egter ’n oog het vir die bedieningsbehoefte wat die persoon uitspreek, het met drie belangegroepe binne een kerklike gemeenskap te doen: die gelowige wat attestasie moet indien; die kerkraad wat volgens afspraak in kerkverband mense in daardie gebied bedien en derdens die kerkraad onder wie die gelowige hom wil voeg. ’n Kerksentriese, kollegialistiese of patriargale tradisie mag die “kerk” se belange bo die van die gelowige stel. ’n Liberale benadering mag weer net die keuse van die gelowige die saak laat beslis. In ’n intieme gemeenskap soos die kerk moet so 'n situasie in liefde en met wysheid onder oë gesien word en die een moet die saak uit die ander se oogpunt probeer insien. Dwang van ’n kerkraad met ’n beroep op “reg” van grense of bevooroordeeldheid en hardkoppige eiesinnigheid by ’n gelowige is geen kerklike wyse van optrede (art 30) nie. Tog meen ons dat wanneer die roeping van Christus om te bedien in ag geneem word (Mt 28:18-20), moet die vraag oor hoe die kerklike gemeenskap en bediening die beste beoefen sal word, die deurslag gee.

 

B. Kerkregering

1. Die redaksie van die artikel

Gedurende die Reformasie is mense vervolg, moes hulle vlug en kerke moes mense aanvaar, aanhelp en massas reddelose armes van onderhoud voorsien. Vabonde en skelms het daarvan dikwels misbruik gemaak en voorgegee dat hulle weens hulle geloof vlug, om geld of ander hulp in kerke te bekom. Gevolglik het attestasie noodsaaklik geword om mense te identifiseer. Seëls en handtekeninge is vervals. Soms het predikante alleen attestasie uitgereik (De Jongh 1918:131,141v).

Die Sinode van Emden 1571 (art 44) verwys na die misbruike waar armes onder valse voorwendsels onderhoud by ander kerke gaan soek het. Gevolglik moet sodanige mense “attestasie of getuienis” oor hulle “leer en lewe” in die vorige gemeente inhandig, voordat hulle as “huisgenote van die geloof” (vgl Gl 6: 10) aanvaar sou word.

In 1574 word bepaal dat niemand sonder attestasie aan die nagmaal toegelaat sou word nie (tans art 61). Rutgers onderskei artikel 61 as die reël vir die gemeente wanneer gelowiges van buite kom, terwyl artikel 82 bepaal wat die gemeente moet doen waaruit hulle vertrek (De Jongh 1918:131). In 1578 word die praktyk afgesny dat slegs die predikant attesteer en bepaal dat die kerkraad daarvoor verantwoordelik is. In geval van haastige vertrek moes die predikant en ’n aantal ouderlinge attesteer, maar indien armes verhuis moes die attestasie aantoon hoeveel onderhoud hulle van die diakens ontvang het.

In 1586 word gereël dat die kerkraad attestasie oor die wandel van gemeentelede wat vertrek onder “seël” van die kerk of anders onder twee handtekeninge sal saamgee. Met “wandel” is die gereformeerde leer en sedelike lewe bedoel. Die Sinode Utrecht 1905 het dit daarom as “leer en lewe” bewoord.

|453|

2. Saamgee van die attestasie

Die 16de eeuse migrasies en kommunikasiemiddele het “saamgee” die aangewese praktiese en ordelike wyse gemaak om attestasie af te gee. Rutgers keur die afstuur van ’n attestasie per pos baie sterk af en skryf dit aan kollegialistiese kerkreg toe waar gereken word dat mense lidmate van ’n sentrale genootskap is wat hoogstens ’n “verhuisbiljet” of oorplasing van “lidmaatskap” met “bewys van lidmaatskap” benodig. Soms word selfs aangeneem dat iemand se “lidmaatskap” of “attestasie” nog in gemeente A agterbly, terwyl hy of sy reeds in gemeente B woon en saamleef (De Jongh 1918:134).

Dergelike opvattings toon hoe sterk die kollegialistiese idee van “lidmaatskap” in die kerk as instituut posgevat het en aan “attestasie” gekoppel is. Dit gaan nie in attestasieverkeer oor “lidmaatskap” en getalle van ’n “kerk” nie, maar om ’n gelowige in die liggaam van Christus wat in ’n bepaalde kerklike gemeenskap en onder bepaalde toesig opgeneem word.

Indien die afgee van attestasies prinsipieel reg hanteer word, is die blote afstuur van ’n attestasie per pos nie in stryd met die selfstandigheid van die plaaslike kerk of die reg van die gelowige om hom by die nuwe kerk te gaan voeg nie, soos Rutgers wou argumenteer nie. ’n Attestasie wat per pos afgegee word, gewoonlik omdat die persoon eers na ’n tyd kan sê waarheen attesteer moet word, kom op “saamgee” neer mits dit eerstens geskied op versoek van die persoon wat vertrek, tweedens gegee word aan die kerk wat die lidmaat aandui en derdens nie te lank na sy vertrek uit die gemeente aangevra word nie. Die meeste attestasies in blanke gereformeerde kerke word vandag per pos afgestuur sonder dat daaraan ’n kollegialistiese konnotasie gekoppel word.

“Saamgee” wil verseker dat iemand nie deur sy vertrek wat hom as ’t ware van daardie kerk afsny, kerkloos word nie. Gelowiges verhuis dus met attestasie van een plaaslike kerk na ’n ander om so in gemeenskap met die een kerk van Christus te bly. “Saamgee” lê nadruk op die feit dat enige vertraging in aanvra by die persoon wat verhuis het of afgee van die attestasie by die kerkraad, neerkom op sondige onverskilligheid teenoor die bediening in die kerk van die Here. Om mense as “lidmate” te probeer behou nadat hulle vertrek het, misken die wese van die bediening van die genademiddele.

 

3. Inhoud en vorm van die attestasie

3.1 Die attestasie is getuienis

Die attestasie is ’n getuienis oor leer en lewe wat die kerkraad namens die kerk (gemeente) afgee aan ’n ander kerk (gemeente) wat die persoon as een van hulle moet ontvang en bedien. Die getuienis gaan oor dit wat die wese van kerk en kerklike gemeenskap uitmaak: die leer en lewe van die persoon wat verhuis. Gevolglik moet die attestasie die name bevat oor wie dit gaan en die adres waar hulle te vinde sal wees (veral wanneer dit per pos afgegee word).

|454|

3.2 Getuienis oor dooplede

Die dooplede is net so deel van die kerk van Christus as diegene wat belydenis van geloof gedoen het, alhoewel hulle nog nie selfstandige geloofsverantwoordelikheid geneem het nie (kyk artt 55,56,59,60,61). By dooplede is getuienis oor en register van hulle doop (kyk art 60) vir die kerk wat hulle ontvang net so belangrik as vir die kerk waar hulle gedoop is. Hierdie gegewens moet dus ook deur attestasie oorgedra en deur die kerk wat hulle ontvang aangeteken word. Dit is vir eventuele belydenis van geloof, versorging en tugoefening essensieel. Moontlik het ’n bepaalde mensbeeld of kollegialistiese gedagte dat kinders nog nie “lidmate” is nie, daartoe gelei dat attestasie aan dooplede skromelik verwaarloos word en kerke wat attestasies ontvang, versuim om die nodige gegewens oor dooplede op te vra of aan te teken. So kan gebeur dat iemand wat nie gedoop is nie, belydenis van geloof doen.

 

3.3 Eenvormige gedrukte attestasie?

Omdat attestasie baie administratiewe werk in ’n kerk meebring, is in sinodale verband ’n eenvormige attestasievorm ontwerp en in boekies aan kerkrade beskikbaar gestel. Die kerkraad wat attesteer vul slegs sy naam, die name van die lede wat vertrek en die naam van die kerk aan wie attesteer word in, terwyl die werklike getuienis klaar gedruk is: “… verklaar dat hulle suiwer in die leer en onberispelik in die wandel…” is. Indien dié getuienis waar is, verhuis net ideale gelowiges van een kerk na ’n ander.

Rutgers beklemtoon dat kerklike getuienis oor iemand waar moet wees, en oor uiterlike en sigbare belydenis en lewenswandel moet gaan. Die kerkraad moet nie probeer om die gelowige se innerlike vroomheid, godsvrug of geestelike stand te beoordeel (De Jongh 1918:139) en attestasies gradeer nie. Hierdie gevaar sny “enersluidende vorms” (Van der Linde 1983:268) af. Tog kan dié praktyk nie goedgekeur word nie. Sommige kerkrade wat die “waarheid” in oog hou, skrap eenvoudig die gedrukte getuienis (en dan attesteer hulle eintlik nie meer nie); ander dink dat ’n attestasie ’n gedrukte vorm moet wees en maak daarvan ’n “verhuisingsbiljet”. Ander stuur die offisiële attestasie met ’n begeleidende brief, dikwels deur net een onderteken, wat die attestasie weerspreek omdat dit sonde van die persoon wat vertrek het, vermeld. Tog het die Sinode van 1955 oop ruimte op gedrukte attestasievorms om die leer en lewe in die kerkraad te kwalifiseer, afgewys omdat dit weer gelowiges willekeurig kon gradeer. Nogtans is beklemtoon dat kerkrade noukeurig moet attesteer (GKSA 1955:297). Daarna is alle vorige besluite oor “lidmaatskap” herroep en beklemtoon dat “lidmaatskap as sodanig” tuishoort by die plaaslike kerkraad (GKSA 1958:138).

Die inhoud en vorm van attestasie kan en mag wysig met die oog op die doel waarvoor dit gegee word. So is daar bepaalde vorme van attestasies nodig wanneer iemand hom vir kerklike eksamens met die oog op bediening van die Woord aanmeld (art 4) of wanneer ’n predikant met goeie getuienis van een kerkraad en klassis (classis contracta) na ’n ander verhuis (kyk artt 5, 10).

|455|

3.4 Konsepvorm by losmaking van dienaars (vgl artt 5,10)

Bylae by die Kerkorde voorsien ook ’n konsepvorm om by die losmaking van dienaars te attesteer. Daarin word verklaar dat die predikant wettige losmaking verkry en dat hy “al die tyd van sy werksaamheid ... christelik en godsalig in sy belydenis en wandel (was), en dat hy sonder om aanstoot te gee, onbesproke in die gemeente verkeer het” (KO-boekie 1979 p 984). Skrywer hiervan was op ’n keer teenwoordig waar “aanstoot” wat ’n dominee gegee het, ter tafel was. Toe daar tydens behandeling van die saak blyk dat hy waarskynlik in die vorige kerk ook aanstoot gegee het, is die “getuienis” van die vorige kerk (en naburige kerke) onder handtekening van minstens drie predikante uit die argief geraadpleeg. Dit het in stryd met feite beweer dat die predikant “al die tyd sonder om aanstoot te gee, onbesproke” in die gemeente verkeer het! Daar is toe gevra wat getuienis van een kerk aan ’n ander kerk werd is. Die attestasie in die akte van losmaking is waarskynlik geteken sonder dat dit ooit gelees is.

Die kerkraad en classis contracta moes sonder om op onnodige besonderhede in te gaan, die waarheid getuig en daarvoor, indien nodig, die konsepgetuienis uit die KO-boekie wysig. “Mooi” bedoelings kan die kerke onnoembare skade berokken wanneer dit die waarheid oor geskiktheid vir die amp geweld aandoen. Natuurlik moet vroeëre probleme wat opgelos is volgens die Skrif verswyg word. In daardie geval pas die woorde “al die tyd” egter nie meer nie.

 

3.5 Reisattestasies

’n “Reisattestasie” word gegee aan ’n reisiger wat nie weet by watter kerk of kerke hy hom sal bevind nie. Die reisattestasie stel hom dus bekend aan enige kerk in kerkverband en versoek dat die kerke waar hy aandoen op die reisattestasie (of andersins) sal attesteer wanneer en waar Woord- en Sakramentbediening aan die reisende gelowige bedien is (kyk konsep KO-boekie 1979:102).

Die reisattesasie hou verband met artikel 61 en bevat gewoonlik ’n datum waarop dit verstryk. Die persoon aan wie dit uitgereik is, moet die reisattestasie met aantekeninge van kerkrade aan die kerkraad wat attesteer het, binne die bepaalde tyd terugbesorg. Aangesien iemand meestal jaarliks met verlof na sy tuiste terugkeer, behoort ’n reisattestasie in normale gevalle vir nie meer as een jaar uitgereik te word nie en kan dit liewer periodiek hernu word.

Die reisattestasie moet nie die gewone attestasie vervang waar iemand byvoorbeeld vir studie, militêre diensplig of uitvoering van sekere werk, vir maande op een plek gevestig sal wees nie. ’n Reisattestasie bly egter in besit van die gelowige as getuienis vir die kerkraad waarvandaan hy op reis gegaan het. Dit lewer noodsaaklike getuienis oor kontinuïteit in kerklike gemeenskap wanneer dit ingehandig word, sodat die kerkraad eventueel met ’n goeie gewete kan attesteer wanneer die persoon wat vir ’n tyd reisend was, hom op ’n ander plek gaan vestig.

|456|

3.6 Ander getuigskrifte

Enige getuigskrif wat iemand van sy kerkraad met betrekking tot sy leer, lewe en gedrag met die oog op aansoek om werk ontvang, is ’n vorm van attestasie. Gewoonlik reik predikante in hulle amptelike hoedanigheid getuigskrifte uit. Wat hier getuig word moet waar wees, terwyl buite kerklike privilege geen getuienis gelewer mag word wat as kwaadwillig bestempel kan word nie. 'n Getuigskrif moet dus eerstens oor bepaalde positiewe gedrag en eienskappe getuig. Soms kan onder omstandighede voorbehoude aan die getuienis gestel word, byvoorbeeld wanneer die persoon se vermoëns beperk is of nog nie goed bekend is nie. Diskresie moet altyd uitgeoefen word sodat die betroubaarheid van kerklike getuienis met die aard van die kerk en die eise van die negende gebod strook.

 

4. Weier om attes af te gee of te ontvang

Geen kerkraad mag kragtens kerkverband ’n normale aansoek om attestasie van enige persoon, onder tug of nie, weier nie. ’n Kerkraad mag slegs weier om te attesteer wanneer hy nie meer in staat is om te kan getuig nie, byvoorbeeld wanneer iemand te lank uit die kerk weg is of attestasie na ’n kerk buite kerkverband vra met wie geen wettige attestasieverkeer vasgestel is nie. Ten opsigte van iemand wat lank weg is, kan soms net getuig word tot wanneer en hoedanig hy aan sommige in die kerkraad bekend was. Die kerkraad wat die persoon opneem, kan in die lig daarvan sy optrede bepaal.

Soms vra iemand attestasie aan na ’n naburige kerk, alhoewel hy nie verhuis nie. In so ’n geval moet die redes vir die versoek ernstig ondersoek word. Die redes mag onskuldig wees of die persoon mag van die bediening in ’n bepaalde kerk vervreem wees. Dit is so natuurlik menslik om kerklike gesag te laat geld en op formeel “lidmaatskap” aan te dring, en onderwerping van die lastige en moeilike “lidmaat” te eis, reg of weg. Die liefde dring dan egter die vraag op wat van die sondaar in die liggaam van Christus word wat op bevel van Christus bedien moet word. Indien ’n kerk met goeie rede weier om attestasie af te gee na ’n naburige kerk, moet hy tegelykertyd ook, al is dit met hulp en advies van die naburige kerkraad of klassis, baie seker wees dat die bediening van daardie persoon sal en kan voortgaan. Geen kerk durf iemand wat nog aan Christus behoort, buite die “kerk” laat raak of laat “bedank” omdat hy vir die kerk “probleme” gee nie. Christus het juis 99 laat staan om na een te soek. Die handhawing van ’n predikant, kerkraad of opset teen ’n moontlik lastige persoon sal niks heel nie. Wie egter as die minste gaan in ’n gesindheid soos Christus om te red wat selfs verlore is, mag merk dat die liefde wonders verwag. Soms is die afgee van attestasie na ’n naburige kerk ’n weg van liefde om juis deur die bediening van Christus aldaar geleidelik breuke te heel en te versoen.

In Nederland het gedurende die stryd met die Remonstrante (1600-1619) en die Doleansie (1880-1886) gevalle voorgekom waar kerke nie attestate wou aanvaar van kerkrade wat nie die Gereformeerde Belydenisskrifte wou handhaaf nie. Hier het kerke formeel in een maar ten opsigte van geloof in

|457|

verskillende kringe geleef. Dit is egter die prerogatief en reg van kerkrade om seker te maak dat iemand die gereformeerde leer toegedaan is, voordat opgeneem word. Wanneer ’n kerkraad egter weier om attestasie te aanvaar, beskou hy die kerk wat attesteer het de facto buite die kerkverband, al is die kerkgemeenskap de jure nog nie formeel verbreek nie. Dit gebeur ook in praktyk dat kerke nie ’n attestasie wil ontvang waarop aanmerkings op die leer of lewe van die persoon voorkom nie. Die kerkraad sou dan eers moet trag om die mense tot inkeer en bekering te bring of anders as ongelowiges moet beskou (Van der Linde 1983:270).

Hierdie standpunt gaan nie op nie. Dit misken die oordeel van die kerk wat attesteer het. Verder verwag dit dat die kerkraad tug moet uitoefen oor iemand wat hy nog nie onder sy bediening geneem het nie. Die kerkraad aanvaar de facto die attestasie, maar weier om dit de jure te doen. Tweedens sou die optrede die persoon bediening van die versoening volgens die tugartikels ontsê omdat hy verhuis het sodat hy met ’n kortpad van die kerk van die Here afgesny word. Indien die kerk ’n wêreldse organisasie sou wees, kon redeneer word dat net “die beste” opgeneem moet word om “probleme” met “lidmate” te spaar. Wie egter in diens staan van Christus, wat soek en red wat verlore was, is verplig om ’n dowwe lamp en geknakte riet volgens die attestasie op te neem om hom te bedien met die tug van die Koning van die kerk.

Die kerkraad wat die aangemerkte attestasie wat na sensuur verwys, aanvaar, behoort by die kerk wat attesteer vollediger inligting te vra oor die arbeid wat aan die persoon bestee is en ernstig te besin hoe op daardie arbeid voortgebou en selfs verbeter kan word.

 

5. Geen “bewys van lidmaatskap”

Blote getuienis oor tot wanneer iemand in die gemeente was, is vroeër dikwels as “bewys van lidmaatskap” vir opname binne kerke in dieselfde kerkverband gebruik. Sinodes moes hulle daarteen uitspreek. Kollegialistiese tendense het al meer verwag dat sinodes “lidmaatskap” moes reël. Sinodes het geweier om “bewys van lidmaatskap” uit te reik waar mense gemeenskap met die kerk verbreek (GKSA 1936:100v) of om so iets te erken om mee opgeneem te word in ’n kerk (GKSA 1955:297v). Tereg het die Sinode van 1958 alle vroeëre besluite oor “lidmaatskap” herroep en beklemtoon dat dit volledig by die plaaslike kerk tuishoort (GKSA 1958:138; vgl art 30 KO). ’n Soort attestasie “as bewys van lidmaatskap” na ’n ander kerkgemeenskap mag nie gegee word nie omdat die gereformeerde kerkbegrip nie soos die kollegialisme in terme van genootskappe werk nie. Niemand kan daarom ook op sterkte van “bewys van lidmaatskap” uit ’n ander kerk buite die kerkverband (kyk art 52) opgeneem word nie. Elke kerkraad moet iemand opneem op grond van eie ondersoek waarin eenheid in leer en lewe vasgestel word. Waar ander kerkgemeenskappe wel “bewys van lidmaatskap” uitreik, kan ’n kerkraad dit hoogstens erken as bewys dat die persoon sy verbintenis met daardie gemeenskap ordelik opgesê het.

|458|

6. Word attestasie by instelling van ’n nuwe kerkraad afgegee?

Uiteraard bepaal iemand se kerkbegrip begrippe soos “lidmaatskap”, kerkstigting, attestasies en so meer. Kollegialisme en Prebiterianisme neem die kerk as organisasie as vertrekpunt en verplaas eintlik daarmee die koninkryk van God. Dié opvatting het ook onder gereformeerdes posgevat. Alles gaan om “die kerk”. So word gedink dat ’n “aantal lidmate” van een kerk wegbeweeg om ’n “nuwe kerk” te gaan institueer “onder” wie die lidmate gaan ressorteer. Die “naamlys” of “attestasies” word vooraf afgegee of dit word gesê dat hulle “kerkraadslede” (nie ouderlinge nie) verkies het. Daarna “oorhandig die ‘ou’ kerkraad die lys met die nodige getuienis (attestasies) aan die nuwe kerkraad” (Kruger 1966:495). Hierdie opvatting beskou die kerk as instituut primêr en los van die mense. Dit gaan selfs aan die kerkraad vooraf. In plaas van dat die gelowiges self handelend optree, word hulle as ’t ware passief van een “baas” aan ’n ander afgegee.

Die Skrif en Belydenis leer egter dat gelowiges onder leiding van voorgangers op ’n plek saamkom en ouderlinge verkies en bevestig om nou Christus aan die gelowiges op daardie plek te bedien. Die resultaat is ’n gemeente, ’n plaaslike kerk (vgl Hd 14: 23; artt 16,23,37,38). Daarvoor is geen “attestasie” van ’n “ou” kerk aan ’n “nuwe” nodig nie, maar slegs ’n ordelike identifikasie van watter gelowiges die nuwe kerkgemeenskap uitmaak en deel mag hê aan die instituering van die ampte en kerkraad. Na die instituering van die ampte, oefen dié ouderlinge hulle eie toesig en regering uit, terwyl hulle ook voortbou op tug wat redes bedien is en tot 'n goeie einde behoort te kom.

Soms duik probleme op wanneer sommige verkies om in gemeenskap met die “ou kerk” te bly. Goeie orde vereis dat dwang liefs nooit in die kerk oor middelmatige sake of met ’n beroep op blote uiterlike “orde” toegepas moet word nie. Indien oorreding nie help nie, kan mense maar toegelaat word om in die “ou kerk” te bly. Na ’n tyd sorteer sake hulle gewoonlik vanself uit.

 

7. Die name van die kerk

Die feit dat ’n kerk deur middel van die kerkraad attestasie moet kan afgee en ontvang, maak die hou van ’n noukeurige naamlys van die gelowiges, belydend en gedoop, wat die kerk uitmaak, noodsaaklik. Dit word gewoonlik ’n “lidmateregister” genoem. Elke kerk moet dus een of ander noukeurige stelsel van kontrole en aantekening oor elke gelowige hou, soos wanneer gebore, gedoop, belydenis afgelê, attes ontvang, opgeneem in die kerklike gemeenskap, getroud, gesin, woonadres, verhuisings, werksadres, oorlyde, ensovoorts. Vroeër is vrywel algemeen van duursame boeke met alfabetiese indeling gebruik gemaak. Die Sinode van 1955 (290-298) het egter ’n kaartstelsel aanbeveel, hoewel dit by uitstek ’n saak vir die plaaslike kerk is (vgl art 30 en GKSA 1955:138). Die elektroniese tegnieke met die rekenaar mag hierin baie groot verandering en verbetering meebring.