Artikel 32

Kerkvergadering in diens van God

 

Artikel 32: Alle vergaderinge moet met aanroeping van die Naam van God geopen en met danksegging gesluit word.

 

A. Kerkregtelik

1. God regeer sy kerk 

Die Here het vir hom ’n gemeente (kerk) tot die ewige lewe uitverkies wat Hy deur sy Woord en Gees in die eenheid van ware geloof vergader, beskerm

|203|

en onderhou (Heid Kat V/A 54; NGB 27). Die Heilige Gees stel opsieners aan (Hd 20: 28) en bedien Hom van die handelinge van ’n kerklike vergadering as sy handelinge (Hd 15: 28). Op sterkte hiervan sê Rome dat die pous amptelik onfeilbaar deur die Heilige Gees gelei word. Die Gereformeerdes reken egter ook met die sonde. Mense maak maklik van “sy kerk” “ons kerk”. Ampswerk in kerkvergadering moet daarom biddende begin, voortgaan en sluit (vgl Hd 13: 2,3; 15: 28) om bediening van goddelike regering te wees. Calvyn beskou ’n sinode alleen wettig wanneer dit met Christus as “voorsitter” deur die Heilige Gees bestuur word (Inst IV.9.i). Waar dit nie gebeur nie, verval die kerkregering in heerskappyvoering soos by Rome.

 

2. God gebruik die diens van sondige mense

Christus is die enigste Koning van sy volk, maar Hy bedien Hom van mense in sy koninkryk om die kerk te regeer (vgl artt 2,3). Die Woord en Gees stel dienaars in staat om sy koningskap te bedien. Hy gee voordat en sonder dat hulle vra. Op hierdie indikatief van God se genade rus die imperatief om die Drie-enige God aan te roep vir alles wat die dienaars in hulle bediening nodig het (Heid Kat S 45). Daarmee erken hulle Hom, bid om die Heilige gees sonder wie hulle niks kan doen nie en dank Hom vir sy ryke gawes (Heid Kat V/A 116; Joh 15;5 Hd 1:14; 6:6; 9:11;13:2,3;14:23; 20:32,26 ens).

 

B. Kerkregering 

1. Redaksie

Die eerste Sinode van Emden 1571 bepaal dat ’n meerdere vergadering na gebed van die voorsitter van die roepende kerk konstitueer en dat die daaglikse sittings met gebede deur die voorsitter sal begin en met danksegging gesluit sal word (Biesterveld, Kuyper 1905:58,59). Die Nederlandse, Duitse en Waalse kerke bepaal te Dordrecht 1578 dat predikante in die kerkraad presideer “en die handeling sal begin met aanroeping van die goddelike Naam en met danksegging en gebed wat by saak pas, sluit” (Pont 1981:133 art 21). Die huidige bewoording van artikel 32 in die Kerkorde van 1581 (art 24) reël ’n beginsel vir alle situasies. Die taalkundige revisie van 1964 het die aksent van gebede met betrekking tot die “handelinge” egter na die “vergaderinge” (as liggame?) verplaas.

 

2. Openingsrede

Gedurende die Reformasie moes een van die predikante tydens ’n klassis ’n preek lewer waaroor sy mede-predikante moes oordeel en hom help om te verbeter (Emden 1571 11,1). In Suid-Afrlka het die behoefte aan preke toe min predikante ’n wye wêreld moes bedien, die roepende kerk ’n erediens, dikwels gepaard met nagmaalviering, met die oog op die meerdere vergadering laat

|204|

hou. Die gebruik lei later tot formele opening onder leiding van die moderamen van die vergadering waar iemand wat die roepende kerkraad of selfs deputate vir korrespondensie versoek het, ’n “tydwoord” of ‘openingsrede” uitspreek en soms ’n “bidstond” vir die vergadering lei. Dié gebruik word tans nog net in verband met algemene en nasionale sinodes in Potchefstroom onderhou. Hierdie gebruik kan sinvol op die kerklike vergadering wat moet handel toespits en moet nie onderlinge stigting beoog of eenheid in nagmaal demonstreer nie. Dit hoort by die plaaslike kerk tuis (art 30).

 

3. Open en sluit met gebed

Opvallend genoeg het die ouer kerkordes die aanvang- en slotgebede aan die handelinge en nie aan die formele opening van ’n vergadering soos ’n parlement, skool of ander Christelike byeenkoms gekoppel nie. Dit lê klem op die voortdurende en dinamiese verband tussen gebed en handeling in kerkregering. Gevolglik word dikwels tydens die vergadering die Here nog weer spesiaal aangeroep in ’n saak waarin menslike onmag, afhanklikheid of verootmoediging te pas kom, byvoorbeeld om die lot by verkiesing te werp, spanning in die vergadering te besweer, ’n proponent tot die bediening toe te laat, ens.

Die verantwoordelikheid berus by die voorsitter om self in gebed voor te gaan of om te reël wie voorgaan. In verband hiermee moet die konsistoriegebede in ag geneem word by die weeklikse byeenkomste van die ouderlinge en diakens om die eredienste te versorg en ander noodsaaklike handelinge te verrig. Die gebede moet nie soos in Nederland net op die prediker en prediking afgestem word nie, maar die diens van predikant, ouderlinge, diakens en die gemeente en noodsaaklike kerkraadshandelinge moet voor die Here gelê word en daarvoor moet aan die einde van die dag gedank word.

 

4. Formuliergebede

Tydens die Reformasie is Formuliergebede vir gebruik tydens eredienste, vas- en biddae, oggend- en aandhuisgodsdiens, ten behoewe van voorbidding vir siekes, vir die opening en sluiting van kerklike byeenkomste en die opening van die vergadering van diakens opgestel (kyk agter in Psalmboek). Die Formuliergebede word nie verplig nie, maar kan of as voorbeelde gebruik of aangepas word.