Artikel 70

Huweliksbevestiging

 

Artikel 70: Kerkrade moet toesien dat die huwelik as heilige verbintenis in die Here aangegaan word volgens die Formulier wat daarvoor vasgestel is.

 

A. Kerkregtelik

1. Huwelik en kultuur 

Die Skrif skryf geen seremonie voor oor hoe ’n egpaar ’n huwelik moet sluit nie. Nogtans word die huwelik in die Bybel baie hoog geag in die verbondsleer en kom talle Bybelse voorskrifte met die oog op die keuse van die huweliksmaat, huwelikslewe en huwelikstrou voor (Sinode 1967:457v). Elke volk het binne sy eie kultuurgemeenskap sy eie gebruike ontwikkel en huweliksregte, voorregte en verpligtinge gevestig. Huweliksbevestiging geskied dus kragtens die gewoontereg en privaatreg en die Reformasie het dit primêr as ’n burgerlike aangeleentheid beskou (vgl Bos 1950:255v; Edam 1572; Dordrecht 1574; DKO art 70).

Gelowige en ongelowige mans en vroue sluit of voltrek huwelike met mekaar. In werklikheid word ’n huwelik (dikwels voor of sonder huweliksbevestiging) deur byslaap voltrek (GKSA 1967:468). Regter J W Wessels sê: “The early Church recognised the validity of a marriage even though the parties had not been married by a priest. All that the Church required was a contract that the man took the woman with an intention to make her his wife, together with a physical union followinq upon such promise” (GKSA 1967:470). Die huwelik wat die egpaar met mekaar aangegaan het, moet egter op die wyse wat die reg van die gemeenskap bepaal, erken en bevestig word. Die status en plek van getroudes verander en moet gerespekteer word in die samelewing.

Op grond van Skriftuurlike en gewoontereg word gevolglik aangedring dat wanneer ’n man met ’n vrou vrywillig voorhuwelikse gemeenskap gehad het,

|376|

hulle de facto getroud is en hulle dit ook de jure in orde moet bring al sou daar geen kerklike handeling plaasvind nie.

In die Christelike Germaanse kultuur is die verlowing publiek gemaak en verwag dat die priester dit sou inseën (GKSA 1967:470). Nog later het die priester ’n regshandeling voor die kerkdeur verrig en daarna in die kerkgebou die huwelik ingeseën. So is die huweliksluiting al meer verkerklik totdat Rome dit met ’n beroep op Ef 5: 32 tot ’n sakrament verklaar het. Nie elke huwelik is ’n Christelike huwelik nie. Christene wil die huwelik op grond van hulle geloof “in die Here” voor die gemeente met mekaar aangaan. Hulle wil die karakter van hulle huweliksverbond in die verbondsgemeente aanvaar en bely (vgl GKSA 1967:475). Tog het juis die teenwoordigheid van die gemeente by die kerklike huweliksplegtigheid ’n probleem geskep.

 

2. Verskillende modelle

Die vroeë Christelike kerk het aangesluit by die Romeinse reg. By die Germane was ’n priesterlike inseëning na die huweliksluiting gebruiklik. Hieruit het die verkerklikte Roomse sakramentele huweliksluiting ontwikkel.

Tydens die Reformasie bots die Roomse kerkmodel met die burgerlike huweliksmodel waar die Christelike staat die burgerlike huwelik teenoor die Roomse sakramentele ontwikkel. Die owerhede het die Reformasie immers deurgevoer. Vanaf die 18de eeu beklemtoon die Liberalisme die outonomie van die individu sodat die huwelik verder sekulariseer (GKSA 1967:469-473). Aan die Kaap het die owerheid tot 1804 bepaal dat huwelike slegs voor die owerheid in Kaapstad bevestig kon word. De Mist se huweliksordonnansie (1804) het die reg na distrikslanddroste uitgebrei.

Die Engelse bewind vanaf 1806 handhaaf van huis uit dat die Christelike vors aan die volk ’n aartsbiskop voorsien om die volk godsdienstig te versorg (feodale jus in sacra). As sodanig funksioneer die kerklike dienaars namens die koning by huweliksbevestiging.

Hierdie patroon het via die Engelse aan die Kaap posgevat. Die staat stel predikante as huweliksbevestigers aan. Hulle moet sorg dat aan die wetlike vereistes voldoen word. Hulle mag egter die huwelik tegelyk op ’n eie kerklike wyse behoudens sekere wetlike vereistes bevestig. Dié praktyk verskil wesenlik van dié in Nederland waar alle egpare eers hulle huwelik “burgerlik” in die stadshuis laat bevestig en gelowiges daarna na die “kerk” kom om hulle huwelik te laat inseën.

 

3. Huweliksbevestiging kragtens die verbond van kerklike belang

Die Skrif verbind in die OT en NT op verskillende maniere die huwelik met die verbond van God met sy volk (Jes 54; Ef 5: 22-33). Die Skrif praat duidelik oor die aangaan, duur en ontbinding van die huwelik (Mt 19; 1 Kor 7). Dit is opvallend hoeveel die kerke gedurende die Reformasie in Kerkordes en adviese oor huwelike gehandel het (Bos 1950:260; Pont 1981:33-40). Die Skrif sê in 1 Kor 7: 39 dat “net in die Here” getrou moet word, iets wat nie deur ’n kerklike huweliksbevestiging as sodanig verseker kan word nie. Om “in die

|377|

kerk” te trou is nog nie “in die Here” trou nie. Die Formulier wat gebruik word, maak dit nog nie ’n “heilige verbintenis in die Here” nie.

Die kerk as gemeenskap van gelowiges het belang by die huweliksluiting uit en in hulle midde (1 Kor 12: 12-31). Die kerklike dienaars moet in prediking, kategese en pastoraat trag om die gelowiges so op te bou (Ef 5: 11-16) dat hulle “net in die Here” sal trou. Die gemeente het deur die eertydse “huweliksgebooie” (wat die staat vereis het) die huwelik geapprobeer. Te maklik word gesê dat die predikant die huwelik as sodanig “onder toesig van die kerkraad” bevestig (Van der Linde 1982:227). Die huidige bewoording herinner aan die Roomse “verkerkliking” van die huweliksbevestiging. Kerkrade het vandag minder as ooit tevore met die aangaan van die huwelik te doen. Die plegtigheid vind meestal plaas tussen die predikant, die egpaar en hulle huweliksgaste.

 

4. Ontbinding van die huwelik

Die Skrif gee gronde waarop egskeiding geoorloof is (Mt 5: 32; 19: 9; GKSA 1924 art 139; 1927 art 161). Die ontstellende hoë egskeidingsyfer in Suid-Afrika beklemtoon egter dat die huweliksluiting en -ontbinding nie met die Skrif as norm reken nie. Die huwelik vereis vandag besondere aandag in die pastoraat, kategese en prediking. Dit is so seker dat mense sal trou en selfs probleme sal ontmoet. Tog doen die skole sowel as predikante in katkisasie baie min om die Christenjongmens vir ’n “huwelik in die Here” op te voed en voor te lig. Weinig getroude paartjies begryp iets van die “bediening van die versoening” (2 Kor 5: 18). Wanneer egskeiding tog plaasvind, moet die geskeidenes nog herderlik begelei word met ’n “evangelisches” of “seelsorgerliche Kirchenzucht” (Sadler 1985:183-184). Hiervan kom gewoonlik baie minder as van kerkregtelik-dissiplinêre begeleiding by egskeiding tereg. 

 

B. Kerkregering

1. Die redaksie van die artikel

Die Dordtse Sinode 1619 bepaal (vry vertaal): “Aangesien bevind word dat tot nog toe verskillende gebruike in huweliksake in omloop is en dit goed sou wees as eenvormigheid verkry kon word, moet die kerke by die gebruik bly wat met Gods Woord en vroeëre kerklike bepalinge ooreenstem totdat die hoë owerheid, wat daartoe versoek sal word, ’n algemene ordonnansie met advies van die kerkdienaars, uitgevaardig het”.

Die owerhede was in Nederland nie voor 1848 by die huweliksbevestiging betrokke nie en het dit aan die kerk oorgelaat. Huwelike is gewoonlik op Sondag voor of na die preek bevestig volgens die Formulier wat daarvoor vasgestel is (Pont 1981:254). Tereg het die Sinode van Dordrecht probeer om die owerheid te beweeg om te doen wat by die owerheid tuishoort (art 30 KO).

Die Sinode van Utrecht (1905) wysig artikel 70 DKO soos volg: “Die kerkrade moet toesien dat die huwelikstaat voor die gemeente van Christus bevestig

|378|

word volgens die formulier wat daarvoor vasgestel is” (GKSA-vertaling 1916; vgl De Moor 1906: art 70).

Die GKSA beleef die verwarring oor huweliksake sodanig dat hulle nie in die Sinode van 1967 met ’n meerderheids- en minderheidsrapport kon handel nie (GKSA 1967:454-477). Sonder om die prinsipiële basis enigsins aan te dui, is die huidige redaksie sito sito aanvaar.

 

2. Die probleemartikel

Uit die kerkregtelike agtergrond blyk duidelik dat die huweliksluiting op sterkte van artikel 30 KO grotendeels ’n burgerlike aangeleentheid is. ’n Beswaarskrif voer in Sinode 1964 aan dat die GKN met hierdie artikel in 1905 verkeerdelik ’n “staatkundig-juridiese daad kerklik voor die gemeente” verplig het (GKSA 1964:135-138). Die Sinode het die probleem ontwyk deur pragmaties ’n “kerklike huweliksbevestiging” teenoor “’n blote burgerlike huweliksluiting” te behou.

Die Sinode van 1930 (artt 59,248) probeer die probleem ontwyk deur “die huwelikinseëning as ’n erediens (te) beskou” (GKSA 1964:138-139; Kruger et al 1966:417). Die Sinode verklaar klaarblyklik ’n geleentheid wat nie ’n erediens (’n samekoms van die gemeente olv die ampte) is nie maar hoogstens ’n partikuliere familie-byeenkoms kan wees tot ’n erediens en kom so in botsing met die eise van “gees en waarheid” in liturgiese handelinge (Joh 4: 23). Die tradisionele Formulier het baie duidelik van die bruidegom en bruid verwag om binne en voor die “heilige gemeente” van God hulle troubelofte te maak. Die kerke stel immers net liturgiese formuliere op vir handelinge waarby die hele gemeente betrokke is.

Die gaste wat een of twee gelowiges met die oog op hulle huweliksfees saamroep, kom nie as gemeente van God of met die oog op ’n erediens saam nie. Probleme het al met betrekking tot die stigtelikheid van huwelike voorgekom (vgl GKSA 1955:330-335). Weliswaar kan die predikant as leraar op die Anglikaanse biskoppatroon oor die huwelik leer, vermaan en besluit. Hy tree daar egter as individuele ouderling pastoraal op.

Artikel 70 KO en die Huweliksformulier voor 1967 was met die praktyk onder Engelse invloed van huweliksbevestiging onversoenbaar. Die Sinode van 1967 aanvaar toe sonder om prinsipieel te oordeel die huidige bewoording vir artikel 70 KO en wysig die Formulier om aan te pas by die wetlike trouformules wat die owerhede voorskryf. Die Formulier verwys nie meer na die “gemeente van God” nie. Hoe kan die kerk in ’n Formulier handelinge wat buite die gemeente (kerk) plaasvind, voorskryf? ’n Verkorte Formulier is in 1979 opgestel, waarin sekere formele regsaspekte opgeneem is.

Die Sinode van 1967 het die kerklike karakter van die Formulier met weglating van die “gemeente” en artikel 70 KO verswak om by ’n bestaande Suid-Afrikaanse praktyk aan te sluit. Kerkregtelik hang die voorskrif van ’n Formulier vir ’n dienaar in ’n taak wat hy primêr kragtens magtiging van en verantwoordelik aan die owerheid uitvoer, in die lug. Die predikant kan tog nie “die kerk” wees en kerk “verteenwoordig” nie. Dit lyk asof artikel 70 KO minstens “kerkrade” met “predikante” moet vervang en die gebruik van die Formulier moet aanraai in plaas van voorskryf. Waar die huwelik by die

|379|

predikant berus, pas die reëling eerder by art 16 en nie onder kerklike seremonies nie.

 

3. Die predikant as kommissaris van ede

Kragtens ’n proklamasie in die Staatskoerant van 16 November 1984 is ’n predikant wat as huweliksbevestiger aangestel is, ’n kommissaris van ede wat “alle verklarings van watter aard ook al kan attesteer”. Hy kan die volgende formulier gebruik: “Ek sertifiseer dat voordat ek die voorgeskrewe eed (bevestiging) afgeneem het, ek die volgende vrae aan die verklaarder gestel het en in sy (haar) teenwoordigheid die antwoorde neergeskryf het:
1. Is u vertroud met die inhoud van hierdie verklaring en begryp u dit?
2. Het u enige beswaar teen die aflê van die voorgeskrewe eed?
3. Beskou u die voorgeskrewe eed bindend vir u gewete?”
(Fourie 1985: Die Kerkbode 13.3.85).

 

4. Huwelikswetgewing

In die huwelikswetgewing, veral oor egskeiding, neem die staat gewoonlik nie die Skrifgetuienis en kerklik-etiese standpunt in ag nie — hoogstens die “stem” van die “kerk”. Kragtens die demokrasie gee die staat vorm aan die huwelik soos die gemeenskap dit aan hom opdra. Huidige gronde vir egskeiding soos “kwaadwillige verlating” of “onherstelbare huweliksverbrokkeling” het geen Bybelse basis nie. Die staat voer aan dat sy wetgewing nie huweliksverbrokkeling veroorsaak nie en dat kerkdienaars die oorsake kan en behoort te bestry. Wetgewing wat egskeiding vergemaklik en goedkoop maak, bevorder egter ook maklike huweliksverbrokkeling. Die huidige wetgewing maak vir opskorting van ’n egskeidingsgeding voorsiening indien die regter oordeel dat herstel moontlik mag wees. In praktyk kom daarvan weinig tereg. Gevolglik word sterker op ’n “gesinshof” bepleit. Die staat het met sy wetgewing ’n definitiewe pedagogiese funksie. Daar is tekens sigbaar dat wetgewing in Suid-Afrika al minder met sedelike eise gaan rekening hou (Du Toit 1985:176-180).

Die ontstellend hoë egskeidingsyfer in Suid-Afrika loënstraf die huidige bedoeling van artikel 70 KO dat huwelike in die Here aangegaan word, al sien kerkrade toe dat die formulier by huweliksbevestiging gebruik word. Die praktyk verplig kerklike dienaars en kerkvergaderings om noulettend aandag aan alle aspekte van die huwelik as basis vir gesin, kerk en samelewing te gee en waar nodig interkerklike handeling en vertoë tot die owerhede te beproef.