Artikel 85

Eenheid en verskeidenheid in die ekumene

 

Artikel 85: In middelmatige dinge moet die buitelandse kerke by wie ander gebruike as by ons in swang is, nie veroordeel word nie.

|467|

A. Kerkregtelik

1. Eenheid en verskeidenheid in die liggaam van Christus

Kragtens die geloof in Christus en gehoorsaamheid aan sy koningskap wat hy deur sy Woord en Gees uitoefen, verkeer alle ware gelowiges oor die ganse aarde in ’n universele en wesenlike kerkverband (vgl GKSA 1961:67, 84v, 86-94, 110v pt 7, 113 pt 12). Tegelykertyd kom individuele verskille en groepsverskeidenheid tussen gelowiges as gevolg van faktore soos volks- en kultuurverband, afstamming, woonplek, staatsverband, geskiedenis, en so meer voor. Die verskillende etniese, politieke en geografiese situasies val op en word soms verkeerdelik as ’n gemis aan eenheid beskou. Eenheid kan in verskeidenheid bestaan wanneer gelowiges, waar ook al in die wêreld, oor sekere geloofswaarhede nie verskil nie.

Hoewel artikel 85 op die oog af geen verband met artikel 84 het nie, sou die verband blyk wanneer artikel 85 soos volg bewoord word: “Geen kerk mag oor buitelandse kerke heers deur hulle aan eie norme te meet en op sterkte van eie gebruike en gewoontes te veroordeel nie”. Rutgers merk tereg op dat hierdie artikel kerklike bekrompenheid, engheid en sektarisme wil afsny, asof slegs dit goed kan wees wat in eie kerk beoefen word (De Jongh 1918:168).

Dinge wat “vreemd” voorkom, hef nie eenheid tussen kerke noodwendig op nie. Kerke wat die essensiële aspekte van ware geloof omhels (Heid Kat S 21 ), deel in ’n eenheid wat oor lands-, kultuur- en kerklike verskille heenreik. Eenheid vereis nie formele eenheid, eenvormigheid en een instituut nie.

 

2. Toleransie van verskille

Calvyn het reeds gemaan om verdraagsaam met gebruike en, tot op bepaalde hoogte, selfs met leerverskille binne die gemeente te wees om skeuring en afskeiding van byvoorbeeld Wederdopers in die gemeente te verhoed. Slegs solank hulle onder suiwer Woordbediening verkeer, kan by hulle verbeter wat verkeerd is (Inst IV.1.i,xii-xxi). Die verdraagsaamheid reik na buite nog verder.

 

B. Kerkregering

1. Redaksie van die artikel

Rutgers reken die artikel nie meer tot die tugartikels nie, alhoewel dit enigsins met die erkenning van attestasies van artikel 82 saamhang (De Jongh 1918:163). Die artikel wil verhoed dat korrespondensie (art 52) met buitelandse kerke op grond van iets anders as geloofsverskille in die “ban” gedoen sou word wanneer hulle van die eie kerklike opset verskil. Omdat die bepaling na buite verder reik as die onderlinge kerklike verkeer wat die kerkorde reël, pas dit aan die einde van die kerkorde.

|468|

In die 16de eeu toe die kerkordelike ooreenkoms ontwikkel het, het die vryheid en selfstandigheid van die plaaslike kerke in middelmatige dinge absoluut voorop gestaan (De Jongh 1918:163v, kyk by artt 30, 56, 62). Die Nederlandse en Vlugtelingkerke in Engeland (a Lasco) het byvoorbeeld liturgiese wisselwerking beoefen, maar alhoewel die Engelse kerke die Nederlandse kerkorde 1578, 1581 onderskryf, kon hulle dit nie toepas nie. Die owerheid het dit belet en hulle onder die Londense biskop geplaas (De Jongh 1918:180). Calvyn het hom met die Anglikaanse Kerk (Cranmer) een gevoel, ten spyte van hulle episkopaalse regeringsvorm. Sinode Middelburg 1581 bepaal gevolglik verdraagsaamheid ten opsigte van buitelandse kerke in sake wat nie tot die essense van geloof behoort nie. Die Sinode van Den Haag 1568 maak daarvan ’n afsonderlike artikel aan die einde van die kerkorde.

 

2. Middelmatige dinge

Middelmatige sake het in die eerste plek met formele en seremoniële gebruike rondom sakramente en liturgie te doen (artt 52,62,69). Dit raak nie die essensiële geloofsbelydenis of gebruike wat op die Skrif en voorbeeld van die apostels (Ef 2:20) gegrond is nie. Verskille oor Skrifgesag, die belydenis en gebruike wat op die Skrif gegrond is, moet in mindere of meerdere mate tot veroordeling van buitelandse kerke lei. Die Sinode Potchefstroom het in 1976 met smart ten opsigte van die Gereformeerde Kerke van Nederland so gehandel (1976:302).

Die vraag in hoeverre kerke oor verskil in kerkinrigting veroordeel moet word, is moeiliker om te beantwoord. Sommige oordeel dat die Dordtse Kerkorde tot die wese van die kerk behoort (Smit 1984:135). In daardie geval sou daar iets aan die wese van kerke skort wat nie die Dordtse Kerkorde as basis het nie. Dit kan nie aanvaar word nie (Spoelstra 1979:47v).

Christus het egter die bedieninge ingestel om die gelowiges in hulle dienswerk op te bou (Ef 4: 11-16). Die diensinrigting (ampte en vergaderings) dien as tydelike steierwerk om die kerk (gelowiges) steeds meer te maak wat hulle kragtens die verkiesing en geloof reeds is. Daarvolgens behoort die kerkordelike bepalinge tot die welwese, dit wil sê die beter-kerk-wees van die kerk (Sinode Parys 1559; Pont 1981:54; Bouwman 1934:5; Kruger 1966:43).

Rutgers ontken tot op groot hoogte dat daar iets soos ’n middelmatige saak bestaan, omdat verskil in kerkinrigting ’n “ander grondslag, ’n ander beginsel” inhou (De Jongh 1918:167). Gevolglik moet die plaaslike kerk in die lig van plaaslike omstandighede oordeel en kan die gesamentlike kerke nie uitmaak wat middelmatige verskille is nie. Verskil in kerkordelike inrigting verhinder volgens Rutgers kerklike samewerking, terwyl hy aan die ander kant probeer om die deelname van die Anglikaanse biskop by die Dordtse Sinode op grond van sy suiwer Calvinistiese leer te verdedig.

Die probleem ontstaan dat wanneer verskille pragmaties buite rekening gelaat word, het dit as ’t ware verdwyn. Gereformeerdes kan daarom volgens Rutgers nie iets afwys, maar ter wille van verhoudings tog daaraan meedoen nie. Die konsekwensie kan dus tog tot kerkisme, chauvinisme en isolasie lei, soos die verhoudinge van verskillende gereformeerde gesindtes in Nederland

|469|

tot op groot hoogte openbaar, sodat selfs diens van dle Woord by ander “kerke” afgewys word (De Jongh 1918:174). Dit is so maklik om die eie institusioneel-kerklike vertrekpunt te verabsoluteer en dle koninkryk van God en liggaam van Christus buite rekening te laat. Net so kan prysgawe van die eie oortuiging ter wille van kontak, inspraak en samewerking morele invloed op ander verswak en die afwykende standpunt kondoneer (De Jongh 1918:174v).

Dit is duidelik dat hierdie artikel nie so maklik toegepas kan word nie. Die feit is, verskille bestaan. Basiese verskille moet in ekumeniese samewerking duidelik gestel, omlyn en erken word voordat van samewerking sprake kan wees. Daarbenewens moet die gemeenskaplike basis waarop ’n bepaalde doelwit nagestreef word, ook duidelik vir almal gestel word. Die gevaar bestaan dat “middelmatige dinge” verkeerdelik ter wille van “eenheid” of “samewerking” as onbelangrike of onbenullige dinge vertolk en weggedoesel word. Kerke bly nie staties dieselfde nie, maar worstel dinamies om aan die kenmerke van die ware kerk getrou te bly (NGB 29; Spoelstra 1984:30). Nie formele kategorieë nie, maar prinsipiële beoordeling aan die hand van norme moet ekunemiese verhoudinge bepaal. Die kerke moet hulle dus van ’n oordeel oor die “middelmatige” weerhou sonder om dit te sanksioneer of te aanvaar.

 

3. Reformatoriese eenheid en verskeidenheid

Toe die Nederlandse kerke in die 16de eeu hulle eie kerkordelike verband daargestel het, was hulle deeglik bewus van eenheid met ander kerke in Switserland, Engeland, Skotland, Duitsland en Frankryk. Sewentien deputasies van buitelandse kerke het in die Dordtse Sinode in 1619 die leer van die Remonstrante help beoordeel. Elkeen het selfstandig sy oordeel oor elke leergeding geformuleer. Die Engelse episkopaalse kerkregering het dit nie verhinder nie, al was dit toe nog nie so hoogkerklik uitgewerk nie (De Jongh 1918:174). Dit is egter ook ’n feit dat tydens die Reformasie kerke nie so formeel-institusioneel omlyn was soos vandag nie. Die eenheid van geloof is oor die verskeidenheid van lands- en volkgrense heen erken en beleef.

Calvyn het die Roomse hiërargie op grond van die Skrif verwerp, maar tog geweet dat onder die pousdom nog ware kerke (gelowiges) binne die koninkryk van Christus verkeer (Inst IV.2.iv,xii; 4.ii,iv; 5.ii v; 7.iii,xiii,xxiii; NGB 29). Die eenheid van die kerk word nie deur eenheid van organisasie, onder byvoorbeeld die pous, bepaal nie (Inst IV.6.i,x,xvii), maar deur eenheid van ware geloof beslis (Inst IV.2.v). Teenoor Rome se aanspraak dat almal die pous moet gehoorsaam om een kerk te wees, stel Calvyn “Christus is die enigste band van heilige eenheid. Wie van Hom afwyk, versteur en skend die eenheid…” (Calvyn 1844:259 vs pous Paulus III, vgl 217). Wanneer gelowiges slegs aan God vashou is hulle een liggaam en een gees wat deur die hand van geloof aan mekaar gebind is, sodat hulle in ware leer (belydenis) ooreenkom (Calvyn 1844:215).

Aan die predikante van Oos-Friesland skryf Calvyn dat eenheid van geloof wat in een kategismus (dié van Genève) uitgedruk word, die ideaal sou wees, maar verskillende kerke sal verskillende kategismusse daarop nahou. Hy vind daar geen fout mee solank die “variety in the mode of teaching” almal nog na die een Christus lei en in sy waarheid verenig (Calvyn 1849:34). In hierdie

|470|

gees kon Calvyn aan Cranmer skryf dat hy deur oseane sal vaar om die eenheid van die kerk te bevorder. Om een kerk in Christus te wees is om dieselfde te glo. Gevolglik kan daar ruimte vir pluriformiteit ten opsigte van middelmatige dinge gemaak word.