|345|

Artikel 62

Die wyse van nagmaalviering

 

Artikel 62: Elke kerk moet die nagmaal hou op die wyse wat na sy oordeel tot die meeste stigting dien. Dit moet egter goed verstaan word dat die uitwendige seremonies wat in die Woord van God voorgeskryf is, nie verander mag word nie, dat alle bygeloof vermy moet word en dat na die preek en algemene gebede, die formulier van die Heilige Nagmaal, asook die gebed wat daarby behoort, gelees moet word.

 

A. Kerkregtelik

1. Middelmatige en essensiële handelinge

Die artikel vertoon ook weer duidelik invloed van Calvyn se Institusie (vgl IV hfst 10; vgl NGB 32). Vir Calvyn staan dit vas dat die kerk geen mag het om wette te maak wat gewetens bind nie. Hy beklemtoon die Evangelie as die een wet van vryheid. Die gewete het alleen met God te doen en ’n goeie gewete wil God dien soos Hy dit in sy Woord eis. Daarom het die regeerders van die kerk geen reg om die gewetens te beswaar met die bewering dat hulle deur die Here as “geestelike regeerders” aangestel is nie. God het in sy Wet die volmaakte reël gegee om reg te lewe. Niemand mag iets in die kerk met betrekking tot die seremonies of godsdienstige gebruike gebied buite die Woord van God om nie (Inst IV.10.i-ix; NGB 7). Calvyn lê nadruk op die vryheid wat die brief aan die Galate beskrywe. Elke kerk kan daarom die nagmaal hou op die wyse wat na sy oordeel tot die meeste stigting dien, solank as aan die seremonies wat in die Woord voorgeskryf is, vasgehou word (Inst IV.10.xvii; 18.xx). Daar moet goed tussen essensiële en nie-essensiële handelinge in ’n nagmaalviering onderskei word.

Die essensiële dele van die diens is in die Woord geopenbaar, maar nie stuk vir stuk voorgeskryf nie. Gevolglik hang seremonies van tyd en omstandighede af. Hierdie gebruike kan as dit nodig is, verander en selfs afgeskaf of vervang word, solank die liefde ons lei (Inst IV.30.xxx). Wanneer reëlings vir die eendrag, orde en vrede (“stigting”) van die kerk getref word moet suiwer gebruike nie vervals of verduister word nie en moet net nuttige en min instellings bygebring en geen bygelowigheid aangemoedig word nie. Mense moet nie “eiesinnig” die diens van God in seremonies laat opgaan nie, maar die stigting van die kerk moet by die instel en wegdoen van seremonies die laaste woord spreek (Inst IV.10.xxxii; NGB 32).

|346|

Liturgiese “eenvormigheid” by die nagmaal is gevolglik geen beginsel nie, maar wel liturgiese eenheid en orde, innerlik gerig op Christus en die opbou van die gemeente. In die kerkregering en liturgie moet verantwoordelik onderskei word tussen essensiële en middelmatige of vormlike sake (Inst IV.10.xix). In geen omstandighede moet “sinodes” middelmatige sake ter wille van uiterlike “orde” reglementeer nie, omdat dit met die vryheid van die Evangelie bots en die plaaslike kerk in sy wesenlike verantwoordelikheid voorskryf (artt 30,84 KO).

 

2. Woord en Sakrament

By die sakrament van die nagmaal gaan net soos by die doop (artt 56,59) die Woord aan die sakrament vooraf. Die Heilige Gees werk en versterk geloof met die Woord, terwyl die sakrament as teken en seël van die verkondigde Woord betekenis het (Heid Kat V/A S 25; Inst IV.14.xvii). “Ons glo en bely dat ons Saligmaker, Jesus Christus, die sakrament van die heilige nagmaal verorden en ingestel het om te voed en te onderhou diegene wat Hy alreeds wederbaar het en in sy huisgesin, naamlik sy Kerk, ingelyf het ... So werk Hy dan in ons alles wat Hy deur hierdie heilige tekens ons voor oë stel, alhoewel dit ons verstand te bowe gaan en vir ons onbegryplik is hoe dit gebeur, soos die werking van die Heilige Gees verborge en onbegryplik is ... Hierdie maaltyd is ’n geestelike tafel waaraan Christus Homself met al sy goedere aan ons meedeel ... Ten slotte, ons ontvang die heilige sakrament in die vergadering van die volk van God met ootmoedigheid ... en ons doen daar belydenis van ons geloof en van die Christelike godsdiens ... Kortliks, deur die gebruik van hierdie heilige sakrament word ons beweeg tot ’n vurige liefde jeens God en ons naaste. Daarom verwerp ons alle bymengsels en verwerplike vindinge wat mense by die sakramente byvoeg en daarmee vermeng het…” (NGB 35).

Woord en sakrament mag nie geskei word nie (Inst IV.14.iv; 17.xxxix). Daar moet onderskei word tussen die teken (brood en wyn) en die betekenende saak (belofte). Die gelowiges word deur die wonderlike werk van die Heilige Gees met Woord en Sakrament met Christus en mekaar tot een liggaam verenig (Inst IV.ii,iii; NGB 35). Slegs die uitverkorenes, die ware gelowiges, kan die Woord van belofte in die sakrament gelowig aanneem en deel in die gemeenskap met Christus (Inst IV.14.xv).

 

3. Die Nagmaalformulier

Die bestaande formulier het sy finale beslag op die Sinode van Dordrecht 1618/1619 ontvang. Die ooreenkoms met die grondgedagtes van Calvyn is baie duidelik, soos byvoorbeeld die paragraaf waarin die wonderlike plekverwisseling — Hy vir ons, daarom ons vir Hom — beskrywe word. As dit reg gelees word, gryp dit die hart aan. Die formuleringe van a Lasco en Datheen is op sinodes in die 16e eeu geskaaf totdat dit in 1611 gedruk is. Die Formulier val uiteen in sewe dele: die instelling, die selfbeproewing, die doel van die nagmaal, die gebed, die bediening, die lofverheffing en die danksegging. In sy geheel het ons hier met ’n organiese juweel te doen. Tog kan dik moontlik ’n weinig verkort

|347|

word deur slegs nie-noodsaaklike kwalifiserende bysinne weg te laat. Enige verdere verkorting doen af aan hierdie sentrale stuk gereformeerde prediking (vgl ooreenkoms met Calvyn Inst IV.17.xliii). Die Nagmaalviering pas dus in ná die prediking tot geloof geroep en die Formulier die tekens en betekenende saak duidelik verklaar het. Die Formulier is self Woordbediening wat op die nagmaal toegespits is.

 

4. Nagmaal is maaltyd

Die Reformasie stel die nagmaal as maaltyd skerp teenoor die Roomse Mis as offer (Heid Kat V/A 80). Die nagmaal sluit aan by die Joodse paasfees en word daarom ook as ’n gemeenskapsmaaltyd beskryf (Lk 22: 19v; 1 Kor 10: 16v; 11: 20). Die simbole of seremonie moet die eenheid met Christus as Gasheer sowel as die eenheid van die gelowiges duidelik tot uitdrukking bring. Die wese van die nagmaal lê in gemeenskap (koinonia) opgesluit wat daarom in tafelgemeenskap tot uitdrukking kom (Kruger 1966:378v). Dit moet egter van die liefdesmaaltye (1 Kor 11: 34) onderskei word. Calvyn sou dit by elke erediens wou vier (Inst IV.17.xliv).

 

5. Uitwendige seremonies in die Woord voorgeskrewe

Die elemente van die nagmaal is brood en wyn. Vanweë die euwels van drankmisbruik, agitasies van afskafferbewegings en die gevare dat gerehabiliteerde alkoholiste deur gebruik van nagmaalwyn kan terugval, het sommige nagmaalwyn met druiwesap of iets dergeliks vervang. Daarmee word van die Skrif afgewyk (GKSA 1876 art 203).

Die gebruik om die brood voor nagmaalbediening in blokkies te sny, moet versigtig hanteer word. In 1586 is nadruk op die breking van brood voor die gemeente gelê (Sinode ’s Gravenhage part vr 51) om weg te kom van die Roomse koekies of oblate. Brood moet duidelik genoeg voor die gemeente gebreek word. Hoewel die nagmaal met ongesuurde brode ingestel is en die NT ongesuurde brood as beeldspraak gebruik, belet die NT nie gesuurde brode by nagmaal nie. Dit gaan in die nagmaal om die teken van tafelgemeenskap en voeding.

Die nagmaalformule berus op die instellingsverhaal by Matteus (26: 26v), Markus (14: 22v), Lukas (22: 14v) en Paulus (1 Kor 10: 16) wat met “neem, eet, gedenk en glo” ingelui word om bygeloof oor die teenwoordigheid van Christus in die brood en wyn (Rome) of saam met die brood en wyn (Luther) te vermy.

 

6. Beker- of kelkie-gemeenskap

Die instellingswoorde sluit aan by die bekergemeenskap soos dit by die Joodse paasfees gebruik was. Christus het die beker aangegee en almal beveel om daaruit te drink.

Hierteen het in die twintigste eeu allerlei besware ontstaan. Mense het aangevoer dat die gebruik onhigiënies en vir moderne lewensgevoel aanstootlik

|348|

sou wees. As oplossing is aangevoer dat die eenheid- en gemeenskapsimbool in die kan waaruit wyn geskink word, opgesluit is en dat elke gelovige deur middel van ’n kelkie daaraan deel kan kry. Gepaard hiermee het die tafelgemeenskap vir nagmaalviering in die banke plek gemaak. Die GKSA het op Sinode Burgersdorp 1930 (artt 46, 184) geoordeel dat die gebruik om die “gemeenskaplike drinkbeker ... te vervang met kelkies” die merktekens van die ware kerk aantas (NGB 29) omdat Christus ’n gemeenskaplike en rondgaande beker voorgeskryf het (Mt 26: 27,28; Lk 22: 20; Mk 14: 23, 1 Kor 11: 25v) om daarmee die sin van sy eie offerande tuis te bring. Tweedens is geoordeel dat aparte kelkies in stryd is met die simboliek van die nagmaal “as geestelike gemeenskapsmaaltyd” omdat kelkies individualisme in die plek van gemeenskaplikheid simboliseer en as sodanig strydig met die eenheid en samehang van die gemeente is en liefdeloosheid onder die gelowiges bevorder. Die Sinode het die beroep op sogenaamde “wetenskaplik-gekonstateerde feite” as onbewese ter syde gestel. Die Geref Kerk Waterkloofrand het in 1986 tot dieselfde oordeel op die spesialis, dr B C Jansen se opinie, geraak.

 

B. Kerkregering

1. Redaksie van die artikel

Die Weselse artikels beskou in 1568 die breking van brood en die instellingsvoorde essensieel, terwyl die tipe brood en sittende of staande nagmaalviering om die ewe is (Pont 1981:87). Emden 1571 noem hierby psalmsang of Skriflesing tydens die nagmaal (Ibid: 105). In 1578 word die preek beklemtoon, terwyl die huidige redaksie in 1586 begin beslag kry.

Die gereformeerde kerke het van vroeg af “middelmatige” gebruike onderskei. Behalve dié hierby genoem, het dit gevra of die nagmaalviering met die oog op voorbereiding en huisbesoek afgekondig moet word, of ’n spesiale voorbereidende nagmaalspreek nodig is, of openbare belydenis van geloof deur almal in die week voor nagmaal moet plaasvind, en of nabetragting of kategismus na nagmaal gepreek moet word. Meesal moes elke kerk besluit wat tot die meeste stigting dien (Bos 1950:228-230). Hoewel op sigself ’n middelmatige saak, is gewaarsku teen kniel by die nagmaalviering omdat dit tot bygeloof en aanbidding van die brood kon lei.

In die GKSA is die nagmaal nie staande nie, maar aan tafels gevier. Uiteraard moet hierdie gebruik besonder hoë prioriteit geniet wanneer ’n gereformeerde kerkgebou beplan word. Ter wille van ’n stigtelike nagmaalviering moet so veel as moontlik mense gelyktydig aan die nagmaal kan gaan. Tydsduur moet in ag genoem word en daarom behoort die preek nie te lank te wees nie (GKSA 1927: art 88). Vroeër het preke soms ’n uur of meer geduur. Vandag raak party preke so kort en lig dat dit lyk asof Woordverkondiging vir die sakramentviering plek maak. Daar moet liefs by die formuliergebede gehou word en die Geloofsbelydenis moet net een maal gelees word (GKSA 1972: art 88). Praktiese omstandighede noodsaak dat nagmaal gewoonlik aan opeenvolgende tafels bedien word. Gebruike kan varieer. Ná elke tafelbediening kan ’n psalmvers gesing word waartydens of waarna die kommunikante na hulle

|349|

sitplekke terugkeer. Volgende kan die gemeente spontaan of op uitnodiging, al na gelang die plaaslike gebruik is, weer toetree. Om op te staan en te gaan aansit aan die tafel kan seker as ’n daad van geloofsbelydenis beskou word (Inst IV.17.xxxviii). Toesprake tydens die nagmaalviering kan die verkondiging met die tekens van brood en wyn steur en moet daarom aan die tafels nagelaat word (GKSA 1955: art 262). Die vraag of die nagmaal in banke gevier kan word het voor die nasionale sinode Potchefstroom 1988 (p 556v) en die Algemene Sinode 1988 opslae gemaak. Hier lyk dit asof ’n klassis uit Sinode 1930 ’n sin oor tafels in ’n besluit oor die beker oorvra het en of die vrees vir voorskriftelikheid by meerdere vergaderings in stryd met art 62 afgeneem het.

Die gebruik van meer as een beker en bord met die simbool van gemeenskap en eenheid, kan nie met die gebruik van kelkies en aksent op die individuele vergelyk word nie. Verskillende tafels, elk met eie eetgerei, verongeluk nie ’n groot onthaal as een maaltyd nie.

Soms oorvra mense dat die simbool van “eenheid” met die eis dat die bekers op die tafels bly, daar afgevee en vol geskink moet word. Waarom moet eetgerei voor die gaste van Christus opgewas word? Meer as een stel bekers kan na elke tafelbediening deur die diakens geledig, skoongemaak en weer ingebring word. Bekers moet nie so vol teruggebring word dat die bedienaar nie wyn aan die tafel kan skink nie.

Die gebruik van “voorbereidingspreke” selfs op Vrydag en Saterdag voor ’n nagmaalsbediening op Sondag, kom ’n lang pad en hang saam met spesiale nagmaalweke. Verstedeliking, makliker vervoer en veranderde omstandighede, het veroorsaak dat ’n “voorbereidingspreek” tans vrywel algemeen op die Sondag voor nagmaal gehou word.

Soms gee mense uit bygeloof te kenne dat net die nagmaalsdienste belangrik is (vgl Van der Linde 1982:210). Die beklemtoning van nagmaal met spesiale voorbereiding en nabetragting elke drie maande, het moontlik die idee (ten kwade) gewek dat Woordverkondiging in gewone eredienste minder belangrik is. Die huisbesoek (art 16,23) dien in besonder as voorbereiding tot nagmaal en kan waar nodig ook as nabetragting gebruik word.

 

3. Opsionele en “voortgesette” nagmaalvierings afgewys

Faktore soos skofwerk op Sondae (wat self bevraagteken moet word) het daartoe gelei dat twee nagmaalvierings op dieselfde Sondag in stedelike kerke posgevat het. Die tweede nagmaalviering het tydens die tweede diens plaasgevind. Gevolglik is die liturgie meestal so aangepas dat die “nabetragtingspreek” na die nagmaalbediening in die aand plaasgevind het. Spitsvondighede het in Nederland daartoe gelei dat die voorbereidende gedeelte van die Formulier tydens voorbereiding op die vorige Sondag gelees, die oggend nagmaal bedien, en na die tweede nagmaalviering die lofverheffing aan die beurt is. Die Formulier is by die tweede viering soms eenvoudig weggelaat.

Die nagmaalformulier moet in sy geheel by elke nagmaalviering gelees word (GKSA 1933, artt 49,54). ’n Voorstel om die praktyk van twee nagmaalvierings

|350|

aan die vryheid van die plaaslike kerke oor te laat, het deur staking van stemme in die Sinode van 1964 afgespring (1964:477). In 1967 slaag ’n beswaarskrif op skriftuurlike en kerkregtelike gronde teen ’n “opsionele tweede nagmaalviering” in dieselfde kerk (1967:165). Hierdie besluit het in werklikheid die patroon van twee nagmaalsvierings afgesny (kyk ook GKSA 1970:165v).

’n Kerkraad kan seker om gegronde redes twee keer op dieselfde Sondag nagmaal bedien, maar dan moet dit ewe duidelik wees dat die hele gemeente by elke viering betrokke is. Gelowiges kan die dood van die Here “so dikwels” soos twee keer per Sondag gedenk en verkondig (kyk Calvyn Inst IV.17.xliv). Alternatiewelik kan ’n kerkraad waar omstandighede dit noodsaak, twee nagmaalbedieninge aanbied, waarin die tweede uitsluitend geskied ten behoewe van diegene wat by die eerste verhinder was. Dit mag nie met die gemeenskaplike tweede erediens verwar word nie. Elke erediens vorm ’n afgeslote byeenkoms van die hele gemeente wat nie in ’n volgende voortgesit kan word nie (Rutgers 1906:124v, Van der Linde 1982:21 1 ; Art 64 KO).