Artikel 17

Ongehinderde dienslewering

 

Artikel 17: Waar daar meer as een bedienaar van die Woord aan ’n kerk verbonde is, moet in hulle dienspligte sowel as in die ander opsigte volgens die oordeel van die kerkraad en, indien nodig, van die klassis, soveel moontlik gelykheid bestaan. Dit moet ook in die geval van die ouderlinge en die diakens onderhou word.

|117|

A. Kerkregtelik

1. Christus is alleen Hoof van sy Kerk

In die koninkryk van God is Jesus Christus die enigste Hoof en Koning van sy Kerk. Gevolglik bely ons uitdruklik dat die predikante, as dienaars van Christus, in watter plek hulle ook al dien, dieselfde mag en gesag het (NGB 27,31). Die Reformasie verwerp die Roomse hiërargie wat die pous as plaasvervanger van Christus op aarde beskou op sterkte waarvan hy aan die spits van die hiërargie gesag oor hoër ampte soos kardinale en biskoppe voer, wat op hulle beurt onderhewig aan die pous oor priesters, pastore en mindere ampte regeer (vgl art 84 KO).

Die Reformasie bely dat Christus elke dienaar tot sy bepaalde diens roep (NGB 31) en daarvoor verantwoordelik hou. Predikante dien derhalwe nie onder gesag en regering van superintendente, moderatore, voorsitter van bestuurskolleges of kommissies van predlkante nie. Niemand kan die diensopdrag van Christus verander nie.

Op grond van dieselfde beginsels kan ouderlinge en diakens ook nie onder gesag van die predikant of diakens onder ouderlinge gestel word nie. Predikante word nie in “hoër” poste of diakens tot ouderlinge “bevorder” nie. 

 

2. Gesag berus by die Woord

Elke predikant bedien dieselfde Woord van God waarin God met gesag sy wil bekend maak. Geen predikant kan hom gesag aanmatig asof hy die gesag van die Woord oor ander dienaars voer nie (vgl art 84).

 

3. Gelykheid van die Skrif

Jesus noem die dissipels almal broers en bring grootheid in sy koninkryk in verband met diens (Mt 23: 8, Mk 9: 35; Joh 13: 14-16). Die apostels noem hulleself mede-ouderlinge van die ander ouderlinge (1 Pt 5: 1).

Wanneer Rome aan die pous, Luther aan die owerheid of die kollegialisme aan die kerk gesag verleen om die amp te bepaal, kan een dienaar oor ’n ander gestel word. Daardeur kom “hulppredikers” na vore of word die predikant hoër as ouderlinge of ouderlinge bo diakens beskou.

Die dienste van predikant, ouderling en diaken verskil inhoudelik en een dienaar lewer kwantitatief meer diens as ’n ander (vgl 1 Kor 15: 10). In kwaliteit bly die diens egter gelyk. Kwantitatiewe ongelykheid mag nie tot kwalitatiewe ongelykheid tussen dienaars lei nie. Elke dienaar moet altyd alle aspekte van sy roeping en diens van die Here ten volle kan uitvoer.

 

B. Kerkregering

1. Redaksie van die artikel

Die artikel is vir die eerste keer in 1586 geformuleer en van toe af feitlik onveranderd behou (Biesterveld, Kuyper 1905:195).

|118|

2. Noukeurige verdeling van ampspligte

Waar meer as een predikant dien, moet die kerkraad hulle werksaamhede noukeurig en duidelik verdeel en omskrywe sodat elkeen hom daaraan kan hou. Van der Linde ag dié diensreëling so bindend dat hy van “indringing in die diens van ’n ander” praat, indien ’n dienaar of ouderling daarvan sou afwyk (1983:75; vgl art 80).

Kerkregtelik is elke predikant, ouderling of diaken kragtens die Bevestigingsformulier egter aan die hele kerk verbonde. Wanneer hy om diens deur gelowiges in ’n ander wyk gevra word, sal hy moet oordeel en hom primêr aan Christus moet verantwoord, veral wanneer sy hulp gesoek word omdat ’n medebroeder doelbewus verbygegaan word. Wanneer hy van ’n medebroeder moet verskil, moet hy volgens sy gewete optree, maar sy medebroeder dadelik inlig en desnoods teenspreek en vermaan (vgl Gl 2:11 en art 81).

Die kerkraad mag nie pligte so verdeel en een predikant of ouderling van sekere ampspligte onthef en hom in ander laat spesialiseer nie (vgl 4 hieronder). So mag een predikant nie byvoorbeeld net vir preek of net vir ’n hospitaal of tehuis of die jeug of studente aangewend word nie. ’n Ouderling kan nie in sy amp slegs as skriba of kassier optree nie. Daar moet gelykheid wees in die aard en fasette sowel as in die werklading van die dienaars. Die kerkraad moet “soveel moontlik” elke dienaar in elke faset van sy ampsroeping op gelyke basis aanwend. Wanneer die kerkraad probleme ondervind, moet die kerkraad advies van die klassis vra.

Ter wille van goeie orde reël die kerkraad derhalwe dat elke predikant, ouderling of diaken binne bepaalde wyke werk, alhoewel hulle by bevestiging op gelyke wyse aan die hele gemeente verbonde is. Hulle het dus ook ’n taak teenoor die hele gemeente. Gevolglik moet kerkrade waar meer as een predikant dien. reël dat hulle soveel moontlik in gereelde tussenposes roteer om in die hele kerk verbonde en diensbaar te bly. Vir bepaalde gevalle (bv tuggevalle) kan die diens van predikante op meriete gekontinueer word. Toerbeurt of rotasie verseker “gelykheid” in dienspligte. Verder moet die predikante om die beurt preek, in die kerkraad presideer, gelyke aandeel neem in huisbesoek, kategese en beurtelings na die klassis afgevaardig word.

In buitengewone omstandighede, byvoorbeeld wanneer ’n predikant net gedeeltelik ongeskik geraak het, mag beroep van ’n tweede predikant noodsaaklik en gelyke werkverdeling met gelyke finansiële versorging onmoontlik wees. ’n Jonger predikant met die groter werklading in die buitengewone situasie mag selfs ’n kleiner salaris ontvang. Oor hierdie feite kan die kerkraad die advies van die klassis vra (vgl art 13 KO).

 

3. Gelyke versorging

Die bepaling dat ook “in ander opsigte” gelykheid tussen predikante in dieselfde gemeente moet bestaan, hou hoofsaaklik verband met traktering, erkenning, dank of eerbetoon, onderlinge betrekkinge, ensovoorts. “Gelyk” beteken nie “eners” nie. Die salaris mag verskil wanneer onderhoud teenoor behoeftes afgeskaal word. Een predikant mag byvoorbeeld daardie jaar uitgestrekte

|119|

plaaswyke en die ander kompakte dorpswyke moet bedien. Hulle reiskostetoelaes sal moet verskil om “gelykheid” te verseker. ’n Predikant wat pas in ’n kerk bevestig is, sal nie dieselfde erkenning en vertroue geniet as sy kollega wat reeds jare daar dien nie (vgl art 44).

Die kerkraad moet egter waak dat byvoorbeeld die jonger predikant nie as ’n hulpprediker vir en onder die ouer predikant gestel word en ’n kleiner salaris met die idee van ’n ondergeskikte gestel word. Waar ’n eerste onder gelykes (primus inter pares) na vore tree, dui dit op onderskeiding op sterkte van ampsgawes en ampsdiens en nie op stand en rangorde nie (Kruger et al 1967:122; kyk 1 Tim 5: 17).

 

4. Geen ampdifferensiasie nie

In die kollegialisme bepaal die Sinode die funksies van ampsdraers. Gevolglik gee die Sinode soms aan ’n predikant ’n “spesiale opsdrag” of stel ’n ”spesiale diens” in wanneer die sinode pragmaties die belange van die “kerk” as genootskap wil bevorder.

Klassis Krugersdorp het in 1964 geredeneer dat funksionele differensiasie op sterkte van die praktyk van werkverdeling geoorloof mag wees (GKSA 1964:523-525). Die kerke het egter in 1967 gewys dat werkverdeling binne die betrokke ampsbediening plaasvind terwyl funksionele differensiasie tot ’n nuwe amp lei, soos dié van predikant uit dié van ouderling ontwikkel het. Om ouderlinge vir byvoorbeeld sending, jeug of evangelisasie af te sonder stel hulle de facto in die diens van predikant (kyk GKSA 1967:100v). Vanuit koninkryksperspektief is die ouderling dienaar van Christus en nie soos vanuit kerkperspektief ’n dienaar van die kerk of vir sektore van die kerk nie.