Artikel 37 en 38b

Die raad van ouderlinge

 

Artikel 37: In alle kerke moet ’n kerkraad wees wat bestaan uit die bedienaar(s) van die Woord en die ouderlinge, wat gereeld vergader onder voorsitterskap van die bedienaar van die Woord of die bedienaars om die beurt as daar meer as een is.

Artikel 38: As die aantal ouderlinge klein is, kan die diakens deur plaaslike reëling by die kerkraad gereken word; dit moet egter altyd gedoen word waar die aantal ouderlinge minder as drie is.

|225|

A. Kerkregtelik

1. Christus is die enigste Hoof van sy Kerk

Christus het primêr ter wille van die koninkryk, dit wil sê die heerskappy van God gekom (Mark 1: 14; Lk 4: 43; Heid Kat S 48). Die Gereformeerdes bely dus dat slegs Jesus Christus die Hoof van sy kerk is en dit behoort te regeer (NGB 27,28,31,32. Kyk by artt 2,3,29,36 ens). Die Gereformeerde Belydenis sê dus nie dat Christus die biskop of kerklike ampsdraers of kerklike vergadering as sodanig met gesag beklee het om namens Hom te regeer nie. Hy gebruik mense individueel en in vergadering as sy instrumente om sy Woord te laat bedien waarmee die Gees die ware kerk regeer (NGB 29,36). Hierdie Woord is die enigste herderstaf waarmee die herder-ouderling die volk by God en so in eenheid met hulle Hoof, Christus kan bewaar (NGB). Die kerk is 'n gestalte van die koninkryk wat gekom het en nog kom en daarom mag die kerk nie uitgangspunt wees vir amp en kerkregering nie. Die koninkryk moet vertrekpunt wees (Van Ruler 1952:16-24). In die kerkraad doen die ouderlinge (en soms ook diakens) saam hierdie koninkrykswerk.

 

2. Die wese van die kerk is volk van God

Die kerkraad dui vervolgens op die beginsel dat Christus net een liggaam, een gemeente, een kerk kan hê (Ef 4: 3-6). Die kerk is ’n vergadering of eenheid van gelowiges onder hulle Hoof Christus, waar God regeer. Volk en koning, koninkryk (heerskappy) en kerk staan in nou verband met mekaar, al kan ons dit nie identifiseer nie (Du Plooy 1982:33v; vgl Coetzee 1965).

Die volk of kerk is altyd mense, universeel as kerk van Christus en plaaslik sigbaar waar die gelowiges om die genademiddele vergader in die eenheid van ’n ware geloof en onder die tug van die Woord van God (Heid Kat S 21; NGB 27-29). Die gelowiges is as mense onderhewig aan sonde en aanslae van die bose op die kerk van Christus. Hulle moet daarom as kerk bedien en versorg word om kerk te kan bly (Mt 28: 19). Daarom is dit noodsaaklik om diegene wat Christus as Koning verwerp en Hom (nie die kerkraad nie!) hardnekkig nie wil gehoorsaam nie, met die sleutels van die hemelryk uit die koninkryk en so uit die kerk van God te sluit (Mt 16: 19, Heid Kat S 31; NGB 31,32). Calvyn gee die opskrif van die vierde boek van sy Institusie daarom: “Die uiterlike hulpmiddels waardeur God ons roep tot die gemeenskap met Christus en daarin bewaar”. Hy tipeer die verskillende bedieninge en bedienaars en dui daarna in hoofstuk II aan waarom die kerkraad van ouderlinge vir die tugoefening nodig is.

 

3. Die besondere diens van die ouderling, opsiener

Die kerkraad is gevolglik ’n sekondêre fase waarin die diens van ouderling of opsiener (biskop) vervul word. Die Skrifbeginsels vir hierdie diens is reeds by vorige artikels bespreek (kyk artt 2,16,23,74,75 ens). Om die kerkraad te verstaan moet ons presies weet wat “ouderling” in die Skrif beteken. In talle

|226|

kerkregtelike werke ontstaan verwarring oor wat die kerkraad is, omdat “ampsdraer” as sinoniem vir predikante, ouderlinge en diakens gebruik word en alle “ampsdraers” tot die kerkraad gereken word. Daarmee verval die gerigte herderskap of betekenis van opsiener-wees en word die “amp” aan “kerkraad” ontleen.

Die Skrif onderskei ouderlinge wat meer in besonder regeer van ouderlinge wat meer in besonder leer (1 Tm 5: 17, vgl Formulier vir Bevestiging van Ouderlinge). Hulle roeping verskil van dié van die diakens (Hd 6; 1 Tm 3, Fil 1: 1). Dit is wanneer kerkregtelikes aanneem dat die kerkraad die kerk (gemeente) basies regeer (vgl Kleynhans 1985:38; Voorwoord KO GKSA, 1979:12v) dat van “ampsdraer” of “kerkraadslid” in plaas van predikant, ouderling of diaken gepraat word.

Die ouderling moet in sy wyk of predikant in die gemeente individueel die tug van die sleutelmag (Heid Kat S 31) bedien in prediking, kategese, huisbesoek, evangelisasie. Wanneer sy tugbediening suksesvol is (Mt 18: 16), mag hy dit nie aan die kerkraad rapporteer nie (Mt 18: 15v; art 73 KO). Presbiteriale kerkregering geskied by Calvyn deur ouderlinge in die wyke en eers wanneer strenger tug bedien moet word, tree die ouderlinge gesamentlik op in die kerkraad (Pont 1981:29 artt 48-53}.

Teoloë neem in ons tyd die kerkraad en nie die ouderling nie as uitgangspunt vir die kerkregering, omdat hulle die vertikale band van die ouderling met die Hoof Christus (art 3) verplaas met ’n band tussen die ouderling en die kerk as organisasie. Die kerk word vandag oorwegend as instituut met eie personeel beskou. So sê Kleynhans: “Elke plaaslike kerk is ’n selfstandige en komplete kerk met sy eie ampte en bediening” (1982:34). ’n Breë kerkraad regeer die kerk of gemeente aan wie die ampte hulle bevoegdheid ontleen (Kleynhans 1985:38).

Paulus roep die “ouderlinge” van Efese byeen wat die Heilige Gees as herders en opsieners (regeerders) oor die gemeente van God gestel het (Hd 20: 17,28; vgl Tit 1: 5,7). God gee bepaalde mense as genadegawes (1 Kor 12: 28) in die diens van regering. Die regering is self ’n genadegawe (Rm 12: 6,8a; 1 Tm 3: 1,4) omdat dit die gelowiges by hulle verlossing bewaar. Die presbiteriale kerkregering gaan gevolglik van die ouderling (presbiters) van die gemeente individueel uit todat hulle met die oog op bepaalde probleme as ’n raad van die kerk saamkom en saam as kerkraad optree (kyk artt. 72-74).

 

4. Die unieke aard van kerkregering

Vir Rome moet kerkregering gehoorsaamheid aan die pous as verteenwoordiger van Christus en vir die kollegialisme gehoorsaamheid aan die besture van die kerk as organisasie verseker. Die heerskappy van Christus deur sy Woord en Gees wil egter gehoorsaamheid in die gemeente aan Christus verseker (Heid Kat S 21), sodat ’n ware kerk in ’n plaaslike geloofsgemeenskap sigbaar word.

Die kerkregering is geestelik van aard (kyk art 36). By die ouderlinge in die kerkraad berus daarom die wesenlike kerkregering waarby die karakter van ’n ware of valse kerk en “sleutels van die hemelryk” op die spel is (art 29 NGB; Heid Kat S 31). Die diakens het weer ’n eie regeertaak (Polman sa:17,35).

|227|

Baie dinge waarmee kerkrade hulle besig hou, naamlik geboue, beleggings, geskenke, voertuie, ensovoorts val op heeltemal ’n ander vlak en moet nie met die regering van die kerk as volk van God op een lyn gestel word nie (Van der Walt 1975:37-66).

 

5. Die Kerkraad

Die Roomse kerkregering gaan (tereg) van die opsiener uit, aanvaar dat die pous ’n konsilie van biskoppe kan gelas, maar ontken die band tussen amp en gemeente en daarom ’n kerkraad. Luther skep wel konsistories, maar dit is eintlik instrumente waarmee owerhede die leerdiens aan die volk voorsien. Bucer bring regerende ouderlinge in die gemeente naas die predikantouderlinge en diakens terug (Van ’t Spijker 1970). Calvyn volg Bucer in 1541 na en beding ’n selfstandige kerkraad van ouderlinge vir tugoefening by die Raad van Genève. Kragtens die aard van hulle roeping en diens, is die diakens vir die versorging van siekes en armes (Inst IV.3.viii,ix) en nie vir die bediening van sleutelmag verantwoordelik nie. Dit berus by ’n raad van ouderlinge (Inst IV hfst 11 en 12).

Apostels, ouderlinge en diakens tree in ampsgroepe op. Die Skrif praat van die apostels as die twaalf en van die diakens as die sewe. Van die “ouderlinge van die gemeente” word gepraat as ’n korps, eenheid of groep wat saam optree (Hd 11: 30; 15: 6,22,23; 20: 17; 21: 18; Fil 1: 1; 1 Pt 5: 1-3; Jk 5: 14; Van der Walt 1976:78) Hd 21: 18 praat van ’n samekoms van ouderlinge. Die Joodse raad van ouderlinge in die Ou Testament en sinagoges was prototipe vir die ouderlinge in die Nuwe Testament (Koole 1949). Die apostels rig hulle meesal direk tot die gemeente, soms tot die ouderlinge maar nooit tot ’n raad van die kerk soos die Sanhedrin nie. Beraad, gemeenskaplike oorleg vir ernstige besluit en samewerking om die wil van die Here vas te stel, is eie aan die wese van die kerk (Hd 15: 6,8,22,28; Gl 2: 14).

Die kerkraad regeer dus nie omdat dit as ’n liggaam op sigself deur Christus of die gemeente met gesag beklee is om die gemeente te “bestuur” nie. Die kerkraad is net ’n tweede gestalte na die individuele opsienerskap waarin die ouderlinge die Woord van God in kerkregering moet bedien (Calvyn Inst IV.11.i.vi). Soos wat die regering van elke ouderling vir Calvyn basies op “broederlike vermaninge” neerkom (Pont 1981:29 artt 48,52), moet die kerkraad aan hierdie diens van vermaning verdere diepte en trefkrag verleen (kyk artt 71-78). Die ingrypende bediening van die ban berus nie by die individuele ouderling of predikant nie, maar by die ouderlinge in die raad van die kerk (Calvyn Inst IV.11.1).

 

6. Wie vorm die kerkaad

Rome en Calvyn stem ooreen dat die enger kerkregering in die diens of amp van opsiener (biskop) bedien word. Al verskil hulle ingrypend oor hoe dit gebeur, gaan dit vir Rome en Calvyn basies om die koninkryk van God, dit wil sê die heerskappy van Christus deur die amp (Rome) of deur Woord en Gees (Calvyn). Beide Rome en Calvyn neem nie ’n bepaalde “kerk”, kerkvergadering,

|228|

denominasie of kerkstruktuur as uitgangspunt nie, maar begin met die opsienersamp wat die Here ingestel het.

Die laaste twee eeue het die aandag op die kerk as horisontale struktuur met “lidmate” saamgetrek wat sy identiteit aan sy konstitusie (kerkorde of kerkwet) ontleen. Die “kerk” wys “ampsdraers” aan om die kerk volgens die konstitusie te regeer. Volgens dié beskouing bestaan die kerkraad uit al die ampsdraers van die kerk. Die predikante, ouderlinge en diakens vorm die kerkraad. Volgens die Reglemente van die Kaapse Kerk vanaf 1824 het die Ring die eerste kerkraad op ’n plek ingestel en daarna kies die “kerkraadslede” en “oud-kerkraadslede” nuwe “ampsdaers”. 

Op die oog af lyk dit asof artikel 30 NGB en Franse Kerkorde van 1559 die diakens by die kerkraad reken. Ons meen egter dat die NGB en Franse KO afsonderlike vergadering van ouderlinge en diakens (kyk art 40) onderskeidelik as die senaat, konsistorie of raad in die kerk beskou het (vgl NGB 30; Pont 1981:52, art 20). Die totale regering het in afsonderlike “kamers” gefunksioneer. Hiervoor kan die volgende argumente genoem word:

(1) Calvyn noem self die predikante, ouderlinge en diakens in een asem (Inst IV, 3, viii) en Guido de Bres neem artikel 30 NGB waarskynlik hieruit, terwyl juis Calvyn die enger kerkregering aan die ouderlinge in kerkraad toewys (Inst IV, 11, iv).

(2) Wie die besondere Skrifgegewens roeping van die ouderlinge wat op opsienerswerk gerig is, in ag neem, moet soos Calvyn die bediening van die sleutelmag aan die herder-ouderlinge toewys, terwyl die diakens ’n ander diens vervul (vgl Pont 1981:30v).

(3) Die wyse waarop De Bres net na artikel 30 eksklusief oor die ouderlingdiens praat i v m die “enigste algemene Opsiener en enigste Hoof van die kerk” (NGB 31, 32), dui daarop dat hy by Calvyn aansluit. 

(4) Polman sê tereg dat die teoloë in die 16de eeu logika streng beoefen het en geen diskrepansie tussen kerkorde en geloofsbelydenis oor die kerkraad sou duld nie (Polman sa:25).

(5) Onmiddellik nadat die Franse Kerkorde van 1559 skynbaar ouderlinge en diakens saam die kerkraad laat vorm, wys die volgende twee artikels op die afsonderlike dienste van ouderlinge en diakens (Pont 1981:52 artt 20-24).

(6) Die eerste Sinode van Emden 1571 stel ook skynbaar, soos NGB 30, dat die “konsistories” uit predikante, ouderlinge en diakens bestaan (Pont 1981:103 art 6). Net die volgende Sinode te Dordrecht 1574 verklaar dat dit beteken dat predikante en ouderlinge aan die een kant en diakens aan die ander kant hulle “eie sake” behandel en elke ’n eiesoortige roeping in die regering van die kerk vervul (Polman sa:26). Die ouderlinge kan egter waar min ouderlinge is, die diakens in die “konsistorie” betrek (Biesterveld, Kuyper 1905:63 art 4). Polman sê dat die onderskeid sowel as die eenheid tussen die ampte gehandhaaf is, terwyl hulle saam die konsistorie vorm. Die Reformasie het ’n prinsipiële teenstelling sowel as te ver deurgevoerde eenheid van die ampte, nie geken nie. (Poman sa:29).

Polman (sa:28) meen dat diakens op party plekke op vaste basis by die ouderlinge as “assistent-” of “hulp-ouderlinge” gereken is. Dit verskil reeds van die NG Sinode 1978 wat sê dat diakens “volle sittingsreg op die kerkraad … in ooreenstemming met Skrif en belydenis” het (Kleynhans 1985:37). Tog stry

|229|

die stelling van Polman met die essensie van gereformeerde kerkregering in die 16de eeu, wat enige vorm van hiërargie afgewys het (kyk art. 84). Heerskappy van de ouderling oor die diaken met die begrip “hulp-ouderling” gaan nie op nie. Die kerkorde bepaal juis dat die diakens soms by die kerkraad gereken moet word om heerskappyvoering van die ouderlinge te probeer verhoed. Dit kan slegs gebeur indien die diaken ten volle gelykwaardig met die ouderling in die kerkraad dien.

Die kerkregtelike grond waarop die diakens by die ouderlinge vir bepaalde sake in die kerkraad sitting neem, moet gesoek word in die gawes van God waardeur die gelowiges selfstandig in die kerkregering meewerk. Die intieme wisselwerking tussen die dienste en gelowiges as gemeente beperk die regering nie eksklusief tot ’n oligargie nie (vgl 1 Kor 12). Die gemeente (en daarom die diakens) het bevoegdheid en roeping met die oog op die goeie orde en lewe van die gemeente (Ridderbos 1966:522-530). Die ouderling staan nie bo die gemeente of tussen die gemeente en Christus nie (Ibid 531). Gevolglik is dit voor-die-handliggend dat die diakens soms betrek sal word in die kerkraad (kyk art 2-5, 22, 24) en noodwendig moet bykom in buitengewone gevalle waar die kerkraad klein is. 

 

7. Kerkraad en gemeente

By die Roomse monargale biskoplike stelsel word die kerkregering deur die ampsdraers (clerus) oor leke uitgeoefen. Volgens die kollegialisme kom die gesag teoreties die “lidmate” toe, maar die gemeente moet konstitusioneel die wil van die besture en ampsdraers gehoorsaam, na wie hulle gesag gedelegeer is. So verplaas die kerkraad die gemeente en sê sommige selfs dat Christus die “ampte” in die kerklike vergaderings met gesag beklee het om oor die gemeente te regeer (Kleynhans 1985:38; Van der Watt 1983:11). Daar word gepraat van “kerkraadslid” wat eintlik hoër staan as gewone “lidmaat”. Sommige onderskei selfs tussen ouderlinge as “leke-ampsdraers” en predikante (Geldenhuys 1951) sodat die regering eintlik die predikante toekom.

Die Gereformeerde Kerkorde kan ook deur die bril van die kollegialisme gelees word (Kuyper 1883:52). In Nederland en in Suid-Afrika word die kerkraad dikwels teenoor die gemeente gestel asof die gemeente net die kerkraad moet gehoorsaam en geen belang by die kerkregering het nie. Daarteenoor het die individuele gelowiges volgens die Skrif ’n taak (Mt 18: 15v; 1 Kor 5: 12; 2 Kor 13: 5; Gl 6: 1; 2 Ts 3: 6-14; 2 Joh: 10). Ridderbos wys op die groot plek wat die gemeente in die kerkregering by Paulus en in die Skrif inneem (Ridderbos 1965:200v; 1966:479v). Die ouderlinge moet individueel en gesamentlik vermaan, bestraf en self die ban uitoefen waartoe die gemeente as liggaam van Christus geroep en by betrokke is (vgl 1 Kor 5: 12; 1 Kor 12). Die ouderling en kerkraad funksioneer in, vir en saam met die gemeente . Die kerkraad moet gedurig van sy handelinge deur afkondigings medewerking van die gemeente verkry. Dit gaan per slot van rekening om net een diens, nl. die diens van die Here self in sy kerk (vgl Mt 18: 17 en 2Ts 3: 14,15; Van Ruler 1952:73-79).

|230|

Wie loskom van die sterk kerksentriese en eksklusiewe ampsleer moet “gemeentevergadering” ’n beter plek in kerkregering gee as wat in die GKSA tans in teenstelling met die 19de eeu gebruiklik is. Aan die ouderlinge van die gemeente kom niks toe wat nie in die gemeente gegee is nie. Die gemeente is nie daar vir die “ampsdraers” nie, maar die dienste is gegee met die oog op die gemeente (Ef 4: 11v; Ridderbos 1966:494). Die ouderlinge en diakens gaan die gelowiges slegs voor in dienste waartoe elke gelowige en almal saam in die gemeente geroep is (1 Ts 5: 12). Die kerkraad kan en moet die gemeente betrek in die kerkregering. Die diakens is dus ’n logiese aanvulling vir ’n te klein getal ouderlinge binne die gemeente.

Dit is verkeerd om stigting van kerke die doel van ampsbediening te maak (vgl Floor 1964:21). Die Here het nie “kerke” gestig nie, maar slegs die dienste ter wille van sy koninkryk (heerskappy) geïnstitueer (Mt 28: 19; 1 Kor 12: 28; Ef 4: 11; Van Ruler 1952:61 v). Die onderskeie dienste is dus as ’t ware die ruggraat van die liggaam, nie die kop nie. Dit bly deel van die liggaam, hou die liggaam regop, bied die senuweekanale (Inst IV 3:11) waardeur die hoof na elke lid kan deurwerk. Dit verplaas nooit die hoof, die brein, nie. Die hoof funksioneer juis in en deur die dienste (1 Kor 12).

Die gemeente is dus georganiseerd en kan met ’n tempel of gebou vergelyk word wanneer die gemeente die beeld van die ware kerk (artt 28,29) vertoon. Die opsieners en kerkraad moet voortdurend weet dat die Here die gemeente mondig gemaak en toegerus het om verantwoordelik op te tree (Gl 5: 1; NGB 7,32; Calvyn Inst IV,10.vi, vii).

 

8. Die Bedienaar van die Woord presideer

In ’n biskoplike stelsel presideer die biskop met die hoogste rang in die konsilie. In kongregasionalistiese opset kan ’n voorsitter uit kerkraadslede gekies word. In die kollegialisme bepaal die konstitusie wie presideer. Gedurende die Reformasie was daar in die stede en dorpe gewoonlik meer as een predikant in ’n kerk. Dit is logies dat die leerdiens die kerkraad lei (kyk art 35) en dienaars om die beurt optree waar meer as een is.

 

9. Geen hiërargie of heerskappyvoering nie

Omdat Christus die enigste Hoof in sy kerk behoort te wees, mag een dienaar of ’n paar (kliek) nie oor ander gesag soos in ’n biskoplike of kollegialistiese stelsel voer nie. Die predikante is as dienaars gelyk (art 17). Kerkraad moet gevolglik uit genoeg ouderlinge bestaan om oorheersing deur 'n paar te voorkom. Die diakens moet op gelyke voet in die kerkraad dien wanneer die aantal ouderlinge klein is (kyk artt 17,84).

|231|

B. Kerkregering

1. Redaksie van die artikel

Gedurende die Reformasie het gewoonlik ’n bestaande Christelike gemeenskap op ’n plek soos Genève tot die Reformasie toegetree. So ’n stadskerk het selfs sy eie kerkorde gehad (vgl Pont 1981:21). Die bedoeling was hoegenaamd nie om ’n ander kerk teenoor ’n Roomse “kerk” te stig, soos byvoorbeeld met die APK in 1987 die geval was nie. Net so het in die Nederlande voor 1571 op baie plekke selfstandige gereformeerde kerke in dorpe en stede bestaan, waarin predikante saam met ouderlinge soos in Genève die kerkraad gevorm het. Die diakens het die gemeente gelei om armes, vlugtelinge en siekes te versorg. Toe ’n kerkorde in 1571 aanvaar is, het “konsistorie” reeds in elke kerk bestaan (Pont 1981:103 art 6). Die volgende Sinode in 1574 “verklaar” dat “konsistorie” die afsonderlike handelinge van ouderlinge en diakens bedoel, terwyl die diakens waar min ouderlinge is bygereken word. Die bewoording van artikel 37 is in 1581 vasgestel (Biesterveld, Kuyper 1905:149 art 28). Die voorskrif van weekliks vergader is in 1964 na “gereeld” verander (GKSA 1964:59).

 

2. Die kerkraad

Die kerkraad bestaan volgens Calvyn in enger sin uit twee soorte ouderlinge: predikante (biskoppe) en herders (ouderlinge) (Inst IV.3.viii; 11.vi). Tog het die VOC vanaf die 17de eeu in Suid-Afrika die praktyk van klein kerkrade begunstig, sodat die diakens altyd tot die kerkraad gereken en by sake soos tug, sensuur, kategese, attestasies, ens betrokke was.

Mede as gevolg van teologiese invloed vanuit Nederland het die GKSA vanaf 1924 prinsipieel oor ampsdifferensiasie besin en het groter kerkrade meer algemeen geword. Geleidelik het die kerkraad (ouderlinge) minstens driemaandeliks vir die wyksverslae voor nagmaal en tugoefening sonder diakens begin funksioneer en as die “smal” kerkraad bekend geraak. Dié benaming is onvanpas omdat dit die struktuur en nie die diens beskrywe nie.

Van “weeklikse” kerkraad het in Suid-Afrika niks tereg gekom nie. As gevolg van verstedeliking en meer voltallige erediens-bywoning van ouderlinge kon kerkrade “weekliks” op Sondae by eredienste aandag aan dringende sake met betrekking tot attestasies, tugoefening, kategese, ensovoorts gee. Hierdie handelinge moet minstens as byvoegsels by die notule van die vorige formele vergadering aangeteken word (kyk art 34). Om besluite te neem in ’n “konsistorie” voor of na eredienste en dit nie te notuleer nie, is onordelik en gevaarlik (Spoelstra 1966:234).

Langs die “smal” kerkraad het die sogenaamde “breë kerkraad” in baie kerke as “gereelde kerkraadsvergadering” van ouderlinge en diakens maandeliks voortgegaan. Die “breë kerkraad” het dikwels sake behandel wat of by ouderlinge of by diakens tuisgehoort het. Tegelyktertyd het die idee ook in sommige kerke geheers dat die gemeente geen seggenskap het nie en dat

|232|

die kerkraad alleen oor stoflike belange, eiendomme en verpligtinge van die gemeente besluit. Hierdie opvatting bots met die Skriftuurlike gegewens oor die verhouding van kerkraad en gemeente. Die ouderlinge en diakens besluit saam oor finansies en eiendomme as trustees van die gemeente wat die eiendomme korporatief besit. Terwyl die kerkraad medewerking van die gemeente in tugprosedure moet verseker, is dit te meer noodsaaklik dat die kerkraad die gemeente se direkte belang by die stoflike sal eerbiedig. In sommige Nederlandse kerke is die behandeling van finansies en eiendomme aan ’n aparte kollege van “kerkvoogde” toevertrou.

Wanneer die breë kerkraad maandeliks vergader, veroorsaak dit dikwels baie en onnodige rompslomp. Talle kerkrade laat die ouderlinge en diakens net driemaandeliks (vgl art 81) saam vergader, terwyl afsonderlike vergaderings van ouderlinge en diakens met die oog op hulle onderskeie ampsbedieninge meer dikwels gehou word.

 

3. Kerkraadsvergadering 

3.1 Die Voorsitter

Die voorsitter is gewoonlik die bedienaar van die Woord, en waar meer as een is, moet hulle om die beurt presideer. In bepaalde gevalle mag ’n vergadering sonder ’n predikant as konsulent gelei word (art 5). ’n Ouderling kan in ’n noodgeval en onder bepaalde voorwaardes presideer (GKSA 1952 artt 134,218; 1907 art 13; KO-boekie 1979:45). Toerbeurte moet heerskappyvoering of hiërargie uitskakel (Bos 1950:150).

 

3.2 Bepaling van tyd en plek

Elkeen moet behoorlik kennis dra of kennis kry (waarvoor die voorsitter basies verantwoordelik is) van die tyd en plek van gewone en buitengewone vergaderings. Kennisgewing moet dus ’n billike tyd vooruit gegee word.

 

3.3 Die agenda

Notules en agendas van die “breë kerkraad” (kerkraad en diakens) kan in die reël vooraf versprei word om ’n vergadering voor te berei. Wanneer sensitiewe of persoonlike aangeleenthede egter ter tafel is, mag dit nie versprei word nie.

Die agenda behoort net na die notule gelees en vasgestel te word voor die vergadering sake begin afhandel. Aan die einde moet die agenda nie onder ’n punt “algemeen” oopgestel word nie. Daar kan egter dan ’n punt op die agenda vir ’n volgende vergadering geplaas word.

 

3.4 Vertroulikheid

Die vergadering van die kerkraad (ouderlinge) is vertroulik. Dit raak die naam en eer van mense wat beskerm moet word (Heid Kat S 43; Bos 1950:150).

|233|

Iemand wat die vertroulike aard van ’n kerkraad skend, sondig teen die 9de gebod en kan selfs vir laster in die openbare hof gedaag word.

Gewone “breë” en “meerdere” vergaderings is nie noodwendig vertroulik van aard nie, behalwe wanneer oor tug of versorging van persone gehandel word. Die beginsel in 1 Kor 12 roep om meer korrelasie en “oop-deure” tussen kerkraad en gemeente.

 

3.5 Kworum

Die kerkraad stel ’n kworum vas. In die reël vorm die helfte plus een die kworum. Hoe kleiner ’n kerkraad, hoe groter behoort die kworum gestel te word. Wanneer ’n kerkraad net-net ’n kworum uitmaak, behoort besluite feitlik eenstemmig geneem of anders uitgestel te word vir volle vergadering.

 

3.6 Algemene Ordereëls

’n Kerkraad bedien net soos ’n ouderling die heerskappy van die Here Christus. Besluite moet daarom met oorleg, versigtig en in volle oortuiging geneem word. Onbesonne, oorhaastige, kleinlike, verkeerde, dom of gestoomrollerde besluite strek tot oneer van die Hoof van die kerk en skade van sy kerk.

Basiese kerkordelike reëls (vgl bv by artt 30,32,34,46 ens) vir meerdere vergadering geld ook vir kerkrade.

Wanneer ’n vorige besluit verander moet word, behoort in die gees van artikel 46 eers op ’n vergadering kennis gegee te word dat op ’n volgende vergadering voorgestel sal word om die bepaalde besluit te herroep of te verander.

’n Kerkraad moet altyd oop wees vir probleme wat mense met kerkraads- of sinodebesluite mag opper. Dit is immers die kerkraad wat besluit van sinodes bedien (artt 33,46). Die sinodes het al verdwyn. Dit gebeur dat ’n kerkraad oordeel dat dit nie kundige genoeg is om oor sinodebesluite aangespreek te word nie. Dit is reeds ’n twyfelagtige argument op mense gebou (Ps 146: 3). In daardie geval mag die kerkraad ook nie ’n besluit wat hy nie kan verdedig nie, toepas nie. ’n Kerkraad moet self sy bedieningstaak vervul en dit nie verwys nie. Dit kan egter van oral advies en inligting inwin om tot ’n oordeel te geraak (vgl artt 33,41).

Die kerkraad en gemeente moet nie van mekaar geskei en teenoor mekaar gestel word asof ’n kerkraad ’n afsonderlike liggaam is wat oor die gemeente troon nie of wat langs die gemeente staan nie. Die kerkraad moet nooit ’n oligargie (kliek) op sigself of rondom die predikant word nie. Die kerkraad moet nie huiwer om saam met die gemeente te vergader in belang van die rus, vrede, opbou en bloei van die kerk nie (Spoelstra 1966:237).

Die kerkraad moet goed onderskei tussen prinsipiële en middelmatige sake. Wanneer Skrif, Belydenis en Kerkorde op die spel is, moet die kerkraad duidelik en ongekompromiteerd optree, al moet hy ook verdraagsaamheid teenoor ’n persoon oor ’n bepaalde afwykende standpunt beoefen (Calvyn Inst IV.1.xii, 10.xxxxi). Oor middelmatige sake mag die kerkraad hom nie op die vyfde gebod beroep en sy wil afdwing en oorheers nie. ’n Teenoorgestelde standpunt moet verdra en soms selfs waardeer kan word. Hierdie bedienaarsgestalte in plaas

|234|

van die heersersfiguur sou baie bloedspore van bedankings en kerkskeurings in die verlede verhoed het.

 

4. Omlyning van “smaller” en “breër” optrede van die kerkraad

Die kerkregtelike beginsels moet verhoed dat ons nie kerkraad, kerkraad en diakens en die gemeente in kompartemente afhok asof Jesus Christus ons in sy kerk aan strukture oorgelewer het nie. Hierdie “strukture” moet nie in en met ’n eie reg verabsoluteer word nie. Waterdigte afgrensing is onmoontlik. Tog het sinodes al probeer om tussen enger en breër optrede van die kerkraad te onderskei (GKSA 1930: art 37a). Die Kerkorde dui in artt 16,23,71-77 in verband met die kerkraad en in artt 4,5,10,11,13,17,22,24,81 in verband met kerkraad en diakens rigting aan. Die Bevestigingsformulier vir die besondere dienste dui die prinsipiële basis vir onderskeiding aan. Wat eksklusief by ’n besondere diens berus, word ook by ’n eksklusiewe vergadering behandel. So het Genève in die 16de eeu afsonderlike predikante, predikante-en-ouderlinge en diakenbyeenkomste geken (Pont 1981:25,29,30,42).

Die kerkraad moet toesien dat die predikant sy bediening van die genademiddele, kategese, huisbesoek, siekebesoek, evangelisasie en getuienis in die gemeenskap na behore uitvoer. Die wyksverslae van die ouderlinge meld beproewing of seën uit die gemeente of tuggevalle aan, wat volgens artikel 74 of 76 ter tafel moet kom. Die ouderlinge kan bepaalde teikens met die oog op bediening van die jeug, beroepsgroepe, oues van dae of spesiale probleemareas aanspreek. By hulle berus die toesig of geestelike regering (koningskap van Christus) wat die gemeente ware kerk maak.

Die diakens doen op (nie aan nie) die kerkraad verslag. Die ouderlinge mag nie die werk oordoen, voorskryf of oorheers nie, maar moet as “opsieners” oordeel of die diens in omvang, gehalte, kontrole, ens aan die Skriftuurlike norme beantwoord en die gemeente in gemeenskapsbeoefening aktiveer.

Die kerkraad saam met diakens handel in algemene sake waar die gemeente as geheel optree, bv by die roeping, bevestiging en versorging in die dienste. Hoewel die GKSA later anders oordeel, kan die ouderlinge die diakens ook byroep wanneer oor die ampswaardigheid van ’n ampsdraer geoordeel moet word. Die diskresie berus sedert die 16de eeu by die kerkraad wanneer hulle die diakens wil byroep (Bos 1950:148). Hoewel Bouwman (1934:117v) verskil, behoort die kerkraad saam met diakens vir die kerk te deputeer na die klassis wat ’n vergadering van kerkrade of ouderlinge is. Finansiële eiendom en ander sake wat tot korporatiewe gemeentebesit behoort, behandel die ouderlinge saam met die diakens as trustees van die gemeente, terwyl die gemeente hierin betrek behoort te word (Spoelstra 1966:239).

In sommige kerke eis kerkrade dat iemand wat ’n Bybelstudiekring, sending, barmhartigheidsaksie, fondsinsameling vir behoeftige kerke, uitstappe vir medegelowiges ens, wil loods eers “toestemming” van die kerkraad moet verkry. Agter die opvatting skuil die valse idee dat die kerk ’n vereniging is wat die kerkraad bestuur. Gevolglik wil die kerkraad soos ’n bestuur alle aktiwiteite inisieer, kontroleer en beheer. Dit kom op hiërargie neer en lê die kerk lam.

|235|

Christus het die broeders en susters in die “amp van die gelowige” vrygemaak (Gl 5: 1). Hulle kan enige diens individueel of saam met ander ten behoewe van hulle Here, medegelowiges of sending sonder die kerkraad onderneem. Die gemeente en ouderlinge moet wel daaroor toesig hou. Hulle tree egter eers op wanneer bewus of onbewus teen die suiwerheid van die leer of lewe gesondig word. Die behandeling van so ’n klag moet streng volgens artikels 71-79 KO geskied. Die kerkraad mag nie paternalisties oor die gemeente heers nie.