|169|

Artikel 29

Kerke vergader in verskillende kringe vir kerkregering

 

Artikel 29: Kerklike vergaderings wat onderhou word, is: kerkraad, klassis, partikuliere sinode, nasionale sinode en algemene sinode.

 

A. Kerkregtelik

1. Christus is die enigste Hoof van sy Kerk

Die meeste kerkregtelikes neem vandag die kerk of ekklesiologie as vertrekpunt wanneer hulle oor sinodes handel. Die Reformasie en Gereformeerde Belydenisskrifte neem egter die koninkryk van God as uitgangspunt. Hierdie Christologiese vertrekpunt het ons in die Inleiding en vorige afdeling van die Kerkorde (vgl bv by artt 2,3) probeer vashou.

Christus het net een liggaam, die universele kerk van ware gelowiges (1 Kor 12), wat in elke plaaslike kerk sigbaar word in die mate as wat die gemeente die kenmerke van die ware kerk openbaar (NGB 27-31). Die direkte verhouding tot Christus en die universele kerk het besondere betekenis vir die uitgangspunt in die kerkregering. “Daarin ligt enerzijds haar zelfstandigheid, anderzijds de noodzakelijkheid zich mede door andere gemeenten te laten bepalen en gezeggen” (Ridderbos 1965:213; vgl Snyman 1966 a,b; 1977.44v).

Die kerkregering hou dus in die eerste plek rekening met die Christusregering deur middel van gawes of ampte (charismata) waardeur die plaaslike kerk versorg, regeer en opgebou word (Ridderbos 1965.203v). Tweedens ontbreek enige aanduiding in die Skrif dat Christus in die plek van die apostels ’n hiërargie, superintendente-amp of sinode-instituut oor die gemeente(s) ingestel het (Ridderbos 1965:211). Die kerk (gemeente) is God se bouwerk (1 Kor 3: 1 v, 21 v) en direk onderworpe aan die gesag en orde van die Hoof Christus (1 Kor 12; Ef 4). Dié verhouding berus nie op ’n kerkordelike ooreenkoms waardeur kerke vir sinodes voorsiening maak nie. Inteendeel, die verhouding van Christus tot sy gemeente is so direk dat geen amp, volmag of kerkvergadering sonder die plaaslike kerk (gemeente) moontlik is nie (Ridderbos 1965:202v). Die saamkom in sinodes kragtens ’n kerkordelike akkoord (art 86), lê dus op ‘n ander vlak as die ampsbedieninge in die gemeente. Gevolglik is die vertrekpunt van die nuwere kerkreg in die GKN dat ampsdraers in sinodes saamkom en daarom regstreeks regeermag naas die kerkraad in die kerk en kerkverband uitoefen (vgl M Bouwman 1937:94-112) prinsipieel verkeerd. Dit steun op geen enkele Skrifbewys nie, maar op ‘n bepaalde kollegialistiese of presbiteriaanse vertolking van die kerkregkundige Voetius uit die 17de eeu.

|170|

Die eerste vlak van kerkregering deur die dienste hou die gemeente waarlik kerk. In die tweede vlak van kerkregering deur die samekomste tree hierdie komplete selfstandige kerke met mekaar in ’n kerkordelike ooreenkoms waardeur hulle deur middel van sinodes aan mekaar hulp verleen om waarlik kerke van Christus te wees en te bly.

 

2. Die tussen-kerklike vlak van kerkregering

Aanvanklik het die apostels die band tussen selfstandige en komplete kerke (gemeentes) kragtens die eenheid in Christus versorg (Du Plooy 1982:218-223). Geen ander amp of instelling vervang die apostels nie (Ridderbos 1965:201,211). Die ontwikkeling gaan eintlik van apostels-en-gemeentes na apostels-ouderlinge-en-gemeentes en dan na ouderlinge-en-gemeentes (vgl Ridderbos 1965:201 v).

Reeds by die apostels was die tussen-kerklike verhouding van belang en tree juis dié kerke as voorbeeld vir ander kerke na vore. Paulus wys gemeentes op hulle ekumeniese verbondenheid en wys die een op wat in die ander gebeur as ‘n voorbeeld (2 Kor 8: 1 v; 9: 2v; 1 Kor 16: 1v; Ef 1: 10; Kol 1: 6,23; 4:16; 1 Tm 3: 16). Hy sê dat hy in al die gemeentes dieselfde riglyne neerlê (1 Kor 7: 17; 4: 17; 14: 33) en waarsku teen individualisme en independentisme by die Korinthiërs (1 Kor 14: 36). Bepaalde kerklike reëls is bevele van die Here (1 Kor 14: 37) en moet daarom oral nagekom word. Die noodsaaklikheid dat die kerke met mekaar saam moet lewe en op mekaar ag moet gee, is met die eenheid in die universele kerk, die liggaam van Christus, gegee (1 Kor 12; Ridderbos 1965:212-213; Bouwman 1934:11,49). Juis toe die apostels nie meer daar was nie, moes die kerke self hierdie ouderlinge verband onder die een Hoof (Ef 1:22) koester en betrag.

Daar is dus ’n duidelike onderskeid tussen die kerkregering in die dienste om gelowiges waarlik te laat kerk-wees onder die Hoof Christus en die kerkregering tussen die gemeentes onderling om die verworwe eenheid in Christus te versterk, te versorg en te beskerm. Tereg het kerkregtelikes onderskei tussen die kerkregering deur middel van die opsieners wat tot die wese van die kerk behoort en kerkregering in samekomste van kerke (sinodes) wat tot die welwese van die kerk behoort (Bouwman 1934:65; vgl Franse KO 1559: art 40). Sonder die bediening van die gesag van Christus (NGB 7,31) kan daar geen gemeente wees nie, maar sonder die tussen-gemeentelike hulp aan en toesig oor mekaar kan dit met geen gemeente goed gaan nie.

Na die verdwyning van die apostels tree die gemeentes onder leiding van die opsiener-ouderlinge in kerkverband na vore om die gesag van en gehoorsaamheid aan Christus, die Hoof van elke kerk (gemeente), met die oog op die goeie orde en welstand van elke kerk te bedien en te laat funksioneer (Ridderbos 1965:214). So is die kerke in Christus saam-op-pad (sun-hodos) en word die geleenthede waar die kerke saam vergader sinodes genoem. Die benaming “meerdere vergaderings” wil dieselfde sê, naamlik dat hier meer as een kerk byeenkom om met mekaar saam besluite in belang van die kerk-wees van elke selfstandige komplete plaaslike kerk te neem.

Die feit dat Christus bepaalde dienste as gawes aan die gemeente of plaaslike kerk gegee het (1 Kor 12: 28; Ef 4: 11v; Fil 1: 1; Kol 4: 12; 1 Ts 5: 12;

|171|

1 Tm 3: 1-5; 1 Pt 5: 2; Jk 5: 14; Op 1: 20) en die ouderlinge dikwels saam as ’n korps genoem word (Hd 11: 30; 15: 22; 20: 17,28; 21: 18; FiI 1: 1; Jk 5: 14), beklemtoon dat naas dit wat hulle individueel gedoen het, hulle ook as ’n raad in die kerk opgetree het. Dit was veral nodig wanneer hulle die sleutels van die koninkryk van God, dit wil sê die kerklike ekskommunikasie (NGB 32; Heid Kat S 31) moes bedien (Calvyn Inst IV.11.i-vi). Die kerkraad (kyk artt. 37,38) moet dus kragtens sy wenslike plek in elke plaaslike kerk prinsipieel van die meerdere vergaderings onderskei word (vgl bv Bouwman 1934:22; Ridderbos 1965:212-215).

 

3. Vergadering(e) van kerke ter wille van eenheid in Hd 15 en GI 2

Die eenheid van die Kerk moet volgens die ekklesiologies-strukturele opvatting in sinodes na vore kom soos wat ander wêreldse verenigings in kongresse saamgesnoer word. Om die idee van een groot sinodekerk of genootskap te regverdig, het kerkregtelikes Hd 15 en Gl 2 baie keer oorvra en beweer dat God vir die plaaslike kerk ouderlinge en vir die kerkgenootskap sinodes ingestel het. So word dualisties van ’n presbiteriaal-sinodale kerkregeringsvorm gepraat (Bouwman 1937:36,79,117; Pont 1981:191; Kleynhans 1985:23,62; vgl Fourie 1973:70,119v).

Die konvent in Hd 15 was geen Roomse konsilie waar al die opsieners op grond van hulle amp uit ‘n bepaalde gebied saamgetrek is nie. Dit was ook nie ’n sinode waarheen verskillende selfstandige gemeentes afgevaardig het nie. Dit was allermins ’n sinodale “kongres” van ’n eenheidskerk. Dit was egter wel ’n samekoms (konvent) van die kerk van Jerusalem met afgevaardigdes uit Antiogië, omdat die noodsaaklike eenheid tussen die gemeentes weens verskil onder apostels oor die besnydenis van nie-Joodse Christene, in gevaar was (GI 2: 11-16). Hd 15 en GI 2 skryf nie sonder meer oor dieselfde een en enkele byeenkoms in Jerusalem nie (Du Plooy 1982:226).

Du Plooy beskou Hd 15 teen die agtergrond van die bevel en belofte van Christus aan sy apostels in Mt 28: 19 wat belewing van eenheid in die leer verplig (vgl Mk 16: 15, Hd 1: 8). Op grond daarvan moes die verskil uitgeklaar word. Hd 15 vorm ’n waterskeiding waardeur die verskille tussen gemeentes uit verskillende agtergrond oorbrug, en eenheid in leer en praktyk verseker is (1982:228). Van nou af tree die ouderlinge in die selfstandige en betreklik losstaande gemeentes al meer na vore (Hd 20: 28; 21: 18). Weldra tree die gemeentes met ouderlinge heeltemal op in die plek van die apostels (Op 1: 20). Gevolglik is dit betekenisvol dat kerke mekaar in die “oorgangfase” opsoek (Du Plooy 1982:230; Ridderbos 1965:211-213).

Die innerlike verband tussen die kerke as openbaringe van die een en selfde liggaam van Christus, maak dit noodsaaklik dat hulle sal saamkom om hulle eenheid in Christus te bevorder en te bewaar. Die eenheid gaan nie in die struktuur van een vergadering op nie, maar bestaan in geloof en praktyk wat in selfstandige kerke uitgeleef word (Hd 15: 24-33). In Hd 15 was geen sprake van ’n permanente oorkoepelende vergaderingstruktuur wat die gesag van die apostels oor die verskillende kerke moes kontinueer of oorneem nie. Dit beskryf egter hoe twee kerke in’n krisis kerkverband met mekaar belewe het (Du Plooy

|172|

1982:232). Tegelykertyd toon dit aan dat die apostels en ouderlinge net bedienaars van die Heilige Gees in die opbou van die onderskeie gemeentes was (Calvyn 1844:78).

Antiogië was in Hd 15 deur middel van afgevaardigdes, waaronder ’n apostel, verteenwoordig. Jerusalem was as gemeente, ouderlinge en apostels betrokke (Hd 15: 2,4,22). Die verskil in getalle is irrelevant. Die besluit dra immers gesag op grond van die innerlike kwaliteit wat die Heilige Gees daaraan verleen het (Hd 15: 28). Stemme word as ’t ware geweeg en nie getel nie. Kerklike besluite wat werklik na die leiding van die Heilige Gees vra, behoort in groot mate van konsensus en nie met blote meerderheid van stemme en allermins met ’n skrale meerderheid nie, geneem te word.

 

4. Instellings om eendrag en eenheid te bevorder

Die kerklike dienaars en veral die opsieneramp is gawes van God in en aan elke gemeente om daardie gemeente in eendrag en eenheid van geloof en lewe te hou (NGB 7,30,31; vgl artt 2,3 KO). Die Gereformeerde Belydenis van die 16de eeu bely nie sinodes nie, omdat dit nie in die Skrif voorgeskryf word nie. Nietemin, soos die kerke van Jerusalem en Antiogië spontaan oor’n aktuele probleem ontmoet en gehandel het, word bely dat die dienaars onder mekaar bepalinge kan maak waardeur eendrag en eenheid in gehoorsaamheid aan God en in ooreenstemming met die bevele van Christus as enigste Hoof van sy kerk in die gemeente bevorder kan word. Dié bepalinge mag egter nie godsdiens voorskrywe of gewetens bind nie (NGB 32).

Calvyn het reeds in Genève in 1537, 1541 en 1561 kerkordes help opstel. Hy reken eers net met die dienste van predikante en diakens. Na sy ontmoeting met Bucer vereis hy dat die Raad van Genève vir ’n kerkraad in die kerkorde van 1541 voorsiening maak. Die Gereformeerdes bely dus op Skrifgronde ’n kerkraad (NGB 30; KO art 37; Calvyn Inst IV.11.i-vi). Hoewel Genève nie sinodes onderhou nie, werk Calvyn mee om ’n kerkorde in 1559 vir die Franse gemeentes te ontwerp omdat hulle eendrag en eenheid nie langer sonder sinodes gedien kon word nie (Bouwman 1934:3; Pont 1981:50v artt 2,39).

Die verskillende vlakke of vorme van meerdere vergaderings in artikel 29 word nie in die Skrif voorgeskryf nie. Hulle hou verband met ’n bepaalde kultuurmilieu. Net soos die vroeë konsilies uit bestuurspraktyke van die Romeinse ryk opgekom het (Plöckl 1960:1,58), korrespondeer die patroon van meerdere vergaderings in artikel 29 met die gedesentraliseerde staatsvorme wat in Nederland gedurende die 16de eeu beoefen was (Bouwman 1937:74). Dit pas egter pragtig by die Skriftuurlike selfstandigheid en verantwoordelikheid van die plaaslike kerke aan (Spoelstra 1980a:3v). Hierdie Nederlandse pluralisme sal gevolglik weer ’n Roomse hoogkerklike of moontlik Engelse kultuursentiment wat aan sentrale gesag en bestuur voorkeur gee, afstoot. Die CRC van die VSA het met hulle sterk genootskaplike kerkbegrip (“our church”) partikuliere sinodes uitgeskakel en frekwensie van algemene sinodes verhoog. Ook in die geledere van die GKSA neem die tendens om te sentraliseer merkbaar toe (Spoelstra 1988:37-52). Die invloed van Skotse presbiterianisme

|173|

dra grootliks hiertoe by (Bannerman 1974:1,47;11:326, Macpherson sa:5v, Hodge 1879:125, Spoelstra 1989).

 

5. Die wese van ’n sinode of meerdere veragadering

Voetius definieer in die 17de eeu ’n meerdere vergadering of sinode soos volg: ’n wettige byeengeroepte samekoms wat bestaan uit afgevaardigdes van plurale (meer) kerke (conventus legitime convocati constantes ex delegatis plurium ecclesiarum, Bouwman 1937:86,97).

Die woord samekoms (konvent) in die Kerkorde het tot 1964 duideliker as die woord vergadering beklemtoon dat sinodes nie selfstandige liggame of strukture met eie bevoegdheid parallel naas of buite die kerke om is nie. Sinodes is slegs geleenthede waar minder of meer kerke vergader om saam met mekaar ’n bepaalde agenda af te handel (Bos 1950:106). Dit bly derhalwe kerke (meervoud) wat in die samekoms (sinode) besluit.

Die basis waarop kerke ’n kerkorde aangaan om mekaar in sinodes in die kerkregering by te staan, is die eenheid in geloof wat in Belydenisskrifte verwoord is. Die kerke identifiseer mekaar as ’t ware deur die geloof wat hulle bely (vgl artt 53,54 KO). Dié eenheid vind die eerste Nederlandse sinode te Emden selfs wanneer verskillende Belydenisskrifte by Nederlandse en Franse kerke in gebruik is (Pont 1981:103 artt 2,5). Gevolglik heet die Belydenis tereg “Formuliere van Eenheid”. Die kerkorde rus dus op die Belydenis en vloei daaruit voort (Du Plooy 1987).

In die 16de eeu word woorde gebruik soos korrespondensie (dws ooreenstemming), kombinasie, gemeenskap, verbintenis of verband (conjunctio), konfederasie, versameling, assosiasie, unie, vereniging, gemeenskap, eenheid waarby gewoonlik die genitief “van die Kerke” gevoeg word (Bouwman 1937:68). Uit dié name wil M Bouwman in 1937 aflei dat Voetius die “sinodaal verbonde kerke as’n kerkregtelike, korporatiewe eenheid soos die plaaslike kerk in institutêre sin” verstaan (71). Die argument waarop sinodes as strukture soos en naas die kerkraad geplaas word, berus nie op Skrifgronde nie, maar op ’n argument gebou op “afvaardiging” in die verenigingsreg en op ’n “kerkregtelike” argument oor die amp wat die afgevaardigde beklee (Bouwman 1937:85-97; Spoelstra 1967). Volgens hierdie kollegialistiese opvatting is die kerkrade en meerdere vergaderings strukture waarvan die ampsdraers (kerkraad) of die afgevaardigdes (in sinodes) “lid” word (Bouwman 1937:98; Nauta 1971:177). Volgens hierdie kollegialistiese strukturele opvatting beslaan kerkrade grense en word kerke binne bepaalde grense weer tot onderskeie meerdere vergaderings geïnstitueer. So beslaan ’n bepaalde meerdere vergadering ook ’n bepaalde geografiese gebied (vgl Nauta 1971:188v; vgl ook by presbiterianisme).

Hierdie kollegialistiese opvatting bots radikaal met wat die Skrif ons leer oor die amp en plaaslike kerk (vgl artt 2,3,16,23; Calvyn Inst IV.3.vii) en kerke in kerkverband. Dit verreken nie die verskil tussen kerkraad en sinode nie (vgl Bouwman 1934:17,22,64v; vgl selfs Bouwman 1931:97,104). ’n Sinode is wel ’n kombinasie of vergadering van “verenigde kerkrade” (Bouwman 1937:99), maar wanneer ons die selfstandige kerke agter en in die sinode bly raaksien,

|174|

vergader elke kerkraad in die sinode saam met ander kerkrade sonder om in ’n nuwe sinodale struktuur op te los. Die begrlp “lid” van kerkraad of sinode is vreemd aan die Skrif en eie aan die kollegialisme. Elke deelnemende kerk kan ’n bepaalde meerdere kerkevergadering van sy kant as sy kerkraadsvergadering beskou wat hy as vennoot saam met ander kerke hou, op sterkte van ’n bindende afspraak in die aanvaarde kerkorde wat kerke gesluit het om die drie sola’s (verlossing deur geloof, Skrif en genade alleen) in elke kerk na te leef (Van ’t Spijker 1984;1 v).

 

6. Sinodes struktureer nie eenheid nie

Kerke vergader in verskillende kringe volgens artikel 29 om funksionele redes. Die vorme van meerdere vergaderinge in artikel 29 (lokaal, streeks-, nasionaal of wyer gewyse), word met die oog op kerkregering in belang van die lokale kerke onderhou en pretendeer nie om organisatoriese kerkeenheid te demonstreer nie (Spoelstra 1988). Die eenheid van die kerke in leer, diens en tug is die grondslag wat dit moontlik maak. Die Skrif beveel nie dat gemeentes in ’n struktuur verenig moet word asof dié wat in ’n verskeidenheid van baie plaaslike kerke waarin die een kerk van Christus verskyn, op sondige verdeeldheid sou neerkom nie. Kerkverband of geestelike eenheid in leer, diens en tug, maak eenheid in kerkregering noodsaaklik maak. Sinodes dien eenheid in kerkregering en is nie die eenheid van die kerk nie. Die kerk is baie meer as kerkregering. Motiewe waarom eenheid nie in uitsprake voorkom nie, mag wel as sonde uitgewys kan word. Die blote feit van verskeidenheid is egter nie sonde nie. Slegs mense kan sonde doen.

Vir Rome val die kerk saam met die gesagsfeer of regering van die pous. Hulle sê dat ’n konsilie van biskoppe onder leiding van die pous ’n beeld van die een (unica catholica) kerk is. Calvyn verwerp hierdie persepsie. ’n Vergadering van herders kan nooit die eenheid van die kerk van Christus verbeeld nie (Inst IV.8.x; 9.i,iii,vii). Die Roomse idee van een kerk (in vergadering van regeerders) het in die 20ste eeu wêreldwyd onder reformatoriese kerke die ideaal geplant om eenheid van die kerk struktureel in “sinodes” of “rade” te verwesenlik, ongeag die vraag of daar werklik innerlike eenheid van geloof (mbt die “drie sola’s”) is. Dit verskil van die 16de eeu. Calvyn was bereid om tien seë deur te vaar om in konvente oor eenheid in die leer met Bullinger (Luthers), Cranmer (Anglikaans) en wie ook al te onderhandel, sonder dat hy institusionele eenheid daaraan gekoppel het. Die Dordtse Sinode van 1618 vergader as Nederlandse nasionale sinode. Dit is tegelyk ekumenies wanneer 17 kolleges van buitelandse afgevaardigdes met volle behoud van hulle identiteit die sinode assisteer. Die eenheid in die essensiële leer verg nie kerkordelike eenvormigheid waar etnisiteit verskil nie (vgl DKO 85). Kerkverband kan oor institusionele verskeidenheid heen ekumenies beleef word.

 

7. Die doel van sinodes

Die doel van die sinodes genoem in artikel 29 kan uit die aard van die saak slegs beoog wat elke kerkraad moet doen, nl diensbaar wees aan die regering

|175|

van Christus deur sy Woord en Gees in elke kerk. Gevolglik is die klassis (ook die classis contracta) as naaste aan die kerkraad die belangrikste meerdere kerkevergadering (vlg art 79, ivm tughandeling). Die kerkraad bedien met advies, hulp en bystand van die naburige kerke in klassisse sleutelmag, beroeping, losmaking en bevestiging van predikante (vgl artt 5,8,1015,441,44,77). (Die saak van die partikuliere sinodes lê verder weg, naamlik oplossing van beswaarskrifte uit die klassisse en opbou van korrespondensie tussen kerke, art 48). Die nasionale of algemene sinode behoort slegs oor die basiese eenheid ten opsigte van eenheid in leer, diens en tug te handel. Die bevoegdheid van die gereformeerde meerdere vergaderinge word konsentries beperk (art 30) en voorskriftelikheid of heerskappyvoering oor die kerke word belet (uitgangspunt Franse KO 1559 en Emden 1557 as art 1, vgl art 84 KO). Die selfstandigheid en kompleetheid van elke kerk is ononderhandelbaar. Christus regeer die plaaslike kerk met die bedieninge van die ampte, waarby geen meerdere vergadering mag indring nie.

 

8. Meer vorme van sinodes

Die kerke reël in die kerkorde hulle gereelde sinodes wat hulle met mekaar sal onderhou (art 29). Twee of meer kerke kan egter ook met mekaar hulle eie en besondere ooreenkomste aangaan waardeur hulle mekaar wil help en bystaan om waarlik kerke van Christus te wees. So is ’n sporadiese byeenkoms van naburige kerke (vgl artt 4,5,79) ’n classis contracta. Op dieselfde kerkregtelike vlak kom gekombineerde vergaderings tussen kerke kragtens ’n akte van kombinasie met die oog op beroeping voor (art 5). Dit kan ook met die oog op sending, opleiding, noodleniging, ensovoorts gebeur. Vroeër het kerkrade die hulp en advies van ’n naburige kerkraad in ’n moeilike saak (in plaas van advies van bv ’n professor vandag) ingeroep.

 

B. Kerkregering

1. Redaksie van die artikel

Die Wezelse konvent 1568 ag samekomste van kerke in klassisse nodig om die diens van die Woord en dissipline doeltreffend te kan behartig, terwyl provinsiale sinodes vir die opstel van ’n kerkorde verantwoordelik moet wees (Pont 1981:75v). Dit gebeur by Emden 1571 waar vir gereelde klasssikale byeenkomste en byeenkomste van “alle Nederlandse kerke” voorsiening gemaak word (Pont 1981:104). Die Sinode van Dordrecht 1578 praat van vier kerklike “versamelinge” wat in artikel 29 KO beslag kry. Die Sinode van Dordrecht 1619 vervang die Woord “versamelinge” met “samekomste” wat te Potchefstroom 1964 met “vergaderings” weergegee word GKSA 1964:58v).

Die huidige redaksie verwerk die ontwikkeling vanaf 1964 nadat die selfstandigheid en gelykwaardigheid van kerke wat uit sending tot stand gekom het, kerkregtelik verreken is. Die GKSA verstaan dat “tegelyk vryheid aan kerke

|176|

onder afsonderlike volke gelaat word om vergaderinge te onderhou soos hulle dit nodig ag” (GKSA 1979:553).

 

2. Toepassing volgens omstandighede

Toe die kerke in Sinode van Reddersburg 1862 die Dordtse Kerkorde ongewysigd aanvaar, het hulle dadelik artikel 29 volgens landsomstandighede vertolk en toegepas deur middel van onderskeie Algemene Vergaderings van kerke binne die drie afsonderlike politieke state. ’n Algemene Vergadering het as klassis en partikuliere sinode van die Kerkorde funksioneer. In 1924 het die kerke in Transvaal en Kaapland in klassisse gegroepeer en partikuliere sinodes saamgestel, terwyl die kerke in die OVS eers in 1942 gevolg het.

Met die flotering van meerdere vergaderings vir die kerke wat deur sending ontstaan het, het die Sinode van Potchefstroom 1964 inisiatief geneem om meerdere vergaderings voor te stel. Daar is kollegialistiese invloed merkbaar. Sinodes is as staande strukture in die lewe geroep en benaam (GKSA 1964:265v) terwyl die “sinode” wat die besluit geneem het self nie ’n vaste “naam” gehad het nie. Die kerke moes nie volgens rasse nie, maar volgens etnisiteit groepeer, ’n argument wat ten opsigte van die “Kleurlinge” egter nie opgaan nie (GKSA 1961:119;1964:263).

Die sogenaamde “sinodes” van “Soutpansberg” en “Kleurlinge” was in werklikheid algemene vergaderings of klassisse omdat daar geen partikuliere en nasionale sinodes onderhou word nie en kerke immers funksioneel en nie struktureel nie groepeer. Die kerke moet dit self reël volgens behoefte (art 30 K0; vgl GKSA 1979:553).

Strukturele dwang het verkeerdelik die Sinode van Potchefstroom 1976 beweeg om sonder om partikuliere sinodes of klassisse te raadpleeg, ’n numeries-eweredige indeling van kerke in klassisse en ses partikuliere sinodale groeperinge te maak (GKSA 1976:461). Daarby is struktuur maar nie funksionaliteit, koste en naburigheid in ag geneem nie. Kerke in Wes-Transvaal groepeer tans by kerke in Namibië, terwyl ’n algemene vergadering (soos Soutpansberg) vir Namibië waarskynlik meer meriete het.

 

3. ’n Gereformeerde Ekumeniese Sinode

Die GKSA het die ideaal gekoester om in ’n volwaardige ekumeniese sinode te vergader, naamlik “’n uitwendige organisasie in die vorm van ’n ekumeniese sinode wat die Gereformeerde Kerke in al die lande van die wêreld met sigbare bande sal saamsnoer en sy kerk tot geheel heg sal saambind” (GKSA 1939; vgl Spoelstra 1981). Die sterk strukturele in plaas van Christologiese vertolking van die ekumene straal uit die ideaal.

Net na die Tweede Wêreldoorlog is in 1946 ‘n “Gereformeerde Ekumeniese Sinode” (GES) tussen die GKN, CRC (USA) en GKSA met blote adviserende bevoegdheid in die lewe geroep. Die Geref Kerke van Nederland (GKN) het geoordeel dat sinodes slegs met betrekking tot kerke binne ’n bepaalde nasionale eenheid bindende besluite (vgl art 31) kan neem. Die GKSA het probeer om die GES as kerkregtelike sinode te bejeën, GES-besluite ter tafel

|177|

geneem en daarop gehandel. Tereg skep dit die gevaar dat vreemde materiaal sinodale agenda binnesluip (Van der Linde 1983:121). Slegs die GKSA het die ideaal van ’n werklike GES vertroetel en in sake soos byvoorbeeld rasseverhoudinge het die GES die GKSA tot 1972 heilsaam beïnvloed.

Die geskiedenis van die GES vertoon uit die staanspoor spanning tussen diegene by wie die gedagte van “ekumeniese” struktuur oorheers en diegene wat ’n werklike “sinode” nastreef. Hierdie tweeslagtigheid (GKSA 1964:188195) lei daartoe dat die GES in 1972 ’n nuwe konstitusie aanvaar, waardeur dit heeltemal ’n sekularistiese “liggaam” in eie reg word en waarby “kerke” (genootskappe) as “lede” aansluit en volgens getalsterkte stem.

Tegelykertyd het probleme oor die koersverandering van die GKN na 1968 oor Skrifgesag, homofilie en die Wêreldraad van Kerke en ’n tendens van die GKN en NGSK om die GES na die WARC (Ottawa 1982) te verpolitiseer, die GES se voortbestaan in gedrang gebring. Die GES is doelbewus te Harare in 1988 in ’n Geref Ekumeniese Raad (Reformed Ecumenical Council) omskep met die bedoeling om strukturele eenheid eerder as homogene konfessionele en etiese norme in kerkregering na te streef. Dit berus volledig op die sekulêre model van die WBGK en WRK van ’n liggaam in eie reg waarby “kerke” (as genootskappe) as “lede” aansluit en meedoen. Dit sal waarskynlik steeds nader aan die WBGK beweeg.