Artikel 23

Die diens van die herder-ouderling

 

Artikel 23: Die amp van die ouderlinge is, benewens dit wat hulle gemeenskaplik saam met die bedienaar van die Woord moet doen soos in artikel 16 neergelê, ook om toesig te hou dat bedienaars van die Woord, hulle mede-ouderlinge en diakens hulle ampte getrou bedien; verder om huisbesoek te doen tot stigting van die gemeente soos die omstandighede van tyd en plek dit toelaat, sowel voor as na nagmaal, om van die lidmate te vertroos en te onderrig en om ook ander tot die Christelike Godsdiens op te wek.

 

A. Kerkregtelik

1. Funksionele differensiasie tussen die leer-ouderling en herder-ouderling

Die diens van die predikant as leer-ouderling en die herder-ouderling as opsiener in die gemeente is intiem verwant. Die apostels het in die kerkregering na die hemelvaart alle dienste self verrig, maar aan hulle sending om te leer die Woord, gebede en sakramente te bedien voorkeur gegee (Mt 28: 17v;

|143|

Joh 20: 21-23; Rm 10: 13-17; 1 Kor 11: 23; Ef 2: 20). Geleidelik het daar funksionele differensiasie tussen ouderlinge wat leraars en dié wat herders was, ingetree (1 Tm 3: 4,5; vgl 2 Tm 2: 2 en Tm 5: 17). Sommige neem dus aan dat herders en leraars in Ef 4:11 ook reeds op dié diensverdeling wys. Beide leraars en herders het ouderlinge en “opsieners” (biskoppe) gebly (Hd 6: 4; 11: 30; 20: 28; Fil 1: 1; 1 Tm 3: 2; vgl 1 Tm 3: 8 ens). Boon (196:506) argumenteer dat die ouderling van die Hervorming nie dié van die Nuwe Testament is nie.

 

2. Die diens van die opsiener-ouderling berus op die koninkryk (heerskappy) van God

By artikel 2 en 3 is gewys dat Christus die enigste Hoof van sy Kerk is. Hy gebruik mense in diens van sy heerskappy (koninkryk) in sy kerk. Hierdie “dienaars” is “senuwees” deur wie die instruksies van die Hoof na die gemeente moet deurwerk en tegelyk “gesante” wat die Hoof verteenwoordig, sy Woord en Wet oordra en toesien dat dit nageleef word. Hulle mag egter nooit die Hoof verplaas en aanspraak maak dat hulle kragtens hulle amp biskoplik (Rome) of sinodaal (kollegialisties) “namens Christus" regeer nie. Die kerkregering behoort derhalwe altyd ’n monargale en teosentriese karakter te dra waarin Christus self deur sy Woord en Gees in en oor die gelowiges regeer.

Volgens Calvyn is die dienste van regering en versorging van die armes die mees blywende en verskil van tydelike bedieninge of kragte (Inst IV.3.viii). Die uitsluitlike doel van die diens van ouderling-opsiener is om deur die bediening van lering en regering die geloof in die gelowiges te versterk en te beskerm (Inst IV.1.i) Die bediening moet die priesterskap van die gelowiges aktiveer (Van ’t Spijker 1970:347)

 

3. Apostel-biskop-ouderling

Die Hervormers beklemtoon dat Christus alleen Hoof is van sy kerk (Van Ginkel 1975:108,114,125 ens; Van der Walt 1976:16v; Boon 1965:165v). Die Bybelse kanon is juis opgestel om die kerkregering soos Christus dit aan die apostels opgedra het, voort te sit (Boon 1965:24v). Die Skrif dra alleen gesag (sola Scriptura) om sake van godsdiens en geloof te beslis.

Die apostels het in hulle diens hulle Sender verteeenwoordig (Ef 2: 20; Boon 1965:49). Daarom moes elke apostel in harmonie met die ander apostels optree (aw, 53v; vgl Hd 15) want hulle het alleen en ook gesamentlik verantwoordelikheid vir die kerkregering gedra. Christus het hierdie apostels direk aangestel (Mt 28: 19, Joh 20: 21), en hulle het op hulle beurt hierdie volmag aan opsieners oorgedra. Hierdie opsieners (ouderlinge) was ondergeskikte medewerkers van die apostels. Hulle moes steeds in harmonie met die apostels die apostoliese bediening voortsit. Op hierdie wyse word die blywende heerskappy van Christus soos aan die apostels opgedra, uitgevoer. Die opsiener-ouderling (“biskop”) was in die gemeente “apostelopvolger”. Net soos die apostel behoort die ouderling nie aan die gemeente nie, maar kom as gawe van Christus tot die gemeente (Boon 1965:61-72).

|144|

Wanneer die figuur van die apostel agter die opsiener verdwyn, is die biskop nie meer opvolger nie, maar plaasvervanger van die apostel (Boon 1965:87). Christus is Self die insteller (Ordinator) in die diens. Gevolglik het dit feitlik sakramenteel na die gebede met oplegging van hande geskied (aw, 107). Derhalwe moet die opsiener-ouderling steeds die apostel in die gemeente verteenwoordig. Sy diens hang nie van sy intellektuele gawes af nie, maar van die gawes van die Hellige Gees, al sou party biskoppe nie die gawes van die Gees hê nie (aw, 126-132).

Die Engels-kongregasionalistiese onderskeiding tussen “teaching-elder” en “ruling-elder” is onaanneemlik, omdat dit nie meer die apostel verteenwoordig nie (Boon 1965:196-8). Calvyn het die predikante as “biskoppe” van die herder-ouderling onderskei (Inst IV.3.vii,viii; Boon 1965:82). Vir Calvyn het die herder-ouderling sy opdrag van God ontvang, terwyl Bucer hom meer as verteenwoordiger van die gemeente beskou het.

Boon is seker reg as hy die ouderling in hulle Nederlandse “sinodaal-presbiteriale” regeringstelsel vreemd aan Calvyn vind. Hy noem die onderskeiding tussen twee soorte “opsiener-ouderlinge” die vrug van verkeerde eksegese en ’n “onmogelijkheid”. “De functie van de ouderling onderstelt veeleer de diens van predikant; zij is ten volle van deze dienst afhankelijk en daarvan afgeleid” (Boon 1965:193-200,201 v). Slegs predikante sou die apostoliese tradisie voortsit en ouderlinge nie (Boon 1965:201-204). Boon sê dat die predikant onder gereformeerdes met die ouderling-kollege soos ’n konstitusionele monarg regeer: die predikant verteenwoordig soos ’n premier die koninklike gesag en die ouderlinge soos ’n parlement die gemeente. Gevolglik is die ampte van ouderling en diaken in die hervormde tradisie geen wesenlik kerklike ampte nie, omdat dit nie meer die aposteldiens verteenwoordig nie (Boon 1965:206v).

Boon sny inderdaad ’n probleem aan. Talle kerkregeringstelsels wat hulle self “presbiteriaal” noem of hulle op Calvyn beroep, sal herwaardeer moet word. Die vraag is egter of die predikante en ouderlingampte die apostoliese tradisie, dan wel die regering van Christus vanuit koninkryksperspektiet, moet verteenwoordig. Calvyn ondersoek nie primêr die verteenwoordiging van die apostels nie, maar die “uiterlike middels waardeur God ons roep tot die gemeenskap met Christus en ons daarin bewaar” (Opskrif Institusie boek IV). Boon het reg as hy betwis dat die ouderlinge blote verteenwoordigers van die gemeente mag wees. Nietemin hou ampbediening spanning tussen menslike en goddelike faktore in. Predikante en ouderlinge is Christene uit die geledere van die priesterskap van die gelowiges (gemeente) en word nie daarvan losgemaak wanneer hulle die Hoof Christus in hulle diens verteenwoordig nie. Boon merk self op dat die verteenwoordiger van “Christus en zijn kerk” heeltemal verdwyn agter die figuur wat hy verteenwoordig. Daar is ook ’n representatiewe band tussen herder en kerk (gelowiges) (Boon 1965:72; vgl 76).

Funksionele onderskeiding en differensiasie het definitief tussen die biskop, presbiters en diakens in die vroeë Christelike kerke ingetree sodat die een hom konsekwent van veral die liturgiese funksie van die ander weerhou het (Boon 1965:107). Waarom sou die herder-ouderling by Calvyn, die Franse en Nederlandse kerke (vgl bv Boon 1965:204) nie saam met die “biskoppe” in

|145|

die gemeente met die “apostoliese” Woord (2 Pt 1: 19-21; Ef 2: 20; Hb 1: 1-3) herders kon wees nie, maar hulle van liturgiese Woord- en Sakramentbediening weerhou omdat hulle gawes van die Gees nie deur opleiding ontwikkel en in die gemeente deur roeping erken is nie? Die opsienerdiens met die Woord van patriargale ouderlinge gedurende veral die eerste driekwart-eeu in die GKSA, moet nog beskrywe word.

Aan die ander kant lê Boon tereg nadruk op die representatiewe (verteenwoordigende) karakter van ampsdiens (Spoelstra 1971 b:29; RES 1972:190; Boon 1965:47v,94v,119v) Die herder-ouderling moet deur middel van die gawes van die Gees die Vader en Hoof van die Liggaam verteenwoordig. Hoe kan hierdie manlike regeerbeeld deur vroue verteenwoordig word? Vroue kan slegs as ouderlinge toegelaat word vanuit die 19de eeuse Hervormde tradisie waarin “leke-ampsdraers” die gemeente van mans en vroue verteenwoordig het om heerskappyvoering deur predikante aan bande te lê.

 

4. Die herder-ouderling en priesterskap van die gelowiges

Die herder-ouderling van die Nuwe Testament is as verteenwoordiger van Christus en die Heilige Gees uniek. Nietemin het dié figuur aangesluit by die “oudste” in die Ou Testament, die ouderling in die Sinagoge en Essenergemeenskappe (Van Ginkel 1975:15-45; Bittlinger 1974:31). In die vroeë Christelike kerke het “opsieners” (biskoppe) alleen maar ook gesamentlik in ’n presbiterium opgetree. Spoedig het een biskop soos Jakobus in Jerusalem (Hd 15) as voorganger of leier in die presbiterium (kerkraad) na vore getree. Die NAV vertaal angelos (boodskapper) met “leraar” (Op 1: 20; 2: 1 ens) en dui daarmee aan dat toe al een leraar tussen ’n aantal “opsiener-ouderlinge” die eerste onder gelykes was (Hd 11: 30;14: 23; 20: 28; Boon 1965:138).

Die leier-biskop het homself nie as “apostel” beskou wat oor die ander mag heers nie en is daarom nie die voorloper van die Roomse monargale episkopaat nie. Die voorganger-ouderling het die eenheid van die kerk, soos ’n vader ’n groot familie (pater familias), verteenwoordig. Soos ’n burgemeester in ’n stadsraad het dit vir die eenheid van die kerk groot betekenis gehad (Boon 1965:73-80). Calvyn verwys na die stadsraad wanneer hy die kerkraad instel (Inst IV.11.i).

Die Roomse priester wat die herder-ouderling gedurende die Middeleeue vervang, heers in ’n rangorde van priesters onder gesag van die monargale biskop oor ’n geografiese terrein. Die gemeente was nie meer solidêr by die kerkregering betrokke nie (Van Ginkel 1975:42-45). Wanneer Luther teen hierdie monargale episkopaat bots, beklemtoon hy weer die priesterskap van die gelowiges wat die Gees besit om met die Woord die kerkleer en prediking te beoordeel. In die kerk moet die predikant die Woord verkondig om die lewe te hervorm. Die owerheid behou die jus patronatus van die Romeinse en feodale reg in die kerkregering. Zwingli doen dieselfde, maar beklemtoon dat die gelowiges onderling toesig oor sedes en huweliksake moet hou (Van Ginkel 1975:62). Bucer, die hervormer van Ulm en Strassburg, neem die kerk as

|146|

gemeenskap van gelowiges as uitgangspunt. Kragtens die priesterskap van die gelowiges (Luther) moet hulle op mekaar ag gee en ouderling sielsorg beoefen.

Om die owerheid gerus te stel dat die predikante nie wil heers nie, voer Bucer reeds In 1531 die ouderlingamp (Kirchenpfleger) in as verlengstuk van die tug wat die gemeente beoefen, oor die plek van die owerheid en reg van die gemeente met mekaar in verband te bring. Die ouderlinge verteenwoordig die gemeente. Tegelykertyd is die opkomende burgery in die kerkregering betrek en werk die hervorming na die volk deur. Calvyn maak van 1538 tot 1541 intiem kennis met Bucer in Strassburg (Van Ginkel 1975:90-150; Van ’t Spijker 1970:73-79,148-150,318). Iemand het gesê Bucer was die genie wat die amp van herder-ouderling geskep het, maar Calvyn die genie wat die gedagte gerealiseer het.

In sy ontwikkeling van die ouderlingsamp het Calvyn, die gelykheid (“collegialiteit”) tussen predikant en ouderling in die kerkregering vasgehou. Hy was in sy hart aristokraat en het daarom aan episkopale (opsieners-) kerkregering voorkeur gegee (Van Ginkel 1975:146). Alhoewel by Calvyn ’n bepaalde spanning tussen die gelykheid en onderskeid van die predikant (“biskop”) en herder-ouderling voorkom, het hy nooit geleer dat die biskop Christus en die ouderling die gemeente (priesterskap van die gelowiges) verteenwoordig nie. Beide predikant en ouderling moet afsonderlik en gesamentlik as dienaars van Christus die koningsheerskappy van Christus met die Woord bedien, waarmee die Gees die gemeente bou. So is aan elke herder-ouderling ’n wyk toegewys. Dit het sekondêr meegebring, soos Calvyn “gemeente” in Mt 18: 17 verklaar, dat hulle ook die wyke verteenwoordlg (Van Ginkel 1975:137,319).

Die herder-ouderling staan nie los van die gemeente nie. Die Heilige Gees gee gawes in die gemeente waardeur die manne uitgeken word wat as ouderlinge moet dien om die gemeente te laat funksioneer en die sleutelmag te bedien (Van ’t Spijker 1970:133,153,164,344-347). Indien die ouderlingdiens tot ’n “leke”-amp gedegradeer word omdat hulle nie Woord en Sakramente bedien of nie “opgelei” is nie, bedien dit nie meer Christus nie en kan dit verval. Ouderlinge kan self hiertoe bydra indien hulle in hulle ampsdiens versuim om die evangelie te verkondig en die lewe in die gemeente slegs wetties en juridies wil reël volgens besluite en voorskrifte van kerkrade of sinodes. Die ouderling in die hand van die Opperherder Christus regeer wanneer hy met die evangelie in die hart tref (1 Pt 5: 4).

 

5. Die taak van die herder-ouderling

Die Here Christus is en bly die enigste Hoof van sy kerk (Ef 1: 22; 1 Pt 5: 4; Tit 1: 7). Hy laat Hom nie verplaas of voorskryf deur enige biskop, ouderling, kerkraad of sinode nie (Jonker 1965:32v). Die herder-ouderling is gevolglik slegs in diens van die Opperherder wanneer hy bydra om die Woord van God in die gemeente te laat heers (Mt 20: 19; Calvyn Inst IV.11.iv, 12.ii). Die verskillende name wat die Skrif gebruik soos opsiener en herder (Hd 20: 28) leier of voorganger (Rm 12: 8, 1 Ts 5: 12; Hb 13: 7), stuurman (1 Kor 12: 28) waarin dié van herder voorop staan, dui die taak van die ouderling aan

|147|

(Du Plooy 1979:51; Van der Walt 1976 79-81). Die ouderlinge moet individueel en waar nodig gesamentlik, op elkeen in die wyk en op die hele gemeente ag gee, oor hulle besorg wees en waak, hulle soos skape laat wei, hulle hy die naam ken en hulle met die Woord lei (Joh 10). Daarom bedien hulle in besonder die sleutelmag (Heid Kat S 31; NGB 30,31,32). Die Skrif verbied daarby uitdruklik die sondige begeerte van mense om oor ander te wil heers (1 Pt 5:2; NGB 29). Geen ouderling mag iernand dwing in iets wat nie regstreeks op die Woord van God steun nie (Inst IV.10 vi,vii; 11.xi).

Die ouderling moet dus in die eerste plek onberispelik (1 Tm 3: 2-7; Tit 1: 6,7) en ’n voorbeeld (1 Tm 1: 16, Hb 13: 7) vir die gemeente wees (1 Pt 5: 3).

Die ouderlinge moet veral oor die predikante se leer en lewe toesig hou en verhoed dat dwaalleer die gemeente verskeur (Hd 20: 29). Kortom, die herder moet self die Woord van God ken en bestudeer sodat hy dit as sy herderstaf kan aanwend. Waar dit gebeur hou God self die kudde met die Heilige Gees in goeie orde (Hd 14: 3,23,27; 20: 28; Rm 1: 16; 16: 25-27; 1 Ts 2: 13; 2 Tm 3: 15-17; Tit 1: 16: Hb 4: 12).

Die ouderling is en bly altyd primêr gelowige. As Christen is hy met die Heilige Gees gesalf om koning, priester en profeet te wees en die gemeenskap van die heiliges te beoefen (Heid Kat S 12). Alhoewel hy in sy amp veral herder is, sluit dit nie uit dat hy in bepaalde gevalle moet leer of doen wat amptelik by diakens tuishoort nie (Spoelstra 1964:5-6 1976: 41).

 

B. Kerkregering

1. Redaksie van die artikel

Die eerste Nederlandse sinode te Emden, 1571 reël nie die werk van die predikante of ouderlinge nie, maar wel hoe die ouderlinge verkies word (art 14), die konsistorie (artt 6.17,18,27) en dat hulle saam met die predikante kerklike dissipline uitoefen (art 25). Die Kerkorde van 1578 (art 67) noem die huisbesoek van predikante en ouderlinge by veral die “swakstes” voor nagmaal en dié van 1581 voeg toesig hou oor predikante en diakens by en meld huisbesoek voor nagmaal om behoorlike voorbereiding te verseker (art 16). Die huidige artikel is in 1586 vasgestel. Dit onderstreep dat die Kerkorde oorspronklik eerder die wyse hoe ouderlinge verkies word en rondgaan as die wat van hulle ampsbediening aandui, waaroor die bevestigingsformulier weer in hoofsaak handel.

 

2. Herder-wees saam met die predikante

Die artikel verwys na artikel 16 omdat dit van Calvyn se eenheid en gelykheid van predikant en ouderling as herders uitgaan. Soos die Woord “opsiener” aandui, praat die Kerkorde eerstens van “toesig hou” oor die ampsbediening van die predikante, mede-ouderlinge en diakens (vgl art 81). Ouderlinge kan maklik soos in die sekulêre wêreld hulle nie steur aan kollegas se ampsbediening nie terwyl moedswillige sonde, heerssug, menslike swakheid

|148|

en luiheid van predikante, ouderlinge of diakens die gemeente van die Here skade laat ly. Die verantwoordelikheid aan die Hoof van die Kerk vereis dat elke ouderling in sy gewete oortuig moet wees dat die regering van Christus in die gemeente tot eer van God geskied.

In die tweede plek word huisbesoek voor en na nagmaal uitdruklik aan die ouderlinge opgedra. Dit beklemtoon die individuele taak van elke ouderling en predikant. Te Wezel in 1568 het die predikante dit beskryf as toesig oor die doen en late van die gemeente ten tye van nagmaalviering, hoe die onderwys in elke gesin geskied, of daar smorens en saans in die gesin voorbidding gedoen word, ensovoorts. Die ouderling moet kalm, maar ernstig vermaan, die mense aanmoedig om standvastig te bly en tot geduld in die vrese van die Here aanspoor. Waar nodig moet die ouderling troos of bestraf en, indien nodig, volgens Mt 18 die tug bedien (Bos 1950:94). Verder moes die ouderlinge toesien dat die katkisasies bygewoon word, die skole gesonde onderwys gee, kerkdienste reël, respek vir die owerheid bevorder, ensovoorts. Die ouderling is waarlik pastor. ’n Ouderling sonder ’n wyk of wat nie huisbesoek doen nie, kan nie in gereformeerde kerkregering bestaan nie. So ’n persoon is nie ’n dienaar van Christus nie, maar ’n amptenaar van die kerk.

Die gebed “laat u koninkryk kom” (Heid Kat S 48) verplig ook elke herder deur wie Christus regeer om so te werk dat, indien moontlik, afvalliges hulle bekeer, ongelowiges hulle aan die Here onderwerp en onverskillige mense die Woord en Wet van die Here gehoorsaam. Gedurende die Hervorming het die gelowiges apostoliese verantwoordelikheid vir die hele volk gevoel (Van Ginkel 1975:217).

 

3. Hoe die huisbesoek gereël word

Die Kerkorde wys dat die behoeftes van die gemeente en omstandighede van plek tot plek die huisbesoek bepaal. Huisbesoek moet doelgerig en sinvol geskied. Van die begin af (in Genève 1541) is die gemeente in wyke verdeel. Die behoeftes van die gemeente word bepaal deur die omstandighede, behoeftes en gesindheid van elke belydende gelowige en onvolwasse kind in elke huisgesin of besoekpunt. Daarvoor is elke ouderling in sy wyk geroep. Hy moet die wat swakker staan en dreig om af te val, baie meer, voor sowel as na nagmaal, besoek. Die Wezelse artikels van 1568 het van weeklikse besoeke gepraat.

Waar een lid in die gesin, byvoorbeeld die vader of moeder of een van die kinders afvallig raak, in sonde geval het of hulle rug op die eredienste of ampsbediening keer, moet die ouderling daardie persoon nie in die teenwoordigheid van ander gesinslede met die probleem konfronfeer nie. Hy moet reël om die persoon afsonderlik te ontmoet en eers geduldig uitvra, luister en ’n diagnose maak. Waar hierdie prosedure in byvoorbeeld swart gemeenskappe nie moontlik is nie, omdat ’n ander man nie ’n vrou of jong meisie mag besoek nie, moet die ouderling die vader of oudste broer van die vrou volgens kulturele gebruik met hom saamneem. In bepaalde gevalle sou hy van ’n ander vrou as hulp vir die ouderling kan gebruik maak (vgl art 2,3 punt 5; art 16 punt 4; art 25 punt 8).

|149|

Huisbesoek verg dus beplanning van elke besoek, aangepas by en gerig op die mense wat aan die ouderling toevertrou is. Die kerkraad kan ook ten opsigte van die gemeente as geheel ontleed, diagnoseer en die ouderlinge op behoeftes rig. Die huisbesoek mag egter nie ontaard in ’n vormlike besoek waarin ’n ouderling op ’n voorgeskrewe wyse een of ander “projek” van die kerkraad loods nie of altyd ’n foutvinderige ouderling aandien nie. Huisbesoek moet bedoel om te kommunikeer, troos, onderrig, waarsku, vermaan, aan te moedig, ondersteun en raad te gee. Die ouderling wil keer dat die lidmaat veragter, maar sorg dat hy in die geloof opgebou word sodat die gemeente as geheel bloei (vgl 1 Kor 12; Ef 4 ens).

Elke ouderling moet voor hy op huisbesoek gaan hom biddend voorberei, hom diensbaar in die hande van die Here stel en smeek om die gawes van wysheid, selfbeheersing, baie geduld, vriendelikheid en opregte liefde sodat hy Christus aan die mense in sy wyk kan bedien. Indien hy hom van bepaalde probleme bewus is, moet hy vooraf gepaste Skrifgedeeltes oorweeg. Op huisbesoek moet hy nie uit die hoogte, beterweterig, heerssugtig optree nie. Die Skrif moet die mense deur sy mond aanspreek. Hy moet opreg vir die lastigste en moeilikste mens, wat hom selfs beledig, voorbidding doen. Die ouderling het immers bedienende en nie heersende of dwingende mag en gesag nie.

 

4. Die Nagmaalgemeente

Die Bybel, die Twaalf Artikels uit die eerste eeue, Calvyn en die Gereformeerde Belydenisskrifte bely dat die kerk gelowige mense is, al is dit vermeng met sommige wat net geloof voorgee (Heid Kat S21; NGB 27-28; Inst IV.1.iii,vii). Die Here bedien hom in die gemeente van herders om diegene wat met hulle belydenis en lewenswandel die orde versteur, van die nagmaal af te hou (kyk artt 61,76). So kan die liggaam van Christus duidelik in die gemeente wat nagmaal vier, gesien word. Gemeente-bediening vra derhalwe nie allerlei skemas, programme, take, begrotings of aktivisme nie (Spoelstra 1982:240). Die bediening van die Woord en toesig van die ouderlinge moet net elke gelowige daartoe help om sy persoonlike, huislike, sosiale en beoepslewe as ’n Christen, wat aan die Woord en Wet van die Here gehoorsaam is, uit te voer. Nagmaal behoort dus slegs bedien te word nadat huisbesoek plaasgevind het (Van der Linde 1983:100) en die ouderlinge in staat is om rekenskap oor die gemeente te gee (Hb 13: 17).