Artikel 76

Verharding veroorsaak afhouding van die nagmaal

 

Artikel 76: Diegene wat hardnekkig die vermaning van die kerkraad verwerp en ook die wat ’n openbare of anders ’n growwe sonde gedoen het, moet van die sakramente van die Here afgehou word.

 

A. Kerkregtelik

1. Die kerk van Christus aan die nagmaal

Die basiese feit dat die kerk in wese ’n vergadering van gelowiges is, is van fundamentele kerkregtelike betekenis (vgl Oriëntering en by artt 53-59 en 61). Aan die nagmaal word die liggaam van Christus op aarde sakramenteel sigbaar op elke plek waar die drie merktekens van die ware kerk gevind word (Spoelstra 1978:30; 1982:240). Die kerk is nie ’n wetlik-omlynde instituut nie, maar ’n organiese eenheid wat die Heilige Gees deur en saam met die middele wat Hy gebruik met Christus verewig (Milner 1970:123v). Gevolglik is afhouding van die nagmaal die essensie van kerklike dissipline. Die gelowiges moet met leer en lewe getuig dat hulle die eenheid met Christus besit wat hulle in die nagmaal beleef en verkondig. Gevolglik moet iemand wat in leer of lewe twyfel oor sy gelowig-wees oproep, van die nagmaal afgehou word.

|408|

2. Die koninkryk van God en sleutels van die hemelryk

Die koninkryk van God is sy regering of heerskappy. Christus oefen as Hoof van sy kerk (Van der Walt 1976) die regering deur sy Woord en Gees uit (Heid Kat S 21 en 48) Wie aan die Woord ongehoorsaam is, weerstaan die Gees van Christus, het nie met Christus deur geloof gemeenskap nie, moet van die tafel van die Here afgehou en, indien hy hom nie bekeer nie, geëkskommunikeer word (NGB 32; Heid Kat S 31). Die hardnekkige verset teen vermanings waarin die Woord van Christus bedien word, is vyandskap en verset teen Christus self. So ’n persoon stel hom daarmee self buite die volk van God en liggaam van Christus. Sy eie optrede sluit hom derhalwe van die nagmaal uit. Die kerkraad moet as middel in die hand van Christus om sy kerk te regeer hierdie konsekwensie met die afhouding van die nagmaal trek (1 Kor 5: 12.13: 10: 21; 11: 28). Dit mag en kan nie aan die sondaar oorgelaat word nie

 

3. Waak oor die tafel van die Here

Die kerk (gelowiges) en in besonder die kerkraad moet waak oor die tatel van die Here om dit heilig te hou (Heid Kat S 30; V/A 81,82; NGB 35). Calvyn dui op voorbeeld van die vroeë kerk aan dat ligter sondes met sagsinnige strengheid vaderlik bestraf moet word (2 Kor 2:7). Wanneer ’n sondaar hardnekkig hierdie bestraffing verwerp of ’n swaar sonde gedoen het, moet so iemand van die nagmaal afgehou word totdat hy bewys van bekering gelewer het (Inst IV.12.vi). Hy onderskei tussen sondes wat struikelinge en sondes wat misdade is. Misdade moet met meer as woorde bestraf word. Ekskommunikasie van ’n verharde sondaar oefen maar net regspraak uit wat die Here aan sy kerk opgedra het (1 Kor 5) en is ook in die hemel vas en bindend. As die kerk hierdie tug versuim doen dit homself groot skade aan (Inst IV.12.iv).

Die ouderlinge moet die tug in organiese samewerking met die gemeente onder aanroeping van die Naam van die Here uitoefen en nie oorstreng byvoorbeeld mense die nagmaal vir jare ontsê nie. Diegene wat afgesny is, is van Christus en die kerk vervreem solank hulle in hulle sonde volhard. Hulle verkeer onder oordeel van God. Die gemeente moet vir hulle bid. Calvyn sê ons moet die persoon vashou, maar sy sonde uit die Wet van God veroordeel (Inst IV.12.vii-ix).

Afhou van die nagmaal weerhou niks van die sondaar waarop hy reg het nie. Dit geskied ter wille van die eer van die Here en die gemeente as gemeenskap in Christus. Slegs wie versoen is (Rm 5: 10.11; 10: 13: 12: 1-15: 13). kan nagmaal vier. Afhouding plaas iemand voor die vraag of hy versoen is en roep so tot inkeer en bekering op. Kortom, afhouding is nie ’n manier om die sondaar te straf nie, maar geskied ter wille van heiligheid van die tafel van die Here. Daarom moet die sondaar homself daardeur rekenskap gee van die verhouding waarin hy tot Christus en sy gemeente staan.

|409|

B. Kerkregering

1. Redaksionele verandering

Die eerste Sinode van Emden 1571 skryf afhouding van die nagmaal voor vir hardnekkige verwerping van kerklike vermanings. As daarna nog geen tekens van berou bewys is nie, moes dit na ekskommunikasie lei (art 30). Gevolglik (art 32) moet iemand wat ’n sware sonde begaan het wat vir die gemeente van God lasterlik of by die owerheid strafbaar is, van die nagmaal afgehou word, selfs al het hy mondelings boetvaardigheid betuig (Pont 1981:106v). Dit word in 1581 in een artikel betrek (art 62) en Dordrecht 1619 voeg by dat advies van die klassis nodig is voor afsnyding volgens die formulier na Gods Woord, kan plaasvind (Pont 1981:185 art 76). Die formulering het dus alreeds op artikel 77 vooruitgegryp wat die afsnyding bepaal. Die GKSA het in 1964 “afhouding as amptelike tughandeling” in artikel 76 gereël, terwyl alles wat oor “afsnyding as laaste tugmiddel” handel in artikel 77 aangedui word (GKSA 1958:105; 1964:73).

Die Sinode van 1964 motiveer egter nie die ingrypende verandering waar “nagmaal” met “sakramente” vervang word nie. Die Deputate (waarvan skrywer een was) het gedink dat hulle meer konsekwent formuleer. Tog maak dit geen sin nie. Die “afhouding van die nagmaal”, waarop Calvyn op sterkte van sy koninkryks- en kerkbegrip nadruk gelê het, kan slegs oor gedoopte belydende gelowiges (“lidmate”) gaan. Hulle kan onmoontlik van hulle doop afgehou word. Wanneer iemand belet word om self sy kind vir doop te hou, word hy nie self van ’n sakrament afgehou soos met afhouding van die nagmaal gebeur nie. Die verandering in 1964 kan dus nie verantwoord word nie. Die artikel maak slegs sin wanneer dit weer sou lees “moet van die nagmaal afgehou word”.

 

2. Eenvoudige en dissiplinêre afhouding

Oor die eenvoudige afhouding (Voetius: abstentio simplex) as middel tot versoening is reeds by die vorige artikel gehandel. Versoening (art 75) en afhouding (art 76) oorvleuel en afhouding gaan meestal aan versoening vooraf. Iemand moet op die oomblik wat ’n openbare of sware skandelike sonde by die kerkraad aanhangig gemaak word, van die nagmaal afgehou word. Die sondaar kon dit self aangee as bewys van sy berou, of die kerkraad moet in die lig van die klag, selfs al het die persoon berou of klaarblyklike onskuld betuig, hom van die nagmaal afhou sodat oor versoening gehandel kan word. Dit gaan in kerklike tug nie oor die regterlike beginsel van skuldig of onskuldig en afhouding as gepaste straf nie, maar om bediening van die versoening. Daarom is afhouding nodig om rus en vrede in die gemeente te herstel, al moet iemand met die oog daarop selfs “onreg” (soos ’n onregverdige klag) verduur. Die nagmaal moet soms in uitsonderlike gevalle uitgestel word wanneer byvoorbeeld ’n opskudding of grootskaalse politieke twis ’n groot deel van die gemeente in rep en roer het.

Hierdie vorme van afhouding van die nagmaal is geen dissiplinêre afhouding nie, maar eenvoudige afhouding wat grotendeels geskied met die oog op

|410|

voorkoming van ontsteltenis en lastige vrae in die gemeente en beskerming van die persoon in die gedrang. Die term “stille sensuur” is hier nie van pas nie.

 

3. Dissiplinêre afhouding as “sensuur”

Hardnekkige verwerping van Christelike vermaninge sonder sprake van skuldbelydenis, bekering of belofte van beterskap roep om ernstiger vermaning en verskerpte tughandelinge en dit is waarom afhouding van die nagmaal gaan (De Jongh 1918: 57,58,71). Wanneer ’n saak wat volgens heimlike vermanings (artt 72 tot 74) sy loop gehad het, by die kerkraad aangegee word, sal die kerkraad eers self verskillende kere vermaan totdat gekonstateer kan word dat die persoon hardnekkig die Christelike vermaning verwerp en daarmee aan die Hoof van die kerk, Christus, ongehoorsaam is. Dit kom daarop neer dat die persoon deur sy hardnekkige verwerping van die vermaninge en nie deur sy oorspronklike sonde nie, hom buite die volk van God stel. Gevolglik moet die kerkraad die persoon gemeenskap aan die nagmaal ontsê, totdat hy tot berou en inkeer kom. Die kerkraad hou die persoon dissiplinêr af omdat hy homself met sy hardnekkige verset teen Christus en sy gemeente van die nagmaal uitsluit. Dissiplinêre afhouding trek dus ’n konsekwensie uit die sondaar se optrede waarby sy verhouding tot die koningskap (koninkryk) van Christus duidelik uitgespel word. Dit verskerp die vermaning. Afhouding kan in hierdie geval “stille sensuur” of “klein ban” genoem word (Kruger 1966:451), omdat die kerkraad nog niks aan die gemeente openbaar maak nie.

Slegs die kerkraad mag iemand dissiplinêr van die nagmaal afhou, omdat die kerkraad juis vir dié doel in die presbiteriale kerkregering ingestel is (Inst IV.11.vi). Nooit mag ’n predikant en/of ’n paar ouderlinge buite die kerkraad om iemand dissiplinêr van die nagmaal afhou nie.

 

4. Die kerkregtelike posisie van ’n afgehoudene

Wie afgehou word van die nagmaal se status in die gemeente van Christus is in gedrang, al sluit dit niemand van die gemeente en dienste uit nie. Afhouding suspendeer egter deelname aan bepaalde normale kerklike handelinge waarby iemand se bona fide geloof moet vasstaan, soos verkiesbaarheid tot ’n amp, beroepingswerk, aansoek tot doopbediening, ensovoorts (De Jongh 1918:60). Versorging deur die diakens moet voortgaan. Van die sondaar sal verwag word om bediening van die Woord te soek, terwyl meer as gewoonlik huisbesoek by so ’n persoon behoort gedoen te word.

Onder die verkeerde gedagte van straf het dit al gebeur dat kerke iemand (wat die sewende gebod bv oortree het) vir ses of meer maande van die nagmaal afgehou het waarna die sensuur opgehef word, ongeag die vraag of daar berou was. Afhouding geskied nooit vir ’n vooraf bepaalde tydperk nie, maar moet onbepaald voortduur totdat berou betoon, bekering beloof en bewys is. Die kerkraad moet gedurende die afhouding voortdurend en meer as gewoonlik met die sondaar op die hoogte bly en hom dringend bly bearbei.

|411|

5. Bearbeiding van die afgehoudene

Die bearbeiding van iemand wat afgehou word, moet baie meer persoonlik, vertroulik en simpatiek geskied. Verskillende ouderlinge behoort individueel met so ’n persoon te praat. Op huisbesoek moet so ’n persoon nooit voor sy gesin vermaan word nie, maar onder vier oë ontmoet word. Benewens die persoonlike en individuele arbeid van die predikant en wyksouderlinge, kan die kerkraad aan ’n kommissie van twee of drie opdra om offisiële verslae te lewer. ’n Kommissie kan egter moeilik genoegsaam persoonlik bearbei. Die kerkraad behoort so veel as moontlik getuienis te hê, voordat hy tot beslissing geraak. Die afhouding van die nagmaal moet liefs persoonlik en nie met ’n onverwagte skrywe oorgedra word nie. Die persoonlike oordrag baan die weg vir ’n broederlike ontmoeting, terwyl ’n brief soms koud en formeel oorkom. Die persoon moet egter in kennis gestel word.

Vermanings moet gedurende afhouding by herhaling oor ’n vrywel lang periode geskied. Die notule van die kerkraad moet duidelik bewys lewer dat baie liefde en geduld aan die sondaar bewys is, voordat van die eerste trap van die ban of afsnyding volgens artikel 77 KO sprake kan wees. Die klassis sal dit beoordeel voor die tweede trap van sensuur kan volg. Die kerkraadsnotule moet noukeurig die oorspronklike kwaad en klag, die ondersoek, die oordeel van die kerkraad, frekwensie, aard en grond van vermaninge, die reaksie op vermaninge en die feite waarop die oordeel van hardnekkige verwerping van die vermaninge berus, vermeld. Die goue reël vir bearbeiding is festina lente (haas u langsaam). Deeglike bearbeiding in prediking, kategese en pastoraat bly die aangewese middel, maar Rutgers waarsku dat die festina lente nie mag ontaard, sodat die “haas” verdwyn en net die “langsaam” oorbly nie (De Jongh 1918:63).

Gedurende die 17de eeu wou gereformeerde predikante soos Jean de Labadie die Christelike karakter van die gemeentes duideliker met strenger tugoefening tot openbaring bring. Hulle wou kerkverval teëwerk deur soms ’n hele massa mense onder tug te stel en te ekskommunikeer. Hierdeur is soms, behalwe ongelowiges en hipokriete, ook gelowiges uit die kerk gedryf (De Jongh 1918:62). In die moderne tyd word weer metodes soos EE 3 (Evangelistic Expansion 3) aanbeveel om met “diagnostiese vrae” tussen gelowiges en saamlopers in die kerk te onderskei, ’n metode waarvan die kerke hulle gedistansieer het (GKSA 1982:54-59).


Spoelstra, B. (1989)


COMMENTAAR OP
Kerkorde GKSA (2000) 76