Artikel 35

Die amp of taak van voorsitter

 

Artikel 35: Op meerdere vergaderinge presideer ’n bedienaar van die Woord en die werk van die praeses is om voor te dra en te verduidelik wat behandel moet word, toe te sien dat elkeen op sy beurt spreek, om die wat redetwis en alte heftig spreek die swye op te lê, en as hulle geen gehoor gee nie, die gepaste sensuur oor hulle uit te oefen. Sy amp hou op as die vergadering beëindig is.

 

A. Kerkregtelik

1. Christus is die enigste Hoof van sy kerk

Hierdie beginsel (NGB 7,31,32; Calvyn Inst IV.6.ix) is so dominerend in presbiteriale kerkregering dat dit gedurig na vore tree. Calvyn sê dat Christus self voorsitter is van ’n konsilie wanneer Hy dit deur sy Woord en Gees lei (Inst IV.9.i). Die persoon wat God roep en wat die Gees gebruik om die Woord te bedien, behoort daarom slegs ’n “mond” vir die Voorsitter Christus te wees en so op te tree dat Christus deur middel van sy Woord en Gees die vergadering lei. Die predikant verwerf self geen posisie of heerskappy oor ander nie. Daarom hou die amp van voorsitter op sodra die meerdere vergadering beëindig is.

|216|

2. Onderlinge toesig

Die Skrif roep die kerklike dienaars op om op mekaar ag te gee, sodat die voorskrifte van Christus en goeie orde onderhou word (1 Tm 3: 20; 2 Tm 3: 14,15,24; Tit 1: 9v; 3: 1v, 9v ens). Waar sondes van hoogmoed, woede, liefdeloosheid en twis onder kerklike dienaars en baie keer in vergaderings voorkom, moet die voorganger in diens van Christus die tug bedien (vgl by artt 43,81).

 

3. Die voorsitter dien in ’n bepaalde meerdere vergadering

Die meerdere vergadering in presbiteriale kerkregering konstitueer wanneer ’n voorsitter en skriba aangewys word (art 34). Dit gebeur met die uitsluitlike doel om die agenda ordelik te kan afhandel (1 Kor 14: 33,40; Smit 1984:6v). Die verkiesing roep iemand tot ’n funksie. Dit stel hom nie in ’n “pos” of biskoplike “posisie” oor ander dienaars aan nie. Gevolglik duur die funksie net vir die bepaalde vergadering. Dit hou op wanneer die vergadering sluit en uiteen gaan. 

 

B. Kerkregering

1. Redaksie van die artikel

Die artikel praat nie oor die voorsitter van kerkrade nie, omdat die kerkorde dit nie instel nie, maar veronderstel. In Genève het die stadsraad die burgemeester voorsitter van die kerkraad gemaak (Pont 1981:45 art 168). Kerkregtelik behoort iemand wat diens van die Woord verrig, te lei en predikante in dieselfde kerk om die beurt te presideer (art 37). Hy tree op waar ’n meerdere vergadering konstitueer (vgl Biesterveld, Kuyper 1905:58 (1571); 105,107 (1578)). Die kerkorde omlyn die funksies van skriba en voorsitter in 1581 in dieselfde artikel (26). Na 1586 word dit ’n afsonderlike bepaling (Biesterveld, Kuyper 1905:200).

 

2. Die funksie van voorsitter

Calvyn onderskei die dienaar van die Woord met die term “biskop” van die ouderling (Inst IV.3.viii; 11.vi).

In kerke met net een predikant kan dominokrasie (predikante-heerskappy) makliker na vore kom. Die voorsitter word in so ’n “biskopkerk” maklik “bestuurder” van die gemeente, soos in ’n wêreldlike organisasie (kyk by art 37). Die predikant moet daarom veral in die kerkraad sy taak, regte en voorregte as voorsitter goed ken en hom net as “eerste onder gelykes” gedra (Van der Linde 1983:140). Mense oorvra egter die predikant as voorsitter in die kerkraad omdat hulle dink dat hy spesiaal “opgelei” is om te regeer. Die voorsitter moet slegs die vergadering lei en mag nooit domineer om self te regeer nie.

In die Christelike Geref Kerk van Nederland word ouderlinge ook as voorsitters van kerkrade gekies. Dit bekamp wel die gevaar van predikante-heerskappy,

|217|

maar maak die leiding los van die diens van die Woord. ’n Ouderling kan slegs in bepaalde gevalle as voorsitter van ’n kerkraad optree (GKSA 1907: art 113, KO-boekie 1979:45).

Iemand moet leer om as voorsitter op te tree. Daar is boeke om te raadpleeg (Rossouw 1979:39v; Hattingh 1980:7v; Atkinson 1986:63-81). Sekere beginsels en vereistes geld vir ’n voorsitter in enige vergadering, soos bv sy voorbereiding vir die vergadering, reëling van orde waarin die agenda, verwante sake, voorstelle, amendemente, spreekbeurte, ensovoorts moet dien en wanneer beslis moet word. Die voorsitter moet een bepaalde spreker hoogstens twee keer laat praat, tensy die vergadering toestem dat hy noodsaaklike nuwe inligting voor die vergadering lê. Die voorsitter moet sorgdra dat sprekers net praat oor “die punt” wat ter tafel is, nie herhaal nie, nie persone beledig nie, nie laster of ander instansies of sake betrek wat nie regstreeks betrokke is nie. Die voorsitter moet toesien dat ’n spreker die stoel aanspreek en nie ’n ander persoon in die vergadering antwoord of met hom redeneer nie. Hoogstens mag verwys word na ’n stelling van ’n “vorige spreker.”

Die voorsitter moet onpartydig bly (vgl ook art 33). Gevolglik maak ’n voorsitter nie voorstelle in die vergadering nie, moet hy nie aan bespreking deelneem nie en mag hy nie voorsit in ’n saak wat hy bepleit of waarby hy persoonlike belang het nie. Indien die voorsitter betrokke raak, moet die ondervoorsitter die leiding oorneem totdat die saak beslis is. Indien daar geen ondervoorsitter is nie, kan iemand (bv ’n ouderling in die kerkraad) as voorsitter gekies word. Wanneer die voorsitter plotseling betrokke raak, kan die skriba gevra word om as voorsitter op te tree.

Die voorsitter in ’n kerklike vergadering moet die eise wat ’n kerklike vergadering aan hom stel, ken. Die voorsitter moet sorg dat die vergadering op ’n kerklike wyse (art 30) verloop. Hy mag nie toelaat dat iemand argumente aanvoer wat teen die Skrif en Belydenis ingaan nie, al sou dit by nie-kerklike verenigings en vergaderings pas. In nie-kerklike vergaderings kan iemand sy “demokratiese reg” eis en uitstap, “bedank”, demonstreer, petisies indien, drukgroepe vorm, koukus, “kook”, stemme vooraf werf, ensovoorts. Hierdie metodes moet die voorsitter in ’n kerklike vergadering belet en bestraf.

Dit is baie goed wanneer kerklike dienaars periodiek ouderling die vernaamste aspekte van goeie vergaderingsprosedure met betrekking tot ’n voorstel, amendement, punt van orde, ordevoorstel, ensovoorts bespreek. Die lede in die vergadering kan deur middel van ’n punt van orde die voorsitter om ’n reëling vra of deur middel van ’n ordevoorstel ’n reëling van die voorsitter ter syde stel en voorskryf hoe die voorsitter ’n saak aan die orde moet stel. Orde het slegs te doen met “hoe” ’n saak behandel word en mag geen wesenlike aspek in ’n voorstel prejudiseer of beslis nie. ’n Ordevoorstel word dadelik sonder bespreking gestel en oor besluit.

Wanneer ’n vergadering hande uitruk of wanneer georganiseerde verset in ’n vergadering voorkom, mag die voorsitter die vergadering tot ’n later uur of datum verdaag om gemoedere te laat afkoel, sekere persone te bestraf of advies in te win. Die voorsitter kan ook iemand wat hom nie aan die ordereëlings onderwerp nie, uit die vergadering stuur, waarna die oortreding kerklik behandel moet word (artt 71-81).

|218|

3. Die duur van die praesidium

In die kerkraad met net een predikant loer die gevaar en versoeking van hiërargie en heerskappyvoering wat die regering van Christus in sy gemeente bedreig (art 84), om die deur. Die ideaal is dat voorsitters by toerbeurt optree (artt 37,41). Die voorsitter van die vorige meerdere vergadering mag nie op die volgende presideer nie (artt 35,41). Slegs nood mag ’n uitsondering noodsaaklik maak wanneer net ’n vorige voorsitter in ’n bepaalde klassis beskikbaar sou wees. Die funksie en posisie van voorsitter verval sodra die vergadering gesluit het, omdat die kerkregering nie by individuele persone nie, maar by ouderlinge en kerkrade berus.

In die GKSA het die voorliefde vir die “maklikste” metode al daartoe gelei dat sinodes dieselfde twee predikante net om die beurt as voorsitter en ondervoorsitter inspan. Dit is ’n ongesonde en onwenslike praktyk. Dit sluit ander kragte uit en wanneer die ondervoorsitter optree, presideer die voorsitter van die vorige vergadering in stryd met die kerkorde. Die ondervoorsitter van die vorige vergadering kan wel tot voorsitter op die volgende vergadering gekies word. Dit sal kontinuïteit verseker. Hy kan hom onttrek wanneer ’n omstrede saak wat hy op ’n vorige vergadering gelei het, weer ter tafel kom (artt 35,41,84).